• No results found

Karoo Erfenislandgoed: Oudtshoorn

EKONOMIESE FAKTORE

6.2 Werkverskaffing en volhoubaarheid

7.1.1 Karoo Erfenislandgoed: Oudtshoorn

Die erfenisimpakstudie wat op die gebied gedoen is, is gegrond op die kriteria van Artikel 3 (3) en Artikel 7 van die Omgewingsbewaringswet (Wet Nr. 73 van 1989). Die verklaring van belangrikheid is gedoen na aanleiding van Erfenis Wes-Kaap se Provinsiale Gebiedserfenis Nominasievorm. ’n Erfenisverklaring, wat ’n sosio-historiese studie insluit, is in terme van Artikel 38 van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne (Wet Nr. 25 van 1999), as deel van die Omgewingswaardasieproses gedoen (Martin 2005:1).

Ligging

Die eerste gholfklub in die Suid-Kaap/Karoo-area is in 1904 in Oudtshoorn gestig. Die gholfbaan van hierdie klub is naby die huidige hospitaalterrein op Oudtshoorn. Die klub het in so ’n mate gegroei en uitgebrei dat die behoefte aan ’n groter area ontstaan het. Die huidige gholfbaan, wat ‘n 18 putjie-baan is, is in 1950 uitgelê.

Die gholfbaan is geleë in die suid-ooste van die Grootkop Natuurerfenis-gebied, ’n natuurreservaat van 252 hektaar. Die woonbuurt van Bridgeton is ten suide van die natuurreservaat, oorkant die provinsiale pad na De Rust, met die Departement van Korrektiewe Dienste in die noorde en St Saviorstraat en die St Savior begraafplaas in die weste. Die begraafplaas van Oudsthoorn is langs die provinsiale pad in die ooste (Martin 2005:2).

Die voorgestelde opgradering en ontwikkeling van die gholflandgoed (sien figuur 1) en die Grootkop Natuurreservaat, sal gesamentlik omhein en as ’n eenheid beskou word (sien figuur 2). Martin voorsien dat die Karoo Erfenislandgoed finansieel hierby sal baat, aangesien dit tot die volhoubaarheid van die 252 hektaar erfenisgebied sal lei en tesame met die Oudtshoorn Munisipaliteit en die Kaapse Natuurbewaring (hierna CapeNature) as toesighouers sal optree vir die bewaring van die gebied (2005:2).

Figuur 1: Bestaande gholfbaan

Figuur 3: Grondpaaie in die begraafplaas

Argeologie

Een van die bekommernisse wat beklemtoon is, is die reaksie van Erfenis Wes-Kaap op die begraafplase in die gebied (sien figuur 3). Volgens die verslag is die waarskynlikheid groot dat daar grafte in die gebied is. Die vraag wat opkom, is waarom dit nie duidelik in die argeologiese ondersoek uiteengesit word nie.

Mondelinge tradisie

’n Verdere bekommernis was die nabyheid van die voorgestelde wooneenhede aan die oostelike grens van die landgoed en die feit dat dit in sig sal wees van die jaarlikse inisiëringskole van beide die Sotho- en Xhosa-gemeenskappe van Oudsthoorn. Die gemeenskappe van Bongolethu in Oudsthoorn gebruik hierdie area reeds vir die afgelope 20 jaar vir hul praktyke en dit het gedurende die laaste 10 jaar uitgebrei weens die volgende faktore:

• Groei in bevolking

• Groter bewuswording van ‘n trots in die gebruike en tradisies van die Afrika-kultuur in ’n moderne samelewing

• Groter vryheid van uitdrukking ná 1994 (Martin 2005:2).

Die ontwikkelingsplan sluit die oprigting van ’n aantal eenhede in wat gedurende die periode van inisiëring binne die siglyn sal val. Een van die primêre vereistes van die inisiëring is die absolute afsondering van die jong seuns van die algemene publiek. Indien die ontwikkeling sou voortgaan, sou dit ’n direkte skending van die tradisionele praktyke wees.

Voorstelle vir oplossings:

Alternatief 1:

Die munisipaliteit sal onderhandel met die ouer en die gesaghebbende persone van die betrokke gemeenskappe aangaande ’n paslike alternatiewe area vir die inisïering (Martin 2005:2).

Alternatief 2:

Die inisiasieskole moet binne-in die Grootkop Erfenisgebied self gevestig word. Dit het twee voordele: dit sal toekomstige verskuiwing van die inisiasieskole uitskakel indien verdere uitbreiding in die Oudtshoorn-area sou plaasvind, en dit sal ’n kultuurerfenispraktyk binne ’n natuurerfenisgebied wees. Die erfeniswaarde van die area sal toeneem aangesien nie-tasbare erfenispraktyke ook op die gebied bedryf kan word (Martin 2005:2).

