• No results found

HOOFSTUK 4: ALGEMENE OORSIG OOR DIE KERSFEESORKESTE

4.1 Agtergrond

4.2.1 Kompetisies

Volgens Hopley (2007) is kompetisies die belangrikste gebeurtenis in die Kersfeesorkes se jaarprogram. Jaarliks tussen Januarie en Maart hou die Kersfeesorkes-gemeenskap in die Wes-Kaap verskeie rondtes van kompe-tisies om te besluit wie die beste Kersfeesorkes in die betrokke Unie en die betrokke Raad vir die jaar is. Kompetisies is ‟n baie ernstige saak onder al

die lede en ondersteuners van die Kersfeesorkeste. Alhoewel kompetisies plaasvind in ‟n goeie en vriendskaplike gees is dit geweldig kompeterend. Uit my ervaring van kompetisies leef orkeslede en veral die ondersteuners hulself diep in elke aspek van die kompetisie in.

Bruinders (2007: 111) noem dat kompetisies in die vroeë 1940‟s begin het met nege orkeste wat aanvanklik op ‟n minder formele manier in stadsale meegeding het in twee kategorieë naamlik die voorgeskrewe werk en die “Bes-geklede” orkes. Bruinders (2007: 111) noem ook dat daar ‟n liefdadig-heidsaspek verbonde was aan die kompetisies en dat die geld wat ingesamel is, geskenk is aan die Kleurling-soldate wat aan die Tweede Wêreldoorlog deelgeneem het en hulle families. By latere kompetisies in die jaar kon die orkeste ook vir hulself geld insamel (Bruinders 2007: 111). Met die stigting van Unies het kompetisies meer formeel gestruktureerd en georganiseerd geraak met die gevolg dat kompetisies op groter skaal begin plaasvind het (Bruinders 2007: 111). Kompetisies moes by stadions gehou word om almal te akkommodeer. Winste het na die Unie gegaan terwyl die orkeste ‟n pro-rata bedrag van die hekgelde ontvang het, gebaseer op die hoeveelheid kaartjies wat elke orkes verkoop het (Bruinders 2007:111). Hierdie praktyk bestaan vandag nog en daar is dikwels ongelukkigheid oor kaartjieverkope en kaartjiegelde.

Die Uniekompetisies vorm die eerste rondte van die kompetisie en die suk-sesvolle orkeste kwalifiseer om deel te neem aan die Raadskompetisie. Daar is verskeie kategorieë wat beoordeel word. Hierdie kategorieë verskil in ‟n klein mate afhangende of dit ‟n Uniekompetisie of ‟n Raadskompetisie is. Dit sluit die “Bes-geklede” Orkes, die “Bes-geklede” Tamboermajoor, die “Groot Verbymars”, die Beste Tamboermajoor tydens die “Groot Verbymars” en die beste uitvoering van die voorgeskrewe lied wat bekend staan as die “Solo” in. Die eerste vier kategorieë word herhaal vir elke ouderdomsgroep. Sommige unies het ook ‟n instrumentale kategorie waar kwartette teen mekaar meeding. Dit is eie keuse en kan klassiek of ligte musiek wees. Die onderstaande tabel is ‟n kort opsomming van die kategorieë soos dit by Unie-

en Raadskompetisies plaasvind. Die benamings is in Engels aangesien dít die manier is waarop die orkeste daarna verwys. (Die veeltalifheid en eiesoortige terminologie is kenmerkend van die kultuur van kersfeesorkeste)

Uniekompetisie Raadskompetisie

Best Dressed Best Dressed

Tiny Tot Junior Senior Tiny Tot Junior Senior

Best Dressed Drummajor Best Dressed Drummajor

Tiny Tot Junior Senior Tiny Tot Junior Senior

Grand March Past Grand March Past

Tiny Tot Junior Senior Tiny Tot Junior Senior

Grand March Past Drummajor Grand March Past Drummajor

Tiny Tot Junior Senior Tiny Tot Junior Senior

Solo Solo Instrumentaal bevoorreg Instrumentaal minderbevoorreg Junior Solo Kwartet

Highest Points Highest Points

Tiny Tot Junior Senior Tiny Tot Junior Senior

By die Raadskompetisies word die “solo”-afdeling gewoonlik deur persone van tersiêre instansies soos die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van Stellenbosch beoordeel terwyl die “Groot Verbymars” en die “Bes-geklede” orkes deur die Polisie, Vloot of Weermag beoordeel word. Moore (2009) noem dat beoordeling by Raadskompetisies aanvanklik slegs deur blanke beoordelaars gedoen is, wat destyds gereken is as kenners op die gebied. Deesdae word daar geen onderskeid getref nie.

