• No results found

Metafisiese belewenisse (Geestelike en religieuse belewenisse)

5.2 VERGELYKENDE ONTLEDING

5.2.8 Metafisiese belewenisse (Geestelike en religieuse belewenisse)

In hierdie studie is geestelike en religeuse belewenisse saam geklassifiseer onder die tema metafisiese belewenisse. Die geestelike en religieuse dimensies korreleer met Jung se holistiese mensbeskouing (Meyer, Moore & Viljoen, 1997). Jung beskryf hierdie twee dimensies as die mens se afhanklikheid van en onderwerping aan irrasionele ervarings (ervarings wat nie deur menslike rede verstaan word nie).

Al die deelnemers in hierdie studie het by geleentheid verwys na geleenthede waar hulle staat gemaak het op hulle geloof (bid, luister gospelmusiek, lees Bybel) om hulle deur hulle sibbes se siekte te dra. Alhoewel hierdie belewenisse waarskynlik deur die meeste Suid-Afrikaners geïnterpreteer sal word as geloof en die aanbidding van 'n god, erken Jung hierdie belewenis as 'n religieuse instink van die mens (Meyer, Moore & Viljoen, 1997). Hy beskou godsdiens as 'n universeel menslike verskynsel waarvan die oorsprong teruggevoer word na 'n universele god-archetipe.

Tydens hierdie studie het een deelnemer melding gemaak van geestelike

belewenisse soos die sien van dooie mense en die gevoel dat iemand haar wurg.

Sosiaal-konstruksionisties beskou, kan hierdie belewenisse vanuit verskillende hoeke bekyk word en kontroversiële reaksies uitlok. Beyer et al. (in Visser, 2007:42) noem

dat one society may value and validate magical and mystical experiences, while others may dismiss them as unreal, psychotic or delusionary. So kan hierdie belewenisse vanuit 'n mediese perspektief beskou word as patologiese gedrag (neurose of hallusinasies). 'n Hallusinasie word deur Plug et al. (2008) beskryf as 'n waarneming (in enige sintuiglike modaliteit) in die afwesigheid van 'n ooreenstemmende of relevante prikkel. In die reël is dit 'n simptoom van 'n psigopatologiese toestand en veral van die psigoses. Plug et al. (2008) definieer 'n neurose as 'n psigiese versteuring wat hoofsaaklik gekenmerk word deur angs, wat op 'n direkte of indirekte wyse tot uiting kom. Dit word onderskei van 'n psigose daardeur dat 'n totale persoonlikheidsdisorganisasie en breuk met die werklikheid nie aangetref word nie.

Wanneer daar vanuit 'n Jungiaanse hoek na verskynsels soos die "sien van dooie mense" en die "gevoel dat iemand jou wurg" gekyk word, is hierdie belewenisse nie noodwendig patologies nie, maar eerder 'n manier waarop onbewuste belewenisse na die bewussyn gebring word (Meyer, Moore & Viljoen, 1997).

Twee van die deelnemers in die studie het melding gemaak van drome. Ook drome word deur Jung beskou as die pad na die onbewuste en 'n belangrike manier waarop insig in 'n persoon se onbewuste funksionering verkry word (Meyer, Moore & Viljoen, 1997). Simbole word beskou as die taal van drome.

In die uitvoer van hierdie navorsingstudie het die deelnemers bewustelik (in kuns- aktiwiteite) en onbewustelik (in gesprekke en met verwysing na drome of geestelike belewenisse) gebruik gemaak van simbole om hulle belewenisse te kommunikeer.

Simbole kom volgens Jung nie net in drome voor nie, maar ook in fantasieë, gesigte,

mites en kuns. Tydens hierdie studie is daar melding gemaak van verskeie simbole wat vervolgens bespreek sal word.

Swaard: J het die swaard gekies as 'n simbool vir kanker. Volgens die Dictionary of Symbols (Cirlot, 2001) is die simbool van 'n swaard oor die eeue gebruik om 'n verskeidenheid goed te simboliseer, waarvan die primêre simboliese betekenis dié van 'n wond of die krag van 'n wond is. In sommige gevalle word die swaard as die simbool vir die dood beskou (Cirlot, 2001). In die Christendom was die handvatsel van 'n swaard dikwels in die vorm van 'n kruis (Fontana, 2003). Daar kan dus 'n verwantskap gesien word tussen J se verklaring en die algemene simboliese betekenis van 'n swaard.

