• No results found

DIE INVLOED VAN DIALISE OP DIE LEWE VAN DIE NIERPASIËNT

HOOFSTUK 6: DIE NIERPASIËNT

6.3 DIE INVLOED VAN DIALISE OP DIE LEWE VAN DIE NIERPASIËNT

Die aanvanklike reaksie van pasiënte na die diagnosering van kroniese nierversaking stem dikwels ooreen met die verloop van die rouproses (kidneywise.com, 08/11/2002). Kroniese

nierversaking affekteer byna elke aspek van ‘n persoon se lewe in dié sin dat pasiënte dikwels komplekse fisieke, sosiale en sielkundige probleme ervaar (Levy et al., 2001). Hoewel hierdie pasiënte meestal met bykans alles wat hulle gedoen het kan voortgaan, het die dialise wel ‘n invloed op so ‘n pasiënt se lewenstyl (kidneywise.com, 08/11/2002).

6.3.1 Fisieke invloed

Kroniese nierversaking toon ‘n hoë ko- morbiditeit met ander siektes. Hartsiektes (34%), koronêre vatsiektes (16%), perifere vaskulêre siektes (10%), serebrovaskulêre siektes (30%), diabetes (10%) en kanker (7%) is van die siektes wat algemeen by pasiënte met kroniese nierversaking voorkom. Kardiovaskulêre komplikasies soos byvoorbeeld aritmieë, anginas, miokardiale infarkte en beroertes, kom ook voor. Hierdie pasiënte kan ook anemies raak, vanweë die gebruik van medikasie benodig vir die behandeling van hul siektetoestand (Levy et al., 2001). Bykomend hiertoe kan septisemie vanweë kateterinfeksies lewensbedreigend wees. Ander fisieke klagtes sluit in slaapversteurings, veranderings in aptyt en gewig, droeë mond en konstipasie (Daugirdas, Blake & Ing, 2001).

6.3.2 Sosiale invloed

Pasiënte op hemodialise kan dit moeilik vind om drie keer per week vir dialise na ‘n niereenheid te gaan. Spesiale reëlings moet getref word, indien die pasiënt werksaam is of ver van die naaste kliniek gesetel is. Aangesien die pasiënt gebonde is aan die tydskedule van ‘n hospitaal, kan dit gebeur dat dialise op ongerieflike tye vir die gesinslede of ander ondersteunende persone plaasvind. Dit vereis dus meer aanpassings as wat dit die geval is met peritoneale dialise. Met peritoneale dialise moet pasiënte egter daagliks dialiseer, terwyl pasiënte op hemodialise afdae geniet, wanneer hulle nie nodig het om vir dialise na ‘n hospitaal te gaan nie. Die voordeel wat peritoneale dialise egter inhou, is dat dit ‘n meer buigsame behandelingsmetode is, aangesien dit op enige plek uitgevoer kan word en by die lewenstyl van die persoon aangepas kan word. Dit is veral ook gepas indien nierpasiënte ‘n gesinslid of iemand anders het op wie hulle kan staatmaak om hulle met die dialiseproses van hulp te wees. Indien so ‘n persoon die dialiseproses verstaan en kan toepas, vergemaklik dit die proses aansienlik (Levy et al., 2001; kidneywise.com).

6.3.3 Sielkundige invloed

Ongeveer 10% van gehospitaliseerde pasiënte met kroniese nierversaking voldoen ook aan die kriteria vir ‘n ko- morbiede psigiatriese diagnose. Volgens Kimmel en Levy (2001) word die sielkundige reaksie teenoor siekte bepaal deur die pasiënt se premorbiede persoonlikheid, die mate van ondersteuning gebied deur familie en vriende en die verloop van die onderliggende siekte. Aangesien die sielkundige probleme wat hierdie pasiënte ervaar veelvuldig is, word ‘n aanduiding daarvan vervolgens verskaf.