Die vraag wat onmiddellik opkom, is of dit dan nie nog meer sigbaar gaan wees nie. Hierdie voorstel kan dus meer probleme en nadele as voordele hê. Dit is die gebruik van die Xhosa’s en Sotho’s om bome en grasse af te kap in die omringende area wat gebruik word tydens die seisoen van inisiasie. As deel van die inisiasieproses word die hutte, wat spesiaal gebou word vir die tydperk van inisiasie, afgebrand na die tyd (West 1982:27). Indien hierdie hutte binne ’n beskermde natuurreservaat is, kan dit baie skade aan die plant- en dierelewe berokken.

Alternatief 3:

Die munisipaliteit, die betrokke gemeenskappe en die ontwikkelaar moet ’n vennootskap vorm met die doel om die moontlikhede van ‘n gebied vir ’n permanent ontwerpte inisiasieskool vir Oudtshoorn te ondersoek. Hierdie voorstel kan aansluit by Alternatief 2 (Martin 2005:2).

Sosiale impak

Die sosiale impak van die ontwikkeling moet gesien word in die konteks van die bewaring van die sosiale waardes van die verskillende gemeenskappe wat voordeel sal trek uit ’n ontwikkeling binne-in die geografiese gebied van die gemeenskappe wat direk daardeur geraak sal word.

Die Khoisan (Attequa) gemeenskap van die Oudtshoorn-area, wat grootliks gekonsentreer is in die woongebied van Bridgeton en omliggende areas, het twee spesifieke bekommernisse in hierdie verband uitgespreek. Eerstens is kommer oor die omliggende begraafplase geopper, en tweedens die ekonomiese situasie van die minderbevoorregte gemeenskappe (Martin 2005:2).

Begraafplase

Die eiendom grens aan twee begraafplase, naamlik Oudtshoorn se munisipale begraafplaas en die St Savior-begraafplaas. Die grafte in die St Savior-begraafplaas bestaan uit grafte van mense van alle gelowe, en dateer uit die vroeg negentiende eeu. Geen segregasie op grond van ras of geloof kom hier voor nie (Martin 2005:3).

In Oudtshoorn se munisipale begraafplaas kom grafte voor wat baie ooreenkomste toon met die tradisionele Khoisan-metode van die ‘opmaak’ van grafte. Hierdie grafte het meestal ’n groot kopstuk, normaalweg ’n plat klip waarvan die langste punt halfpad begrawe is aan die westekant van die graf, en die res van die graf is toegemaak met handgrootte klippe. Die tradisie is dat, elke keer as die graf besoek word, nog ’n klip op die graf geplaas word. Dit is ’n teken van herinnering en die invloed van die voorvaders op die lewe en die welstand van diegene wat agterbly. Ongelukkig word gedeeltes van die begraafplaas tans gebruik deur motorfietse en vierwiel-veldfietse, en verskeie

veldpadroetes is reeds uitgery tussen en oor baie van die verwaarloosde grafte (Martin 2005:3).

Die Khoisan-gemeenskap, tesame met die groter Oudtshoorn-gemeenskap, het ’n belangrike verbintenis met die begraafplase, aangesien dit die sosiale evolusie van die dorp uitbeeld, en baie van die voorvaders en familielede van die inwoners is daar begrawe (Martin 2005:3).

Voorstelle vir oplossings:

Sover as wat dit die St Savior-begraafplaas aangaan, het die gemeenskap versoek dat dokumente oor die grafte en die sosiale geskiedenis daarvan opgestel word. Daar moet ’n bestuursplan opgetrek word vir die toekomstige bewaring van hierdie begraafplaas, aangesien dit ‘n interessante deel van die geskiedenis uitmaak, en ’n bepaalde tydperk in die geskiedenis van die dorp verteenwoordig.

Daar is verdere versoeke gerig dat die munisipale begraafplaas omring word met ’n eko- vriendelike heining sodat die veldpadentoesiaste buite gehou kan word, maar dat terselfdertyd nie ‘n beperking geplaas word op die natuurlike flora se groei in die reservaat nie (Martin 2005:4).

Ekonomiese voordeel vir die minderbevoorregte gemeenskappe

Die ontwikkelaar het spesifieke vereistes waaraan voldoen moet word aangedui, naamlik 70% van alle arbeid en boumateriaal moet uit die plaaslike omgewing en van agtergeblewe gemeenskappe kom. Dit is ’n beduidende stap in die rigting van bemagtiging van minderbevoorregte gemeenskappe. Nog ooreenkomste aangaande die openbare voordeel word voorgestel, naamlik:

• ’n Trust en infrastrukture, soos ‘n veeldoelige amfiteater, moet deur die munisipaliteit, wat deur lede van die gemeenskap verteenwoordig word, bestuur en gebou word. Programme moet vir die jeug van die plaaslike gemeenskappe aangebied word oor omgewingsbestuur, met spesifieke fokus op die Grootkop Natuurerfenisgebied. Hierdie trust sal befonds word uit ’n persentasie van die heffings wat ingewin sal word van die ontwikkeling van die wooneenhede.

