• No results found

HOOFSTUK 9: BESPREKING EN GEVOLGTREKKING

9.5 OPSOMMING VAN GEVOLGTREKKINGS

Die eerste spesifieke doelstelling van hierdie studie was om die mate van sielkundige welstand wat deur die ondersoekgroep ervaar word te bepaal.

Daar is na die ervaring van lewenstevredenheid en selfdeterminasie van die ondersoekgroep gekyk, ten einde die eerste doelwit van hierdie studie aan te spreek. Dit is belangrik om te onthou dat sielkundige welstand ook deur ander teorieë toegelig kan word.

v Lewenstevredenheid: Op grond van vorige bevindinge, die resultate verkry vanuit

onderhoude en die afneem van die Lewenstevredenheidskaal van Diener et al. (1985), word die gevolgtrekking gemaak dat die ondersoekgroep ‘n gemiddelde mate van lewenstevredenheid getoon het. Lewenstevredenheid word negatief beïnvloed, deurdat bevrediging nie plaasvind in areas wat belangrik geag word nie en verlieservarings wat verminderde betrokkenheid in interessante aktiwiteite impliseer. Die ervaring van simptome van depressie by enkele van die nierpasiënte dui op meer negatiewe as positiewe emosie, wat lewenstevredenheid vir diesulkes verminder. In ooreenstemming met die siening van Levy et al. (2001), het verminderde seggenskap oor hul behandelingsmodaliteit ‘n verdere afname in die ervaring van lewenstevredenheid tot gevolg. Die ondersteuning wat ontvang word uit verskeie oorde, dra egter weer by tot ‘n ervaring van lewenstevredenheid.

v Selfdeterminasie: Op grond van die kwalitatiewe ontleding van die onderhoude en die

resultate verkry op die Selfdeterminasieskaal van Sheldon en Deci (1996), blyk dit dat die ondersoekgroep ‘n gemiddelde mate van selfdeterminasie ervaar. Dit impliseer dat die ondersoekgroep se behoeftes aan bekwaamheid, outonomie en hul vermoë om in verhoudings te staan deur hul onderskeie siektetoestande beïnvloed word. Minder selfvertroue en ‘n lae selfbeeld as gevolg van impotensie en liggaamlike verandering, dien om hul behoefte aan bekwaamheid te ondermyn en doelwitbereiking vind nie plaas nie. Beperkte keuses ten opsigte van hul behandeling het ‘n nadelige invloed op outonomie, wat hul seggenskap oor hul eie lewe verminder. Die nieroorplantingpasiënte ervaar wel meer outonomie na hul operasies, wat ‘n toename in selfdeterminasie impliseer. Die ondersoekgroep se vermoë om verhoudings te vorm en die ondersteuning wat hulle daaruit put, dien om die ervaring van selfdeterminasie en sielkundige welstand te voed.

Die tweede spesifieke doelstelling van hierdie studie was om ‘n aanduiding te verkry van die ondersoekgroep se spiritualiteit, hoop en optimisme wa t ervaar word.

v Spiritualiteit: Die ondersoekgroep toon ‘n hoë mate van spirituele welstand, wat

hoofsaaklik aan ‘n verhouding met God toegeskryf word. Hierdie verhouding word beskou as ‘n bron van hoop, ondersteuning en wat rigting aan hul lewens gee. Deur die essensie, betekenisvolheid en waarde van hul lewens te ondersoek, word lewenstevredenheid en sin ervaar. Die kontrolegroep pasiënte neem hul lewe in heroënskou na hul besering en

herformuleer hulle lewensdoelwitte. Nierversaking dien as ‘n toets vir geloof (hemodialise pasiënte), om ‘n terugkeer na God te bewerkstellig (peritoneale dialise pasiënte) en as ‘n bevestiging van hul afhanklikheid en die teenwoordigheid van God (nieroorplantingpasiënt). Die nierpasiënte voer dikwels ‘n intense en daaglikse stryd oor hulle geloof en met hulle Skepper vanweë die lewensbedreigende aard van hul nierversaking, terwyl die kontrolegroep pasiënt hul besering as ‘n bewusmakingsproses beskryf, met ‘n heroorweging van doelwitte vir die toekoms.

v Hoop: Die resultate verkry in die studie dui daarop dat die ondersoekgroep in geheel

getuig van die ervaring van hoop. Die nierpasiënte op dialise se hoop is gerig op ‘n nieroorplanting en wat dit meebring, terwyl die kontrolegroep hul hoop vestig op ontslag uit die hospitaal en op die voltooiing van hul studie. Verwagtings aangaande doelwitbereiking en die geloof in eie vermoë om strategieë daarvoor te genereer, bestaan veral by die peritoneale dialise pasiënte en die nieroorplantingpasiënte. Die nieroorplantingpasiënt getuig van doelwitbereiking en dus die ervaring van hoop, terwyl die hemodialise pasiënt hul hooploosheid toeskryf aan onbereikte doelwitte. Verskeie faktore bestaan wat die ervaring van hoop vir die nierpasiënt verhoog, naamlik die ondersteuning verkry van familie en vriende, hul affiliasie met ‘n goddelikheid, vordering gemaak in tegnologie en die mediese wetenskap, asook inligting verskaf deur die mediese personeel. Die aanpassings by hul situasie blyk uit lewensstylveranderings deur die nierpasiënte. Die kontrolegroep se aanpassing daarenteen is meer tydelik van aard en is gerig op herstel na hul besering. Die tekort aan niere vir oorplantings, die lang wagtydperk wat daarmee saamgaan, gebrekkige ondersteuning en fisieke faktore, is verantwoordelik vir die verminderde ervaring van hoop en indirek ook vir die afname in die sielkundige welstand van die pasiënte op dialise.

