• No results found

Hoofstuk 4 – Historiese oorsig oor die ontwikkeling van Afrikaanse

4.8 Die 1980's tot 1990

Die 1980's en 1990's word beskou as die era waar daar vernuwing by veral die jeugboek en in 'n mate die kinderboek plaasgevind het, 'n vernuwing wat soos die ander ontwikkelingsfases sterk beïnvloed is deur die politiek, deurdat skrywers van veral jeugliteratuur nou al meer begin het om die sosiale en politieke kwessies van die land aan te spreek. In die vroeë 1980's begin skrywers soos Elsabe Steenberg en Maretha Maartens sommige probleme wat kinders mee te doen kry, soos egskeidings en gestremdheid, aan te raak. Die ruimtelike veranderinge sorg weer dat die meeste stories teen die einde van die 1980's en begin 1990's teen 'n stedelike agtergrond afspeel. Anders as die ernstige en meer politiese inslag van die Afrikaanse jeugboek, het die klem by die Afrikaanse kinderboek meer geval op die skryf van lekkerleesstories. Vir skrywers was dit net belangrik om lekker en goeie stories te vertel en weg te breek van die beperkinge wat die 'goeie boek' aan hulle gestel het. Hoewel die lekkerleesstories verwelkom is deur die lesers en skrywers, het akademici langer geneem om hierdie boeke wat nie die norme van die intellektuele literatuur volg nie, te aanvaar te bestudeer as goeie of "regte" literatuur. Teen die einde van die 1980's en gedurende die 1990's verskyn daar ook 'n groot aantal fantasieboeke vir kinders met Wolfgang Amadeus Muis (1986) deur Philip de Vos en Martie Preller se Anderkantland (1992) as enkele voorbeelde (Frairer-Wessels en Van der Walt, 1999: 96-97; Van der Walt, 2005a: 117-172; Van der Walt, 2005b: 25-29).

Van der Walt (2005b: 26) noem dat kinder- en jeugboeke nooit werklik so betrokke soos die boeke vir volwassenes by die politiek was nie. Een van die redes is dat hierdie boeke altyd gekoppel was aan die onderwys en biblioteekmark en dus die staat en regering. 'n Mens sou kon sê dat binne die Apartheidsbestel was die regering finansieel ondersteunend, maar onderdrukkend as dit kom by die tematiese vryheid van die skrywers. Daar was ook 'n groter bewussyn by skrywers en uitgewers dat die lesers, of potensiële lesers, nie 'n homogene groep is nie, met die gepaardgaande erkenning dat die hedendaagse samelewing minder geborge is as wat tradisioneel in Afrikaanse kinder- en jeugboeke geïmpliseer is.

Soos wat die Apartheidsbestel tot 'n einde begin kom het in die laat 1980's, het dit aan die begin van die 1990's duidelik begin word dat die bevoordeelde posisie van die Afrikaans binne die uitgewersbedryf tot 'n einde sal kom. Die uitgewerye wat sedert 1948 in Afrikaner-besit was en 'n dominante rol gespeel het in onder andere die voorsiening van skoolhandboeke, het gelei tot die vesting van 'n lewenskragtige bedryf wat die produksie van Afrikaanse fiksiepublikasies en akademiese publikasies positief geraak het. Kinderliteratuur was veral positief geraak deur die subsidies wat die regering onder andere aan skole en biblioteke gegee het, sodat verkope nooit vir uitgewers 'n probleem was nie (Venter, 2006: 3-4).