• Die oprigting van ’n kwekery om die leerprogramme van die jeug uit te brei, asook die heraanplanting van die natuurlike blomme van die natuurreservaat, word aanbeveel.

• Bo en behalwe die werksgeleenthede wat tydens die konstruksiefase vir die plaaslike gemeenskap geskep word, sal daar volgens beraming ongeveer 350 permanente werksgeleenthede geskep word nadat die ontwikkeling voltooi is (Martin 2005:4).

Kommer is steeds uitgespreek omtrent die volhoubaarheid van die inisiatiewe, veral rondom die werksgeleenthede. Die gevoel was dat daar ’n daadwerklike poging aangewend moet word om te verseker dat die werksgeleenthede in die ontwikkeling tot vernuf en kennis sal lei, sodat werklike ekonomiese ontwikkeling en vooruitgang kan volg, lank nadat die ontwikkeling reeds voltooi is.

Martin se voorstel is dat klem geplaas word op die pro-aktiewe optrede deur die opstel van ’n databasis wat ambagte in die omgewing sal aandui. Hy beveel aan dat ’n opname van die “skaars” ambagte gedoen kan word, en die behoefte aan sekere ambagte kan kan so uitgelig word. Hierdie sal die verantwoordelikheid wees van die venoot van die Swart- Ekonomiesebemagtiging, naamlik om volhoubaarheid en betrokkenheid van die gemeenskap in die ontwikkeling en in die bestuursplan daar te stel en te verseker (2005:4).

Visuele impak

’n Areabesoek het daarop gedui dat die die visuele impak vanaf die Oudtshoorn-De Rustpad nie beduidend sal verander van die status quo nie, aangesien die wooneenheidgedeelte van die ontwikkeling sigbaar sal wees en sal inpas by die reeds bestaande tipologie van die gebied.

Ooreenkomste kan wel aangegaan word met betrekking tot die landskapsaangeleenthede, byvoorbeeld die gebruik van kleur en die hoogte van die nuwe strukture. Die gebruik van rou stene moet ontmoedig word (Martin 2005:5).

Gevolgtrekking en aanbevelings

Die ontwikkeling van die Karoo Erfenislandgoed het die potensiaal om die gemeenskappe van Oudtshoorn te verenig in die daarstelling van ‘n bron wat die hele dorp tot voordeel kan strek, of om verwydering in die gemeenskap ter veroorsaak deur ’n ikoon te skep wat slegs tot voordeel van die gekose individue sal wees.

Die ontwikkeling het verskeie voordele, insluitende die skepping van ’n gholflandgoed wat die gholfentoesias, wat normaalweg na George en omliggende gholfbane sou gaan, nou plaaslik kan akkommodeer. Benewens die jaarlikse Klein Karoo Nasionale Kunstefees, (die KKNK), het Oudtshoorn nog ’n toerisme-inspuiting nodig (Martin 2005:5).

Daar word dus ingevolge die Erfenis-Impakstudie aanbeveel dat:

• ’n Erfenisooreenkoms in terme van Artikel 42 van die Wet vir die toekomstige bestuur van die Grootkop Natuurerfenisgebied opgetrek word. Dit moet gesamentlik bestuur word deur die munisipaliteit en CapeNature, en aan Erfenis Wes-Kaap vir rekorddoeleindes binne twee jaar van datum van goedkeuring verslag doen (Martin 2005:5).

• Die bemiddeling aangaande die beskerming en aanmoediging van die mondelingse tradisies, deur middel van ‘n ooreenkoms bereik word. Onmiddellike implementering van die bestuursplanne vir die toekomstige bewaring en die beskerming van die St Savior en aangrensende gebiede van Oudtshoorn se munisipale begraafplase, asook die sluit van ooreenkomste aangaande onderhandelinge en implementering van die ooreenkoms met die betrokke gemeenskappe.

• Aandag gegee moet word aan die saamstel en die implementering van die bestuursplan vir die lewering van al die voorgestelde openbare voordele, insluitende die uitbreiding van die volhoubaarheid onder die minderbevoorregte gemeenskappe van Oudtshoorn (Martin 2005:5).

• Alle strukture ouer as 60 jaar moet behoue bly en moet gerestoureer word as deel van die voorgestelde ontwikkelingsplan (Martin 2005:6).

