• No results found

Bewaring en beskerming van ’n kultuurlandskap

RIGLYNE EN STRATEGIEë

5.1 Riglyne vir kultuurlandskappe

5.1.2 Bewaring en beskerming van ’n kultuurlandskap

Wanneer daar na bewaring van landskappe gekyk word, word die bewaring van spesifieke terreine en gebiede op die landskappe verskillend beskou. Bewaring kan lei tot belangrike en gewigtige verandering in die spesifeke gemeenskap en die samelewing in die geheel. Landelike landskappe besit vandag waardes wat reeds in stedelike landskappe verlore gegaan het en beskik dikwels nog oor oorblyfsels van die omgewingsbronne wat nie meer in die stede gevind kan word nie. Teen die einde van die stedelike proses wat gelei het tot die industriële stad, word daar na die landskap gekyk om antwoorde vir behoud en bewaring te verskaf. Volgens Besio lê die antwoorde egter nie in die oproep van die verlede en in die geskiedenis nie, maar in die projeksie van die toekoms (2003:60).

Die visie van ’n landskap is ‘n visie waarvan ’n groot deel deur die gemeenskap self geïdentifiser sal word. Hierdie visie is gebruik om die verhouding tussen die persepsies van kenners en inwoners van die gemeenskappe en die landskap in ‘n parkplan te omskep. Dit bestaan uit ’n bewaringsplan wat gesentreer is op beheerde landgebruik, en ’n bestuursplan wat die verantwoordelikheid van bewaring vir die inwoners voorhou (Besio 2003:65).

In die geval van rotskunsbewaring moet daar veral aandag gegee word aan die medium se kwesbaarheid. Die natuurlike plek waar rotskuns voorkom, is moeiliker om te beheer as byvoorbeeld ’n museumuitstalling. Die natuurlike omgewing, wind en weer en die feit dat sekere besoekers vandale is, bemoeilik die bewaringsaspek van die rotskuns. Geen gebied moet oopgestel word vir die publiek alvorens ’n professionele evaluasie deur ’n rotskunsdeskundige gedoen is oor die beskerming van die gebied nie. Oningeligtheid kan dikwels lei tot onnodige foute wat nie herstel kan word nie (Deacon 1993:17, 18).

Die bestuursbeleid moet ook die feit dat die rotskuns beskerm word deur die Wet op Erfenishulpbronne, in ag neem. Dit is ’n oortreding om uitgrawings en rotskuns te beskadig of te vernietig. Rotskuns is ’n wegkwynende bron en kan nie herstel word nadat dit beskadig of vernietig is nie. Die spoed waarmee dit agteruitgaan, kan in sommige gevalle gekontroleer word deur dit versigtig te bestuur (Deacon 1993:18).

Die oseane en die duikbootkultuurlandskappe, asook die wrakke wat op die seebodems lê, word as seekultuurlandskappe beskou. Die kuslyn van suidelike Indië, die oewers van

die Middellandse See, en op ’n kleiner skaal, die eiland van Sicilië en die Verenigde Koninryk, kan voorsien in voorbeelde van onderwaterlandskappe (Fowler 2003:53).

Die maritieme kultuurlandskappe dui die menslike gebruik (ekonomies) aan van die seespasie deur bote, gemeenskappe, visvangs, verskeping en die sub-kulture wat daarmee gepaard gaan soos byvoorbeeld ligtorings, die loodsing van bote, en die instandhouding van die see- en vismarkte (Westerdahl 1992:5).

Die hele netwerk van seeroetes, oud en nuut, met hawens en vasmeerplekke langs die kus, en die verwante konstruksies en oorblyfsels van menslike aktiwiteite, onderwater sowel as landelik, val onder die maritieme kultuurlandskappe. Die manier waarop die totale spektrum van die maritieme lewe die ekonomie beïnvloed het, is die “marikultuur”. Westerdahl is van mening dat die maritieme kultuurlandskappe vergelyk behoort te word met die landelike ewebeeld, en nie net met ’n verlenging daarvan is nie (1992:6).

Die manier van reis, deur hawens en op die waterweë, is bepalend vir die landskappe. In ’n padlose landskap is die binnelandse bootkultuur aktief en insiggewend. Handelsroetes en maniere van leef is hierdeur beïnvloed (Westerdahl 1992:11).

