• No results found

HOOFSTUK 1 ORIËNTERING TOT DIE STUDIE

2.3 AANLEIDENDE FAKTORE TOT DIE IMPLEMENTERING VAN

2.3.6 Koste-analise van aborsies

Die beleid van die Nasionale Departement van Gesondheid (Department of Health(1), 1997:1 en 6) behels dat alle gesondheidsorgdienste gedesentraliseer word sodat minder ernstige pasiënte op vlak een hanteer word en diegene met komplikasies verwys word na vlak twee en vlak drie gesondheidsorgfasiliteite. Varkey en Fonn (1999:4) maak melding in hul verslag dat kostes direk eweredig verhoog met:

o die toename in swangerskapsduur; o die vlak van gesondheidsorgdiens;

o die graad van ernstigheid van die pasiënt se simptome met gepaardgaande addisionele hospitaalverblyf en medikasie wat gebruik word.

Die ernstigheidsgraad van die pasiënt se simptome, sowel as die kategorie gesondheidsorgpraktisyn wat spesifieke take verrig, naamlik geregistreerde verpleegkundiges versus ingeskrewe verpleegkundiges en mediese beamptes versus ginekoloë, hou direk verband met die vlak van die gesondheidsorgdiens (Kay et al., 1997:446).

Onveilige aborsies het ʼn impak op die gesondheidsbegroting deurdat verlengde hospitalisasie, uitgebreide chirurgie, wegdoenbare voorraad, narkose, bloed- en binneaarse transfusies, laboratoriumtoetse en medikasie dikwels vereis word. Berer (2000:585) bevestig hierdie tendens deur te noem dat vroue met onveilige aborsies dikwels in tersiêre gesondheidsorgfasiliteite waar kostes die hoogste is, hanteer word vanweë die aard van hul komplikasies. Die koste sluit in akute sorg, sowel as die hantering van langtermyn komplikasies soos skade aan reproduktiewe organe, inflammatoriese siekte van die bekken, sekondêre infertiliteit en finansiële koste vir die familie in geval van ʼn moederlike sterfte.

Die SA Mediese Navorsingsraad het in 1994 ʼn analise gedoen van die ekonomiese koste van onvolledige aborsies in Suid-Afrika en bevind dat ongeveer R15,8 tot R22,8 miljoen jaarliks aan onvolledige aborsies in die openbare gesondheidsektor bestee word, waarvan ʼn geskatte R9,74 miljoen bestee word aan onveilige (onwettige) aborsies. IPAS dui egter tydens ʼn werkswinkel gedurende Maart 2007 aan dat die staat tot R18,7 miljoen spandeer aan die behandeling van komplikasies van onveilige aborsies. Sommige gesondheidsorgfasiliteite gebruik tussen 50% en 60% van hul obstetriese en ginekologiese begroting om onvolledige aborsies te behandel (Kay et al., 1997:442). Berer (2000:585) bevestig hierdie syfers wanneer hy sê dat die meeste navorsers saamstem dat die behandeling van aborsiekomplikasies in sub-Sahara-Afrika ʼn buitensporige (‘disproportionate’) hoeveelheid hospitaalbronne opgebruik. Vroue is geneig om te wag totdat komplikasies ontwikkel het voordat hulle hulp soek, wat dus die koste en kompleksiteit van die behandeling verhoog.

ʼn Studie in Tanzanië het bevind dat slegs drie uit 455 vroue met komplikasies ná ʼn aborsie op dieselfde dag behandel en ontslaan is, terwyl 50% van die vroue twee dae nodig gehad het om te herstel en die res drie tot vyf dae. Volgens Berer (2000:585) beloop die koste om aborsiekomplikasies in Tanzanië te behandel sewe maal meer as hul Departement van Gesondheid se jaarlikse per capita begroting.

