• No results found

HOOFSTUK 3 UITKOMSGEBASEERDE ONDERWYS EN

3.4 VEREISTES WAT UGO AAN DIE ONDERWYSER STEL

3.4.1 Probleemoplossing

Leerders word die geleentheid gebied om probleme op te los. Soms word daar meer tyd spandeer om oor probleme na te dink, as om te probeer om ’n bepaalde probleem op te los. Daar is nie ’n regte of verkeerde antwoord vir ’n bepaalde probleem nie, aangesien die benadering wat die leerders volg om die probleem op te los belangriker is (Botha et al., 2009a:4). Die onderwyser moet daarom die leerders aanmoedig om te dink oor die proses

waardeur/waarvolgens probleme opgelos word (die hoé), en nie om bloot die regte antwoord te probeer kry nie (Chen, 2002:256). Cobb en Steffe (1983:87) stel dit soos volg: “what students

do is of concern, but of greater concern is how they do it”.

Leerders moet oor bepaalde probleemoplossingsvaardighede beskik wanneer hulle byvoorbeeld ’n bepaalde probleem moet oplos (Batchelor, 2007:71; Chen, 2002:256). Hierdie probleemoplossingsvaardighede behels ses stappe wat leerders moet volg wanneer ’n bepaalde probleem opgelos word (Botha et al., 2009a:4). Die gedagte is dat die ses stappe aan die leerders bekendgestel word, waarna ’n aktiwiteit aan die leerders gebied word in die vorm van ’n scenario of gevallestudie, om die leerders geleentheid te gee om die stappe toe te pas en die vaardighede te ontwikkel wat nodig is om probleme op te los (Botha et al., 2009a:4; Carstens et al., 2004a:5).

Die ses stappe om ’n probleem op te los is (Botha et al., 2009a:4; Carstens et al., 2004a:5): Stap 1: Noem/ beskryf die probleem

Stap 2: Maak ’n lys van jou keuses / Lys soveel moontlike oplossings as moontlik – neem dus elke moontlikheid in ag, al klink dit hoe eienaardig, eenvoudig of moeilik aan die begin Stap 3: Maak ’n lys van/ noem die positiewe (goeie) en negatiewe (slegte) gevolge van elke

keuse /Oorweeg die oplossings – dink na oor alle moontlike oplossings, maar net een kan gebruik word

Stap 4: Gebruik die gevolge (stap 3) en jou waardes om ’n keuse te maak. Kies die beste oplossing – die beste oplossing moet regverdig, veilig, uitvoerbaar en aanvaarbaar vir ander wees

Stap 5: Voer jou keuse uit / Beproef die oplossing - besluit of die oplossing wat jy gekies het werk

Stap 6: Dink na oor en evalueer die keuse wat jy gemaak het. Het jy die regte keuse/besluit geneem? hoekom/hoekom nie?

Leerders word toegelaat om in groepe of individueel die ses stappe in probleemoplossing te identifiseer (Botha et al., 2009a:9). Deur ’n scenario te gebruik, sal leerders tot die gevolgtrekking kom, dat daar ses stappe (soos genoem) is wat deel vorm of gebruik moet word wanneer ’n probleem opgelos word (Carstens et al., 2004a:5).

Die volgende aktiwiteit “Die beste moontlike oplossing” is ’n voorbeeld van ’n aktiwiteit (in die vorm van ’n scenario) uit Kollig Op Lewensoriëntering vir Graad 6 (Carstens et al., 2004a:17).

• Die beste moontlike oplossing

Die volgende aktiwiteit sal julle byvoorbeeld leer om ’n probleem op te los. Lees die volgende probleem waarvoor Ruan ’n oplossing moet vind.

“Ruan word genooi om die aand by sy beste maat, Johan, se huis deur te bring. Later daardie

aand ‘smokkel’ Johan ’n bottel van sy pa se whisky in hulle slaapkamer in. Wat moet Ruan doen?”

Ruan moet besluit of hy alkohol saam met sy beste maat Johan gaan gebruik, of nie. Hy besef dat hy vier keuses het:

a) Om die whisky te drink b) Om ‘nee’ te sê

c) Om sy maat, Johan, se ouers te vertel d) Om sy ouers te bel om hom te kom haal

Hy het besluit om die slegte en goeie gevolge van elke keuse te vergelyk: a) Om die whisky te drink

Die goeie gevolge: Johan sal dink hy is “koel”

Die slegte gevolge: om dronk te word en sleg te voel daarna. Johan se ouers kan hulle dalk uitvang. Ruan se ouers kan dalk hiervan uitvind en hom nooit weer toelaat om by Johan oor te slaap nie

b) Om ‘nee’ te sê

Goeie gevolge: Ruan se ouers sal hom vertrou en hom toelaat om weer oor te slaap. Hy sal nie dronk word en na die tyd sleg voel nie

Slegte gevolge: Johan kan dalk dink hy is nie “koel” nie c) Om sy maat, Johan, se ouers te vertel

Goeie gevolge: hy en Johan sal nie dronk word en na die tyd sleg voel nie.

Slegte gevolge: Johan se ouers sal kwaad wees vir Johan. Johan sal kwaad wees vir hom en sal dalk nie meer sy beste maat wil wees nie

d) Om sy ouers te bel om hom te kom haal

Goeie gevolge: hy en Johan sal nie dronk word en na die tyd sleg voel nie. Ruan se ouers sal trots op hom wees.

Slegte gevolge: Hy sal sy ouers moet vertel wat gebeur het. Sy ouers kan dalk vir Johan se ouers vertel en Johan sal dan in die moeilikheid beland.

Nadat Ruan gedink het oor die goeie en slegte gevolge, het Ruan besluit om eerder nee te sê om Johan se pa se whisky te drink. Ruan het vir Johan gesê dat hy nie die whisky sou drink nie. Johan het hom probeer oorreed, maar Ruan het herhaaldelik gesê dat hy nie sou drink nie.

Die volgende oggend toe Ruan se ouers hom kom haal het, het hy oor sy keuse gedink en was tevrede dat dit die beste oplossing vir sy probleem was (Carstens et al., 2004c:17).

• Opdrag aan die leerders (Carstens et al., 2004c:17).

Noudat julle (die leerders) na Ruan se situasie gekyk het, kan julle weer kyk na die stappe om ’n probleem op te los. Verdeel in groepe van twee en beantwoord die volgende vrae.

1. Identifiseer die stappe wat Ruan gevolg het om die beste oplossing vir sy probleem te vind

2. Voeg goeie en slegte gevolge by die lys as julle kan

3. Identifiseer die tegniek wat Ruan gebruik het om ‘nee’ te sê

Leerders behoort te besef dat daar nie ’n perfekte situasie vir ’n probleem is nie. Leerders vorder van ’n voorbeeld waar iemand ’n probleem hanteer, tot waar hulle as ’n groep oplossings vind vir iemand anders se probleem, om so ’n oplossing vir hul eie probleme te vind (Carstens

et al., 2004a:6).