Maritieme kultuurlandskappe is dus nie net die vind van seewrakke op die bodem van die oseane van die wêreld nie. Die meeste skeepswrakke is gevind nadat navorsing deur middel van die mondelinge oorlewering gedoen is. Wrakke het ’n neiging om te skuif en word gewoonlik nooit gevind waar dit gesink het nie. Die vissermanne se kennis van waar hul nette vassteek, is gewoonlik die beste aanwysing van waar wrakke op die bodem van die see voorkom (Westerdahl 1992:8). Alhoewel water nie op sigself as ’n kultuurlandskap beskou word nie, is dit veral die neiging om die plekke waar water by religieuse en heilige plekke teenwoordig is, as kultuurlandskappe te beskou.

Nog ’n topologie wat deel uitmaak van kultuurlandskappe, is ’n berg of berge. Die heilige berge van Mont Perdu in die Pirinieë, die rotskuns wat teenwoordig is in die woestyn by Uluru is Australië, en in die berg bokant die dorpie Hallstatt in Oostenryk is goeie voorbeelde (Fowler 2003:22).

Die tegnieke van waardering van die karakter van ’n spesifieke geboed kan ook toegepas word op individuele geboue en landskappe. Wanneer die belangrikheid van ’n gebied besef word, kan die voorbereiding van die metodologie van die bewaringsplanne vir die

historiese gebiede meer suksesvol gedoen word. Vertragings kan verminder word en onverwagte probleme kan voorkom word (English Heritage 2000:31)

Bewaring kan slegs suksesvol gedoen word as daar ’n bewaringsplan bestaan. Dit is veral relevant vir:

• Plekke van uitsonderlike erfeniswaarde • Plekke met meer as een tipe erfenis • Plekke wat gedeelde eienaarskap het

• Groot monumente en hul omgewings, byvoorbeeld katedrale • Groot, ingewikkelde en komplekse voorbeelde, byvoorbeeld skepe

• Geskiedkundige gebiede met geassosieerende versamelings (Heritage Lottery Fund 1998:3).

Die proses van bewaring kan soos volg uitgebeeld word:

(Heritage Lottery Fund 1998:3).

Begryp die gebied / area dokumente en veldwerk

Skryf beleid vir behoud van belangrikheid / oorspronklikheid /

uniekheid Bepaal belangrikheid / oorspronklikheid / uniekheid

Bepaal hoe kwesbaar belangrikheid / oorspronklikheid / uniekheid is Bou oore enstemmi ng Konsultasie Hersie n en verf yn

Die inligting wat vereis word vir die bewaring van ’n kultuurlandskap is moeilik bekombaar aangesien daar nie voldoende kriteria en kategorieë bestaan vir die waarde van ’n landskap, die universitaliteit en die inter-subjektiwiteit nie. Kennis oor ’n landskap alleen kan nie die geskiedkundige prosesse, die persepsies en evaluasie van ’n landskap vestig nie. Geen metode, instrument of prosedure wat getoets is, het voldoende die gemeenskap en sy inwoners in ag geneem en waardering getoon nie (Besio 2003:61).

Nog ’n probleem en nadeel is die neiging om die teorie en die metodologie van verskillende vakgebiede (die natuur en die geskiedenis), binne-in ’n gedeelde kulturele model te integreer en as ’n eenheid te beskou. Verskilende visies van spesialiste op elke gebied betrokke, lei tot verskillende persepsies oor die landskap. Dit is dus belangrik om die plaaslike gemeenskappe en inwoners se persepsies in ’n landskap byeen te kan bring. Binne ’n bepaalde landskap sal noodwendig interaksie plaasvind tussen verskillende elemente wat aan die geskiedenis van ’n landskap behoort (Besio 2003:61).

Dit kan lei tot probleme met integrasie en is die onderwerp van verskillende regeringsbeleide en dokumente. Die bestuurders van die landskappe word dus gekonfronteer met die probleem van integrasie binne ’n gemeenskaplike beplanningsraamwerk. Indien landskappe geïdentifiseer word vir uitsonderlike waarde en belangrikheid, moet beleide vir bewaring geïntegreer word met beleide wat aanvaar is vir die beplanning en bestuur van die gebiede (Besio 2003:61).