v Optimisme: Vanuit die resultate is dit duidelik dat die ondersoekgroep oor ‘n hoë mate

van optimisme beskik, deurdat hulle meer positiewe affek ervaar en onaangename gebeure toeskryf aan eksterne, onstabiele en spesifieke oorsake. Spesifieke elemente van optimisme is waargeneem in terme van positiewe verwagtings wat by die pasiënte op dialise bestaan omtrent die uitkoms van hul siektetoestand. Hoewel bepaalde struikelblokke hulle optimisme temper, het hul vermoë om aanpassings te maak steeds hul strewe na doelwitbereiking bevorder en dus ook tot optimisme aanleiding gegee. Hul optimisme is gewoonlik realisties van aard en hul siektetoestand word as ‘n uitdaging

beskou, wat gemotiveerdheid en volharding verg. ‘n Fokus op die positiewe aspekte van hul bestaande situasie, lei in vele gevalle tot ‘n groter waardering vir hulle gesinne, die verpleegpersoneel, die natuur en gesondheid.

Die laaste doelstelling van hierdie studie was om die invloed van spiritualiteit, hoop en optimisme as psigofortigene faktore op die ervaring van sielkundige welstand vir die ondersoekgroep aan te dui.

v Spiritualiteit as voorspeller van sielkundige welstand: Hoewel die ondersoekgroep as

geheel skynbaar oor hoë vlakke van spirituele welstand beskik, is dit slegs die hemodialise pasiënte se verhouding met God wat as voorspeller van sielkundige welstand en meer spesifiek van hul selfdeterminasie, na vore getree het. Vanweë die kroniese en lewensbedreigende aard van hul nierversaking, intensifiseer dit hul bewustheid en afhanklikheid van hul Skepper. Hierdeur dien hul kennis van die Bybel en die leiding wat dit verskaf, asook die gemeensaamheid met mede- gelowiges as ‘n bron van ondersteuning, wat ook berusting en aanvaarding van hul nierversaking verskaf. Vir die kontrolegroep word lewenstevredenheid voorspel deur hulle siening van die lewe as sinvol, hulle doelwitte wat hulle rig en die lewenstevredenheid wat hulle godsdienstige ervarings meebring. Die akute aard van hul besering en die relatief vinnige vordering gemaak in die herstelproses, impliseer ‘n terugkeer na hul lewens wat hulle voorheen gelei het, wat ook hierdie ervaring van lewens tevredenheid verklaar.

v Hoop as voorspeller van sielkundige welstand: Vanuit die kwantitatiewe gedeelte van

die studie is dit duidelik dat hoop nie vir die totale ondersoekgroep as voorspeller van sielkundige welstand na vore getree het nie. Dit is slegs die kognitief-temporale- dimensiesubskaal wat as voorspeller van selfdeterminasie na vore getree het by die hemodialise pasiënte. Hoopvolheid word dus aangedui deur hierdie pasiënte se persepsie dat ‘n positiewe, begeerde uitkoms, naamlik ‘n nieroorplanting, in die nabye of verdere toekoms moontlik is. ‘n Nieroorplanting word dus geassosieer met meer outonomiteit, doelwitbereiking en ‘n toename in die kwaliteit van hul verhoudings met betekenisvolle ander. Hoewel hoop nie as voorspeller van sielkundige welstand by die ander groepe deur die kwantitatiewe resultate aangedui word nie, dui die kwalitatiewe resultate daarop dat hulle wel hoop ervaar.

v Optimisme as voorspeller van sielkundige welstand: Optimisme (affek) het as die

prominenste voorspeller na vore getree, deurdat dit die variansie in selfdeterminasie van die totale ondersoekgroep verklaar het. Addisioneel tot affek, het die attribusiestyl van die pasiënte op dialise ook as voorspeller van hul selfdeterminasie na vore getree. Optimisme soos gemeet deur die Affektometer 2 (Kamman & Flett, 1983) is verantwoordelik vir die variansie in lewenstevredenheid van die nieroorplantingpasiënte en dié van die kontrolegroep. Vanuit die kwalitatiewe resultate toon die ondersoekgroep ‘n hoë mate va n optimisme soos gesien uit hul positiewe verwagtings, aanpassings gemaak, waardering en die benadering van hul siektetoestand as ‘n uitdaging.