• No results found

Hoofstuk 3: Die navorsingskonteks

4.5 Tolkproefneming

4.5.1 Privaatreg 373 – Groep A

4.5.1.1 Motivering vir keuse van groep

Privaatreg 373 (Deliktereg) is as module vir die proefneming geïdentifiseer (groep A). Die spesifieke tegniek wat die navorser gebruik het, lê tussen ’n geleentheidsteekproef en ’n doelmatigheidsteekproef, omdat die groep geïdentifiseer is op grond van metodologiese sowel as praktiese oorwegings. Die rede hiervoor was dat slegs een tolk vir die proefneming beskikbaar was en telkens 50 kilometer moes ry om in ’n sessie te tolk. ’n Module is daarom geïdentifiseer waarvoor dubbelperiodes twee maal per week geskeduleer is. Dit sou die maksimum lesingure per geleentheid beskikbaar maak. Dit was belangrik om derdejaars by die proefneming te betrek, omdat die navorser studente wou gebruik wat reeds met die T-opsie en die verskillende toepassings daarvan asook met die konteks binne die Universiteit en die Fakulteit bekend was. Hulle sou ervaring hê van taalmedium in klaskamers en moontlike probleme wat taal betref. Hulle sou waarskynlik ook beter in staat wees om uitdrukking te gee aan hulle ervaring en om te onderskei tussen taalverwante aspekte en aspekte wat met vakinhoud en die kompleksiteit van die studieveld verband hou. Daar het ook na my oordeel genoeg heterogeniteit ten opsigte van taal in die groep bestaan (sien tabel 1). Hierdie groep was dus “informasiedig” – ’n term van Patton (in Saunders et al. 2007:232).

Tabel 1: Die taalprofiel (huistaal) van die studente in groep A

Afrikaans/Engels Afrikaans Engels Duits Tsonga isiXhosa

12 117 68 5 1 1

4.5.1.2 Praktiese werkwyse

Omdat die heersende voorgraadse taalmodel die T-opsie is, is besluit dat die tolk die lesing in die simultane modus sou tolk in twee rigtings, naamlik die Afrikaanse inhoud in Engels en die Engelse inhoud in Afrikaans. Daar is altesaam 203 studente in die module waarvan 109 Afrikaans as verkose onderrigtaal het en 94 Engels. Die klasse word almal aangebied in die JC De Wet-saal in die Ou Hoofgebou (Kamer 1023), die hooflesinglokaal in die gebou, op die grondvloer.

Ek het die projek aan die betrokke dosent voorgestel en met sy hulp lesings geïdentifiseer en ’n voorlopige rooster opgestel. ’n Totaal van 18 lesings van 50 minute elk is aanvanklik vir die

proefneming identifiseer, dus ’n totaal van 15 lesingure. Tolking sou deur middel van die draagbare Sennheiser-toergidsstelsel plaasvind. Dit bestaan uit ’n mikrofoon met ’n herlaaibare battery en 20 oorstukke. Ek wou graag 40 vrywilligers uit die klas werf om aan die proefneming deel te neem, waarvan die groep min of meer ’n gelyke verdeling tussen Engelse en Afrikaanse studente moes wees. Twee tolkstelle sou daarom vir die proefneming nodig wees. Saunders et al. (2007:207) noem hierdie tipe toetsing (“sampling”), “niewaarskynlikheidstoetsing”, omdat die mate waartoe die steekproef verteenwoordigend van die hele “bevolking” is nie bekend is nie. Die grootte van die groep (steekproef) is volgens hulle nie ’n kritieke oorweging waar dit nie direk bepalend vir die geldigheid van die navorsing is nie (2007:227). Hulle haal Patton (2002) in dié verband aan: “Sample size is dependent on your research question and objectives – what you need to find out, what will be useful, what will have credibility and what can be done with the available resources.”

Die tolk is aan die betrokke dosent voorgestel en die beskikbaarheid van lesingmateriaal is met hom bespreek. Hy het ’n sakebundel met die voorgeskrewe sake sowel as ’n Afrikaanse en Engelse handboek aan die tolk beskikbaar gemaak vir die duur van die projek.

4.5.1.3 Deelname

Twee assistente wat besig is met die Nagraadse Diploma in Vertaling aan die US is geïdentifiseer om die navorser in die proefneming by te staan en die praktiese aspekte tydens lesings te hanteer. Hulle sou mekaar afwissel. 10 April 2012 is geïdentifiseer as die dag waarop die proefneming sou begin. Op daardie dag het die dosent die navorser, die tolk en die assistent aan die klas voorgestel. Die dosent het ongeveer 20 minute afgestaan aan praktiese aspekte van die proefneming. As navorser het ek die projek aan die klas bekendgestel en die navorsingsvraag aan die studente verduidelik, naamlik dat die waarde van opvoedkundige tolking vir onderrig en leer ondersoek word. Ek het die rol van aksienavorsing in opvoedkunde verduidelik en dit duidelik gemaak dat hulle deelnemers is aan die navorsing en dat hulle insette potensieel gebruik kon word vir aanpassings in die onderrigkonteks. Die hipotese van my studie is aan hulle verduidelik, naamlik dat ek op begrip, identifisering met die klaskamersituasie en tydsbestuur sou fokus. Hulle sou aan die einde van die projek moes rapporteer hoe hulle die tolking ervaar het en of dit na hulle mening ’n werkbare oplossing sou kon bied. Dit is aan hulle duidelik gemaak dat hulle identiteite anoniem sou bly, dat die projek nie nadeel vir hulle ingehou het nie en dat hulle op enige stadium daaraan kon onttrek. Ek het verduidelik dat ek ongeveer 20 studente wou identifiseer uit elk van die twee taalgroepe om as vrywilligers aan die projek deel te neem. Ek het voorgestel dat studente wat probleme met taal in die klas ervaar van die diens gebruik moes maak. Die studente wat Engels as voorkeurtaal het, is eers gevra om hulle vir deelname aan te meld. Oorstukke is aan die eerste twintig uitgedeel. Afrikaanse studente is daarna gevra om as vrywilligers aan te meld. Hulle het minder geredelik as die Engelse groep aangemeld. Uiteindelik is ’n totaal van veertig oorstukke

