• No results found

HOOFSTUK 3 UITKOMSGEBASEERDE ONDERWYS EN

3.4 VEREISTES WAT UGO AAN DIE ONDERWYSER STEL

3.4.5 Groepwerk

Daar is verskeie voordele daaraan verbonde, om aan leerders geleenthede te bied om in groepe saam te werk of om opdragte of aktiwiteite in groepe te voltooi. Hierdie voordele sluit onder andere die volgende in:

• Leerders leer om verskille tussen hulle te herken, asook om ander se opinies en gevoelens te respekteer (Samuelowicz & Bain, 2001:316).

• Leerders leer om mekaar te ondersteun terwyl hul verskeie hulpmiddels en bronne van inligting gebruik om byvoorbeeld ’n bepaalde projek te voltooi (Wilson aangehaal deur Neo & Neo, 2009:255).

• Leerders raak betrokke by die leerproses en ontwikkel die nodige kennis, houdings en vaardighede wat belangrik is vir die toekoms (Meltem & Feride, 2007:2; Ogan-Bekiroglu & Sengul-Turgut, 2008:7).

Daar is egter bepaalde aspekte wat in gedagte gehou moet word, om te verseker dat groepwerk effektief gebeur. Volgens Botha et al. (2009a:10) vereis effektiewe groepwerk, dat al die lede van die groep betrokke moet wees en ten volle deelneem wanneer ’n opdrag (of projek) voltooi word, alhoewel nie al die lede van ’n groep dieselfde persoonlikheid het nie. Sommige lede is meer dominerend en ander meer terughoudend. ’n Groep sal meer effektief en doeltreffend wees as die leerders (lede van die groep) die sterkpunte van elke lid in die groep ken (Botha et

al., 2009a:10; 2009b:24). Die leerders moet daarom op die sterkpunte van elke lid in die groep

konsentreer. Gevolglik sal dit dan ook makliker wees om te besluit wie in die groep verantwoordelik is vir watter taak (Botha et al., 2009a:10). As al die lede van ’n groep se sterkpunte tot die beste voordeel gebruik word, sal dit vir die leerders makliker wees om hulle doel as ’n groep te bereik (Botha et al., 2009a:10; 2009b:24).

Elke leerder van ’n groep is verantwoordelik vir ’n taak en vervul ’n aktiewe rol in sy/haar groep (Botha et al., 2009b:24). Die leerders is dus verplig om met die ander lede van die groep te kommunikeer en saam te werk, ten einde die aktiwiteit of projek te voltooi. Deeglike beplanning is ’n belangrike aspek om te verseker dat elke lid van die groep verantwoordelik is vir die bepaalde taak wat by sy/haar persoonlikheid en sterkpunt(e) pas (Botha et al., 2009b:24).

Die take waarvoor elke lid van ’n groep verantwoordelik is, het te doen met die spesifieke of bepaalde projek waarmee die groep besig is (Botha et al., 2009a:25). Wanneer die leerders byvoorbeeld ’n projek moet voltooi, sal die hele groep lyste van take maak. Op hierdie manier word die opdrag in kleiner dele verdeel wat sub-take genoem word. Dit maak dit vir die leerders makliker om die hele opdrag te voltooi. Afhangende van die vaardighede en hulpbronne van elke lid, word hierdie sub-take gelykop tussen die lede verdeel. Alle groeplede sal dan op hulle spesifieke take fokus en na die volgende groepvergadering terugkeer en verslag lewer oor hulle

vordering met die taak. Party take vereis die samewerking van die hele groep. Hierdie groep sal dan vergader en saamwerk aan hierdie take (Botha et al., 2009b:25).

Die uitkoms vereis dat leerders die vaardighede ontwikkel en leer om doeltreffend saam met ander lede van ’n span, groep, organisasie en gemeenskap te kan werk, doeltreffend en effektief te kan kommunikeer en hulself en hul aktiwiteite verantwoordelik en doeltreffend te organiseer en te bestuur. Aangesien die leeruitkoms bepaal watter aktiwiteit die mees geskikte sal wees om te verseker dat die leerders die uitkoms bereik, is die volgende opdrag of projek ’n goeie voorbeeld en geleentheid om aan die leerders te bied (Botha et al., 2009b:25; DoE, 2003:12).