6.3.3.1 Depressie

Depressie is die algemeenste sielkundige komplikasie by dialise pasiënte. Dit manifesteer dikwels in ‘n depressiewe gemoed, ‘n swak selfbeeld en gevoelens van hopeloosheid. Die depressie ontstaan in respons op die werklike, dreigende of gewaande verliese wat hierdie pasiënte ervaar (Kimmel & Levy, 2001). Die inkorting van fisieke en kognitiewe vermoëns, seksuele- en nierfunksionering, asook ‘n afname in hul betrokkenheid by gesins-, werks- en sosiale aktiwiteite dra by tot verlieservarings (Levy et al., 2001). Post-dialise moegheid en liggaamlike verandering wat die selfbeeld negatief kan beïnvloed, word ook met depressie geassosieer. Simptome wat ooreenstem met depressie kan egter organies nageboots word as gevolg van uremie.

Dit wil voorkom asof pasiënte op hemodialise meer geneig is tot depressie as diegene op peritoneale dialise. Dit impliseer dat pasiënte op peritoneale dialise dikwels hoër vlakke van lewenskwaliteit geniet (Zimmerman, Poli de Figueiredo & Fonseca, 2001). ‘n Vermindering in depressie vind egter meermale plaas as persone die dialiseproses as toepaslik ervaar. Ten spyte hiervan pleeg nagenoeg 1 uit 500 dialise pasiënte steeds selfmoord, terwyl ‘n groot aantal een of meer keer selfmoord probeer pleeg (Levy et al., 2001).

6.3.3.2 Samewerking met mediese personeel

Swak samewerking met die mediese personeel van niereenhede word by 2% tot 50% van nierpasiënte gevind. Dit word toegeskryf aan ‘n tekort aan inligting en begrip, medisinale newe- effekte en verskillende opinies aangaande die effektiwiteit van behandeling (Levy et al., 2001). Woede-uitbarstings en frustrasies vanweë verandering wat soms in die huislike en werksomstandighede voorkom, het ‘n verdere negatiewe invloed op verhoudings en kan ‘n

verlies aan ondersteuningbronne tot gevolg hê. Vanweë die lewensbedreigende aard van die siekte kan swak samewerking tussen pasiënte, hul versorgers en die hospitaalpersoneel dus hoogs problematies wees (Kimmel & Levy, 2001).

6.3.3.3 Seksuele disfunksie

Seksuele disfunksie, wat veroorsaak kan word deur diabetes mellitus, sielkundige probleme of medikasie, kan ‘n invloed op intieme verhoudings hê. Impotensie word by 70% manlike pasiënte gevind, terwyl vroulike pasiënte ‘n afname in die ervaring van orgasmes aandui. Seksuele disfunksie en die gevolglike afname in seksuele intimiteit word dus deur beide geslagte gerapporteer (Kimmel & Levy, 2001).

Hoewel die oorsake vir seksuele disfunksie primêr organies blyk te wees, speel sielkundige faktore ook ‘n rol. Vir manlike pasiënte word die oorsaak van hul seksuele disfunksie toegeskryf aan depressie, angs, die verandering van hul rol as primêre versorger van hul gesin en problematiese urinering. Vir vroulike pasiënte word die staking van hul menstruasiesiklus, ‘n afname in fertiliteit en verandering in fisieke voorkoms as redes aangegee (Kimmel & Levy, 2001).

6.3.3.4 Die rehabilitasie van pasiënte op dialise

Probleme rakende beroepsbeoefening en die vereistes gestel deur rehabilitasieprogramme kan verdere druk op hierdie pasiënte plaas. Die ernstigheidsgraad van die siekte tydens die inisiëring van kroniese nierversaking behandeling, die sosio-ekonomiese status van die pasiënte, asook die mate van hulle beroepsbevrediging of die gebrek daaraan, het ‘n bepalende effek op nierpasënte se terugkeer tot die beoefening van hul beroep of nie. Bydraend hiertoe kan onbuigsame werkskedules, veral by die pasiënte op hemodialise, daartoe aanleiding gee dat hulle hul werk bedank, aangesien hulle die vryheid nodig het om hul dialise verpligtinge na te kom. Die vereiste afna me in fisieke aktiwiteite kan veral blouboordjie werknemers en sportlui verplig om hul loopbane en intense oefenprogramme te beëindig. Hierdie faktore gee gevolglik daartoe aanleiding dat ongeveer twee derdes van pasiënte op dialise nie terugkeer na die beoefening van hul beroepe nie. In gesinne met ‘n hoër sosioekonomiese status kan vroulike pasiënte makliker die opsie uitoefen om hulle werk te bedank. Aangesien die aard en beoefening van hul beroep vir mans baie keer ‘n aanduiding van hul manlikheid is, kan die verlies van hulle loopbane vir hulle ernstige sielkundige gevolge inhou. Die gevolg hiervan kan wees dat mans aanhou werk as

