• No results found

HOOFSTUK 9: BESPREKING EN GEVOLGTREKKING

9.2 DIE SIELKUNDIGE WELSTAND VAN DIE ONDERSOEKGROEP

Die sielkundige welstand van die ondersoekgroep is op kwantitatiewe wyse, met behulp van twee vraelyste, naamlik die Lewenstevredenheidskaal van Diener et al. (1985) en die Selfdeterminasieskaal van Sheldon en Deci (1996) gemeet. Hoewel die gemiddelde lewenstevredenheidtellings wat in vorige studies gerapporteer is, hoër is as wat in die huidige studie verkry is, toon die ondersoekgroep in hierdie studie steeds ‘n redelike vlak van lewenstevredenheid. Op die Selfdeterminasieskaal van Sheldon en Deci (1996), ervaar die ondersoekgroep skynbaar ‘n effens bo-gemiddelde vlak van selfdeterminasie, indien dit met die teoretiese gemiddelde vergelyk word. Soos reeds gemeld, is daar nie ander vergelykbare data beskikbaar nie. Die kwantitatiewe resultate van hierdie twee vraelyste dui dus daarop dat die pasiënte van die ondersoekgroep redelike vlakke van sielkundige welstand ervaar.

Die kwalitatiewe ontleding van die onderhoude suggereer dat daar faktore werksaam is wat die ondersoekgroep se vlakke van lewenstevredenheid en selfdeterminasie terselftertyd verlaag sowel as verhoog. Deurdat kroniese nierversaking byna elke aspek van ‘n persoon se lewe affekteer, in dié sin dat hierdie pasiënte dikwels komplekse sosiale, sielkundige en fisieke probleme ervaar (Levy et al., 2001), is dit te verstane dat die nierpasiënte se sielkundige welstand daardeur geraak word. Hierdie probleme, wat ook in die literatuur vermeld word, het inderdaad by die nierpasiënte voorgekom. Die sosiale probleme wat veral deur die hemodialise- en peritoneale dialise pasiënte ervaar word, word gesien in die afname van hul werksproduktiwiteit, wat uiteindelik daartoe lei dat sommige van hierdie pasiënte selfs hul beroepe prysgee. Buiten die feit dat hierdie pasiënte as gevolg hiervan min of geen werkstevredenheid ervaar, bemoeilik dit hul vermoë om finansiëel na hulself of hul gesinne om te sien. Hierdie onbevredigde behoeftes, naamlik om ‘n beroep te beoefen en selfonderhoudend of die broodwinner te wees, het uiteind elik minder lewenstevredenheid tot gevolg. Die pasiënte se eiewaarde en selfvertroue

bekwaam voel om belangrike doelwitte te bereik, wat ‘n negatiewe invloed op hul vlakke van selfdeterminasie, oftewel sielkundige welstand het.

Aangesien hierdie pasiënte se behandeling ‘n bepaalde tydrowende en geroetineerde tydskedule voorskryf, het hulle dialise ‘n beperkende invloed op hulle lewens. Die gevolg hiervan is ‘n afname in hul betrokkenheid by sport, sosiale geleenthede, gesins- en ander aktiwiteite. Nie net hul vermoë om in verhoudings met ander te staan word hierdeur negatief beïnvloed nie, maar hierdie pasiënte word ook ontneem van die ondersteunende waarde wat hoë kwaliteit verhoudings bied. Die fisieke ongesteldheid wat hierdie pasiënte ervaar, noop hulle, addisioneel tot die tydgebonde aard van hul behandeling, ook om hul sosiale betrokkenheid af te skaal. Hierdie “sosiale isolasie” verminder deelname aan betekenisvolle en interessante aktiwiteite, wat noodwendig lei to ‘n afname in lewenstevredenheid.

Die sielkundige impak van die siekte is geïllustreer deur die feit dat enkele van die pasiënte op hemo- en peritoneale dialise tekens van depressie getoon het, wat ontstaan het in respons op gewaande, dreigende of werklike verliese. Hulle lewenstevredenheid is dus ingekort. Verwante mediese probleme, byvoorbeeld hipertensie, artritis en diabetes wat blindheid tot gevolg gehad het, klagtes van slaapversteurings, moegheid en fisieke ongemak is verdere voorbeelde van die negatiewe invloed van die siekte op hul fisieke welstand. Aangesien die mens ‘n biopsigososiale wese is, spoel die invloed van die biologiese faktore ook oor na die psige. Seksuele impotensie wat intieme verhoudings kelder en die gebruik van kortisoon wat gewigstoename veroorsaak en veral by die nieroorplantingpasiënte voorkom, asook die peritoneale dialise pasiënte se kateters, het ‘n negatiewe invloed op die selfvertroue en selfbeeld van hie rdie nierpasiënte. Dit gee ook aanleiding tot afname in die pasiënte se gevoelens van bekwaamheid, wat immers saamhang met gevoelens van selfvertroue en eiewaarde. Sodoende kortwiek dit die pasiënte se ervaringe van positiewe persoonlike doelwitbereiking en benadeel dit ook hulle gevoel van selfdeterminasie. Hul nierversaking ontneem ook die nierpasiënte in sekere opsigte van seggenskap oor hul eie lewe. Die hemodialise pasiënt se afhanklikheid van die dialisemasjien as plaasvervanger vir sy of haar nierfunksie, moet byvoorbeeld voorkeur kry by die beplanning van vakansies. Sodoende word vakansiebestemmings meestal bepaal deur die beskikbaarheid van dialisemasjiene, wat dikwels daartoe lei dat die eerste keuse van bestemming nie realiseer nie. Hierdie tipe diskrepansies wat bestaan tussen die ontvangs van lewensnoodsaaklike dialise en die werklike behoefte van die pasiënt het ‘n afname in die vlakke van sielkundige welstand tot gevolg. Indien

spesiale reëlings omtrent die ontvangs van dialise ook nie lank genoeg voor die tyd met niereenhede naby aan hul vakansiebestemming getref word nie, kan dit tot die teleurstellende kansellasie van hul vakansie lei.

