• No results found

Die aanspraak van lewende wesens

5.3 Die rol van mistiek in Die aanspraak van lewende wesens

6.1.3 Die aanspraak van lewende wesens

Die reistematiek in Die boek van toeval en toeverlaat en Die benederyk word in die Die

aanspraak van lewende wesens voortgesit. In hierdie roman word twee afsonderlike reise,

naamlik dié van Karl Hofmeyr en Maria Volschenk, belig. Albei karakters reis vanaf Durban na die Kaap vanweë die aanspraak wat ’n geliefde op hul maak. In Karl se geval is dit sy broer, Iggy, wat in lewensgevaar verkeer op die stadsplaas waar hy as kunstenaar woon; en in Maria se geval, haar suster, Sofie, wat nege maande vantevore selfmoord gepleeg het en ’n geheimsinnige rooi notaboekie aan Maria nagelaat het. Tydens hulle onderskeie reise kom Karl en Maria met uiteenlopende karakters in aanraking, wat hulle ٖóf ondersteun óf van stryk probeer bring, maar nietemin ’n bepaalde mistieke bewustheid by hulle skep. In Karl se geval is dit veral die Joachim-kêrel wat as spirituele gids en begeleier optree. Sy insigte rakende die demoniese magte waaraan Iggy uitgelewer is, skep ’n bewuswording van die bonatuurlike en onverklaarbare by Karl. Wat Maria betref, is dit veral die woorde van die verwaarloosde palmleser in die Stellenbosse begraafplaas en Sofie se uiteensetting van die Tien Hekke in die rooi notaboekie wat haar van lewenswysheid voorsien en op bykans praktiese wyse toerus om haar soektog na heelwording en psigiese genesing te volvoer.

Die aanspraak van lewende wesens lui egter ook ’n nuwe tema ten opsigte van die mistiek in

Ingrid Winterbach se oeuvre in, naamlik die sogenaamde donker mistiek waarin elemente soos bose magte en demoniese invloede verken word. Hierdie tematiek is veral in die Karl- verhaallyn prominent, hoewel dit nie heeltemal afwesig is in die Maria-verhaallyn nie. Benewens die donker mistiek, word daar in die roman ook kwistig uit die Boeddhistiese, Christelike en Joodse mistiek geput.

122 Na hulle moeisame omswerwinge is daar by Karl én Maria uiteindelik sprake van karakterontwikkeling en groeiende (self)insig, veral ten opsigte van die rol wat die mistiek in hulle lewens (kan) speel. Karl verander van ’n obsessiewe, selfgerigte karakter tot iemand wat met groot deernis en begrip na sy swaar verdoofde broer kan uitreik. Hy bely sy skuld en verseker sy broer van sy voortgesette onderskraging en bystand. Hoewel Maria, haar ambisieuse voornemens ten spyt, slegs daarin slaag om die Eerste Hek van die Tien spirituele hekke, volgens die Kabbalistiese tradisie suksesvol af te lê, verteenwoordig die veranderinge wat by haar plaasvind wel ’n verbintenis om op spirituele vlak te bly ontwikkel. Sy raak onder meer daarvan bewus dat haar obsessie met die dood en dooies (en veral haar gestorwe suster, Sofie) teenproduktief en selfs futiel is. Sy kom aan die hand van die slotgedagtes wat sy ten opsigte van haar suster verwoord, tot die gevolgtrekking dat die dooies nie die antwoorde op haar lewensvrae het nie en dat sy hulle eerder in vrede moet laat. Dit is veel meer vervullend om haar eerder met ontsag en verwondering te rig op dit wat lewe. Dit is die aanspraak van die lewendes wat werklik saak maak. Sofie is, myns insiens, dié karakter in die Durban-drieluik wat die duidelikste as (aspirant)mistikus uitgebeeld word. Haar bewustheid en navolging van die Tien Hekke tot mistieke eenwording is sprekende voorbeelde hiervan. Hoewel die verligte mistikus tradisioneel uitgebeeld word as ʼn individu wat heilige waarhede en insigte verkry het en vanweë sy/haar ervaring van die Absolute/goddelike in verwondering en ekstase leef, pleeg Sofie selfmoord in die roman. Deur middel van Sofie se selfdood word die mistieke tradisie (en die goddelike reis/via mystica) nie net ondermyn nie, maar ook gerelativeer en verruim. Hierdie satiriese uitbeelding van die heilige aard van die mistieke tradisie is ook te bemerk in die wyse waarop die Joachim-kêrel in die Karl-verhaallyn uitgebeeld word. Joachim, die karakter wat vir Karl insig tot die werkinge van die spirituele wêreld bied, word grotesk en humoristies uitgebeeld. Sy uiterlike voorkoms en optrede ondermyn die hoë erns van sy taak as boodskapper en draer van belangrike inligting rakende die ryk van die demone.

Die natuurmistieke tradisie in Die boek van toeval en toeverlaat en die kunstradisie en die wyse waarop dit ʼn bewustheid skep vir die mistieke in Die benederyk, word as ’t ware in Die

aanspraak van lewende wesens vermeng. In laasgenoemde roman word mistieke insigte deur

sowel die natuurmistiek (die rol van die natuurlike wêreld soos ingelei deur die sprinkaan) as die kunstradisie (die rol van heavy metal) bemiddel en bevorder. Die skep van mistieke bewustheid is, myns insiens, die sentrale tematiek wat Karl en Maria as karakters verbind. Hul onwrikbare geloof in, maar ook verlange na dit wat sinvol en waar is, bepaal hul onderskeie reise. Die hernieude belangstelling by Winterbach in terme van transendensie en die soektog na sin en betekenis, spreek duidelik uit beide hoofkarakters se pelgrimstogte.

123 Enersyds kan die roman, myns insiens, beskou word as kommentaar op die onwilligheid van die mens om nuut te dink oor sake rakende die ewigheid en die bonatuurlike. Andersyds word die roman ook ʼn opdrag (van mistieke aard) aan die mens om hulself reg te ruk, omdat daar werk is om te doen en dinge is om te ontdek – “maniere van sien waarvan [die mens] nog nie die vaagste benul het nie!” (350).