Skild: J se beskrywing van die skild as iets wat verdedig teen kanker, korreleer met die verdedigende waarde van 'n skild in die geskiedenis van simbole. Die skild is volgens Cirlot (2001) 'n simbool van geestelike verdediging.

Hart: Beide J en C het gebruik gemaak van die hart-simbool om liefde vir hulle sibbes te simboliseer. Deur die eeue het die hart-simbool nie net liefde simboliseer nie, maar ook opregtheid en medelydendheid (compassion), temas wat ook met J en C se betrokkenheid by hulle sibbes se kanker in verband gebring kan word.

Beer: B het die beer as 'n simbool gebruik wat hom en sy boetie beskryf wat saam deur die goed en die sleg in die lewe gaan. Volgens Cirlot (2001) word 'n beer in die alchemie geassosieer met instinkte. Dit word geassosieer met die (lewens)gevaarlike aspek van die onbewuste en as 'n eienskap van die man wat wreed en primitief is. Volgens Fontana (2003) is die beer vir boorling Amerikaners en Chinese die simbool vir krag en dapperheid.

Engel (Bylae 6, figuur 2): Vir B het die engel 'n godsdienstige betekenis gehad ('n engel van God wat sy boetie kom gerusstel het). Dit hou verband met die Christelike en Joodse konnotasie met die engel as kommunikasie tussen God en die mensdom (Fontana, 2003). Ook in die gotiese kuns simboliseer die engel beskermende en goddelike aspekte.

Stralekrans (Bylae 6, figuur 2): B het die stralekrans beskryf as 'n simbool dat sy boetie gesond sal word. Hierdie betekenis korreleer met dié van die Christelike ikonografie en antieke Griekse en Oosterse kuns wat die stralekrans beskou as die simbool vir goddelike glans, wysheid en lewenskrag (Fontana, 2003).

Kruis: B en C het die kruis as 'n geloofsimbool gebruik. In die Christelike geloof waarvan hulle deel is, is dit 'n algemene simbool.

Water (Bylae 6, figuur 3): B het nie bewustelik hierdie simbool as simbool geïdentifiseer nie, maar in sy tekeninge en gesprekke het die water-tema herhaaldelik verskyn. Dit sluit die see en ander water (swembad, waterbed, drinkwater) in. Water word in die moderne sielkunde beskou as 'n simbool vir die

onbewuste (Cirlot, 2001). Die see is oor die eeue gebruik as 'n simbool vir universele lewe (Cirlot, 2001).

Huis: Vir C was 'n huis die simbool vir beskerming teen kanker. In die psigoanalise word 'n huis geassosieer met die menslike liggaam en menslike denke (Cirlot, 2001).

Slang: In 'n droom het C die slang geassosieer met iets wat haar en haar sussie opeet. Tradisioneel is die slang onder andere 'n simbool vir energie, wysheid en die primitiewe areas van die lewe.

Monsteragtige figuur: C het melding gemaak van 'n monsteragtige figuur wat haar wurg. Monsters is tradisioneel 'n simbool vir chaos en 'n ongebalanseerde psigiese funksie (Cirlot, 2001).

Uit die bogenoemde kan afgelei word dat die betekenisse wat die deelnemers in hierdie studie aan beelde gekoppel het, in 'n groot mate korreleer met eeu-oue betekenisse wat aan dieselfde simbole gekoppel is. Temas wat uit die simbole vorendag kom, is ook temas wat aangeraak is in die bespreking oor kinders se belewenisse van 'n sibbe se kanker (lewe, dood, die goddelike, menslike liggaam, genesing). Daar kan dus afgelei word dat die deelnemers se nie-bewuste belewenisse ooreenstem met hulle bewustelike belewenisse. Hierdie bevindinge korreleer met Jung se siening dat simbole oerbeelde (architipes) verteenwoordig wat fisiologies oorgeërf is en deur die eeue gekoppel is aan spesifieke betekenisse.