• No results found

HOOFSTUK 2: FAKTORE WAT DIE DOELTREFFENDE

2.7 Maatstawwe vir die keuse van 'n evalueerder

Die opvoeder se Ontwikkelingsondersteuningsgroep (OOG) moet uit die opvoeder se onmiddellike senior en nog ʼn ander opvoeder (eweknie) bestaan. Die aard en omvang van die rol van die OOG is formatiewe én summatiewe evaluering sowel as die verlening van steun en bystand. Die eweknie in die OOG moet deur die opvoeder self aangewys word op grond van die eweknie se toepaslike kundigheid, en moet oor die nodige leerarea-/vakkundigheid en -ervaring beskik. Dit is belangrik dat die opvoeder respek vir en vertroue in die eweknie het, aangesien die eweknie

49

konstruktiewe kritiek sowel as ondersteuning en leiding moet verskaf (RAVO, 2003:22; Washer, 2006:246). Wragg et al. (1996:112) is dit eens dat geëvalueerdes hul eie evalueerders moet kies, omdat dit iemand moet wees met wie hulle gemaklik voel.

2.7.1. Kundigheid en ervaring van die evalueerder

ʼn Kritiese ontleding van die GGBS – ooreenkoms toon dat die geëvalueerde in sy/haar keuse van ʼn evalueerder slegs hierdie drie maatstawwe kan gebruik: die evalueerder se kundigheid en ervaring in die leerarea of vak; of die geëvalueerde vertroue het in die evalueerder, en of die evalueerder in staat is om die nodige leiding en ondersteuning te bied.

In Wragg et al. (1996:66) se studie het ʼn aantal onderwysers bevestig dat dit belangrik is om hul evalueerder as ʼn ervare en bevoegde praktisyn te respekteer. Hulle voer verder aan dat evaluering slegs sal werk indien die evalueerder respek afdwing by die geëvalueerde. Die vertroue in die evalueringstelsel sal geheel en al ondermyn word indien die kundigheid van die evalueerder onder verdenking is (Goddard & Emerson, 1995:27).

Die dilemma in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel is dat daar sedert 1997 geen formele evalueringstelsel in skole toegepas is nie. ʼn Aantal persone het onbevoeg gevoel as evalueerders, en het gevoel dat hulle die vereiste ondervinding of selfvertroue kortkom om geëvalueerdes te bied wat hulle nodig het (Quin & McKellar, 2002). Dit impliseer dus dat die huidige onderwysers nie oor die nodige kennis en vaardighede beskik om sinvolle en doeltreffende evaluerings te onderneem nie. Vir baie is ʼn gebrek, of veronderstelde gebrek, aan vermoë om nuttige ontwikkelingshulp aan hul vennote te voorsien, ʼn groot struikelblok (Quin & McKellar, 2002:78). Dit is van wesenlike belang dat evalueerders oor die nodige kundigheid en ondervinding beskik, omdat ʼn evalueringsproses wat swak hanteer word teenproduktief is en uiterste vyandigheid, weerstand en agterdog wek (Wragg et al., 1996:25).

Dit is dus duidelik dat die gehalte van die evalueringsproses op die persoonlike vaardigheid, vakkundigheid en ondervinding van die evalueerder steun (Goddard & Emerson, 1995:24). Indien die evalueerder hom op onbekende terrein bevind, bestaan die moontlikheid dat hy/sy verkeerde beoordelings kan maak en gevolglik swak of onvanpaste advies kan gee. Wanneer dít gebeur, kan onderwysers vertroue in die evalueringsproses verloor (Goddard & Emerson, 1995:27).

Buiten vakkennis, moet die evalueerder ook oor analitiese, organisatoriese en diagnostiese vaardighede beskik. Die rede hiervoor is dat die data wat met

50

leswaarneming ingesamel word, ontleed moet word om vas te stel watter ondersteuning en ontwikkelingsgeleenthede voorsien moet word ten einde deurlopende groei te verseker (RAVO, 2003:4). Gebiede vir verdere ontwikkeling sowel as die versterking van sterkpunte moet ook geassesseer (gediagnoseer) word (RAVO, 2003:4). Ook die opstel en inwerkingstelling van ʼn persoonlike groeiplan verg deeglike beplanning van die evalueerder om die doeltreffendheid van die evalueringsproses te maksimaliseer.

