• No results found

HOOFSTUK 4 NAVORSINGSMETODOLOGIE

4.2.4 Data-insameling

Die data-insameling is gebaseer op die oorkoepelende doel en doelwitte wat vir hierdie studie gestel is, naamlik om die opleiding en die kwaliteit van aborsiesorg deur geregistreerde verpleegkundiges en vroedvroue wat die voorgestelde opleiding voltooi het, in die Wes-Kaap se staatsgesondheidsorgfasiliteite te ondersoek. Soos genoem, is die impak van die tekort aan doeltreffend opgeleide verpleegkundiges op die lewering van dienste weens die omvang van hierdie studie egter nie ondersoek nie.

Die studie was daarop gerig om aborsiesorgopleiding, die aborsiesorgprosedures en berading aan swanger vroue met ongewenste swangerskappe in aangewysde

staatsgesondheidsorgfasiliteite in die Wes-Kaap te ondersoek vanuit ʼn verpleegkundige perspektief, deur:

o die teoretiese kennis van geregistreerde verpleegkundiges betreffende aborsies op versoek en die wetlike aspekte daaraan verbonde te bepaal;

o die praktiese vaardigheid van geregistreerde verpleegkundiges ten opsigte van aborsiesorg te evalueer;

o die persepsies en behoeftes van swanger vroue te bepaal ten opsigte van die aborsiesorgdienste;

o in-diepte inligting te verkry van verpleegstudente en ander rolspelers betreffende aborsiesorgopleiding;

o die bestaande aborsiesorgriglyne en -opleiding in staatsgesondheidsorgfasiliteite en hoëronderwysinstellings te evalueer en aanbevelings te maak;

o opleidingsraamwerk te ontwikkel vir die opleiding van na-registrasie, sowel as voorregistrasie verpleegstudente; en

o aanbevelings te maak vir verdere navorsing, opleiding en wetenskaplike vroedvrou-praktykvoering betreffende aborsies op versoek.

Data is vanaf 22 Oktober 2007 tot 29 Februarie 2008 ingesamel by die nege geselekteerde staatsgesondheidsorgfasiliteite in die onderskeie streke van die Wes-Kaap, sowel as by die ses addisionele fasiliteite waar gesertifiseerde verpleegkundiges werksaam is en nie in die ewekansige steekproef ingesluit is nie (n=15). Die navorser het besluit om ʼn minimum van een werksdag by elke gesondheidsorgfasiliteit te spandeer. Daar sou egter voortgegaan word met data-insameling in die betrokke vlak en streek totdat dataversadiging bereik is en geen nuwe inligting gegenereer kon word nie. Die daglange besoeke aan elke fasiliteit is vooraf gereël om te verseker dat die navorser die betrokke fasiliteit besoek wanneer aborsiesorgdienste wel aangebied word, of wanneer daar wel met die rolspelers onderhoude gevoer kon word. Die navorser het beplan om ʼn minimum van drie weke in elke streek in die Wes-Kaap te spandeer wat besoeke aan die betrokke gesondheidsorgfasiliteite, opleidingsinstellings en ander rolspelers sou insluit totdat dataversadiging bereik is.

Die data is ingesamel met behulp van spesifieke instrumente wat deur die navorser opgestel is. Die instrumente was daarop gemik om die teoretiese en praktiese vaardighede van gesertifiseerde verpleegkundiges met betrekking tot aborsies op versoek te bepaal, die persepsies van vroue wat van aborsiesorgdienste gebruik

maak te ondersoek en menings van al die betrokke rolspelers te verkry aangaande aborsiesorgopleiding.

Verpleegkundiges wat ander aspekte van aborsiesorg in die betrokke fasiliteite uitvoer, is ook geobserveer en daar is met hulle onderhoude gevoer op dié dae wat die navorser die fasiliteite besoek het, maar die fokus was op die gesertifiseerde verpleegkundiges wat aborsieprosedures uitgevoer het.

