• No results found

3.3 DIE NAVORSINGSONTWERP

3.3.6 Kwaliteitskriteria

Kwaliteitskriteria binne die raamwerk van hierdie studie verwys na die "betroubaarheid" en "geldigheid" van die bevindinge. Tradisioneel is kwantitatiewe navorsing as die mees betroubare en geldige vorm van navorsing beskou. Betroubaarheid en geldigheid van data word nie deur die kwalitatiewe navorser geïgnoreer nie, maar die aanslag daarop verskil van kwantitatiewe navorsing. In die volgende paragrawe sal hierdie kwessie ontrafel word.

In kwalitatiewe navorsing is die woord "betroubaar" slegs toepaslik wanneer dit gebruik word om die volgende vraag te beantwoord: "Het ek jou ervaring betroubaar verwoord?" (Terre Blanche & Durrheim, 1999:429). Geldigheid in kwalitatiewe navorsing kan beskou word as 'n skeidslyn wat onderskei tussen goeie navorsing en swak navorsing, aanvaarbare en onaanvaarbare navorsing (Volgens Scheurich in Lincoln & Denzin, 1994 in Durheim & Terre Blanche, 1999).

Volgens Lincoln en Guba (Seale, 1999) word daar gewoonlik vier vrae gevra om die betroubaarheid van 'n navorsingsverslag te bepaal, nl.:

Die Waarheidswaarde: Hoe werklik is die bevindinge?

1. Toepaslikheid/Eksterne geldigheid: In hoe 'n mate kan die bevindinge veralgemeen word in ander kontekste?

2. Konsekwentheid: Hoe kan daar bepaal word of die bevindinge herhaal kan word as die navorsing met dieselfde (of ander) deelnemers in dieselfde (of ander) konteks gedoen sou word?

3. Neutraliteit: Word die bevindinge bepaal deur die deelnemers en die inligting-insamelingsproses of deur die vooroordele, motivering, belangstelling en perspektief van die navorser?

In reaksie hierop beklemtoon Lincoln en Guba (Seale, 1999) die volgende feite met betrekking tot kwalitatiewe navorsing:

Wat die eerste item betref, wys hulle daarop dat "waarheidswaarde" insinueer dat daar 'n enkele objektiewe werklikheid bestaan. Soos vroeër genoem, ontken die konstruksionistiese denker die bestaan van 'n enkele waarheid, en aanvaar hy die bestaan van vele gekonstrueerde werklikhede. Tweedens word daar met die woord "toepaslikheid" aanvaar dat daar veralgemeen kan word van 'n steekproef na 'n populasie terwyl die kwalitatiewe navorser die uniekheid van elke situasie koester. Die derde punt word gekritiseer as afhanklik van naïewe realistiese aannames, en laastens word die woord "neutraliteit" deur hulle beskou as afhanklik van 'n kunsmatige skeiding tussen waardes en ondersoek.

As alternatief stel Lincoln en Guba (Seale, 1999) hul eie vierpunt-kriteriumlys voor wat nou bespreek sal word.

1. Geloofwaardigheid in plaas van Waarheidswaarde

Geloofwaardigheid word opgebou deur middel van triangulasie-oefeninge, eweknie-evaluering en teenhipotese.

2. Oordraagbaarheid in plaas van Toepaslikheid

Gee 'n ryk beskrywing van die omstandighede wat bestudeer word sodat lesers voldoende inligting ontvang om die toepaslikheid van die bevindinge in ander omstandighede wat aan hulle bekend is, te beoordeel.

3. Afhanklikheid in plaas van Konsekwentheid

Gebruik die proses bekend as "auditing" waarin ander persone die navorser se dokumentasie, metodes en besluite kontroleer.

4. Bevestiging in plaas van Neutraliteit

Die "auditing"-proses word deur die navorser self gedoen.