Die volgorde waarin die orkeste kompeteer word deur middel van ‟n loting by ‟n raadsvergadering bepaal. By die kompetisie verdeel die orkeste in twee groepe. Die eerste groep orkeste word beoordeel vir die “solo”-afdeling terwyl die ander groep deelnemende orkeste vir die “Bes-geklede” orkes staan. Die groepe ruil dan om totdat al die orkeste aan die “solo”- en “Bes-geklede” kategorieë deelgeneem het. Daarna word die “Groot Verbymars” beoordeel.

Die kriteria vir die “solo”-kategorie sluit frasering, intonasie, interpretasie en uitdrukking, balans en ensemblespel, dinamiese kontraste en die tempokeuse in (sien Bylaag A). Hierdie kriteria word baie ernstig opgeneem en die musiek word tot die laaste nuanse uitgevoer10. Alhoewel die intonasie van die meeste orkeste wisselvallig is, word dinamiese kontraste met oorgawe uitgevoer. Elke orkes doen ook sy eie verwerking van die voorgeskrewe lied wat bydra tot die groot verskeidenheid van interpretasies. ‟n Groot variasie in tempokeuse word ook dikwels by die verskillende orkeste gevind.

10 Tydens ‟n Unie-kompetisie in 2009 was daar „n fout op die partituur. ‟n Fermata was op die verkeerde noot geplaas en alhoewel dit duidelik hoorbaar op die verkeerde plek was, het die meeste orkeste dit streng volgens die partituur uitgevoer.

Foto 1 Beoordelaars by die Suid-Afrikaanse

Raad vir Kersfeesorkeste kompetisie in 2008 te Paarl

Dit is deel van die tradisie van Kersfeesorkeste om netjies en stylvol aan te trek. Die uniforms van die Kersfeesorkeste is helder kleurvolle sportbaadjies, netjiese broeke, bypassende skoene, hoede en sakdoeke.11 Sakdoeke word voor die kompetisie in die kraag gedra sodat die neklyn binne die hemp nie vuil word nie, dasse word presies geknoop, skoene word netjies gepolitoer en hoede moet presies reg op die kop sit. Die kompetisiedag is gewoonlik lank en die stadions stowwerig, so alles moet gedoen word om so netjies en skoon as moontlik te bly. By die “Bes-geklede” kategorie word die tamboermajoor sowel as die peloton beoordeel. Die kriteria vir hierdie kategorie sluit die netheid van die uniform in. Wanneer die peloton beoordeel word, staan die deelnemende peloton netjies in gelid. Elke lid word haarfyn bekyk en beoordelaars kyk na aspekte soos postuur, netheid, of alle lede netjies en geskeer is, en deftigheid (sien Bylaag B).

11 Volgens Bruinders (2007: 121) sinspeel hierdie kleredrag op ‟n element van spel, maar behou ook die strengheid en struktuur van militarisme. Sy noem dat hierdie elemente van spel die manier van die bruin werkersklas is “om te reageer op hulle daaglikse sosiale en ekonomiese laste wat hulle verduur as „n kultuur wat na die kant geskuif is deur lede van die samelewing”. Hierdie klem op uniforms mag ewe sterk deur die Britse “club”-kultuur beïnvloed wees as deur militêre voorbeelde. Juis die keuse van baadjie (“blazer”), bypassende broek, hoed en sakdoek is ‟n bewys daarvoor, saam met die aspirasie om soos ‟n “gentleman” te wil voorkom.

Foto 2 Die Perseverance Kersfeesorkes tydens die

Aan die einde van die kompetisie vind die “Groot Verbymars” plaas. Hierdie is ‟n tentoonstelling van die orkes en hul drilwerk. Deur die jaar oefen elke orkes baie hard aan hierdie afdeling en tydens die kompetisie ontvang elke orkes ‟n beurt om een keer om die veld te marsjeer. “Tiny Tots”, Juniors en Seniortroepe word beoordeel asook die tamboermajoor van elke ouderdomsgroep (sien Bylaag C).

Foto 3 Voor lede in die "best-dress"-afdeling

kan staan, word die uniform tot in die fynste detail nagegaan.

Foto 4 'n Tiny Tot tamboermajoor salueer die

beoordelaar om sy peloton vir die "best-dress" kategorie aan te meld.

Foto 5 Die Perseverance Kersfeesorkes gedurende

2006 in die Groot Verbymars (Grand March Past) vir Seniors