Die akkuraatheid van die evalueerder se vermoë om aan die hand van sy/haar vakkennis en -kundigheid ʼn diagnose te maak behoort ook bepalend te wees. Ideaal beskou, behoort evaluering dus deur ʼn professionele onderwyskundige gedoen te word. Kritici van eksterne evaluering beweer egter dat buitestanders nie altyd die nuanses van skool- en klaskamerlewe verstaan nie, omdat hulle geen belange by die skool het nie en eenvoudig burokrate is wat ʼn verpligting nakom. Onderwysersevaluering deur iemand anders as ʼn onderwyser is dus ʼn omstrede saak (Wragg et al., 1996:16–17).

2.7.2 Keuse tussen `n eksterne en interne evalueerder

Om tussen ʼn interne en eksterne evalueerder te onderskei ten einde meer objektiwiteit aan die evalueringsproses te verleen is moeilik, omdat alle evalueerders, synde menslik, geneig is om subjektief eerder as regverdig en objektief te wees (Manap, 1996, soos aangehaal in Ahmad & Ali, 2004:51). Ook is dit onwaarskynlik dat skole hul swakpunte eerlik teenoor eksterne evalueerders sal beken, ongeag die politieke en kulturele konteks waarin evaluering plaasvind (Swaffield & MacBeath, 2005:242). Die afleiding hieruit is dat nóg iemand van buite die skool nóg iemand van binne die skool noodwendig objektiwiteit aan die evalueringsproses sal verleen.

Gedagtig aan die belang van leswaarneming as bewys van doeltreffende onderrig, moet die eweknie (evalueerder) se leswaarnemingsproses geldig en betroubaar wees. Derhalwe verg dit ʼn hoë mate van professionele etiek en objektiwiteit, opleiding in leswaarneming, en goeie analitiese vaardighede (Kohut, Burnap & Yon, 2007:20). Die sleutel tot doeltreffende les-evaluering is ʼn evalueringsproses op grond van ‘toepaslike’ bewyse wat onderwysers in hul klaskamers kan versamel, sowel as toepaslik opgeleide evalueerders (wat onder andere geskool is in die vertolking van die meetinstrumentmaatstawwe wat in leswaarneming gebruik word) (Kleinhenz & Ingvarson, 2004:43).

Die volgende analogie illustreer die belang van die korrekte keuse van evalueerder. Wanneer ʼn pasiënt ʼn dokter gaan spreek, is die verwagting dat die geneesheer op

51

grond van sy vakkennis en vaardighede ʼn akkurate diagnose sal maak. Die korrekte diagnose van die simptome is deurslaggewend, omdat dit die soort behandeling en/of medisyne bepaal wat voorgeskryf word. ʼn Verkeerde diagnose kan katastrofiese gevolge vir die pasiënt inhou. Die diagnose moet dus deur niemand anders nie as ʼn persoon in die mediese beroep gedoen word. In onderwysverband is die akkurate uitwys van die sterk- en swakpunte van ʼn geëvalueerde eweneens deurslaggewend vir die korrekte ondersteuning en die skep van toepaslike ontwikkelingsgeleenthede .

2.7.3 Doeltreffendheid van die evalueringstelsel .

Die waarde en sin van ʼn doeltreffende evalueringstelsel hang af van die evalueerder en geëvalueerde se bereidwilligheid en vermoë om moeilike kwessies aan te roer. Die strengheid waarmee die evalueringsproses toegepas word, met ander woorde waar niks toegegee of oorgesien word nie, hang af van die bevoegdheid van die evalueerder, en sowel die evalueerder as die geëvalueerde se gewilligheid om ongemaklike sake te bespreek wat uit die evalueringsproses kan spruit (Gunter, 2001:245). Dit skep ʼn ruimte om eerlik en openlik oor sensitiewe kwessies te gesels wat, indien dit verkeerd hanteer word, maklik tot konflik kan lei, en keer dat ʼn ‘maatjie-maatjie’-verhouding of ʼn oordrewe gesellige verhouding tussen die partye in die evalueringsproses die verwesenliking van die prosesdoelwitte ondermyn.

Die maatstawwe wat in die keuse van ʼn evalueerder gebruik moet word, behoort dus nie op hegte vriendskap te berus nie, maar eerder op ʼn vennootskap wat waarde toevoeg aan die professionele groei en ontwikkeling van die geëvalueerde, ten einde doeltreffende onderrig te bewerkstellig wat leer by leerders sal stimuleer en bevorder. Daardeur word die geldigheid en bestaansreg van evaluering geregverdig. Dít sal egter slegs moontlik wees indien onderwysers hul persoonlike ontwikkeling, en nie vergoeding nie, as mikpunt stel.

2.8 VERHOUDING TUSSEN DIE EVALUEERDER (APPRAISER) EN