primêre versorger van hul gesinne, maar dat dit ten koste van hul fisieke gesondheid geskied (Kimmel & Levy, 2001).

6.3.3.5 Lewenskwaliteit

Kimmel en Levy (2001) huldig die opinie dat die metodes om die nierpasiënte op dialise se lewenskwaliteit te meet, tot op hede nog nie genoegsaam ontwikkel is nie. Sommige resultate dui daarop dat die nierpasiënt se lewenskwaliteit meestal in ooreenstemming is met dié van die algemene populasie. In teenstelling hiermee bevind Zimmerman en kollegas (2001) dat hemodialise pasiënte meer depressief is en minder lewenskwaliteit ervaar as die algemene populasie. Dit kan aanleiding gee tot alkohol- en dwelmmiddelmisbruik, ‘n afname in hul immuniteit en swak selfsorg (Levenson & Glocheski, 1991). Resultate van die SF-36, ‘n gesondheidsvraelys met 36 skale, dui daarop dat nierpasiënte se fisieke lewenskwaliteit minder is as dié van die algemene populasie, terwyl hul psigiese lewenskwaliteit nie noemenswaardige verskille toon met dié van die algemene populasie nie. ‘n Toename in lewenskwaliteit word gevind by pasiënte wat ‘n keuse kan uitoefen aangaande die modaliteit van hul dialisebehandeling (Levy et al., 2001).

6.3.3.6 Ander invloede van dialise op die lewe van die nierpasiënte

Kroniese nierversaking het ‘n definitiewe invloed op nierpasiënte se vakansie- en reisreëlings. Aangesien die meeste niereenhede oor vakansietye baie vol is en dikwels nie op kort kennisgewing bykomstige pasiënte kan akkommodeer nie, moet reëlings vooraf getref word, sodat hulle hemodialise kan ontvang. Hemodialise word ook meestal in ‘n groterige hospitaal gedoen, wat beteken dat vervoer na die dialise-eenheid vir persone vanaf verafgeleë vakansiebestemmings in berekening gebring moet word tydens hul vakansiebeplanning. In sommige gevalle kan vermoënde pasiënte hul eie hemodialise-apparaat aanskaf, waar ‘n opgeleide familielid die dialise tuis behartig (Prof. B. Jansen van Rensburg, persoonlike kommentaar, 20/10/03). Pasiënte op peritoneale dialise ervaar meer vryheid, deurdat hulle hul dialisetoerusting saam met hulle op vakansie kan neem (kidneywise.com, 08/11/2002). ‘n Diagnose van kroniese nierversaking bemoeilik verder die verkryging van lewensversekering, lenings en huisverbande. Kommer hieroor, wat meestal nie met mediese personeel bespreek word nie, kan ‘n negatiewe invloed op die sielkundige welstand van pasiënte hê (Levy et al., 2001).

Soos gesien uit bogenoemde navorsingsresultate, ervaar pasiënte op dialise veelvuldige probleme. Hoewel dit voorkom asof diegene op hemodialise meer geneig is tot depressie as dié op peritoneale dialise, bestaan genoegsame bewyse dat dialise pasiënte se alledaagse funksionering deur hul siektetoestand ingekort word.

6.4 DIE INVLOED VAN ‘N ORGAANOORPLANTING OP DIE LEWE VAN DIE