• No results found

Die Departement van Gesondheid: Wes-Kaap se riglyne vir die uitvoer van

HOOFSTUK 3 ABORSIESORGOPLEIDING EN ‘N TEORETIESE ONDERBOU TOT ‘N

3.5 BESTAANDE RIGLYNE EN PROTOKOL VIR VEILIGE ABORSIES

3.5.3 Die Departement van Gesondheid: Wes-Kaap se riglyne vir die uitvoer van

Die Departement van Gesondheid: Wes-Kaap het die Nasionale Aborsiesorgprogram se 160-uur vrywillige aborsiesorgkursus vir vroedvroue geïmplementeer ten einde eerste trimester swangerskappe te beëindig, asook om onvolledige aborsies te hanteer. Al nege provinsies in Suid-Afrika was verplig om provinsiale planne en riglyne te ontwikkel wat toepaslik is vir sy omstandighede in samewerking met óf ʼn mediese skool óf ʼn tersiêre akademiese hospitaal met die implementering van die aborsiewetgewing in 1997. Hierdie riglyne is in die Wes-Kaap opgedateer met omsendbrief H97/2000 wat alle vorige omsendbriewe betreffende die beëindiging van swangerskap vervang het (Department of Health, 2000).

Slegs die Departement van Gesondheid: Wes-Kaap bied formele opleiding aan vir verpleegkundiges by die onderskeie streekskantore in die Wes-Kaap. Die opleiding word aangebied deur instrukteurs in diens van die staat wat die voorgestelde aborsiesorgopleiding voltooi het en aktief aborsiesorg praktiseer, in samewerking met onafhanklike konsultante, insluitend geneeshere wat ook aborsiesorg praktiseer. Die volgende opleidingskursusse is beskikbaar:

o Een-dag waardeklarifikasie-werkswinkel (sluit in aborsiewetgewing); o Een dag pre- en post-aborsie beradingswerkswinkel;

o 160-uur aborsiesorgkursus vir geregistreerde verpleegkundiges en vroedvroue (sluit in die MVA-tegniek); en

o Opleiding vir geneeshere in aborsiesorg.

Volgens Burzelman (2008) is die aborsiesorgkursus sedertdien hersien. Die kursus is basies dieselfde as die oorspronklike een, maar die praktiese komponent vereis tans ʼn vaardigheid in aborsieprosedures en nie meer bloot 80 praktiese ure nie. Twee addisionele hoofstukke is ook bygevoeg, naamlik Mediese Metodes van Aborsie en Geweld teen Vroue.

Die beleid in die onderskeie provinsies betreffende aborsiesorg is hoofsaaklik gebaseer op die riglyne wat gestel is deur die Nasionale Departement van Gesondheid en behels dat die dienste toeganklik; koste-effektief; verbruikersvriendelik; geïntegreer in omvattende gesondheidsorgdienste en gebaseer is op die Reproduktiewe Gesondheidsprogram (‘Reproductive Health Programme’). Die beleid van die Wes-Kaap is om aanvanklik aborsiesorgdienste te verskaf by tersiêre, sekondêre en primêre vlak gesondheidsorgfasiliteite en daarná

die dienste te desentraliseer na gemeenskapsgesondheidsorgsentrums en primêre sorgklinieke met die doel dat kliënte wat die diens versoek die provinsiale gesondheidstelsel op primêre vlak moet binnekom (Department of Health, 2000:3).

Die volgende riglyne ingevolge omsendbrief H97/2000 geld tans in die Wes-Kaap: o Die gesondheidsorgpraktisyns werksaam in vlak een fasiliteite hanteer aborsies

op versoek vanaf ses tot 12 weke swangerskapsduur;

o Indien die dienste nie beskikbaar is by die betrokke vlak een fasiliteit nie, word die vrou verwys na ʼn toepaslike aangewysde vlak een of vlak twee fasiliteit; o Aborsies is ʼn noodmaatreël om ʼn onwelkome swangerskap te beëindig en nie ʼn

alternatiewe gesinsbeplanningsmaatreël nie;

o Onbeplande en onwelkome swangerskappe moet voorkom word deur kontrasepsie;

o Noodkontrasepsie moet bevorder en voorsien word;

o Tweeledige beskerming teen seksueel-oordraagbare siektes en onwelkome swangerskappe moet bevorder word;

