• No results found

Kritiese evaluering van hierdie benadering tot die belangrikheid van gebed vir vandag

Hoofstuk 2: CALVYN EN DIE TRANSFORMATIEWE AARD VAN GEBED VIR VANDAG

2.8 Kritiese evaluering van hierdie benadering tot die belangrikheid van gebed vir vandag

Om heling te bring waar trauma die oorhand gekry het in ʼn persoon se lewe, moet meer gedoen word as om net die trauma te beskryf. Die volle mens moet aangespreek word en dit beteken dat daar ʼn openheid moet heers waarin die helende krag van genade beleef word.

Vir Calvyn is dit die aanvaarding van God se belofte dat Hy daar sal wees in ons diepste nood en transformasie sal bring aan elkeen wat voor Hom met hul klag kom staan. In plaas daarvan dat Calvyn die rede waarom trauma plaasvind probeer verduidelik, bied hy ʼn konkrete voorstel vir die manier waarop trauma hanteer kan word aan.

34

Dit handel oor ʼn gesamentlike patroon van ʼn persoon se denke, optrede en gevoelens in die hantering van die kognitiewe uitdagings wat met trauma gepaard gaan. Hierdie voorstel vir die hantering van trauma kom dan vir Calvyn in die vorm van gebed, omdat daar in diepe afhanklikheid voor die God van die ewige lewe gestaan word in die hoop en wete dat daar iets beter is as die realiteit van trauma (Jones 2009:52).

Calvyn beskryf die uitroep na God verder ook as ʼn bevestiging van die sekuriteit wat ons by God ervaar en dit is in die psalms wat ons sekere riglyne vind vir die manier waarop ons nie net gebed moet aanpak nie, maar ook wat ons moet sê wanneer ons bid. Jones (2009:53) noem dat opregte gebed voor God primêr vanuit ʼn plek van nood afkomstig, en daarmee saam vanuit geloof in God se beloftes en voorsienigheid. Calvyn noem pertinent dat ons nie ten volle transformeer kan word as ons nie met ons klag na God toe kom nie.

Hierdie klag kan as ʼn “getuienis aksie” van gebed – wat gewoonlik ons diepste nood aanspreek – gesien word waarin die trauma van ʼn sekere individu gehoor en beleef word. Die donkerte van die trauma word in die lig van God geplaas, sodat dit deel word van ʼn storie van hoop en ʼn toekoms waarin volle lewe moontlik is (Jones 2009:54). Trauma binne gebed dien dus as ʼn bewuswording van God se grootheid, van Sy vermoë om nuut te maak daar waar gebrokenheid ʼn werklikheid is.

Getuienis is die taal wat heling bring wanneer ons ons gedagtes tot God rig en Hom aanspreek in gebed. Dit is ʼn getuienis wat die diepte van ons menslike struikelinge en klagtes aanraak en dit ontbloot ons voor God op so ʼn manier dat ons ons afhanklikheid voor Hom besef. Ons is te swak om as mense die swaarkry van die wêreld te hanteer. Elkeen se persoonlike storie van trauma word in gebed ʼn werklikheid, want God bring reeds in die aksie van gebed ons tot by ʼn punt waar ons die mate van ons eie swaarkry besef en weet dat ons nie nodig het om dit wat die toekoms vir ons inhou te vrees nie. Christus het reeds aan die hele skepping die verlossing gebring (Jones 2009:54).

Ons is instrumente in die hande van God wat beteken dat Hy ons gebruik om Sy wil in hierdie wêreld te laat geskied en ons ook gebruik om geregtigheid te laat seëvier, sodat Hy as die een wat voorsien erken mag word (Wren 1998:190). Hoe meer daar in gesprek met God getree word en ons stories van trauma aan Hom vertel word deur gebed, hoe dieper en meer lewend word ons getuienis van Sy handeling in ons lewens.

35

Daar word ʼn beter verstaan vir ons eie situasie daar gestel en die werklikheid van wie God is word al duideliker. God se belofte van hoop, nie net vir dit wat kom nie, maar vir dit wat reeds is, help om die gebrokenheid wat veroorsaak is deur trauma tot by ʼn punt van herstel en moontlike aanvaarding te bring (Jones 2009:54-55).

2.9 Om saam te vat

Dit is na afloop van hierdie hoofstuk duidelik dat heling nie volledig kan plaasvind in trauma sonder gebed nie. Wanneer ons God nader in gebed, erken ons Hom as hoop bo ons omstandighede, as die Een wat betekenis aan ʼn gebroke lewe kan gee. Meer as dit, staan ons as afhanklike mense voor Hom, omdat Hy die een is wat heling en genesing kan bring wanneer trauma dit onmoontlik gemaak het om verby die seer, afgestomdheid en selfs woede te kyk.

Die drie fases in die hantering van trauma (2.6.2) bevestig die relevansie van gebed daarin. Dit is in gebed dat ons vir God vra om in ons lewens betrokke te raak. Ons stel ʼn vertikale werklikheid daar en kan vanuit ons horisontale werklikheid opkyk en meer sien as net dit wat voor ons is. Dit is ʼn hoop wat dit vir elkeen moontlik maak om bo sy/haar omstandighede uit te reis en te lewe as ʼn getransformeerde mens in Christus wat met hoop en betekenis lewe. Dit bevestig dat gebed in die hantering van trauma ʼn konkrete bewys daarvan is dat gebed steeds in ons huidige konteks relevant is en dat dit ʼn verskil maak en verandering bring wat daarsonder nie moontlik sou wees nie.

36