As sosiaal-konstruksionistiese navorser aanvaar ek dat daar 'n verskeidenheid gekonstrueerde realiteite bestaan (relativisme) eerder as 'n enkele tasbare werklikheid. Volgens Seale (1999) is dit dus nie in ooreenstemming met hierdie paradigma om iets te beoordeel op grond van die geloofwaardig-heid/betroubaarheid daarvan nie. Guba en Lincoln (Seale, 1999) erken hierdie probleem en voeg 'n vyfde kriterium by die bogenoemde lys, nl. outentisiteit.

5. Outentisiteit

Outentisiteit word volgens Guba en Lincoln (Seale, 1999) verkry wanneer navorsers kan aantoon dat hulle werk 'n verskeidenheid verskillende realiteite verteenwoordig. Hulle onderskei tussen verskillende vorme van outentisiteit. Ontologiese outentisiteit ontwikkel wanneer lede 'n meer gesofistikeerde begrip vorm van die fenomeen wat bestudeer word. Opvoedkundige outentisiteit word openbaar wanneer lede ander se standpunte (anders as hul eie) insien. Wanneer daar 'n mate van aksie gestimuleer is, word dit katalistiese outentisiteit genoem en taktiese outentisiteit beteken dat lede bemagtig is om op te tree ("to act").

In hierdie studie stel ek myself ten doel om Guba en Lincoln (Seale, 1999) se vyfpunt-kriteriumlys as kwaliteitsmaatstaf te gebruik.

3.4 AFSLUITING

'n Oorsig oor die konsep van navorsingsmetodologie is eerstens gegee, en tweedens is riglyne vir die navorsingsontwerp van hierdie studie beklemtoon. Dit is uitgewys dat die kwalitatiewe navorsingsontwerp die mees gepaste navorsingsmetode vir hierdie studie is. Hierdie benadering is bespreek tesame met die gepaste metodes wat nodig is om toegang tot inligting te verkry en die ontleding daarvan is bespreek. Die gevallestudie-benadering is geïdentifiseer as die gepaste navorsingstrategie om inligting te bekom. Daar sal onderhoude gevoer word met drie deelnemers wie se broers of susters met pediatriese kanker gediagnoseer is. Dit is uitgewys dat kunsterapie-tegnieke eers gebruik sal word om 'n verhouding met die deelnemers te vestig, gevolg deur diepte-onderhoudvoering. Die etiese riglyne waarvolgens onderhoude gevoer sal word, is bespreek met die klem op ingeligte toestemming en konfidensialiteit. Tematiese-inhoudsontleding is geïdentifiseer as die proses waarvolgens die inligting wat ingesamel is, ontleed sal word. Daardeur sal gemeenskaplike temas in die deelnemers se belewenisse uitgelig word. Die navorser het ook aandag geskenk aan haar eie samewerkende rol in die navorsingsproses en erken dat haar persoonlike sienswyses mag kleur gee aan hierdie studie. Ten slotte word die kwaliteitskriteria van 'n kwalitatiewe studie soos hierdie in ag geneem en beoog die navorser haarself om Guba en Lincoln (Seale, 1999) se kwaliteitsriglyne te volg.

HOOFSTUK 4

GEVALLESTUDIES

4.1 INLEIDING

Hierdie hoofstuk is 'n inleiding tot die praktiese gedeelte van hierdie studie. Die implimentering van die navorsingsplan word beskryf en die observasies sowel as die getranskribeerde gesprekke met die drie deelnemers word deeglik beskryf en geanaliseer. Uitstaande temas word geïdentifiseer. Dit is moontlik dat temas wat geïdentifiseer is, nie noodwendig wedersyds eksklusief is nie en met mekaar kan oorvleuel. Dit is nodig om in ag te neem dat die temas wat uitgelig word, eie perspektief op die onderhoud is vir die spesifieke tydstip. Dit word dus nie voorgelê as die absolute werklikheid oor die deelnemers se realiteit of 'n veralgemening van kinders se belewing van 'n sibbe met kanker nie. Die temas is ook nie alomvattend nie. 'n Ander persoon wat weer vanuit sy of haar perspektief na hierdie onderhoude luister, kan ander temas identifiseer of nog temas byvoeg.