• No results found

TOELIGTING VANUIT DIE DEELWETENSKAPPE

3.4.3 Faktore ten opsigte van huweliksvoorbereiding en verhoudingsbou

3.4.3.6. Godsdienstige ingesteldheid

Die invloed van Godsdiens op die huwelksverhouding is veel groter as wat die voornemende huwelikspaar mag dink. Geloofsoortuigings en die wyse waarop elke voornemende egmaat sy Godsdiens beoefen, kan „n seën of „n krisis vir die

72 huweliksverhouding inhou. Godsdiens kan die huwelik en egpaar saambind of van mekaar verwyder. Die Godsdiensoortuiginge kan „n krag wees in tye van „n krisis of die oorsaak van die krisis (Alpaslan, 1994:125).

3.4.3.6.1 Faktore wat geloofsgroei kan beperk soos

Verskille oor die persoonlike verhouding met God

Individue se verhouding tot God is „n baie persoonlik en intieme aangeleentheid. Vir die huweliksmaat is hierdie verhouding die vertrekpunt vanwaar „n lewensfilosofie geformuleer word. Godsdiens kan ook die krag wees in tye van krisis en daarom die fondament waarop die lewe sin en betekenis vir die individu kry. Elke individu se belewenis van „n persoonlike verhouding tot God is anders en word sterk gevorm deur hul kinderjare. Die voornemende huweliksmaats moet afsonderlik bepaal hoe hulle God beleef en hoe hulle persoonlike verhouding tot God is. Waar hulle verskil in hulle persoonlike verhouding tot God, sal hulle ook verskil in hulle gesamentlike verhouding tot God. Die voornemende huwelikspaar moet dus tydens hulle huweliksvoorbereiding hulle individuele Godsdienstige behoeftes sowel as gesamentelike Godsdienstige behoeftes met mekaar deel (Alpaslan, 1994:126).

Verskillende kerkgroepe

Verskillende kerkgroepe kan geloofsgroei in die huwelik beperk, veral as daar kinders is en besluit moet word na waar hulle kerk toe sal gaan. Hierdie saak kan konflik laat ontstaan en toeneem. Waar die voornemende huwelikspaar tot dieselfde kerkgroep behoort, is die kanse vir geloofseenheid groter en die verskille rondom kerkgroepe uitgeskakel. Daar bestaan verskillende maniere om die probleem op te los, soos dat elkeen sy eie Godsdiens apart te beoefen en besoek nogs teeds sy eie kerk na die huweliksluiting. Besoek. Hulle kan ook verskillende kerke besoek en dan saam besluit watter kerk vir albei aanvaarbaar sal wees. Die egpaar kan ook om die beurt mekaar se kerke besoek. Die laaste opsie is dat die een huweliksmaat besluit om oor te gaan na die ander een se kerk. Die egpaar kan selfs ooreenkom om glad nie die kerk te besoek

73 nie. Waar die huwelikspaar ooreenstem in hulle persoonlike verhouding tot God, hulle behoeftes aan afsonderlike en gesamentlike Godsdiensbeoefening dieselfde is en hulle weet waar om te aanbid, kan geloofseenheid uitgebou word en geloofsgroei bevorder word (Alpaslan, 1994:127-128).

Tydens huweliksvoorbereiding moet die voornemende huwelikspaar oor die verskillende aspekte van Godsdiensoortuiginge deur die berader pastoraal begelei word sodat hierdie aspek van die huwelik ‟n bydrae tot verhoudingsbou kan lewer.

3.4.3.7. Rolverdeling

Tradisionele huwelike is gekenmerk deur „n baie duidelike rolverdeling tussen die geslagte. Huwelikmaats moes aan die verwagtings voldoen. Dit was vaste rolle. Die man was buitenshuis en die vrou binnenshuis. Die moderne huwelik word gekenmerk deur groter soepelheid ten opsigte van rolverdeling. Binne die moderne huwelik gaan dit nie meer oor wat die man of die vrou moet doen nie, maar eerder oor „n voortdurende uitruiling van rolverantwoordelikhede. Deur middel van roluitruiling word daar dus geleentheid geskep vir afsondelike en gesamentlike groei. Die voornemende huwelikspaar moet voor en op gereelde grondslag na die huweliksluiting die aspek van rolverdeling en roluitruiling bespreek. Alhoewel sekere rolle omgeruil kan word , kan die huwelikspaar ook rolverdeling reël volgens voor- en afkeure wat hulle mag hê ten opsigte van sekere verpligtinge. Verder moet die voornemende huwelikspaar onthou dat rolverdeling binne die huwelik dinamies van aard is (Alpaslan, 1994:95-96).

