• No results found

2.6 Vorme van mistiek binne wêreldgodsdienste

2.6.2 Boeddhisme

Volgens Suzuki (1975:36) is die Boeddhistiese filosofie gebaseer op die ervarings wat Boeddha ongeveer vyf-en-twintig eeue gelede gehad het. Millar (2003:1,3) stel voor dat Boeddhisme misties is in die sin dat dit (i) met meditasie en verligting geassosieer word en (ii) dat die doel daarvan gerig is op die identifikasie van die ware aard van die self en die strewe om daarvolgens te leef. Boeddhisme plaas klem op die vrymaking van die mens vanuit die siklusse van beklemming deur meditasie en moreel korrekte gedrag. Die doelwit van sommige Boeddhistiese roetes is die geleidelike ontwikkeling en transformasie van die mens se persoonlikheid ten einde nirwana te bereik. Ander tradisies, soos byvoorbeeld die Rinzai Zen- tradisie plaas weer klem op skielike insig, maar stel ook voor dat hierdie insig gepaard gaan met intensiewe opleiding wat meditasie en selfonthouding insluit (Hawkins, 1999:21). Alhoewel die Boeddhistiese tradisie nie voorhou dat ʼn teïstiese Absolute bestaan nie, postuleer dit wel nirwana as ʼn transendente realiteit wat bereik kan word. Hawkins (1999:22) stel voor dat transformasie van die mens slegs moontlik is deur middel van meditasie, selfonthouding en moreel korrekte gedrag en lewenswyses. Volgens Millar (2003:7) is Zen Boeddhisme dié vorm van Japannese religie wat die naaste aan Westerse denke rakende mistiek kom en kan dit derhalwe as die kern van Boeddhistiese mistiek beskou word:

Zen is both way and goal, both practical technique and mystical experience, both detachment from life and involvement in life, both intellectually demanding and, once grasped, absurdly simple. It sees itself both as a philosophy for all, which need not be linked to any religion […]. The acceptance of paradox is at its heart. In essence, Zen aims at the realisation that there is no distinction between one's mind and what appears to be the external world. Everything is a manifestation of one's own mind. More than that, even the sense of one's existence as distinct mind is ultimately illusion. Everything is one, everything is no-thing, everything is 'Emptiness'.

Hawkins (1999:21) eggo hierdie gedagte wanneer hy Zen beskou as ʼn weg van meditasie en oordenking. Volgens hom is die doel van Zen Boeddhisme die bereiking van ʼn sogenaamde “mindfulness” (gedagtigheid), oftewel ʼn intense bewustheid wat lei tot verligting. Hawkins (1999:23) tref onderskeid tussen twee vorme van Zen meditasie: die eerste een behels die leegmaak van die denke en die binnegaan van ʼn diep meditatiewe toestand; die tweede vorm word geassosieer met die Rinzai-skool en maak gebruik van koans wat raaisels sonder oplossings of logiese antwoorde is. Die doel van hierdie oefening is ʼn deurbraak wat gemaak word in terme van die bereiking van die ware aard van die werklikheid.

23 Die basiese doel van die Boeddhistiese tradisie word volgens Hawkins (1999:42) deur die sogenaamde Vier Edel Waarhede opgesom. Die eerste waarheid van die Edel Waarhede stel dat die lewe wesentlik onbevredigend is. Hierdie onbevrediging spruit voort uit onkunde en ʼn konstante “dors” of hunkering wat as die tweede Edel Waarheid bekendstaan. Dit is juis vanweë die mens se onkunde oor die aard van die werklikheid dat hy/sy voortdurend op soek is na bevrediging en genoegdoening. Die derde Edel Waarheid dui daarop dat hierdie toestand van hunkering en die maniese soeke na genoegdoening nie die lot van die mens hoef te wees nie en dat daar uitkoms uit die neerdrukkende aard van die onbevredigende lot van die mens moontlik is. Die vierde Edel Waarheid van die Boeddhisme dui daarop dat die losmaking uit die onbevredigende toestand van die mens vervat word in die navolging van die “Agtvoudige roete” / “Agtvoudige roete tot redding en bevryding” / “Middelweg” (Hawkins, 1999:43). Die Agtvoudige roete stel voor dat die mens lyding en drange kan oorkom deur onthouding; kultivering; dissipline; die beoefening van gedagtigheid en meditasie. Die Agtvoudige roete lei volgens Vetter (1988:12) tot insig in die ware aard van die werklikheid, op grond waarvan bevryding en uiteindelike nirwana bereik kan word. Vetter (1988:13) (vergelyk ook Hawkins, 1999:42-43) sit die Agtvoudige roete soos volg uiteen:

2.6.2.1 Die Agtvoudige roete

(i) Regte visie (Samma-Ditthi): die oortuiging dat ’n hiernamaals bestaan en dat alles nie eindig met die dood nie. Boeddha het ʼn suksesvolle roete gevolg tot nirwana. Dit behels dus die insig tot die ware aard van die realiteit en die roete tot transformasie. (ii) Regte intensie (Samma-Sankappa): die aanneem van die lewe van ʼn godsdienstige

navolger sodat die roete tot nirwana gevolg kan word. Dit behels ook die vervolmaking van emosies en aspirasies wat belyn word deur optrede vanuit ʼn posisie van liefde en deernis.

(iii) Regte spraak (Samma-Vaca): geen leuens nie; geen onbeskofte taal nie; geen skinderstories nie en spraak wat sal lei tot redding. Dit behels dus taal wat duidelik, eerlik, opbouend en onskadelik vir ander is.

(iv) Regte optrede (Samma-Kammanta): ʼn etiese fondasie vir die lewe wat gebaseer is op die beginsel van “moenie aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie”. Geen moord, leuens of oneerbare seksuele dade is dus toelaatbaar nie.

(v) Regte lewensbestaan (Samma-Ajiva): ’n lewensbestaan gebaseer op regte optrede en etiese beginsels, soos geen uitbuiting van ander nie. Dit word ook beskou as die basis van ʼn ideale samelewing waarvan harmonie die basis is.

(vi) Regte pogings (Samma-Vayama): algehele energie en vitaliteit, wat ook in verband gebring word met ywer. Dit behels dus die doelbewuste rig van ʼn individu se kragte

24 en lewensenergie om die transformatiewe roete na te volg en aksies uit te voer wat heelheid en genesing bevorder.

(vii) Regte gedagtigheid (Samma-Sati): om nooit afwesig te wees nie – ʼn bepaalde bewustheid van die mense rondom jou, jou eie gevoelens, jou denke en die eksterne realiteit.

(viii) Regte konsentrasie (Samma-Samadhi): word beskou as die volle, integrale en holistiese konsentrasie, meditasie, absorpsie en ʼn toestand van enkel-denke.

Samadhi beteken letterlik om vas te staan, geabsorbeer te wees of gevestig te wees

op een punt. Dit word dus dikwels beskou as die navolging van die vier vlakke van

Dhyana-meditasie. Hierdie tipe meditasie word beskou as ʼn reeks gekultiveerde

vlakke van bewustheid wat lei tot perfekte kalmte en bewustheid; ook beskou as die vlak van “Boeddha-wees”.

Sjinese en Japannese Zen is gegrond op die Sjinese verstaan van Boeddha-aard as die ware essensie van die mens. Zen beoog dus om insig te verkry in die ware aard van die mens, oftewel Boeddha-aard, en daardeur kan die Absolute realiteit binne die relatiewe realiteit gemanifesteer word. Deur die navolging van die Vier Edel Waarhede van Boeddha en die implementering van die Agtvoudige Roete, ervaar die individu Zen as iets wat deur Westerse skoliere beskou word as die naaste aan die tradisionele opvatting van ʼn mistieke ervaring. Zen word dus beskou as die beoefening van “waardevolle” meditasie en intuïsie en is nie ingebed in rituele aanbidding of die bestudering van heilige geskrifte nie. Zen kan dus as’t ware getipeer word as die Boeddhisme se innerlike en mistieke dimensie. Hierdie aanname resoneer met die verklaring wat Hawkins (1999), Millar (2003) en Vetter (1988) maak: Zen is in essensie die mistieke deel van die Boeddhistiese tradisie.