• No results found

In Januarie 1978, die eerste week van die eerste lewensjaar van die Universiteit Stellenbosch se pas gestigte Departement Joernalistiek, sê professor Piet Cillié, voorsitter van die Departement, joernalisitek is ’n craft, soos meubels maak. Jy leer dit nie deur te studeer nie, jy leer dit deur te doen.

My eerste gedagte: Hoekom sit ons dan hier? Hoekom is ons nie daarbuite nie, besig om joernalistiek te “doen”? Tog het ek mettertyd ingesien formele onderrig in joernalistiek en joernalistiek beoefen, is nie wedersyds uitsluitend nie. Vandag glo ek dit nóg sterker.

Cillié het sy siening gegrond op 23 jaar in die redakteurstoel van Die Burger. Nóg hy, nóg enige van die gevierde joernaliste wat in daardie era saam met hom die boonste sport bereik het, of onder sy hande deurgeloop het, het enige formele onderrig in joernalistiek gehad. Talle van hulle had geen tersiêre kwalifikasie. Hulle het geleer deur te doen.

Ter motivering van sy byna-obsessie om sy studente tik en snelskrif te leer, het Cillié gesê jy leer nie klavier speel deur na lesings oor beroemde komponiste te luister nie. Jy leer deur toonlere te oefen en ure en nogmaals ure by die klavier deur te bring. Sy beheptheid met tik en snelskrif was destyds vir my onbegryplik. Wat van bandopnemers en sommer jouself leer tik? Ons beste professor was kennelik effe uit voeling met die aanmars van tegnologie. Die klasse in tik en snelskrif is mettertyd gestaak.

Maar in elke ander opsig het Cillié sy “baba” in 1978 reg neergesit, en goed deur veral die grootwordjare begelei. Hier is wat ek met my saamgeneem het van ’n jaar aan sy voete. Dit het van waarde gebly oor ’n tydperk van 40 jaar as ’n aktiewe joernalis:

1. Skryf is nie alles in die joernalistiek nie, maar dis baie. Die trefkrag en reikwydte van ’n berig, ’n argument of ’n standpunt wat goed geskryf en gestruktureer is, is tienvoudig groter as dié daarsonder. Goeie joernaliste skryf goed. Punt. Skryf vir media is dikwels ’n talent, maar nie altyd nie. Joernaliste kan hulself leer skryf. Elke keer as ’n joernalis sy of haar skryfwerk deur die masjien sit en poleer, word dit beter.

2. Dink oor wat jy wil doen. Dink oor hoe jy dit wil aanpak. Dink oor wat jy wil sê en veral, dink aan jou gehoor. Probeer jou indink in hul verwagtinge in. Hoe langer en hoe dieper jy vooraf dink, hoe beter is die resultaat. Vind ’n sinvolle kompromis tussen wat jou gehoor wil hê en wat jy wil/kan gee. Jou werk moet inslag vind om waarde te kan hê.

3. Dink krities. Moenie alles wat jy kry vir soetkoek opeet nie. Skool jou in gesonde skeptisisme oor alles wat oor jou pad kom as ’n joernalis. Maar bly bedag daarop dat skeptisisme maklik oorgaan in sinisme. Sinisme het vermaaklikheidswaarde – vir ’n rukkie. Kykers, lesers en luisteraars raak gou verveeld daarmee.

4. Bly nuuskierig. As jy nie van nature nuuskierig is nie, dwing jouself en leer om so te wees. Dit sal gou ’n gewoonte word. Leer verstaan. As jy nie die materiaal verstaan waarmee jy werk nie, is die kans nul dat die gehoor sal. Vereenvoudig tot kort duskant van oorvereenvoudiging.

5. Woorde in ’n teks, ongeag die formaat, is nie inhoud nie. Nes aktiwiteit nie met aksie verwar moet word nie. Woorde in die hande van ’n joernalis is soos ’n kunstenaar se kwasstrepe. Elkeen moet saak maak en bydra tot die geheel. En soos ’n skilderdoek, is die ruimte waarbinne die joernalis se woorde funksioneer, nie onbeperk nie. Selfs in die digitale era.

6. En op ’n persoonlike noot, neem jou werk as joernalis ernstig op, nie jouself nie. CP Scott, ’n voormalige redakteur van The Guardian, het dit mooi gestel: “Comment is free, but facts are sacred.”