Vanweë die lewensbedreigende aard van hul nierversaking word besluite betreffende hul behandeling meestal deur die mediese span geneem. Dit impliseer dat die pasiënt, wat uiteindelik die meeste daardeur geraak word, dikwels nie seggenskap het in die besluite oor die tipe dialise waarop hy of sy geplaas gaan word nie. Volgens Levy et al. (2001) belemmer dit vanselfsprekend lewenskwaliteit. In teenstelling hiermee gee die vryheid wat na ‘n nieroorplanting ervaar word, ‘n gevoel van meer outonomiteit. Dit maak die bereiking van begeerde uitkomste moontlik en lei tot ‘n toename in die ervaring van lewenstevredenheid en selfdeterminasie.

Hoewel besluite geneem deur die mediese personeel in sekere opsigte verantwoordelik kan wees vir ‘n afname in die lewenskwaliteit van die nierpasiënt, dra hulle in ander opsigte by tot hoër vlakke van sielkundige welstand van die nierpasiënt. Die gemoedelike gesindheid, bekwaamheid en die inligting wat die verpleegpersoneel aan die pasiënte verskaf, word as ‘n belangrike bron van ondersteuning deur die nierpasiënte geïdentifiseer. Bykomend hiertoe was die begrip en meelewing wat hulle van mede-pasiënte ontvang het, vir die pasiënte op peritoneale dialise ook van groot waarde. Die verpleegpersoneel se daaglikse versorgingsaandag was ‘n bron van ondersteuning vir die kontrolegroep. Buiten vir die verpleegpersoneel, het al die groepe hul eggenote, gesinne, kinders, godsdiens en kollegas as ondersteuningsbronne aangedui. Enkele pasiënte op dialise, wat minder ondersteuning van betekenisvolle persone in hul lewe ontvang het, getuig van simptome van depressie wat uiteraard sielkundige welstand inkort. Stabiele verhoudings het egter as ‘n weerbaarheidsfaktor in die meeste van hierdie pasiënte se lewens gedien, wat ooreenstem met die bevindinge van Mikulincer en Florian (1998).

Hoewel aanpassing belemmer kan word deur die moontlike verwerping van die oorgeplante nier, getuig pasiënte na hul nieroorplanting van die hervatting van hul beroepe, sport en stokperdjies, wat ‘n terugkeer na normale lewe vir diesulkes impliseer, met ‘n gevolglike toename in lewenstevredenheid en selfdeterminasie. Dit verklaar dan ook die hoër vlakke van sielkundige welstand by die nieroorplantingpasiënte. Die pasiënte van die kontrolegroep se beserings laat vrae ontstaan rondom die handhawing van hul beroepe, hul onafhanklikheid en ‘n terugkeer na

‘n normale lewe. Die akute aard van hul beserings het tot gevolg dat die ervaring van lewenstevredenheid en selfdeterminasie op ‘n tydelike grondslag, omvergewerp word.

Bogenoemde faktore wat lewenstevredenheid en selfdeterminasie beide verlaag en verhoog, kan dus as verklaring dien vir die gemiddelde vlakke van sielkundige welstand wat deur die ondersoekgroep ervaar word. Vanuit die kwantitatiewe en kwalitatiewe resultate wil dit voorkom asof die pasiënte op dialise die laagste vlakke van sielkundige welstand ervaar. Hoewel die pasiënte van die kontrolegroep wel die invloed van hul besering op hul lewens ervaar, blyk die toename in gesondheid en lewenskwaliteit na die operasie hoër vlakke van sielkundige welstand tot gevolg te hê. Die nieroorplantingpasiënte wat die meeste lewenstevredenheid en selfdeterminasie ervaar, se hoë vlakke van sielkundige welstand kan toegeskryf word aan die toename in hul fisieke welstand, wat die uitleef van hul belangstellings en stokperdjies, die hertoetrede tot beroepe en sosiale betrokkenheid tot gevolg het. Die emosionele groeiproses wat plaasvind van voor tot na die nieroorplanting, maak dit vir hulle moontlik om hulself te distansieer van alledaagse probleme, wat ‘n positiewe invloed op hul lewens het. Die nuutgevonde vryheid van dialise na hul nieroorplanting het ook ‘n dramatiese verhoging in hul lewenskwaliteit tot gevolg. Hoewel ‘n nieroorplanting nie gesondheid waarborg nie, het dit eerder ten doel om die pasiënte se welstand en lewenskwaliteit te verbeter (Ostrowski et al., 2000; Rebollo et. al, 2000), wat inderdaad by die nieroorplantingpasiënte waargeneem word.

9.3 DIE ONDERSOEKGROEP SE VLAKKE VAN SPIRITUALITEIT, HOOP EN