4.9 Gevolgtrekking

Die ontwikkeling van Afrikaanse kinderliteratuur tot en met die einde van die 1980's toon verskeie ooreenkomste met die algemene ontwikkelingsfases van kinderliteratuur, wat beïnvloed is deur die ontwikkeling van die skoolsisteem, die vermaaklikheidswaarde wat aan kinderboeke gegee is en die ontwikkeling van 'n homogene na 'n meer heterogene kinderliteratuur-sisteem. Hoogtepunte in die ontwikkelingsgeskiedenis van die Afrikaanse kinderliteratuur tot en met 1990 sluit in die verskyning van die eerste Afrikaanse kinderboek in 1873, geskryf deur C.P. Hoogenhout, en skrywers soos M.E.R. en C. Louis Leipoldt wat in die 1920's meer kindervriendelik begin skryf het. Hiernaas is daar die vernuwing van die 1950's wat veral gekoppel word aan die werk van Alba Bouwer, die kindgerigte benadering waarmee daar geskryf is en die tematiese vernuwing met die verskyning van die een van die eerste Afrikaanse fantasieverhale. Gedurende die 1960's en 1970's word daar aan die een kant in die behoefte aan meer ongekompliseerde boeke voorsien in die vorm van reekse, terwyl daar aan die ander kant 'n verintellektualisering van kinderliteratuur met klem op die 'goeie boek', plaasvind. Tematies het stories al meer wegbeweeg van 'n plattelandse omgewing na 'n stedelike omgewing. Laastens was dit ook die era waarin die televisie sy verskyning gemaak het wat myns insiens een van die faktore is wat stremming op die ontwikkeling van kinderliteratuur geplaas het.

Gedurende die 1980's is daar veral vernuwing by die Afrikaanse jeugboek met skrywers wat meer politieke en sosiale kwessies as temas gebruik en die stories al meer in 'n stedelike omgewing laat afspeel. Die politieke betrokkenheid van die kinder- en jeugboeke bly egter beperk, aangesien die boeke hoofsaaklik moes voorsien in die behoeftes van die onderwys- en biblioteekmark en dus die staat en regering. Die finansiële voordeel wat Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur gedurende die Apartheidsbestel geniet het, het dus negatiewe implikasies gehad, veral in terme van die ontwikkeling van nuwe tematiek. Die enigste vernuwing wat by die kinderboek te sien was, was die toename in fantasieverhale en die klem wat gelê is op lekkerleesstories. Hoewel lesers en skrywers hierdie lekkerleesstories verwelkom het, het akademici dit nie ontvang as goeie literatuur nie en sodoende stremming geplaas op die ontwikkeling van kinderliteratuur. Verder het dit het ook gelei tot 'n soort literêre snobisme, veral teenoor populêre literatuur, en vervreemding tussen die leser en die skrywer (Snyman, 2005a: 103).

Afrikaanse kinderliteratuur is tydens die 1980's nog tot 'n groot mate gereguleer deur sensuurwette van die regering en opvoedkundige voorskrifte van die 'goeie boek' by uitgewers. Uitgewers het teen die einde van die 1980's nog meer op die rolspelers betrokke by kinderliteratuur en die kopers (die staat) gefokus, eerder as op die lesers en dus nie hoofsaaklik boeke gepubliseer wat op die kind gemik was nie. Die kindgerigte benadering wat in die 1950's begin is, is steeds in die 1980's sigbaar deur 'n toenemende fokus deur veral skrywers op lekkerleesstories en reekse, maar die literêre snobisme teenoor dié subgenre het gelei tot 'n daling in die institusionele aanvraag daarna en dus minder titels wat verskyn het. Die stedelike agtergrond en fantasieverhale blyk toe te neem gedurende die 1980's, maar die verskyning van die televisie het gedurende die 1980's kompetisie vir die kinderboek gebied. Een van die redes was dat die kind baie visuele stimulasie gekry het en sy blootstelling aan sy omgewing en die wêreld vergroot het sodat dit baie van die boek vra om kompeterend te bly (vgl. Bester, 2005: 158-159). Politieke veranderinge het verder daartoe gelei dat daar onder die Afrikaner 'n besef gekom het van 'n meer heterogene taalgemeenskap en leserskorps van Afrikaanse literatuur.

Uiteindelik lei die einde van die 1980's die einde van Apartheid en Afrikaans se bevoordeelde posisie in Suid-Afrika in. Die einde van hierdie bevoordeelde posisie van Afrikaans binne die Apartheidsbestel het 'n omvattende invloed op die kinderliteratuur-sisteem gehad. Hoofstuk vyf sal vervolgens die politieke en sosiale veranderinge bespreek ten einde aan te dui hoe 1990, naas enkele vernuwings in kinderliteratuur en veranderende politieke klimaat, as waterskeiding dien vir 'n studie oor die veranderinge in die Afrikaanse kinderliteratuur-sisteem.