CapeNature se reaksie op die Martin-verslag

Aangesien die ontwikkeling ‘n groot impak op die natuur gaan hê, is die erfenisimpakstudie aan CapeNature, die Wes-Kaapse Natuurbewaringsraad, voorgelê. Hul ekoloog in die Gouritz-Streek, dr. AnneLise Schutte-Vlok, se reaksie op bogenoemde voorstelle was die volgende:

• Die enigste rede waarom CapeNature en die Gouritz Inisiatief hierdie ontwikkelingsvoorstel hoegenaamd oorweeg, is omdat die potensiaal bestaan dat dit die huidige swak bestuur van die Natuurerfenisgebied sal verbeter en op die langtermyn finansieel ondersteun sal word.

• Die eiendomme moet gekonsolideer word en die bewaringsgedeeltes moet as ’n eenheid bestuur word.

• Die bewaringsgebied moet na die Oopruimte Sone III gehersoneer word en moet deur ’n bewaringsbestuurskomitee bestuur word wat uit lede van die Gouritz Inisiatief, CapeNature, die huiseienaarsvereniging en ander belanghebbendes bestaan. Die gebied moet as ’n Kontraktuele Natuurreservaat onder CapeNature se Voogdyskapprogram verklaar word.

• Die bewaringsgebied moet as ’n natuurreservaat, aan die hand van ’n goedgekeurde langtermyn Omgewingsbestuursplan bestuur word. Die Omgewingsbestuursplan moet deur ’n kundige op die gebied van Vetplantkaroo- bestuur saamgestel word en aan die Gouritz Inisiatief, CapeNature en Departement Omgewingsake & Ontwikkelingsbeplanning vir goedkeuring voorgelê word.

• Toegang tot die bewaringsgebied (Oopruimte Sone III) moet gratis beskikbaar wees vir lede van die publiek (Schutte-Vlok 2006:1).

• Die voorgestelde R30 000 per maand wat deur die huiseienaars vir die bestuur van die bewaringsgebied beskikbaar gestel word, moet uitsluitlik vir die bestuur van die Oopruimte Sone III area aangewend word. Dit sluit nie kapitale uitleg, heinings, ens. in nie. Na gelang van die aanbevelings in die bestuursplan, moet addisionele fondse beskikbaar gestel word onder andere vir die herstel van die gronderosie, die bou van ’n inligtingsentrum, omheining van die gebied, ens. Die fondse moet in ’n Bewaringstrustfonds gestort word. Die voorgestelde R30 000 per maand wat uit heffings betaal sal word, moet jaarliks eskaleer in verhouding tot die gebruikersinflasiekoers (Schutte-Vlok 2006:2).

• Die voorgestelde amfiteater moet geskuif of geskrap word. Dit val heeltemal buite die konteks van die ontwikkeling.

• Volgens die argitekverslag moet groot gedeeltes van elke eenheid met klip gebou word. Meer inligting moet verskaf word oor die bron en hoeveelhede klip wat benodig gaan word.

• Die voorgestelde ontwikkeling is enorm met geweldig baie eenhede. CapeNature is bekommerd oor die kapasiteit van Oudtshoorn se infrastruktuur om die bykomende lading te kan akkommodeer, veral ten opsigte van:

¾ Water - Studies deur die Rivierbewaringseenheid van CapeNature het reeds aangedui dat die riviere in die gebied onder ernstige druk is, hoofsaaklik as gevolg van oorbenutting. Hierdie studies het getoon dat daar ’n ernstige tekort aan water in die groter Oudtshoorn-omgewing is (meer water is uitgedeel as wat werklik beskikbaar is). Waterbeperkings word reeds elke jaar in die somermaande op Oudtshoorn ingestel. Bewyse moet ingedien word dat daar voldoende water beskikbaar is om die ontwikkeling op ’n ekologies volhoubare wyse te voorsien. Bestaande waterregte is nie genoegsame motivering dat daar voldoende water beskikbaar is nie (Schutte-Vlok 2006:2).

¾ Riolering - Bewysstukke word benodig dat daar voldoende kapasiteit in die bestaande munisipale rioolaanleg beskikbaar is om die bykomstige rioollading te kan hanteer. Gedetailleerde en duidelik gemotiveerde bewyse moet ingedien word, wat die wyse waarop riool beskik gaan word, die standaard van die uitvloei en waarheen die uitvloei gepomp gaan word, uiteensit.

¾ Stormwater - Meer inligting moet voorsien word oor die wyse waarop stormwater beskik gaan word. Die area waarin die ontwikkeling beplan word, is baie sensitief vir versteuring en die grond is maklik erodeerbaar (Schutte-Vlok 2006:2).

CapeNature se mening is dat die ontwikkeling in sy totaliteit afgeskaal moet word. Alle voorstelle en aanbevelings is nog in die proses van evaluering (September 2006) alvorens ’n finale besluit vir die ontwikkeling geneem word.