Voornemende huwelikspare moet pastoraal begelei word sodat hulle besef dat rolverdeling, roluitruiling en rolverwagtinge binne die huwelik dinamies is en bydra tot verhoudingsbou.

74 3.4.3.8. Familiebetrokkenheid ten opsigte van ouerskap

Ouerskap as komponent van die huweliksverhouding behoort baie aandag tydens huweliksvoorbereiding te geniet. Die koms van „n kind asook die opvolgende kinders, versteur die ewewig van die gesin. Die huweliksmaats moet die nodige aanpassings na die geboorte van die kind maak om die balans en die groei in die gesin te verseker. Tydens die beplanning van „n gesin moet „n aantal riglyne in ag geneem word soos, die egmaats moet gesamentlik bepaal of hulle gelyke behoefte het om op „n bepaalde tyd met „n gesin te begin. Hulle moet bepaal of hulle motiewe ooreenstem om met „n gesin te begin. Die huweliksmaats moet bepaal watter invloed die kind op hulle huweliksverhouding gaan hê. Verder moet die huweliksmaats bepaal of hulle fisies, psigies-emosioneel en finansieel gereed is vir die eise van ouerskap. Tydens huweliksvoorbereding is dit nodig vir die voornemende huwelikspaar om by mekaar te verneem hoeveel kinders hulle graag wil hê, asook die spasiëring van die kinders (Alpaslan, 1994:101-106).

Tydens huweliksvoorbereding moet die voornemende huwelikspaar pastoraal begelei word tot sinvolle gesinsbeplanning.

3.4.3.9. Persoonlikheidsaangeleenthede

Sonder „n positiewe selfbeeld het „n mens nie die selfvertroue om aan jou huweliksverhouding te bou nie. Iemand wat binne die huwelik voortdurend minderwaardig en bedreig voel of oorafhanklik optree, kan moeilik „n stabiele huweliksverhouding handhaaf. Selfaanvaarding en liggaamsaanvaarding, versterk „n mens se gevoel van eiewaarde en identiteit. Om dit te kan doen is selfkennis baie belangrik. „n Selfontdekkingsproses kan pynlik wees, aangesien voornemende huweliksmaats se terugvoer aan mekaar nie altyd positief is nie. Die siening van die individu kan somtyds idealisties wees, en nie klop met die terugvoer van die ander party nie. Die mens bestaan uit „n sosiale verhoudingswese, emosionele wese, denkende intellektuele wese asook „n geestelike wese. Daarom is dit belangrik vir die voornemende huwelikspaar om tydens huweliksvoorbereiding begelei word tot „n krities- positiewe selfontdekking. Dis belangrik vir die voornemende huwelikspaar om realisties

75 tussen sterk en swak punte te onderskei, in die waardering en terugvoering wat die paar ontvang van mekaar, maar ook van die omgewing en samelewing. So ook moet die huwelikspaar onderskeid tref in hulle persoonlike begrip en voorstelling van God, in terme van hulle mensbeskouing. Met volwassenheid word die volgende verstaan naamlik, selfstandige denke en optrede, verantwoordelike gedrag, respek vir ander mense, ooreenstemming tussen woorde en dade, selfbeheersing en geduld, offervaardigheid en diensbaarheid, realistiese selfinsig en selfaanvaarding, soepelheid en aanpasbaarheid, betroubaarheid en opregtheid en ten laaste konstante doelgerigte optrede en deursettingsvermoë (Louw, 2007:69-76).

Tydens huweliksvoorbereding moet die voornemende huwelikspaar pastoraal begelei word tot groei na selfbegrip en volwassenheid soos bo genoem.