• No results found

SAMEVATTING EN GEVOLGTREKKING

ʼn Kwalitatiewe empiriese studie is onderneem waarin daar van ʼn gestruktureerde vraelys en onderhoude met ses (6) respondente gebruik gemaak is om vas te stel watter vernuwende insigte met betrekking tot die fenomeen van self-mutilasie na vore kom. Dit het eerstens geblyk dat emosies ʼn kardinale faktor by elke deelnemer wat

42

self-mutilasie promoveer is en dit sluit onder andere liefdeloosheid, spanning, ontsteltenis, hartseer, af gevoelens, woede, depressie, verwerping, hopeloosheid, swak selfbeeld en negatiewe gedagtes in (Coetzer, 2012:23; Penner, 2008:22; Strydom, 2010:16).

Verder het geblyk dat self-mutilasie by elke deelnemer ʼn individuele saak is wat hoofsaaklik in die aande toegepas word. Daar is ook gevind dat gedurende die aande wanneer dit stil is en terwyl die huisgenote slaap die aksie sonder enige hindernis uitgevoer kan word (Bosman & van Meijel, 2008:181-182). Dit het verder geblyk dat die herhaaldelike snellers wat self-mutilasie aktiveer onder andere konflik, lewens- druk, veroordeling, molestasie, verkragting, traumatiese gebeure en afwesige ouers insluit (Richardson, 2004:1; Penner, 2007:22).

Dit het ook duidelik na vore gekom dat self-mutilasie deur verskillende mediums bekend gestel word. Daar is gevind dat skoolvriende ʼn anker rol speel, veral waar iemand ontmoet word wat deur soortgelyke emosionele ervarings gaan (Penner, 2008:18). Verder het dit ook geblyk dat die televisie, internet, boeke en die sosiale netwerke ʼn groot bydrae lewer om self-mutilasie bekend te stel (Clark & Henslin, 2007:25). Die ouderdomme wanneer self-mutilasie begin is, het van 5 tot 14 jaar gestrek terwyl die helfte steeds kroniese self-mutilasie toepas (Yip, 2006:134-135; Whitlock, 2010). Gevoelens van skuld, skaamte, hartseer en mislukking was by elke respondent na elke selfbesering teenwoordig behalwe een deelnemer wat in kontras na elke selfbesering gereageer het en goed na elke selfbesering gevoel het (Coetzer, 2012:6).

Die rol van negatiewe kinderjare waar of traumatiese gebeure of mishandeling plaasgevind het, was by elke deelnemer teenwoordig wat die weg vir self-mutilasie gebaan het (Turner, 2013:170). Ouers wat hul kinders verbaal en fisies mishandel was verder ondersteunend hoe die persoon hom- of haarself sien (Penner, 2008:19-20; Turner, 2002:88). By elke deelnemer was ʼn verwronge Godsbegrip teenwoordig en elkeen het verder aangedui dat hulle geen of baie min ruimte vir enige godsdiens het nie (Seamands, 2003:26). Dit het in die oë van die self-mutileerder geblyk dat die kerk hulle veroordeel en hul emosies nie verstaan nie (Kern, 2007:34; Penner, 2008:69). Verder het dit ook geblyk dat pastorale beraders, predikante, pastore en ander geestelike leiers nie die fenomeen verstaan nie en in die algemeen nie in staat is om

43

die self-mutileerder van hulp en begeleiding te wees nie (Coetzer, 2012:88; Kern, 2007:34).

ʼn Antwoord van elke deelnemer wat soos een stem uitgeroep het, was dat ʼn pastorale berader hulle van hulp kan wees deur net te luister sonder om te veroordeel en ook ʼn skouer aanbied om te huil (Coetzer, 2012:89; Lesniak, 2008:191). Dit het ook geblyk dat Bybel teksverse, gebede en kerkbywoning geensins enige positiewe uitwerking op enige deelnemer het nie, maar dat verhoudingbou van kardinale belang is (Clinton & Hawkins, 2011:54). Dit het geblyk dat geen positiewe uitwerking in die voorskou is indien daar nie ʼn sterk verhouding tussen die self-mutileerder en die pastorale berader bestaan nie. Dit het sterk na vore gekom by elke deelnemer dat hulle graag iemand wil vertrou en ʼn verhouding met so persoon wil bou (Lesniak, 2008:19; Rissanen et

al., 2011b:579).

