• No results found

Geloof in die waarde en gebruik van musiek om interkulturele

HOOFSTUK 6: DIE PERSEVERANCE KERSFEESORKES AS VOORBEELD

6.8 Geloof in die waarde en gebruik van musiek om interkulturele

Kersfeesorkeste is ‟n Kleurling-tradisie wat reeds sedert die vroeë 1900‟s bekend was onder die Kleurling-gemeenskap. Die onafhanklikheid van Kersfeesorkeste het hul egter geïsoleer en daarmee saam het die feit dat hulle nie so sigbaar soos die Kaapse Klopse was nie, veroorsaak dat hulle feitlik onbekend was onder die ander kulture van Suid-Afrika. Dit was egter eers sedert die laat 1990‟s en vroeë 2000‟s dat Kersfeesorkeste media-dekking70, blootstelling en belangstelling van ander groepe in Suid-Afrika ontvang het.

Kersfeesorkeste word dikwels saam met die Kaapse Klopse en die Maleierkore gegroepeer. Alhoewel daar baie ooreenkomste tussen hierdie drie groepe is, soos onder andere dat almal aan dieselfde rassegroep behoort, soortgelyke organisasiestruktuur, jaarlikse kompetisies en straatparades het, is daar egter beduidende kultuurverskille. Geloof is een van die grootste verskille tussen hierdie groepe. Die Kersfeesorkeste is ‟n Christelike organisasie terwyl die Maleierkore se lede bestaan uit Moslems en die Kaapse Klopse ook oorwegend Moslems is. Daar is egter interkulturele aanvaarding tussen die Kaapse Klopse, Maleierkore en Kersfeesorkeste en dit word grootliks bewerkstellig deur musiek. Volgens Marankey (2010), wat ‟n lid is van die Perseverance Kersfeesorkes en ‟n Maleierkoor, is die feit dat lede van die Kersfeesorkeste balknotasie kan lees, wat hulle onderskei van

die Kaapse Klopse en die Maleierkore waar hoofsaaklik van geheue af gespeel word. Lede van die Kersfeesorkeste is dus baie bruikbaar om ook in die Kaapse Klopse en Maleierkore te speel. Volgens Marankey (2010) is dit gewoonlik die lede van die Kersfeesorkeste wat die Kaapse Klopse en Maleierkore aanvul en nie andersom nie.

Die Groepsgebiedewet van 1950, wat verskillende dele van residensiële en sakegebiede in stede en dorpe eksklusief aan verskillende rasse toegeken het, het die lede van die Kleurling-gemeenskap saamgroepeer. Hierdeur is lede van dié gemeenskap verskuif na gebiede soos Athlone, Mitchells Plain, Bonteheuwel en Elsiesrivier op die Kaapse Vlakte. Die behuising was eenvoudig en huise is baie na aan mekaar gebou. So het lede van verskillende geloofsoortuigings, maar uit dieselfde rassegroep, mekaar se bure geword. Dit is dus nie ongewoon dat daar in een straat byvoorbeeld lede van verskillende Kersfeesorkeste, Maleierkore en Kaapse Klopse woon nie. Abrahams (2010) noem dat in Desembermaand, wanneer al drie hierdie groepe op hul aktiefste is, dit moontlik is om klanke uit verskillende huise te hoor van lede wat vir kompetisies oefen. Hy (Abrahams 2010) noem ook dat gedurende hierdie tyd ‟n “Klopse band” in die straat sal marsjeer en die volgende dag sal ‟n “Christmas band” voor ‟n huis in dieselfde straat speel. Abrahams (2010) vertel dat sy bure vir die Norwood Crusaders Christmas Band speel, en sy beste vriend, wat ‟n straat verder woon, lid is van die Wisemen of the East Christmas band en ook vir ‟n Klopse “band” speel.

Foto 54 Harold Marankey (derde van agter in voorste ry) en Adonis Cupido

(voor in agterste ry) behoort aan die Maleierkoor “Jonge Manhattens”. Hier stap hulle tydens 'n kompetisie in 2008.

Volgens Abrahams (2010) was daar een jaar waartydens ‟n groot persentasie van die Perseverance Kersfeesorkes aan ‟n Kaapse Klopse-orkes kompetisie deelgeneem het. Lede van die Kersfeesorkeste is egter gou om te sê dat hulle nie die “Klopse” is nie, en dit wil voorkom asof hulle neerkyk op die Klopse. Redes kan wees dat Klopse se musiek as minderwaardig geag word, dat hulle nie musiek kan lees nie, en dat hulle voel die Klopse is nie so waardig soos die Kersfeesorkeste nie71.

Die Klopse ontvang ook jaarliks groot bedrae geld vanaf die staat wat hulle klere, busvervoer asook deelname aan kompetisies betaal (Moore 2008). Die Suid-Afrikaanse Raad vir Kersfeesorkeste ontvang wel ‟n bedrag geld van die Departement Kuns en Kultuur, maar dit is heelwat minder en is hoofsaaklik vir busvervoer, die huur van stadions en betaling van beoordelaars. Die orkeste ontvang nie individueel geld nie (Moore 2008).

