• No results found

Die spanning tussen kontekstuele teologie en die tradisie

Hoofstuk  3:  Raakpunte  tussen  kontekstuele  teologie  en  die  situasie  van  die

3.4  Die spanning tussen kontekstuele teologie en die tradisie

Volgens  Bergmann  (2003:63)  is  die  Christelike  tradisie  ‘n  reeks  plaaslike  teologië  wat  dien  as  sosiale  en  kulturele  geheue  wat  die  gemeenskap  van  heiliges  help  om  hierdie  reeks  plaaslike  teologië te aktualiseer met die oog op hulle toekoms. In afdeling 3.2 is daar daarop gewys dat 

sekere belydenisse ‘n belangrike deel van hierdie tradisie is. De Gruchy (1994:163) wys daarop  dat  die  verkleefdheid  aan  die  letter  van  sulke  belydenisse  die  gevaar  inhou  dat  dit  ‘n  plaasvervanger kan word vir die luister na wat die Gees vandag vir kerke deur die Skrif wil sê  om  sodoende  te  verhinder  dat  Jesus  Christus  binne  die  verband  met  spesifieke  kontekste  en  historiese momente bely word. Getrouheid aan die verklaring van ‘n sekere belydenis beteken  nie noodwendig dat die kerk Jesus Christus getrou binne die betrokke konteks bely nie, maar dit  kan juis neerkom op die omseiling van daardie taak en uitdaging. 

Volgens  Hendriks (2004:24 e.v.) is daar ‘n verskuiwing besig om plaas  te vind ten  opsigte  van  die manier waarvolgens teologie gedoen word. Die manier waarop teologie vantevore gedoen  is,  het  neergekom  op  gehoorsame  analisering  en  sistematisering  van  die  geloofstradisie.  Alhoewel  hierdie  benadering  wel  meriete  het,  is  ‘n  ander  manier  om  teologie  te  doen  die  gehoorsame meewerking aan God se voortgaande betrokkenheid by die wêreld. Indien teologie  beoefen  word  deur  tekste  van  die  geloofstradisie  te  bestudeer  en  dit  dan  op  ‘n  spesifieke  situasie  in  die  hede  toe  te  pas,  ontstaan  die  probleem  dat  teologie  losgemaak  word  van  die  ervarings, vrae en uitdagings wat die huidige situasie inhou. Dit hou die gevolg in dat mense nie  in  staat  gestel  word  om  die  veranderinge  wat  die  huidige  situasie  inhou,  te  hanteer  nie  om  aanleiding te gee tot geestelike agteruitgang asook agteruitgang wat die kerk as instansie betref.  Dit is dus nodig dat die Christelike geloofstradisie in die lig van huidige realiteite gelees moet  word ten einde te onderskei wat God ten opsigte van die betrokke realiteite verlang. 

Die  idee  dat  die  tradisie  in  die  lig  van  die  huidige  realiteite  gelees  moet  word,  sal  vervolgens  toegepas word op die ekonomiese realiteite. Perlas (2000:23) wys daarop dat die kapitalistiese  ekonomie  wat  die  indruk  skep  dat  dit  oor  die  kapasiteit  beskik  om  rykdom  te  skep  in  werklikheid ‘n vernietigende uitwerking het op die sisteme wat lewe op aarde onderhou en op  die sosiale vesels van die samelewing om sodoende die hele mensdom te verarm. Volgens die  navorser se oordeel, is die kapitalistiese ekonomie ‘n belangrike deel van die tradisie van groei  en  ontwikkeling  wat  verband  hou  met  sekere  dominante  sienswyses  in  die  samelewing.  Die  navorser  is  verder  van  mening  dat  die  kapitalistiese  ekonomie  ook  daartoe  bydra  om  sekere  idees omtrent manwees daar te stel. Daar is in afdeling 2.2 daarop gewys dat die ekonomiese 

