• No results found

Daar is aspekte aan Crozierstraat wat oor die jare ongetwyfeld dramaties verander het. Tik en snelskrif is nie meer verpligte vakke nie, jy hoef nie meer ’n eerstejaarmodule in ’n Afrikataal deur te kom om jou honneurs te kry nie en die newelagtige vakke “Afrikaans vir joernaliste” en “English for journalists” (ek moet bieg, ek kan absoluut niks uit hierdie modules onthou nie, behalwe dat prof George Claassen ’n aversie aan die woord “dat” het), het vervorm in die baie meer praktiese taalredigering-modules. Dan is daar goed wat niks verander het nie. In 1978, toe Piet Cillié sy eerste groepie protegés hier ontvang het, was die toekoms onseker. Met die vrot reuk van die Soweto-opstande en Steve Biko se dood in die lug, ’n sensuurraad wat namens die volk besluit het wat is aanvaarbare leesstof en die wolke van sanksies wat begin saampak het, was die joernalistiek sweerlik vir baie mense ’n twyfelagtige loopbaankeuse. Toe ek in 1999 as ’n afvallige musiekstudent hier ingedwaal het, was die joernalistiek vasgevang in ’n eksistensiële krisis, ten beste verwoord in Marshall McLuhan se wekroep “the medium is the message”, wat heel verstaanbaar aanklank gevind het by die invloed wat “nuwe media” (televisie, meestal) op die “ou media” (radio en koerante) se benadering tot verslaggewing gehad het, en min of meer toe die internet ’n werklikheid in die meeste gewone mense se lewens begin raak het. Joernalistiek soos ons dit altyd geken het, was besig om onherkenbaar te verander, en dit was nie seker hoe die bedryf homself volhoubaar en relevant sou hou nie.

Teen 2015, toe ek as Rykie-genoot begin het om daardie jaar se honneursstudente te probeer leer hoe om ’n nuusberig aanmekaar te sit, was Donald Trump se plan om die VSA-presidentskap in te palm met die hulp van “fake news” op die alte gewillige sosialemedia-platforms Facebook en Twitter goed op dreef, en werksekuriteit in die joernalistiek ’n baie vae konsep weens onmoontlik klein begrotings, piepklein nuuskantore en ’n siniese staat én private sektor wat die waarheid skaamteloos vertroebel met disinformasie en “spin”.

Dis maklik om koers te verloor te midde van al hierdie lawaai. Is dit nog nodig om vir studente HTML te leer?

Hoe presies differensieer jy tussen ’n radionuus-insetsel en ’n “podcast”?

Hoekom leer jy die studente kunsjoernalistiek as daar omtrent niks oor is nie van die eens gesonde en formidabele kunsredaksies wat by die meeste groter publikasies ’n vanselfsprekende teenwoordigheid was?

Om die waarheid te sê, is dit selfs nog nodig om joernaliste te hê wanneer soveel maatskappye sommer hul eie media produseer, en elke mens met ’n selfoon en ’n internetverbinding nou (dink hy kan) dieselfde doen as wat ’n joernalis doen?

En dis wanneer hierdie twyfel en verwarring jou tref dat die kompakte eenvoud van Crozierstraat jou weer terugbring na dit wat regtig belangrik is.

Joernalistiek is ’n benadering en ’n strewe. Hoe die inligting sy weg vind na die leser is minder belangrik as die ingesteldheid en optrede van die joernalis wat die inligting insamel en weergee.

Is jy eerlik? Streef jy na onpartydigheid, en om te alle tye eties en respekvol op te tree teenoor almal wat jy nader vir inligting? Sonder om dit wat hulle aan jou opdis vir soetkoek op te eet?

Daar is heelwat goed wat hulle my in 1999 in Crozierstraat geleer het wat glad nie meer ter sake is nie. PageMaker. Filmkameras.

Maar dan is daar ander goed wat eenvoudig en onontbeerlik is. Vra die regte vrae. Wees deeglik. Wees akkuraat. Spel mense se name reg. Moenie bang wees nie. Probeer nuwe goed. Moet nooit ophou leer nie. Geniet wat jy doen.

Ek glo vas een van die groot redes vir Crozierstraat se sukses as ’n wegspringplek vir joernaliste is sy vermoë om onwrikbaar getrou te bly aan die basiese beginsels van die joernalistiek, ten spyte van al die lawaai en die veranderinge.

Mediahuise raak dalk armer en suiniger, en Google en Facebook en Twitter ál magtiger, en gehore al minder gesofistikeerd, maar Crozierstraat wyk nie af van dit wat belangrik is nie:

• Kies die regte soort mense vir jou kursus – nuuskierig en heeltemal die teenoorgestelde van goedgelowig – uit ’n diverse groep maatskaplike en kulturele agtergronde, en uit ’n verskeidenheid dissiplines.

• Leer hulle die basiese vaardighede wat nodig is om aanpasbaar en pragmaties te wees, sonder om etiek uit die oog te verloor.

• Kry gesoute mense uit die bedryf om hulle voor te stel aan die wye verskeidenheid middele waarmee hulle joernalistiek kan pleeg.

• Koester ’n gesonde skeptisisme.

• En doen jou bes om hulle te leer om reg te spel.

Ons weet dié formule werk. Kyk net na wat alumni van dié departement al alles vermag het.

Jeanne van der Merwe is ’n joernalis in Kaapstad en ’n oudlid van Media24 se bekroonde ondersoekspan waar sy in data- en ondersoekende joernalistiek gespesialiseer het, met spesifieke fokus op onderwys, korrupsie en owerheidsbesteding. Voorheen het sy reg, politiek en opvoeding vir die Sunday Times en Cape Argus gedek, en was artikelredakteur van die

reispublikasies Weg! en Go! Ná haar jaar as Rykie-genoot in 2015 is sy as Landbouweekblad se nuusredakteur aangestel. Sy het musiek, letterkunde, joernalistiek en antieke kulture aan die Universiteit Stellenbosch bestudeer en haar belangstellings sluit in wetenskap en tegnologie, aktuele sake, geskiedenis, reis en media.

‘Only a free person can seek