Die instrumente vir data-insameling het die volgende behels: o drie afsonderlike vraelyste aan onderskeidelik:

- vroue wat aborsies en/of berading ondergaan (Bylae 3);

- verpleegkundiges en vroedvroue wat aborsiesorg verskaf (Bylae 4); en - voorregistrasie verpleegstudente (Bylae 5)

o ‘n kontrolelys om aborsies wat deur verpleegkundiges en vroedvroue uitgevoer word objektief en nie-deelnemend te observeer (Bylae 6)

o semi-gestruktureerde onderhoudvoering (Bylae 7) ten einde in-diepte inligting te verkry van:

-verpleegkundiges en geneeshere werksaam in aangewysde staatsgesondheidsorgfasiliteite;

-mediese superintendente en/of hoofverpleegdiensbestuurders van al die aangewysde fasiliteite in die onderskeie streke; en

-belanghebbendes van die SARV, Departement van Gesondheid: Wes-Kaap, onderskeie hoëronderwysinstellings, asook ander rolspelers.

4.2.4.1 Vraelyste

ʼn Vraelys is ʼn relatief goedkoop metode om spesifieke inligting vinnig te bekom. Diegene wat die vraelys voltooi, ervaar ʼn groter mate van anonimiteit en is dus meer geneig om die vrae eerlik te beantwoord (De Vos, 2001:153). Die geldigheid en betroubaarheid van die instrument is ook maklik toetsbaar.

Die navorser het gebruik gemaak van selfopgestelde vraelyste, aangesien spesifieke vrae ingesluit kon word wat gerig was op spesifieke inligting wat die navorser wou bekom betreffende die verskaffing van aborsiesorg. Drie afsonderlike vraelyste is dus opgestel vir onderskeidelik vroue wat aborsies en/of berading ondergaan, verpleegkundiges en vroedvroue wat aborsiesorg verskaf en die voorregistrasie studente.

Die vraelyste het sowel geslote as oop-einde vrae bevat. By die geslote vrae moes die respondent hoofsaaklik ‘Ja’ of ‘Nee’ antwoord op ʼn aantal stellings. Waar die navorser nie seker was of alle moontlike alternatiewe in die geslote vrae ingesluit is nie, is ʼn oop-einde vraag bygevoeg, naamlik ‘Ander’ en ‘Spesifiseer’ (De Vos, 2001:160). Die hooftemas van die vrae in die onderskeie vraelyste was die volgende:

4.2.4.1.1 Vraelys vir die vroue wat aborsies en/of berading ondergaan

o Algemene inligting (vraag 1 tot 9);

o Inligting betreffende die swangerskap (vraag 10 tot 21); en o Inligting betreffende die aborsiesorg (vraag 22 tot 34).

4.2.4.1.2 Vraelys vir gesertifiseerde verpleegkundiges wat aborsiesorgdienste verskaf

o Algemene inligting en kwalifikasies (vraag 1 tot 7); o Werkverwante inligting (vraag 8 tot 15) ;

o Inligting betreffende opleiding (vraag 16 tot 21); en

o Spesifieke inligting betreffende die aborsiesorg (vraag 22 tot 31).

ʼn Dekbrief aan die respondent, wat die doel en die aard van die vraelys verduidelik, het deel van die vraelys uitgemaak. Hierdeur het die navorser gepoog om ʼn positiewe gesindheid en samewerking van die respondent te verkry ten einde ʼn hoë terugontvangs persentasie van die vraelyste te verseker (Smit, 2003:89). ’n Addisionele deelnemersinligtingsblad is bygevoeg wat voorsiening maak vir ‘n tolk om taaltoeganklikheid by die respondente te verseker. Die vraelys was relatief kort en saaklik en kon binne 10 minute voltooi word. Terugontvangs van die voltooide vraelys sou op toestemming tot deelname aan die studie dui. Die vraelyste is almal genommer sodat die navorser kon kontroleer dat al die vraelyste by elke gesondheidsorgfasiliteit terugontvang is. Die vraelyste is konfidensieel voltooi en geen respondente kon in ʼn later stadium met enige data verbind word nie. Die navorser het self die vroue wat aborsiesorg by die betrokke fasiliteite ondergaan het bygestaan met die voltooiing van die vraelyste, asook die invordering van die voltooide vraelyste ten einde 100% terugontvangs te verseker.