groei waarin die blanke Afrikaanssprekende gemeenskap gedeel het, daartoe bygedra het om  sekere idees omtrent manwees daar te stel binne die betrokke gemeenskap. Verder is daar in  afdeling  2.3.1  daarop  gewys  dat  die  ingesteldheid  op  wins  daartoe  aanleiding  gee  dat  maatskappye  voortdurend  aan  die  rasionaliseer  is  wat  die  moontlikheid  inhou  dat  sommige  mans hulle werk kan verloor om sodoende in ‘n posisie te beland wat dit vir hulle ontmoontlik  kan  maak  om  te  voldoen  aan  sekere  verwagtings  wat  met  manwees  geassosieer  word.  Bergmann  (2003:63  e.v.)  wys  daarop  dat  die  tradisie  van  groei  en  ontwikkeling  reggestel  behoort te word deur ‘n interpretasie van die geskiedenis waarin die tradisies van slagoffers en  verloorders  verteenwoordig  is.  Hierdie  slagoffers  en  verloorders  sal  waarskynlik  mans  insluit  wat gemarginaliseer is omdat hulle nie voldoen aan die verwagtings in verband met manwees  wat deur die kapitalistiese ekonomie daargestel is nie. Dit blyk dus dat dit nodig is dat sekere  gemarginaliseerde  mans  by  die  interpretasie  van  die  geskiedenis  betrek  moet  word  en  in  hierdie verband behoort die hemeneutiese sirkel van Segundo van belang te wees. Dit blyk uit  die hermeneutiese sirkel dat die Christelike tradisie nie uitgesluit is uit die interpretasie van die  geskiedenis wat ter sake is nie. 

Die  hermeneutiese  sirkel  van  Segundo  wat  uit  vier  stappe  bestaan,  word  beskryf  deur  Villa‐ Vicencio (1994:189). Die eerste stap behels ‘n nuwe manier waarop die werkliheid ervaar word  deur die besef dat die samelewing en die werklikheid deur verskillende mense op verskillende  maniere  gesien  word.  Die  dominante  verstaan  van  die  werklikheid  gee  uitdrukking  aan  die  sieninge van die dominante klasse, maar dit is nie die enigste en ‘n objektiewe verstaan van die  werklikheid nie. Die tweede stap behels ideologiese suspisie omtrent dominante idees. Hierdie  idees  sluit  godsdienstige  en  teologiese  idees  in  wat  ook  waardes  en  persepsies  van  die  dominante  klasse  weerspieёl  aangesien  persone  wat  met  die  bestaande  orde  gemaklik  is  se  maniere van dink ‘n belangrike invloed op hierdie idees uitgeoefen het. Die derde stap behels  eksegetiese suspisie wat daarom gaan dat die insigte wat die posisie van die dominante klasse  van die samelewing uitdaag, deur die dominante interpretasies van die Bybel uitgesluit is. Dit is  waarkynlik  om  hierdie  rede  dat  feministiese  teologie  suspisieus  is  omtrent  bestaande  interpretasies van die Skrif wat vir eeue deur mans oorheers is (vgl Ackermann 1994:198). Op  soortgelyke  wyse  behoort  gemarginaliseerde  mans  ook  suspisieus  te  wees  omtrent  die 

bestaande  interpretasies  wat  oorheers  is  deur  mans  wat  grootliks  deur  die  bestaande  orde  bevoordeel is. Tydens die vierde stap word daar tot ‘n nuwe verstaan van die Bybel gekom na  aanleiding  van  dit  wat  tydens  die  voorafgaande  stappe  geleer  is.  Dit  gee  aanleiding  tot  nuwe  temas soos geregtigheid en bevryding wat deur die tradisionele teologie geїgnoreer is.         Uit  die  voorafgaande  blyk  dit  dat  daar  ‘n  mate  van  spanning  bestaan  tussen  die  Christelike  tradisie aan die een kant en kontekstuele teologie wat op die kwessies van die hede ingestel is  aan die ander kant. Die oorsprong van die Christelike tradisie is wel geleё in teologie wat eens  kontekstueel was, maar die betrokke kontekste is ver verwyder van hedendaagse kontekste. Dit  blyk  verder  dat  vroue  en  gemarginaliseerde  mans  se  sieninge  van  die  werklikheid  en  in  hulle  interpretasies van die Skrif ‘n belangrike bydrae het om te lewer ten einde te verhoed dat die  Christelike tradisie in die pad staan van kontekstuele teologie wat op die kwessies van die hede  ingestel  is.  Daar  bestaan  verder  die  moontlikheid  dat  vroue  en  gemarginaliseerde  mans  se  interpretasie van die Bybel tot nuwe Bybeltemas aanleiding kan gee. Daar sal in die volgende  afdeling  aandag  gegee  word  aan  die  plek  wat  die  Bybelteks  inneem  ten  opsigte  van  kontekstuele teologie.