uitgedeel. Die werking van die tolktoerusting is aan hulle verduidelik en dat hulle moes seker maak dat hulle oorstukke op die regte kanaal ingestel was. Hulle het elk ’n vorm geteken waarop hulle besonderhede verskyn het en waarmee hulle erken het dat hulle deelname vrywillig was en dat hulle vir ’n fokusgroepbespreking aan die einde van die projek beskikbaar sou wees. Die assistent het die toestemmingsbriewe uitgedeel, toegesien dat dit onderteken word en dit weer ingeneem. Die name van die deelnemers is op die klaslys afgemerk. Van die tweede geleentheid af het ons studentekaarte ingeneem en dan teruggegee wanneer ons die oorstukke terugontvang het. Die assistent het die betrokke studente se name daarvolgens op die klaslys afgemerk. Wanneer hulle die oorstukke ingehandig het, is hulle studentekaarte aan hulle teruggegee.

Die navorsingsproses moes so min moontlik inbreuk maak op die normale verloop van die lesing. Ek het aanvanklik na afloop van die lesings telkens met die tolk en met die assistente gepraat ten einde verbeteringe aan te bring en hulle menings getoets in ’n poging om die proses meer vaartbelyn te maak.

’n Totaal van 39 studente het op die eerste dag strokies ingevul en ingehandig en as vrywilligers aangemeld om aan die projek deel te neem. Veertig studente het egter oorstukke geneem met die doel om na die tolking te luister. Weens praktiese oorwegings is ’n totaal van 12 lesings in groep A uiteindelik getolk. Die deelname aan die projek was soos volg:

Tabel 2: Deelname en taalgroepering (verkose onderrigtaal).

DATUM PERIODES DEELNEMERS AFRIKAANS ENGELS

10 April 2012 2 40 14 26 12 April 2012 2 36 10 26 17 April 2012 1 24 6 18 19 April 2012 2 11 2 9 24 April 2012 2 18 4 14 26 April 2012 1 14 2 12 3 Mei 2012 2 10 2 8

4.5.1.4 Die tolk

Vir groep A het ek gebruik gemaak van een tolk. Sy is ’n Afrikaans moedertaalspreker met Engels as tweede taal. Sy het egter volledig tweetalig grootgeword en het ’n hoë mate van taalvaardigheid in Afrikaans en Engels. Haar formele tolkopleiding behels ’n driedaagse kursus in tolking by die Parlement. Sedert 1994 het sy ongeveer vier jaar as vryskuttolk by die Waarheids- en Versoeningskommissie gewerk waar sy in die menseregteskendings- en die amnestieverhore as

tolk opgetree het. Sy het SAVI se akkreditasietoets vir tolking geslaag. Sy is egter nie tans ’n ingeskrewe lid van SAVI nie en het daarom nie tans amptelike akkreditasiestatus nie.

Sy het ’n LLB-graad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Daarna het sy vir ’n periode van drie jaar as landdroshofaanklaer gewerk waarna sy ongeveer 10 jaar verbonde was aan Juta as redakteur van die Suid-Afrikaanse hofverslae. Sedertdien werk sy as vryskutvertaler en - redigeerder. Sy tolk weekliks op vryskutbasis by die Kaapse Metropolitaanse Raadsvergaderings, Universiteitskomitees en -raadsvergaderings, konferensies en in dissiplinêre verhore.

4.5.1.5 Posisionering van die tolk in die lokaal

Die JC de Wetsaal, kamer 1023 in die Ou Hoofgebou, sou as lesinglokaal dien. Die (ou) voordeur van die betrokke lesingsaal word nie tans as ingang gebruik nie. ’n Tafel vir die tolk kon daarom voor die deur geplaas word. Ten opsigte van die binnekant van die klas was die tafel ongeveer een derde van voor, dwars gedraai teen die regterkantste muur. Omdat dit die ou ingang na die saal was, is daar ’n portaal aan die binnekant en dus ’n opening tussen die rye stoele. Die tolk se tafel was teenaan die laaste ry stoele van die voorste blok. Sy was so geposisioneer dat sy effens na links in haar stoel kon draai en ’n goeie uitsig op die bord en die oorhoofse projektor sowel as die dosent gehad het. Dit het die tolk ook toegelaat om ’n uitsig op die meeste van die studente te hê. Die dosent het deurgaans in ’n draagbare mikrofoon gepraat. Die dosent staan en doseer op dieselfde vlak as die studente (sien figuur 2.6).