o Die individuele gesondheidsorgpraktisyn se reg tot gewetensbeswaar word tot dieselfde mate gerespekteer as die verbruiker se reg tot aborsiesorgdienste, met dien verstande dat die vrou verwys word na die diens waarop sy geregtig is; o ʼn Volledige evaluering van die vrou moet gedoen word wat insluit: ʼn volledige

geskiedenis; fisieke ondersoek; abdominale betasting; spekulum en bimanuele ondersoek; urine swangerskapstoets; sonar indien die swangerskapsduur onseker is en/of ʼn ektopiese swangerskap vermoed word; behandeling van seksueel-oordraagbare siektes; PAP-smeer; bloedgroepering en Rh, Hb en Rapid Plasma Reagin (RPR)-toets;

o Inligting en berading is gegrond op die aborsiewetgewing se bepalings, naamlik dat inligting van alle aspekte van aborsiesorg en die prosedure beskikbaar moet wees vir die vrou, insluitend die verskillende opsies rakende die verdere verloop van haar swangerskap, alhoewel dit nie-verpligtend en nie-rigtinggewend van aard moet wees;

o Vroue moet verwys word na ʼn vlak twee fasiliteit in geval van ʼn swangerskapsduur later as 12 weke; swangerskapskomplikasies; ʼn akute of chroniese mediese toestand; moontlike ektopiese swangerskap of servikale stenose;

o Servikale voorbereiding vir eerste trimester aborsies met misoprostol 400 ug per mond of per vagina en ʼn herhalingsdosis van misoprostol 200 ug vier tot ses uur later indien die serviks ongunstig is; servikale voorbereiding vir tweede trimester

aborsies met misoprostol 400 ug per mond en herhaal misoprostol 400 ug ses uur later indien nodig. Misoprostol moet verkieslik by die fasiliteit gegee word, andersins geld ʼn ander regime van misoprostol met gepaardgaande geskrewe inligting aan die vrou;

o Aborsies word uitgevoer met behulp van die MVA-tegniek onder lokale verdowing;

o Pre-operatiewe pynverligting van parasetamol 1 000 mg per mond, of ibuprofeen 400 mg per mond, of diklofenak 75 mg per mond en/of lorasepam 1 mg per mond, of diasepam 5 mg per mond in geval van angstige pasiënte;

o Intra-operatiewe pynverligting deur middel van ʼn paraservikale blok met 15 tot 20 ml lignokaïen 1% indien servikale dilatasie benodig word en ‘verbocaine’ oftewel gerusstelling;

o Post-operatiewe pynverligting behels dieselfde medikasies as vir pre-operatiewe prosedures;

o Fentanyl 100 ug intraveneus en Dormicum® 5 mg intraveneus word slegs in vlak twee en vlak drie fasiliteite toegedien vir pynbeheer;

o 100 ug Rhesugam moet binne 72 uur ná ʼn tweede trimester aborsie aan Rh-negatiewe vroue óf diegene met ʼn onbekende bloedgroepering, intramuskulêr gegee word om aktiewe iso-immunisasie weens blootstelling aan Rh-positiewe bloed te voorkom;

o Ná afloop van die prosedure moet die vitale tekens, bloeding en kontraksie van die uterus vir ten minste een tot twee uur waargeneem word en die swangerskapsprodukte moet geïnspekteer word ten einde volledige uitwerping te verseker;

o Aanmelding van die aborsie geskied volgens protokol ten einde die aantal aborsies wat ingevolge aborsiewetgewing uitgevoer word te dokumenteer vir statistiese doeleindes;

o Kontrasepsie en post-aborsie inligting moet met ontslag verskaf word; en

o ʼn Opvolgbesoek moet gereël word vir kontrasepsie en post-aborsie berading indien nodig.

Hierdie riglyne vir dienslewering is gebaseer op die Nasionale Departement van Gesondheid se riglyne betreffende die beëindiging van swangerskappe. Dit maak dit noodsaaklik dat gesondheidsorgpraktisyns ooreenkomstig opgelei word ten einde ʼn doeltreffende en veilige diens te kan lewer ingevolge aborsiewetgewing en beleid.

3.5.4 Hoëronderwysinstellings se riglyne vir die opleiding van