• No results found

Hoofstuk 2 – 'n Definisie van kinderliteratuur

2.6 Gevolgtrekking

'n Moontlike rede vir die gebrek aan konsensus oor 'n definisie vir kinderliteratuur, word deur Greyling (2005: 100-103) gegee wanneer sy praat oor die verskillende dissiplines en fasette van die literatuur betrokke by kinderliteratuur, elk met hul eie definisie van die begrip kinderliteratuur, sonder 'n duidelike basisopvatting wat hul met mekaar kan verbind of

versoen. Een van die negatiewe gevolge is die gebruik van 'n sambreelterm, soos jeugliteratuur, wat lei tot verder verwarring by die definisie van die genre. By die nadere bestudering van wat 'n genre is, kan 'n mens sien dat helderheid oor dié term die eerste stap in die rigting van 'n duidelike definisie van die begrip kinderliteratuur is, aangesien 'n genre 'n gedeelde konteks skep waarbinne lesers en skrywers mekaar kan verstaan (Van der Merwe en Viljoen, 1998: 62-63).

Die negatiewe van 'n sambreelterm soos jeugliteratuur blyk uit die feit dat die genrekodes en –konvensies wat byvoorbeeld in 'n kinderboek en in 'n jeugboek gebruik word, so van mekaar verskil dat die jonger leser van 'n jeugboek nie aanklank daarby sal vind nie. Joan Aitken verwoord die verskil tussen 'n kinder- en 'n jeugboek goed wanneer sy sê: "The criteria for teenage novels are, in fact, a complete reversal from those for the medium age group [lesers van die kinderboek]" (aangehaal in Van der Merwe, 1993: 84).

Aangesien kinderliteratuur die aard en inhoud van die teks bepaal (Frairer-Wessels en Van der Walt, 1999: 95), is die gevolgtrekking gemaak dat dit uiteindelik die bepaling van die ouderdomsgroep en betrokke lewensfase van die leser (die kind) is, wat die eerste stap tot 'n algemene definisie van die begrip kinderliteratuur is. By nadere ondersoek is die eerste gevolgtrekking wat gemaak kan word nadat die taal- en literatuurwetenskap, sielkunde, opvoedkunde, literêre toekennings, uitgewers, boekwinkels en biblioteke ondersoek is, dat die begrip kinderliteratuur in die literêre sisteem verstaan word as literatuur vir die kind tot en met die ouderdom 12 jaar. Soos wat dit blyk uit die data is die ouderdom waarby kinderliteratuur begin nie so eenvoudig nie.

Uit die definisies van peuter, kleuter, kind en jeug van die Elektroniese WAT, is die enigste konkrete afleiding wat gemaak kan word, dat die leser van jeugliteratuur, 'n tiener, 12 jaar en ouer is. Die skrywer, Joan Aitken, gee nie besliste ouderdomme nie en fokus eerder op die algemene ontwikkelingsfases van die kind, met slegs Jenny Seed wat in terme van die ontwikkelingsfases van die kind die ouderdomme 0 tot 5 jaar, 6 tot 8 jaar, 9 tot 11 jaar en die groep 12 jaar en ouer identifiseer. Onder die letterkundiges bied Rita Ghesquiere 'n vae definisie van peuterliteratuur en haar bespreking van die kind se ontwikkelingsfases, laat die vraag of kinderliteratuur op die ouderdom 2, 5 of 9 jaar moet begin. Soos Aitken bied Lydia Snyman nie 'n konkrete ouderdomsafbakening nie, maar blyk dit uit haar gevallestudie dat die klem tog op 7 jaar, as die ouderdom waarop die kind self begin lees, val.

Carl Lohann bied weer 'n meer konkrete ouderdomsafbakening vanaf 6 tot 12 of 13 jaar, met klem op die leesstadium wat saamval met die eerste skooljare. Die herhaaldelike terugkeer na

die kind se eerste skooljaar, wat as 'n beginpunt dien by die kind se vermoë om te leer lees, ondersteun die Departement van Onderwys as 'n verdere bron tot die bepaling van die ouderdomsafbakening vir kinderliteratuur. Die Departement van Onderwys werk volgens die wet wat stel dat alle kinders van 7- tot 15-jarige ouderdom skool moet gaan. As 'n leerder dus op 7 jaar skool toe gaan en in graad 1 leer lees en skryf, lei dit tot die gevolgtrekking dat die ouderdom kind wat pas self begin lees 7 jaar oud is. Sou daar bloot gelet word op die taal- en literatuurwetenskap, opvoedkunde en sielkunde lei ek af dat die ouderdomsgroep wat relevant is vir die definisie van die begrip kinderliteratuur, 7 tot 12 jaar is.

By die literêre toekennings stel die C.P. Hoogenhout-toekenning ook dat die ouderdomsgroep 7 tot 12 jaar moet wees, terwyl die Alba Bouwer-toekenning die ouderdomsgroep 8 tot 12 jaar maak. Die Tienie Holloway-medalje vir kleuterliteratuur gaan vir die ouderdomsgroep onder 8 jaar, wat terugwerkend kan impliseer dat kleuterliteratuur eindig by die ouderdom 7 of 8 jaar en kinderliteratuur begin by 8 of 9 jaar, en so die indeling vir die ouderdomsgroep van kinderliteratuur ongeveer 8 tot 12 jaar maak. Op grond van die indelings van die ATKV-kinderboektoekenning is die gevolgtrekking gemaak dat die ouderdomme 7 tot 11 jaar vir hierdie toekenning van belang is, met die Nederlandse "kinderjury" wat 'n breë indeling van 6 tot 12 jaar aandui. Gevolglik is die gemiddelde ouderdomsafbakening vir kinderliteratuur by literêre toekennings ook 7 tot 12 jaar.