Wat kommerwekkend was, is dat elke deelnemer self-mutilasie as iets sien en ervaar wat werk en dat dit ʼn oplossing vir die oorlog binne hulle bied (Clark & Henslin, 2007:28; Gregston, 2006:43; Penner, 2008:79-80; Yip, 2006:141). Die emosionele effek wat die self-mutileerder ervaar het, was gevoelens van beheer, verligting, uitkoms, skep ʼn gevoel van lewe, skep asem en ek voel myself (Clark & Henslin, 2007:46; Kern, 2007:34; Hicks & Hinck, 2008:411; Stoppler, 2007; Whitlock, 2010). Verder het geblyk dat elke deelnemer voorwerpe gebruik wat werk, maar wat skerp genoeg is om skade te berokken.

Slegs twee deelnemers het hulself met hulle naels gekrap en hul hare uitgepluk, terwyl die ander deelnemers van ʼn voorwerp gebruik gemaak het wat vinnige en diep skade teweeg gebring het (Walsh & Rosen, 1988; Bosman & van Meijel, 2008:183). Dit het ook na vore gekom dat elke self-mutileerder hom- of haarself as ʼn teleurstelling, mislukking, pateties en abnormaal sien. Dit het verder in die algemeen geblyk dat nie een trots is op die merke wat telkens gelaat word nie behalwe een deelnemer wat van mening is dat die merke, merke van trots is. Dit het ook na vore gekom dat nie een deelnemer iemand sal aanmoedig of self-mutilasie as ʼn oplossing sal voorstel nie. Weereens het een deelnemer te kenne gegee dat self-mutilasie wel ʼn oplossing is en dat die deelnemer dit vir elkeen wat na hulp soek sal aanbeveel.

44

AFDELING C: DIE INTERPRETERENDE TAAK

HOOFSTUK 3

PERSPEKTIEWE VANUIT DIE AANGRENSENDE WETENSKAPPE

MET BETREKKING TOT SELF-MUTILASIE

3.1 INLEIDING

Volgens Clinton en Ohlschlager (2002:162) kan die metateorie die Pastorale be- geleiding in staat stel om binne ʼn holistiese raamwerk te funksioneer deur morele konsepte met psigologiese kwessies te integreer. Venter (1993:247) verduidelik wat onder metateorie verstaan behoort te word: “Onder metateorie moet ’n teorie verstaan word waarin wetenskaplike vertrekpunte uitgespel word wat raakvlakke met ander vakke deel, dit wil sê vakke wat aspekte van dieselfde werklikheidsveld ondersoek.” Deur die integrering van die metateorie word die teologiese basisteorie geoperasionaliseer.

Clinton en Ohlschlager (2002:162) verwys na die integrering van die metateoretiese wetenskappe in Pastorale begeleiding as “biopsycho-social-spiritual therapy.” Die volledigheid van die ontwerp van ʼn praktykteorie sal dus wetenskaplik ontbreek indien raakvlakke met ander vakke nie gedeel word nie wat aspekte van dieselfde werklikheidsveld ondersoek wat ’n teologiese basisteorie verhelder. Schoeman (2005:131) stel dat deur die benutting van die aangrensende wetenskappe, benewens teologiese literatuur, daar ʼn duidelike prentjie van die realiteit geskets word. Die Pastorale begeleiding van die self-mutileerder vereis dus ’n ondersoek na die metateoretiese insigte en perspektiewe van ander hulpwetenskappe en dissiplines.