Hoofstuk 4: Prediking as faktor wat tot marginalisasie kan bydra
4.5 Moralistiese benaderings ten opsigte van houdings en gesindhede
Volgens Cilliers (2004:75 e.v.) verander talle predikers die evangelie in ‘n moralistiese oproep tot selfverbetering. In moralisme moet ons God as’t ware teenwoordig stel, sy Woord aktiveer, self die verlossing bewerkstellig. Die taalstruktuur daarvan word deur voorwaardelike sinskonstruksies gekenmerk. God se handelinge word nie so uitgespreek dat mense op grond daarvan kan handel nie, maar afhanklik gemaak van mense se handelinge. Dis nie meer God wat deur sy handeling ‘n situasie skep nie, maar mense wat ‘n situasie moet herskep om God te laat handel.
Volgens Dreyer (2005:30) impliseer ‘n moralistiese benadering tot vergifnis dat mense aan bepaalde voorwaardes moet voldoen om toegang te verkry tot God se koninkryk. Slagoffers van geweld voldoen moeilik aan hierdie voorwaardes. Hulle is reeds deur die geweldenaar tot
slagoffer gemaak. Nou kry hulle die opdrag om te vergewe. Of hulle dit regkry of nie, is bepalend vir hulle eie vergifnis en toegang tot God se koninkryk. Die teologiese “oplossing” wat aangegee word, is die kruisdood van Jesus. Omdat Hy dit gedoen het, is vergifnis moontlik. Hierdie “oplossing” maak dit vir ‘n slagoffer nog moeiliker. Die “ons” in die Ons Vader gebed is volgens Dreyer (2005:31) volgelinge van Jesus wat die opdrag kry om te vergewe nadat hulle self heel geword het en vergewe is. Indien ‘n persoon nog nie heel is nie, moet die verhaal eers vertel word en erkenning gegee word daaraan dat ‘n skreiende onreg plaasgevind het. Daarna kan die persoon deur psigologiese prosesse wat tyd neem, tot heelheid kom. Dan eers geld die opdrag om te vegewe. Slagoffers van geweld word nie uitgesluit uit God se genade omdat hulle sukkel om te vergewe nie of selfs omdat hulle moeite het om te glo nie. Volgens Poling (1997:158) is die betekenis van vergifnis deur die Christelike kerke so goedkoop gemaak dat dit ten opsigte van genesing en versoening tussen mense, deel geword het van die probleem eerder as van die oplossing. Vergifnis behoort gesien te word as een van die laaste stappe in die proses van genesing wat onder meer rou insluit. Die feit dat rou deel is van die proses wat nodig is om by werklike vergifnis uit te kom, dien vir die navorser as bevestiging dat die weeklaag ‘n plek behoort te hê tydens prediking om sodoende daartoe by te dra om mense met die rouproses te help.
‘n Ander manier om vergifnis op ‘n moralistiese wyse te benader, is dié waarna Nel (2003:47) verwys, naamlik dat berou as voorwaarde vir vergifnis gestel word. Die navorser is van mening dat dit soms vir iemand moeilik kan wees om berou te toon vanweë pyn wat ervaar word. Sodanige pyn het waarskynlik ook ‘n invloed uitgeoefen wat betref die misstap wat begaan is. Genesing van daardie pyn is dus nodig om uiteindelik berou te kan hê. Vergifnis wat onvoorwaardelik ontvang is, behoort ‘n belangrike bydrae te lewer ten opsigte van genesing van pyn en die berou wat daarop volg. Dit wil dus vir die navorser voorkom dat berou ‘n uitvloeisel is van vergifnis wat onvoorwaardelik ontvang is, eerder as ‘n voorwaarde vir vergifnis. Daar sal in afdeling 4.7.3 verwys word na preke wat die indruk skep dat ‘n mens se houding iets is waaroor jy die volle beheer het. De Klerk (2007:193) wys egter daarop dat dit moeilik is om houdings te verander aangesien so ‘n verandering nuwe maniere van dink vereis. Die navorser
is verder van mening dat onverwerkte pyn ‘n invloed op mense se houdings uitoefen en dikwels ook tot gevoelens van onwaardigheid aanleiding gee. Lindhardt (2007:117 e.v.) wys daarop dat sommige teoloё sulke gevoelens van onwaardigheid as sonde beskou omdat dit neerkom op ‘n gebrek aan vertroue in God. Die feit is egter dat sulke gevoelens dikwels die gevolg is van die sosiale onderdrukking van individue en groepe. Redenasies oor vergifnis sal in so ‘n geval nie vir die slagoffers ‘n sinvolle boodskap inhou nie. Voldens die navorser se oordeel, is dit nodig dat daar ten opsigte van houdings en gevoelens van onwaardigheid rekening gehou moet word met die onderskeid tussen eerste orde verandering en tweede orde verandering waarna Dreyer (2005:29) verwys. Eerste orde verandering is wanneer die persoon verander, maar die sisteem onveranderd bly, terwyl die tweede orde verandering gaan oor die verandering van die sisteem self. Alles is anders want die persoon en die sisteem het verander. Die navorser is van mening dat preke wat mense tot ‘n houdingsverandering oproep, meestal ‘n eerste orde verandering vereis terwyl ‘n tweede orde verandering in werklikheid nodig is. Sodoende word daar ‘n onmoontlike eis aan die individu gestel terwyl die sisteme wat moet verander nie aangespreek word nie en die pyn wat deur die betrokke sisteme veroorsaak word buite rekening gelaat word. Dit is, volgens die navorser se oordeel, juis nodig dat daar verandering ten opsigte van die maniere van dink oor manwees nodig is om sommige mans se houding te verander.
Die gedagte wat deur Paulus genoem word in Galasiёrs 2:19‐20 waar hy sê “Ek is saam met
Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe”,
beteken, volgens die navorser se oordeel, nie dat jy as mens ophou om te bestaan en dat jou eie belange en die pyn wat jy moontlik ervaar, nie meer tel nie. Dit is, volgens die navorser se oordeel, eerder ‘n getuienis van die feit dat Christus aan ‘n mens se lewe ‘n besondere betekenis gee wat ‘n verskil maak aan jou manier van lewe. Hierdie verskil gee daartoe aanleiding dat jy die gesindheid van Christus waarvan Paulus in Filippense 2:5 praat, al hoe meer begin te weerspieёl. Om Christus se gesindheid te weerspieёl is dus ‘n uitvloeisel van die betekenis wat Christus aan ‘n mens se lewe gee eerder as iets wat ‘n mens self eers moet regkry om jou van God se teenwoordigheid te verseker. ‘n Mens se gesindheid kan egter deur pyn geblokkeer word. Daarom is dit nodig dat pyn verwerk moet word in die lig van die betekenis wat Christus aan ‘n mens se lewe gee en die feit dat Hy Hom met jou pyn
geїdentifiseer het. Dit is juis hierdie betekenis wat gemis word indien ‘n verandering in houding of gesindheid as voorvereiste vir die werk van God gestel word, soos wel gebeur het tydens ‘n preek waana daar in afdeling 4.7.3 verwys sal word.