Onder die uitgewers wat wel ouderdomsafbakeninge aandui, stel LAPA Uitgewers tydens 'n onderhoud in 2008 dat kinderliteratuur gemik is op die ouderdomsgroep 8 tot 12 jaar, maar gebruik hulle tog 7 jaar as beginpunt op hul 2009 webblad en in hul 2009 katalogus. Maskew Miller Longman se indeling is ook 7 tot 12 jaar, terwyl Anansi se ouderdomsgroep ongeveer 6 tot 13 jaar is. Volgens die inligting wat deur Carina Diedericks-Hugo, eers van NB-uitgewers en later Protea Boekhuis, verskaf is, is die ouderdomsgroep vir kinderliteratuur tussen die ouderdomme 6 en 12 jaar. Weereens is daar die speling tussen 6 en 8 jaar, maar as 'n kind eers op sewe begin lees, is die gemiddelde ouderdomsgroep vir kinderliteratuur by uitgewers ook 7 tot 12 jaar.

By die boekwinkels is die eerste indeling die van The Book Lounge, met die ouderdomme 5 tot 8 jaar en 9 tot 12 jaar. Die afleiding wat ek hieruit maak, is dat die ouderdom waarop kinderliteratuur oorgaan na jeugliteratuur 12 jaar is, maar dat die kind op enige ouderdom tussen 5 en 8 jaar self kan begin lees. Bargain Books se kinderboekbestuurder, Pat Botha, wil nie ouderdomsafbakenings op die rak sit nie omdat dit skade kan doen aan die kind se selfbeeld, met die gevolg dat ek geen afleiding vir 'n konkrete ouderdomsafbakening kan

maak nie. Die gevolg is rakke wat baie knap volgens die leesvlakke ingedeel is, maar met geen konkrete ouderdom om my te help met die afbakening nie.

By die boekwinkel A is for Apple is die belangrikste ouderdomsafbakenings dié van 5 tot 8 jaar en 9 tot 12 jaar. Dit is baie soos by The Book Lounge, maar die ekstra klem op die ouderdom 6 of 7 jaar as oorgang tussen kinderboeke en prenteboeke help om die gemiddelde ouderdom nader te plaas aan 7 jaar. So ook is die ouderdom waar kinderliteratuur stop 12 jaar, met 'n definitiewe aanduiding dat boeke vir jong volwassenes geskik is vir lesers van 13 jaar en ouer.

Fascination Books maak 'n breë indeling van 4 tot 8 jaar en dan 9 tot 12 jaar, terwyl Exclusive Books se indeling rofweg lê tussen 6 en 12 jaar. Graffiti Boeke se indeling is 6 tot 9 jaar en 10 tot 12 jaar wat die totale indeling dieselfde maak as Exclusive Books se 6 tot 12 jaar. By al die boekwinkels blyk daar dus konsensus te wees oor die ouderdom waarop 'n kind wegbeweeg van kinderliteratuur, naamlik 12 jaar. Die ouderdom waarop kinderliteratuur begin, lê egter tussen 5 tot 8 jaar, maar daar is tog by die persone wat met die boeke werk 'n groter geneigdheid om te verwys na die ouderdomme 6 of 7 jaar. Met inagname van die feit dat 'n kind leer lees en skryf by die skool op 7-jarige ouderdom, lei dit tot die gevolgtrekking dat die gemiddelde ouderdomsindeling wat by die boekwinkels afgelei kan word, 7 tot 12 jaar is.

Uit die drie biblioteke wat genader is, dui Bellville Biblioteek op 7 en 8 jaar tot 11 of 12 jaar, terwyl Durbanville Biblioteek weer geen ouderdomsindelings gegee het nie. By Kloofstraat Biblioteek is daar ook nie ouderdomme op die rakke nie, maar het die bibliotekaresse, Susan Potgieter, 'n baie duidelike en praktiese benadering tot haar rakindelings. Deur al die inligting wat sy aan my verskaf het, maak ek die afleiding dat die indeling vir kinderliteratuur daar 6 en 7 tot 12 jaar is. Die gemiddeld tussen Bellville Biblioteek en Kloofstraat Biblioteek is dus, soos by die taal- en literatuurwetenskap, opvoedkunde, sielkunde, literêre toekennings en uitgewers, ook 7 tot 12 jaar.

Na al die ondersoeke wat ek gedoen het oor die ouderdomsafbakening wat van toepassing is op die kind wat kinderliteratuur lees, is die gemiddelde ouderdomsafbakening by die taal- en literatuurwetenskap, opvoedkunde, sielkunde, literêre toekennings, uitgewers, boekwinkels en biblioteke, 7 tot 12 jaar. 'n Basiese definisie vir die begrip kinderliteratuur is dan literatuur wat geskep word vir en gelees word deur kinders in die ouderdomsgroep 7 tot 12 jaar.

Aan die hand van hierdie definisie kan ek nou bepaal watter Afrikaanse of Suid-Afrikaanse studies sedert 1990 oor kinderliteratuur relevant en ondersteunend is vir hierdie studie, in soverre die navorsing in der waarheid handel oor die ouderdomsgroep 7 tot 12 jaar.