Volgens Kay et al. (1997:445) is ongeveer 44 686 vroue met onvolledige aborsies gedurende 1993 in staatsgesondheidsorgfasiliteite in Suid-Afrika behandel. Die beraamde gemiddelde totale koste per pasiënt is bereken volgens die ernstigheidsgraad van die pasiënte se toestand, naamlik R303 per pasiënt met minder ernstige simptome, R487 per pasiënt vir redelik-ernstige simptome en R1 076 per pasiënt vir ernstige simptome. Vroue wat mediese hulp buite die staatsgesondheidsorgfasiliteite ontvang het, is nie in berekening gebring nie. Die analise was ʼn konserwatiewe beraming van die direkte koste wat verband hou met onvolledige aborsies. Die indirekte koste soos langtermyn behandeling van infertiliteit en morbiditeit met geassosieerde sosiale en psigologiese gevolge van aborsie is nie ingereken nie.

ʼn Koste-analise van eerste en tweede trimester aborsies op primêre, sekondêre en tersiêre vlak van gesondheidsorgdienste is gedoen deur De Pinho en McIntyre, navorsers verbonde aan die Women’s Health Research Unit van die Universiteit van Kaapstad (1997:33). Soos uiteengesit in tabel 2.2 het hulle bevind dat die koste vir ʼn eerste trimester aborsie by primêre fasiliteite wat geïnduseer word met misoprostol en opgevolg word met die manuele vakuum-aspirasiemetode (MVA) onder bewuste sedasie, goedkoper is indien die prosedure uitgevoer word deur ʼn opgeleide vroedvrou. Die kostes vir eerste trimester aborsies verhoog by sekondêre fasiliteite en word verder verhoog indien die aborsie by tersiêre fasiliteite uitgevoer word. Die toelating van vroue met tweede trimester aborsies vir ʼn mediaan toelatingstydperk van 36 ure, verhoog die kostes van R397,83 per pasiënt by sekondêre fasiliteite, tot R753,00 by tersiêre fasiliteite. Volgens Dr. Pedro, mediese superintendent van die George-hospitaal, is die kostes vir aborsieprosedures onder 12 weke swangerskapsduur R580,00 per pasiënt en bo 12 weke R675,00 per pasiënt indien staatsgesondheidsorgfasiliteite aborsiesorgdienste uitkontrakteer na die Marie Stopes Internasionaal (Pedro, 2008:1).

Varkey en Fonn (1999:4) maak ook melding dat indien eerste trimester aborsies gedoen word by vlak twee (sekondêre) fasiliteite, die koste verhoog met 26% en indien eerste trimester aborsies gedoen word by vlak drie (tersiêre) fasiliteite, die koste tot 133% en meer verhoog.

Tabel 2.2

Koste-analise van aborsies in staatsgesondheidsorgfasiliteite

Vlak fasiliteite 1e trimester: buitepasiënte 2e trimester: binnepasiënte (36h)

Primêre vlak R184,74/pasiënt (deur geneesheer)

R171,24/pasiënt (deur vroedvrou)

Geen aborsies

Sekondêre vlak R232,66/pasiënt (deur geneesheer)

R219,16/pasiënt (deur vroedvrou)

R397.83/pasiënt

Tersiêre vlak R429,58/pasiënt R753.00/pasiënt

(Bron: De Pinho en McIntyre, 1997:33)

Navorsers is van mening dat veilige aborsies op die langtermyn goedkoper is as onveilige aborsies met komplikasies wat meestal in tersiêre fasiliteite hanteer moet word. Veilige aborsies beteken dus volgens Berer (2000:585) ‘shifting expenditure away from complicated cases in tertiary level hospitals to safe, simple procedures that can be provided in primary clinics … with one high standard for all’. Van der Westhuizen (2001:6) noem dat alhoewel die koste vir eerste trimester aborsies wat deur ʼn vroedvrou uitgevoer word slegs 8% laer is as wanneer die prosedure deur ʼn geneesheer uitgevoer word, dit steeds noodsaaklik is dat vroedvroue opgelei word om aborsiesorgdienste te verskaf, aangesien vroedvroue werksaam is in afgeleë gebiede waar geneeshere nie altyd beskikbaar is nie. Vroedvroue is meestal afkomstig vanuit die gemeenskap waar hul werksaam is en verstaan die plaaslike kulturele en godsdienstige waardes.