• No results found

3.3 DIE NAVORSINGSONTWERP

3.3.3 Wyse van ondersoek (Tegniek)

3.3.3.3 Ontleding van inligting

Tot dusver is twee kenmerke van kwalitatiewe navorsing genoem, nl dat dit 'n deurlopende proses is en dat dit primêr induktief is. Maykut en Morehouse (1994) beklemtoon ook hierdie kenmerke as deel van kwalitatiewe data-ontleding. Volgens hulle kan die navorser nie vooraf bepaal wat belangrik gaan wees nie, maar begin ontleding wanneer inligting ingesamel word. Geleidelik raak aspekte van die fenomeen wat bestudeer word meer opvallend en word die fokus van ondersoek verbreed of vernou soos die inligting dit lei. Die uitkomste van 'n navorsingstudie ontvou uit die sistematiese bou van homogene betekeniskategorieë wat induktief afgelei is van die inligting (Maykut & Morehouse, 1994). Volgens Rabinov en Sullivan (in Terre Blanche & Durrheim, 1999) is deurlopende data-ontleding noodsaaklik gedurende kwalitatiewe navorsing, aangesien daar meer op die proses gefokus word as op vaste prosedures. Om hierdie rede sal ek as navorser ten alle tye bewus wees van nuwe inligting wat gedurende navorsing die proses mag betree.

Een van die vele metodes van kwalitatiewe ontleding is tematiese inhoudsontleding wat vervolgens bespreek sal word.

Tematiese inhoudsontleding

Kwalitatiewe tematiese inhoudsontleding word deur Hsieh en Shannon (in Zhang, 2006) gedefinieer as 'n navorsingsmetode vir die subjektiewe beskrywing van teksdata-inhoud deur middel van 'n sistematiese klassifikasieproses van kodering en identifisering van temas of patrone. Patton (1987) beskryf hierdie proses as die identifisering van koherente en belangrike voorbeelde, temas en patrone in die data. Dit is dus in hierdie geval die subjektiewe beskrywing van die inhoud van onderhoude, kunswerke en ander vorms van kommunikasie met betrekking tot die

herhaling waarmee terme, idees, gevoelens, persoonlike verwysings ens. voorkom. Uit hierdie definisies kan afgelei word dat tematiese inhoudsontleding dieselfde induktiewe en individualistiese waardes koester waarin ek as konstruksionistiese navorser belangstel.

Hoewel kwalitatiewe benaderings gewoonlik nie rigiede stappe voorskryf nie, stel Terre Blanche en Durrheim (1999) die volgende riglyne voor wat deur die navorser gebruik sal word om haar ontleding te struktureer.

Die riglyne sluit die volgende voorgestelde fases in:

1. Vertroud-raking en indompeling

Hoewel die insameling en ontleding van inligting mekaar afwissel word daar voorgestel dat die navorser 'n voorlopige begrip ontwikkel vir die betekenis van die inligting voordat ontleding oorweeg word. Tydens die ontledingsfase sal sy haarself weer 'indompel' in al die versamelde materiaal (onderhoude, kunswerke, veldnotas, transkripsies) deur dit herhaaldelik deur te lees. Sodoende behoort die navorser die inligting so goed te ken dat sy min of meer weet wat waar gekry kan word sowel as watter soort interpretasies mees waarskynlik deur watter inligting ondersteun word en watter nie (Terre Blanche & Durrheim, 1999).

2. Aflei van temas

Volgens Terre Blanche en Durrheim (1999) beteken die woord "induction" om algemene reëls of klasse van spesifieke voorbeelde af te lei. Hulle beveel aan dat die taal van die deelnemers tydens hierdie fase voorkeur kry bo abstrakte teoretiese taal. Verder stel hulle voor dat daar weg beweeg moet word van 'n blote inhoudsopsomming en dat daar eerder gedink moet word in terme van prosesse, funksies, spanning en teenstrydighede. Dan word dit ook aanbeveel dat genoeg temas uitgelig word sodat latere integrasie moontlik gemaak kan word. Hier moet egter diskressie gebruik word sodat die hoeveelheid temas nie te veel raak om te hanteer nie. 'n Volgende aanbeveling is dat daar nie te gou op 'n sisteem van temas besluit word nie, maar dat daar eers rondgespeel word met verskillende soorte temas. Ten slotte word daar beklemtoon dat die navorser nie fokus moet verloor oor die werklike aard van die studie nie.

3. Kodering

Hierdie fase word parallel met die vorige fase uitgevoer en behels die merk van gedeeltes inligting ooreenkomstig een of meer geïdentifiseerde temas. Terre Blanche en Durrheim (1999) beskryf hierdie fase as 'n opbreek van inligting in gemerkte,

betekenisvolle gedeeltes. Hierdie gekodeerde stukkies word later weer saamgegroepeer onder die kode-opskrif en kan verder ontleed word as 'n groep en in verhouding met ander groepe.

4. Verwerking/Uitbouing

Tydens die uitbouingsfase kan temas wat vroeër geïdentifiseer is van naderby ondersoek word. Die navorser kry ook die geleentheid om die koderingstelsel te hersien. Die doel van hierdie fase is om verder rond te speel met moontlike struktureringsopsies om sodoende 'n gevoel te kry dat dit wat binne die inligting gebeur, goed oorgedra word. Die proses van kodering, uitbouing en aantekening behoort voort te gaan tot geen verdere noemenswaardige insigte te voorskyn kom nie.

5. Interpretasie en toetsing

Tydens hierdie finale fase van ontleding word 'n geskrewe weergawe van kinders se ervaring van hul sibbe se kankers gegee. Die temas en kategorieë wat tydens die ontledingsproses geïdentifiseer is, sal waarskynlik gebruik word. Die interpretasie moet op hierdie stadium gefynkam word vir swak plekke soos teenstrydighede en vooroordele. Terre Blanche en Durrheim (1999) stel voor dat die navorser op hierdie stadium ook rekenskap moet gee met betrekking tot haar persoonlike betrokkenheid in die fenomeen en hoe dit die inligtinginsamelings- en ontledingsproses gevorm het. Op hierdie stadium sal gepoog word om Maykut en Morehouse (1994:47) se kriterium na te streef wat daarop neerkom dat die leser voorsien moet word van 'n ryk beskrywing, wat hom sal voorsien van genoeg inligting om te bepaal of die bevindinge van hierdie studie moontlik van toepassing kan wees op ander persone of omstandighede.

'n Voordeel van tematiese inhoudsontleding (wat hierbo beskryf is), is dat dit die navorser 'n geleentheid gee om aandag te gee aan unieke temas wat 'n reeks betekenisse met betrekking tot die fenomeen verduidelik (Zhang, 2006). Verder word navorsers in staat gestel om heen en weer te beweeg tussen konsepontwikkeling en insameling, wat volgens Miles en Huberman (in Zhang, 2006) nuwe data-insameling in 'n rigting stuur wat meer betekenisvol is in die beantwoording van navorsingsvrae.