• No results found

Om joernalis te wees, veral in ons huidige onstuimige tyd, voel toenemend soos om aanhoudend net-net uit die pad van ’n sneltrein te spring.

Dit is ’n frustrerende tyd, maar ook ’n opwindende tyd. Frustrerend, want daar is sóveel wat jy wil help regmaak, of mense tot verantwoording roep óm reg te maak. Opwindend, want jy sit in die goue sirkel en sien hoe die geskiedenis om jou geskryf word.

Een ding is seker – jy sal nooit weer “net” ’n joernalis kan wees nie. Soos die sneltrein nader kom, raak die lawaai en gesuis en chaos meer. Toenemend moet jy die chaos verteer en vir die leser sin daaruit maak. Almal en alles skree. Die politici. Die kerk. Facebook. Twitter. Pinterest. Protesteerders. En almal is kenners.

Maar om te vertolk en verteerbaar weer te gee, beteken jy moet self eers verstaan. Jy kan immers nie iets aan iemand verduidelik wat jy self nie verstaan nie.

En om te verstaan, moet jy inneem. Om in te neem, moet jy luister. Dít is die hedendaagse joernalis se waardevolste bate, reken ek. As jy luister, gaan jy hoor wat ander nie kan nie.

September verlede jaar bars ’n bom – eintlik ’n sweer wat lankal oopgesteek moes geword het. Die komediant en omroeper Tumi Morake sê apartheid was verkeerd, ’n vernederende stelsel waarvoor nog nooit amptelik om verskoning gevra is nie.

Dis soos die boelie by die skool wat jou fiets afvat, maar in plaas daarvan dat die boelie oor die vingers getik word, moet julle twee nou maar die fiets deel. Dís hoe dit vir haar voel, het Morake gesê. Niemand het die boelie laat jammer sê nie.

Sy het nie gesê wit mense is diewe nie. Sy het gepraat oor ’n stelsel wat verkeerd was. Mense het gehoor, maar nie geluister nie. En toe bars die storm los en die geskree begin. As mense geluister het na wat sy sê, sou hulle iets heel anders gehoor het.

Daar is wonderlike gesprekke aan die gang oor nasiebou, en vergifnis, oor verskoning vra, en aanbeweeg, maar ongelukkig is dit beperk tot diegene wat bereid is om te luister. Watter fantastiese geleentheid mis ons nie hier nie.

Kleintyd is ons dié les geleer, en in my kinderbrein was dit ’n angswekkende beeld: ’n Kind het buite met sy maatjies gespeel, en sy ma het hom geroep om te kom eet. Maar nee, hy het haar gehoor maar nie geluister nie, en toe die tragedie: die muur waarlangs hy gespeel het val om, en die kleintjie kry baie ernstig seer.

Nie ’n lekker beeld nie. Maar dit het ons laat lúíster.

Verplaas dit na die nou. Ons land het die potensiaal om te blom en groei tot iets fenomenaal. Soos die 2010 Sokker Wêreldbeker se slagspreuk gelui het: Feel it, it is here. Dit was so naby, jy kon dit ruik en voel, en geen gegil en geskreeu van die doemprofete en dié wat vasklou aan mag kon dit uitdoof nie.

Dit beteken nie daar is ontkenning van die probleme en uitdagings nie. Nog minder dat ons die kombers oor ons koppe trek. Dit beteken eenvoudig jy gaan slimmer maniere moet vind om mense te laat práát met mekaar, lúíster na mekaar, anders gaan die muur val en mense gaan seerkry.

Bouwer Bosch, met sy reeks videos #Versoening waarmee hy om verskoning vra vir apartheid – maar meer nog, die gesprek oor die verlede en die toekoms wil aanmoedig – som dit op: Almal wil gehoor word, maar te min mense wil luister.

Daar is diegene wat op hom skree dat hy ’n volksverraaier is, maar dié keer kies hy om nie te luister nie – anders gaan die stemme van die wat wil vooruit beweeg, by hom verby.

Natuurlik moet jy jou eie skerpste kritikus wees, en pynlik bewus wees van jou eie vooroordele, anders kan jy nie die volledige prentjie sien nie. Dit is immers jou werk om konteks te gee, te vertolk, en feite te gaan haal op plekke waartoe min mense toegang het. Enige vooroordele moet deur die feite reggetrek word.

Joernaliste het sterk menings, en jy kom met ’n bepaalde perspektief, maar jy moet dit balanseer. En dit kan jy net doen as jy luister na wat ander te sê het.

Dis net soos aanbevelings oor stories, wat alte gou deur joernaliste as persoonlike kritiek ervaar word. As jy ophou luister na kritiek, hou jy op leer en groei. Niemand kan hoor bo die geskreeu van ’n ego nie. Ek weet nie van julle nie, maar ek is nie bereid om my toekoms in iemand anders se hande te laat nie. Nie politici nie, nie geestelike leiers, nie die (a-)sosiale media-brigade nie. So ek gaan my stem laat aanhou hoor, en op ’n dag sál iemand moet luister. Ons is dit aan onsself en mekaar verskuldig.

Jo-Ann Floris het “jare en jare gelede” voor die keuse gestaan om onderwys te gaan studeer (met ’n beurs) of joernalistiek (sonder ’n beurs). ’n Wyse onderwyser het gesê “volg jou hart”. Sy het, en het met blinde geloof joernalistiek gaan studeer aan die destydse Skiereilandse Technikon (PenTech). En sy hét toe ’n beurs gekry wat boeke en studies betaal het, vir die res het familie geraap en geskraap. Haar eerste werk was as algemene verslaggewer by die Paarl Post – sy glo steeds alle joernaliste moet hul tande by ’n gemeenskapskoerant slyp. Toe volg

die “groot” stap Beeld en Johannesburg toe, en daarna ’n rondomtalie van die Oos-Kaap, Stellenbosch (as Rykie-genoot), Durban, Kaapstad en weer terug Johannesburg toe. Sy kan haar nie ’n lewe voorstel waar sy nie stories kan vertel of help vertel nie. Nog minder waar jy nie die blootstelling kry wat die joernalistiek bied nie. En: “Ek wil die merkwaardige mentors wat my loopbaan help bou het uit die diepte van my hart bedank. Julle weet wie julle is. Ek is so bly ek het vir julle geluister.”

The future of news is