In die loop van die sowat 15 jaar wat ek in redakteurstoele gesit het, het ek gereeld saamgewerk met studente wat afgestudeer het aan die US se joernalistiekdepartement. Sy stigtingsfilosofieë het by verreweg die meeste van hulle deeglik inslag gevind.

Dit voorspel goed vir die toekoms. In die sakewêreld word gesê maatskappye wat hou by die waardes aan die hand waarvan hulle aanvanklik sakesukses behaal het, het die beste kans op langslewendheid. Dit geld veral sektore waar handelstoestande aanhoudend en meedoënloos verander, soos in die media.

In 1978 het Stellenbosch se Departement Joernalistiek ’n twintigtal aspirant-joernaliste ’n wêreld ingestuur wat veel meer voorspelbaar en stabiel was as vandag s’n. Gedrukte media, veral hoofstroomkoerante, het ’n hoogbloei beleef en die agenda gestel, in lande en op die globale verhoë. Televisie as ’n nuusmedium was op volle vaart, veral wat impak betref. Radio was flink aan’t herstel ná die aanvanklike ontwrigting wat die koms van TV veroorsaak het. Gesels- en inbelradio het weggetrek en het mettertyd skouspelagtige sukses behaal.

Die ontwikkeling van elektroniese redigeringstelsels vir drukmedia was in 1978 in ’n gevorderde stadium. Professor Cillié het eendag, heel dramaties, vir ons gesê die dae van tikmasjiene en getikte berigte is verby. Julle gaan nog skryf op “video display terminals” – VDT’s het hy dit genoem. By Naspers, deesdae Media24, waar ek destyds gewerk het, het dit eers drie jaar later gebeur. Nie eens die mees versiende wetenskaplike kon destyds die koms van die globale internet voorsien nie.

Die jong joernaliste wat in, sê maar, die afgelope tien jaar op Stellenbosch weg is, en dié wat in die volgende paar sal gradueer, sal ’n totaal ander heelal betree as ons in 1978.

Let wel, heelal. Nie landskap nie. In 2018 word hul tradisionele werkshabitat ontwrig deur, onder meer, fopnuus en sosiale media. Oor vyf jaar van nou af is dit bes moontlik iets wat vandag nog nie eens bestaan nie. Ek beny hulle allermins die uitdaging.

In 1978 was die primêre take van die “massamedia”, soos dit destyds genoem is, die verskaffing van inligting, vermaak en ’n bietjie opvoeding. In 2018 benodig verbruikers en gehore al minder die “massamedia” hiervoor. Maar hulle het steeds ’n punt van oriëntasie nodig. Wat is die impak van alles wat in my straat, my stad, my land, my streek, en in die wêreld daarbuite, gebeur op my en my belange? Hoe navigeer ek? Hoe kan ek hieroor dink? Hoe skep dit risiko vir my, of hoe kan ek daaruit voordeel trek? Dié toedrag van sake bied unieke geleenthede aan dit wat in 2018 deurgaan as hoofstroommedia, asook aan individuele joernaliste wat nie in hoofstroomedia funksioneer nie. Soos een uitgewer jare gelede gesê het: “Tell the story on the platform that’s best suited to the tale.” En as jy ’n graduandis is van die US se skool vir joernalistiek: aan die hand van die goeie skoling wat jy daar deurloop het. Dis vandag so relevant soos destyds.

Tim du Plessis is sedert 1977 ’n joernalis. Hy was in die eerste klas toe die US se Department Joernalistiek in 1978 geopen het. In 1977 het hy vir ’n jaar by Beeld gewerk nadat hy aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit ’n BA-graad behaal het. Du Plessis is sedert 2014 die hoof van nuus en aktualiteit by die Afrikaanse TV-kanaal kykNET. Hy is ook betrokke by M-Net se aktuele program Carte Blanche. Hy is in 2001 aangestel as redakteur van die Sondagkoerant Rapport, in 2009 as redakteur van Beeld en twee jaar later as hoofredakteur van Media24 se Afrikaanse koerante. Du Plessis was van Desember 1999 tot Mei 2001 redakteur van The Citizen nadat hy ook gedien het as ’n adjunk-redakteur van City Press. Du Plessis het in 1992/’93 as ’n Nieman-genoot ’n akademiese jaar aan die Harvard-universiteit in die VSA deurgebring. Hy is ’n gereelde deelnemer aan TV- en radioprogramme oor aktuele kwessies.

Crozierstraat 26 - plek van

vorming en verwesenliking