4.2.4.2 Kontrolelys

Die doel van die kontrolelys in hierdie studie was om spesifieke vaardighede van verpleegkundiges wat aborsies uitvoer, objektief en nie-deelnemend op ʼn gestruktureerde en sistematiese wyse te observeer. Al die aksies van die

verpleegkundige is geobserveer en aangedui teenoor die items op die kontrolelys. Die items is omskryf in die aangehegte bylae wat deel vorm van die kontrolelys. Uys en Basson (1991:60) beskryf observasie as ʼn eenrigtingtegniek waardeur die navorser inligting probeer bekom deur bloot waar te neem sonder om deel van die gebeure te wees.

Die kontrolelyste het ontwikkel deurdat die navorser uit eie praktykservaring belangrike aspekte geïdentifiseer het wat sy wou evalueer. Die lys van items op die kontrolelys is gebaseer op die WGO se riglyne, die Departement van Gesondheid: Wes-Kaap se protokol, asook ander bestaande protokol betreffende aborsiesorg, sowel as die doelwitte van die studie. Dit is verder aangevul deur die literatuur. Die onderstaande was die hooftemas op die kontrolelys:

o Algemene inligting (items1-5); o Pre-aborsie sorg (items 6-24); o Berading en inligting (items 25-26); o Aborsieprosedure (items 27-52); o Post-aborsie sorg (items 53-61); en

o Inligting betreffende die gesondheidsorgpraktisyn (items 62-66).

Die voordele van die kontrolelys was die gerieflikheid van die gebruik daarvan deurdat items slegs afgemerk kon word, asook die eenvormigheid van die statistiese verwerking van gegewens deurdat al die betrokke items gekodeer is. ʼn Moontlike nadeel van ʼn kontrolelys, naamlik dat die navorser belangrike aspekte kon uitlaat, is oorkom deurdat ʼn addisionele bylae aan die kontrolelys geheg is om notas te maak vir inligting waarvoor nie op die kontrolelys voorsiening gemaak is nie. Gedetailleerde veldnotas is deurgaans gehou (Smit, 2003:86).

Om objektiwiteit te verseker sou dit die ideaal gewees het om van veldwerkers gebruik te maak, maar die navorser het besluit om eerder die data self in te samel om die volgende redes:

o Die voltooiing van die kontrolelyste was tydrowend. Die navorser wou nie die ekstra werklading op die betrokke verpleegkundiges plaas nie en instruksies is ook van hospitaalowerhede ontvang dat hospitaalpersoneel nie met die studie mag assisteer nie.

o Die verpleegkundiges in die kleiner hospitale roteer in die verskillende afdelings en is nie noodwendig altyd betrokke by aborsiesorg nie. Interwaarnemersverskille sou dus makliker voorkom wat die resultate van die studie kon beïnvloed.

o Die veldwerkers is die arbeidskrag van die fasiliteit en objektiwiteit kon dus nie gewaarborg word nie.

o Negatiewe aspekte waarin die navorser juis belanggestel het, kon doelbewus nie aangedui word nie ten einde te voorkom dat die fasiliteit in ʼn negatiewe lig gestel word.

o Dit was vir die navorser belangrik om absolute korrekte inligting te verkry. Die kodering van die kontrolelyste is ingewikkeld en die verkeerde interpretasie of foutiewe gebruik van die kodes op die kontrolelyste kon foutiewe inligting weergee en dus die navorsingsresultate beïnvloed.

Die kontrolelys het voldoen aan die hoofvereistes wat gestel word aan enige meetinstrument, naamlik die kontrolelys was geskik vir die doel waarvoor dit gebruik sou word; dit het objektief gemeet en die waardes en gevoelens van die navorser het geen rol gespeel nie en dit was realisties en prakties uitvoerbaar.

