• No results found

Meditasie op die skulpe

3.3 Die rol van mistiek in Die boek van toeval en toeverlaat

3.3.4. Meditasie op die skulpe

In Die boek van toeval en toeverlaat blyk dit duidelik dat Helena Verbloem besonder subjektief en eiesoortig op haar skulpe reageer. Hulle is vir haar van onskatbare waarde, hoewel hierdie “waarde” niks met monetêre of materialistiese oorwegings te maak het nie. Tydens ’n gesprek met Sofia Benadé, merk Helena byvoorbeeld op dat dit haar nouliks interesseer waar en wanneer sy haar skulpe gekry en hoeveel sy daarvoor betaal het. Vir haar is die liggaamlike en emosionele reaksie wat die skulpe by haar ontlok, van veel groter waarde: Haar opmerking, “[e]k reageer op die skulpe met my hart, met my niere, met my ingewande” (307), dui byvoorbeeld op ’n intieme verbondenheid met die skulpe as natuurelement.

By verskillende geleenthede in die roman maak Helena melding daarvan dat sy op haar skulpe “mediteer”:

Meditasie op die skulpe is een manier om my te sentreer en my angsvlakke te verlaag. Hulle is vir my ’n bron van oneindige skoonheid en verwondering. Op die skoonheid van hierdie skulpe kan ek peil trek, ek kan daarop reken dat dit my van my eie kwellinge en onbehaaglikheid sal aflei (11-12); en

My meditasie op skulpe is van die weinig dinge wat ek doen om na my geestelike welsyn om te sien (13).

51 Helena gee hierdeur te kenne dat haar skulpe op emosionele, sowel as geestelike vlak vir haar van besondere belang is. Enersyds dien skulpe, wat volgens “’n [s]koon, voorspelbare, wiskundige proses” groei en gevolglik “[r]itmies en gebalanseer” (307) is, as ’n gerusstellende teenvoeter vir “menslike lewens, wat nóg ritmies, nóg gebalanseer, nóg ekonomies is, maar gekenmerk word deur aansienlike chaos – ver verwyder van orde en reëlmaat, in die sfeer van waansin en berou” (ibid.). Andersyds word skulpe vir haar as ’t ware ’n medium waardeur sy ’n hoër vlak van bewussyn kan aansny, insig in die “ware aard van dinge” kan verkry, maar waarvolgens sy ook bewus kan raak van die goddelike en die bonatuurlike. Helena beskryf haar skulpe as “hemelse boodskappers” (11) wat haar enersyds in staat stel om sin en betekenis in die skepping te vind, maar andersyds ook om (via transendentale meditasie) haar tot ’n dieper bewussynsvlak te beweeg.

Teorey (2005:5 en 2010:5) noem hierdie meditatiewe praktyk, wat spesifiek op die “stem” van die natuur gerig is, “aktiewe of aandagtige luister” en verduidelik dat die liggaam, intellek én emosies by dié proses betrek word deur ’n praktyk van "noulettende waarneming en ontleding van die natuur”. Teorey (2010:5) beskryf dit ook as “silencing the tongue and opening the mind”. Voorts kan die proses van aktiewe luister ook verbind word met die Zen-Boeddhistiese praktyk van meditasie11, waar daar minder aandag verleen word aan heilige geskrifte (en ander religieuse inhoude) en eerder gefokus word op direkte spirituele deurbrake en waarhede. Die mistikus se aandag word gevestig op direkte kontak met die een of ander bonatuurlike (goddelike) mag. Tydens Helena se meditasie op haar skulpe is haar aandag nie gevestig op enige eksterne invloede nie, maar slegs op die stem van haar skulpe wat haar met absolute rustigheid vul en haar aflei van haar eie “kwellinge en onbehaaglikheid” (12). In die spirituele praktyke van Zen-Boeddhisme word meditasie in en deur die natuur geassosieer met ’n mate van “gedagtigheid” (mindfullness) deurdat daar met intense aandag na die ritmes en die klanke van die natuur geluister word (Suponya, 2013:3). Hawkins (1999:19) voer aan dat die doel van die Zen-Boeddhistiese tradisie die bereiking van ’n dieper vlak van bewussyn is, en dat die mistikus se aandag verskerp word sodat hy/sy bewus kan wees van alles wat hy/sy doen. Hierdie vlak van konsentrasie (gedagtigheid) is immers een van die primêre wyses waarop verligting bereik kan word.

Met die uitsondering van Sof, wat by geleentheid besluit dat skulpe die kroon van die skepping is, is daar by van die ander karakters nie altyd begrip vir die buitengewone waarde wat Helena aan haar skulpe heg nie. Konstabel Modisane kan byvoorbeeld glad nie verstaan waarom Helena so ontstel is deur die verdwyning van haar skulpe nie (en glo ook dat ’n groot

11 Zen-Boeddhistiese meditasie is fundamenteel gefokus op twee temas, naamlik (i) die transformasie van die gedagtes, en (ii)

’n ontdekking van die gedagtes en ander fenomene self, ten einde spirituele deurbrake te bewerkstellig en tot hoër waarhede te kom.

52 perlemoenskulp wat hy vir haar present gee, haar van die verlore skulpe sal laat vergeet). Helena se minnaar, Frans de Waard, is nóg minder simpatiek en selfs ongeduldig met Helena se skulpfiksasie. Wanneer Helena tydens een van sy besoeke aan Durban in sy arms lê, merk hy die volgende op:

Wat jou skulpe betref, [...] kan ek nie nalaat om te sê dat ek niemand anders ken wat so volstrek en halsstarrig weier om die donker kante van hulle psige te konfronteer as jy nie. As jy nie reeds besef het dat die skulpe ’n voorwendsel is nie, en dat dit nie dít is waaroor jou gevoelens van verlies gaan nie, dan raai ek weer eens ’n paar sessies terapie aan om jou by jou ware gevoelens uit te bring (275).

Helena se reaksie op Frans se aantyging is egter veelseggend in terme van die mistieke ervaring wat sy beleef wanneer sy na haar skulpe kyk en op hulle mediteer:

Hy is my minnaar, hy gaan intiem met my liggaam om, hy het grondige insae in my emosies, hoe is dit dat hy hom nie kan indink op watter manier die skoonheid van die skulpe my aanspreek en onderskraag nie? As hý nie kan weet hoe my hart daarvan uitdy en verbly nie, hoe daar ’n ruimte in my hoof oopgaan, hoe daar ’n groot vredigheid en voldaanheid my gemoed binnestroom – as hy dit nie weet nie, wie sal dit ooit kan weet? (275-276); en

Wat weet jy van wat die skulpe my bied, dink ek gegrief, van die plesier wat ek ervaar by die aanskoue daarvan – méér as plesier: ’n diep bevrediging, ’n vergenoegdheid wat ek selde in enige ander sfeer van my lewe ervaar? (276).

Hierdie oorwegings dien in ’n sekere sin as motivering vir Helena se “oordrewe” verdriet ná die verlies van haar skulpe.