Opdrag aan die leerders (uit Kollig Op Lewensoriëntering vir graad 4) (Botha et al., 2009b:25)

’n Groep graad 4 leerders is ’n stuk grond op die skoolterrein toegewys. Die leerders moet ’n tuin begin en vir ’n jaar daarna omsien. Die leerders moet die kleiner take, wat by hierdie projek betrokke is in hul werkboek lys. Die leerders vergelyk dan die lys van take met die ander leerders in die groep en voeg enige van die ander leerders se idees by hul lys. Daar word take bygevoeg of veranderinge word aangebring terwyl die onderwyser die verskillende take wat betrokke is bespreek.

Die identifisering van die lys van take is dus ’n groepsaktiwiteit. Voorbeelde van take wat by die bepaalde projek betrokke is, sluit onder andere die volgende in:

• Besluit wat om te plant

• Werk ’n instandhoudingrooster vir die jaar uit • Spit die grond

• Die bring van tuingereedskap • Maak kompos

• Raak ontslae van die onkruid • Maak elke dag die tuin nat • Plant sade of plante

• Vra raad van ’n volwassene (Botha et al., 2009b:25).

Deur aan die leerders geleenthede te bied om in groepe saam te werk, help nie net die leerders om vaardighede te ontwikkel soos byvoorbeeld doeltreffende spanwerk, kommunikasie en die verantwoordelike en doeltreffende organisering en bestuur van hul aktiwiteite nie, maar ook om die leerders by die leerervaring te betrek, veral die leerders wat nie voor die hele klas ’n bydrae sal maak nie (DoE, 2000:13).

Die idee met groepwerk is dat die leerders mekaar moet ondersteun en om aan alle leerders geleenthede te bied om te leer (DvO, 2002b:5). Dit word gedoen deur die leerders in die klas in groepe te verdeel, wat leerders met verskillende vermoëns insluit (Gebhardt et al., 2006:10, 12). Dit help stadiger leerders om saam met meer vermoënde leerders te werk, aangesien laasgenoemde leerders (die vermoënde) die stadiger leerders kan wys hoe om die uitkomste te bereik. Meer vermoënde leerders kan ook as rolmodelle dien (DvO, 2002b:5; Gebhardt et al., 2006:10, 12).

Groepwerk sluit onder andere die volgende voordele in:

• dit bied ondersteuning aan die leerders, sodat hulle makliker sukses in die aktiwiteite kan behaal;

• dit verminder die risiko van angs wanneer die leerders met onbekende inhoud te doen kry; • leerders kry meer geleenthede om deel te neem aan onderrig-leeraktiwiteite;

• dit bied geleenthede vir leerders om hulle nuwe kennis en vaardighede toe te pas;

• dit bied die leerders die geleentheid om sosiale vaardighede te verwerf en binne sosiale konteks kennis en vaardighede te konstrueer (Letterman & Dugan, 2004:77).

Met UGO word elke leerder as uniek gesien en die verskille tussen leerders word tot ’n groot mate beklemtoon (DoE, 1997b:40; Kember et al., 2001:401). Die verskille tussen leerders sluit onder andere die leerders se tempo waarteen hulle leer, hulle leerstyle, vermoëns, talente en behoeftes in (DoE, 1997a:6). Volgens die Departement van Onderwys (2003b:24) vorm die leerders se behoeftes en ervarings die grondslag vir leer en onderrig.

Die verskille tussen leerders en hulle behoeftes, is daarom ’n belangrike aspek wat die onderwyser in ag moet neem wanneer hy/sy groepwerkaktiwiteite (en ook leerprogramme) beplan en ontwerp (DoE, 2000:13; 2003:24; par. 3.3.2).