Nadat die minimum aantal aborsieprosedures waargeneem is (n=30), het die navorser besluit om voort te gaan om aborsieprosedures waar te neem totdat dataversadiging bereik is en geen nuwe data of insigte verkry is nie.

4.2.4.3 Vraelys vir finalejaar voorregistrasie verpleegstudente

ʼn Kwantitatiewe opname is met behulp van vraelyste onder al die finalejaar voorregistrasie verpleegstudente van die onderskeie opleidingsinstellings gedoen ten einde te bepaal of aborsiesorgopleiding vir voorregistrasie verpleegstudente aangedui is, al dan nie. ʼn Opname is ʼn sistematiese en onpartydige insameling van data oor ʼn steekproef van gevalle. Polit en Hungler (1993:716) definieer ʼn opname navorsing as ‘a non-experimental research that focuses on obtaining information regarding the activities, beliefs, preferences and attitudes of people through direct questioning of a sample of respondents’. Volgens Mkize en Uys (2004:62) is enige inligting wat op betroubare wyse verkry kon word deur ‘n persoon direk om daardie inligting te vra, aanvaarbaar vir insluiting in ‘n opname. Verskillende metodes kan egter gebruik word om die inligting te bekom.

Geslote vrae waarop hoofsaaklik ‘Ja’, ‘Nee’ of ‘Onseker’ geantwoord kon word, sowel as oop-einde vrae is gevra waarop die respondente hul persepsies moes aandui en hul menings moes gee.Die hooftemas van die vrae in die vraelys was as volg:

o Algemene inligting (vraag 1 – 8); o Spesifieke inligting (vraag 9 – 14); en

o Inligting in verband met opleiding (vraag 15 – 22).

4.2.4.4 Semi-gestruktureerde onderhoudvoering

Onderhoudvoering kan geklassifiseer word as óf gestruktureerd óf ongestruktureerd (Brink, 1996:158). Gestruktureerde onderhoude behels dat spesifieke vrae op dieselfde wyse en in dieselfde volgorde gestel word deur middel van ʼn onderhoudskedule en word meestal gebruik wanneer direkte en feitelike inligting benodig word. ʼn Ongestruktureerde onderhoud daarenteen is meer vryvloeiend en die gesprek word slegs beperk deur die fokus van die navorsing. Brink (1996:158) maak ook melding van onderhoude wat semi-gestruktureerd kan wees deurdat dit elemente van beide tipes onderhoudvoering bevat. Hierdie manier van onderhoudvoering bied die geleentheid om nuwe idees en inligting op ʼn gestruktureerde wyse te verkry.

Die navorser het vanuit praktiese oorwegings besluit om eerder semi-gestruktureerde onderhoude te voer met diegene wat direk of indirek betrokke was by aborsiesorg, asook by die opleiding van verpleegkundiges. In-diepte inligting ten opsigte van spesifieke aspekte wat nie met behulp van die kontrolelys en vraelyste verkry kon word nie, is sodoende bekom. Die aantal onderhoude is beperk totdat dataversadiging bereik is en geen nuwe inligting dus uit die onderhoude gegenereer is nie.

Tydens die onderhoude is vrae vry-vloeiend rondom ʼn aantal kernaspekte gevra wat gefokus is om in-diepte inligting te verkry betreffende:

o die bestaande kernkurrikula vir aborsiesorgopleiding van verpleegkundiges; o die behoeftes van verpleegkundiges wat aborsiesorg verleen;

o die behoeftes van vroue wat aborsiesorg ontvang;

o die toekomstige opleiding van verpleegkundiges met betrekking tot aborsiesorg ten einde in gemeenskappe se aborsiebehoeftes te voldoen; en

o die behoeftes van tersiêre instellings met betrekking tot aborsiesorgopleiding vir verpleegkundiges.