Daar is enkele lede wat aktief betrokke is by die Kaapse Klopse asook die Maleierkore en die Nagtroepe. Ralph Titus Jnr is ‟n uitstekende trompetspeler wat reeds vanaf die 1980‟s betrokke is by die Perseverance Kersfeesorkes. Hy is ook ‟n groot rolspeler by die Kaapse Klopse en het hulle in Spanje verteenwoordig. Kevin Fisher is al 7 jaar betrokke by die Violets Sporting Minstrels en is vir die afgelope 4 jaar hul afrigter. Nog ses lede, by name Seargeo Fisher, Herman de Wee, Robert Jacobs, Yandre Jacobs, Darren Maarman en Enrico Leonard, is betrokke by dié orkes.

Lede wat betrokke is by die Maleierkore en nagtroepe is Cupido Adonis en Harold Marankey en sy drie seuns.

71 Hierdie kan moontlik te doen hê met die “minstrel” of “coon” element van die Klopse.

Foto 55 Kevin Fisher as afrigter van die

Daar is ook lede betrokke by die Morawiese Kerk. Clint Abrahams het sy eerste musiekopleiding by die Hermor Brass Band van die Morawiese Kerk in Ravensmead ontvang en het vanaf die Morawiese orkes na die Perseverance Kersfeesorkes beweeg waar sy oupa, Jupie Pieterse, die voorsitter was. Hopley (2007) was ook lid van die Morawiese Kerkorkes van Elim voordat hy by die Perseverance Kersfeesorkes aangesluit het.

Musiek het die krag om mense bymekaar te bring, maar in die geval van die Kersfeesorkeste gaan dit eerder om die Kersfeesorkeste-gemeenskap bymekaar te bring en te onderhou. Tydens kompetisies is die pawiljoene vol ondersteuners en Kersfeesorkeste vanuit die hele Wes-Kaap word verteenwoordig op die veld. Interkulturele aanvaarding is nie ‟n prioriteit nie, maar die klem val eerder op die behoefte om die Kersfeesorkeste-organisasie te laat voortleef en sodoende die tradisie voort te sit.

Foto 56 Die Kersfeesorkeste by die Raadskompetisie te Vygieskraal 2008. Let op na die bekers

6.9 Respek vir kulturele eiendom van ’n gegewe gemeenskap en erkenning van beide individuele en groepeienaarskap van musiek

Die Perseverance Kersfeesorkes se repertoire bestaan hoofsaaklik uit gesange en ligte marse wat deur die orkesmeester verwerk word vir dié orkes.

Deur my waarneming het ek egter opgemerk dat indien enige van die lede musiek kry waarvan hulle hou, hulle dit verwerk en eienaarskap daarvan neem. Hulle is nie so soewerein in hulle kuns dat hulle outentisiteit probeer nastreef nie en het ook nie die wil, buigbaarheid en vermoë om vreemde musiek in sy eie reg te laat bestaan nie. Dit kry net betekenis as dit by die eie styl aangepas word.

Musiekwerke word dus met hul eie styl geïntegreer en dus vind ‟n proses van toe-eiening plaas van musiek wat van elders afkomstig is. Daarom is dit eerder ‟n geval van respek vir die eie en die geredelike ontginning van ander se kulturele eiendom.

6.10 Deurlopende verbintenis tot rekenskap deur middel van gereelde diverse assesserings en evalueringsprosedures

Die jaarlikse Kersfeesorkestekompetisies dien as die belangrikste en skynbaar enigste assesseringsgeleentheid vir die Perseverance Kersfeesorkes. Die hele orkes ding met ander Kersfeesorkeste in die Unie en Raad in verskeie kategorieë mee vanaf die “Bes-geklede” orkes, “Groot verbymars”, die beste “tiny tot”, junior en senior tamboermajoor tot die “solo”. Die orkesmeester word deur lede en orkesmeesters van die kompeterende Kersfeesorkeste bestudeer deur ‟n vergrootglas. Groot wedywering en jaloesie is teenwoordig tussen Kersfeesorkeste en orkesmeesters kan maklik die teiken van jaloesie word.

‟n Voorvereiste vir lede om deel te neem aan items soos die “Groot verbymars” en die “solo” is dat hulle geregistreerde lede van die orkes moet wees en dat hulle gereeld oefeninge bygewoon het en alle passies ken. In die “solo”-afdeling moet die orkes op sy beste vertoon en slegs die beste spelers word uitgekies om solo-partye te speel.

Daar word ook per geleentheid sertifikate uitgedeel vir goeie bywoning en bydrae wat gelewer is deur individuele lede van die orkes.

6.11 Koestering van persoonlike genot en vertroue in individuele