• No results found

HOOFSTUK 3: NAVORSINGSMETODOLOGIE

3.6 GELDIGHEID EN BETROUBAARHEID

Verskeie navorsers, soos Merriam (1998, p.198) erken dat navorsing betroubaar moet wees en beklemtoon die belangrikheid daarvan in die kwalitatiewe navorsings paradigma. Om geldigheid en betroubaarheid in kwalitatiewe navorsing te verseker, sluit in dat die ondersoek op 'n etiese manier behartig word (Merriam, 1998, p.198). Geloofwaardigheid kan bereik word deur die gebruik van verskeie strategieë of prosedures. Geldigheid maak staat op goeie kundigheid in die ondersoek, en sluit in voordurende kontrolering, bevraagtekening en teoretiese interpretasie van die bevindinge (Kvale, 2002, p.309). Kundigheid beteken noukeurigheid deurgaans met die navorsing, vanaf die ontwerp tot die aanbied van die bevindinge (Henning et al., 2004 p.148).

Om geldigheid verder te verseker het ek kommunikasie as geldigheid gebruik. Dit is verkry deur die deelnemers aan die navorsing te vra. Dit is egter nie 'n nuwe idee nie en is deur baie kwalitatiewe navorsers geteoretiseer (Miles & Huberman, 1994, 2002; Le Compte & Preissle, 1993; Merriam, 1998). Ek het die data gekontroleer deur te kyk of die deelnemers saamstem

deur 'n fokusgroep onderhoud te voer met die drie deelnemers asook die grondslagfasehoof van die betrokke skool.

Vir die doel van hierdie studie is van die volgende stratigeë ook gebruik gemaak; naamlik triangulering en konsultasie met 'n onafhanklike navorser. Die doel van triangulering is om geldigheid en betroubaarheid te verseker van die resultate. Volgens O'Donoghue en Punch (2003) is triangulering 'n metode van kruis-evaluering van data van verskeie bronne. Altrichter, Feldman, Posch en Somekh (2008) is van mening dat dit 'n meer gedetailleerde en gebalanseerde prentjie gee van die situasie. Triangulering behels die kontrolering van inligting wat deur middel van verskillende gestaafde databronne of metodes ingewin is (Terre Blanche & Durrheim, 1999, p.183). In hierdie studie is gebruik gemaak van twee tipes triangulering. Eerstens triangulering met verwysing na bronne, wat verwys na data wat verkry is vanaf verskillende bronne, byvoorbeeld die Afrikaanse-stroom onderwyser, Engelse-stroom onderwysers en die grondslagfase hoof (wat slegs ingesit het by fokusgroeponderhoud). Tweedens triangulering met verwysing na metodologie, wat verwys na data is wat verkry is deur verskillende insamelingsmetodes, byvoorbeeld 'n literatuuroorsig, onderhoudsvraelys, semi-gestruktureerde onderhoude en fokusgroep-onderhoude. Daar is met hierdie ondersoek probeer om ook geldigheid te verseker deur nie te veel te sny aan die reaksies van die deelnemers nie, sodat die mening van elke deelnemer in geheel duidelik en in konteks van die gesprek kon bly. Mertens (1998, p.183) herinner ons dat triangulering ook behels dat data wat ingesamel is, gekontroleer word met verskillende bronne om relatiewe konsekwentheid van bevindinge te verseker, daarom die fokusgroep-onderhoud.

Die tweede strategie wat gebruik word om die navorsing se geldigheid en betroubaarheid te verseker, is konsultasie met 'n onafhanklike navorser. Om die geloofwaardigheid van die studie verder te verhoog, het die navorser gereeld met 'n onafhanklike navorser gekonsulteer (die persoon het dieselfde opleiding as ek ontvang, op dié manier kan triangulering verkry word) ten opsigte van sy (die navorser se) eie persepsies, insigte en die analisering van data wat tot groter insigte aanleiding gegee het (Maykut & Morehouse, 1994, p.147; Mertens, 1998, p.182). Daar is tydens die proses van data-analise op 'n deurlopende basis met 'n onafhanklike navorser gekonsulteer om sy opinies, insigte en persepsies te verkry. Die navorser behoort in 'n uitgebreide gesprek te tree met 'n kollega, wat buite die konteks van die studie staan, en wat 'n algemene kennis van die aard van die studie oor die bevindinge,

persepsies, insigte, analise en hipoteses het (Terre Blanche & Durrheim, 1999, p.182; Babbie & Mouton, 1998, p.277).

Mertens beskryf betroubaarheid as die manier om die gehalte en toepaslikheid van die ondersoekproses te bewys (Mertens, 1998, p.184). Dit gaan in hierdie kriterium van "trustworhiness" om die graad waartoe die leser verseker kan wees dat die data wel voorgekom het soos die navorser beweer (Terre Blanche & Durrheim, 2002, p.64). Dit gaan hier om die konsekwentheid van die data, met ander woorde as die studie herhaal sou word met dieselfde of ooreenstemmende respondente in dieselfde of soortgelyke konteks sal die bevindinge dieselfde wees (Babbie & Mouton, 1998, p.278). Die manier waarop aandag gegee word aan aspekte soos konseptualisering, datagenerering, -verwerking en interpretasie, sowel as die manier waarop hierdie bevindinge aangebied word, oortuig die leser uiteindelik van die geldigheid en betroubaarheid van die navorsing (Merriam, 1998, pp.198-200). Die betroubaarheid van die navorsing word beoordeel volgens die bestaande teoretiese en eksplisiete, praktiese kennis. Betroubaarheid is inherent 'n morele en etiese kwessie (LeCompte & Preissle, 1993, p.660).

Veralgemeenbaarheid verwys na die omvang waarmee navorsingsbevindinge op ander kontekste en met ander deelnemers van toepassing gemaak kan word. Die kwalitatiewe navorser maak egter nie daarop aanspraak dat kennis wat van een konteks verkry is, noodwendig van toepassing is op ander kontekste of dieselfde konteks, in 'n ander tydgleuf nie (Babbie & Mouton, 1998, p.277). Die eksterne waarde wat die navorsing het, lê in die bekendstelling en bevordering van onderwyspraktyke. Die breedvoerigheid van die ondersoek dra by tot die betroubaarheid daarvan om die probleme en kwessies vir die onderwysers, in die praktyk uit te wys. In die kwalitatiewe navorsingsparadigma, verwys eksterne geldigheid na die mate waartoe jy die resultaat tot 'n ander omgewing kan veralgemeen (Merriam, 1998, p.207). In kwalitatiewe navorsing is die doel nie om bevindinge te veralgemeen nie, maar om 'n unieke gedetailleerde beskrywing van 'n geval en sy fenomeen te voorsien. Denzin en Lincoln (2001, p.394) maak die aanspraak dat enige iemand wat probeer om 'n individuele geval te veralgemeen, kan meer skade doen aan daardie individu. Mertens (1998, p.183) is ook van mening dat die taak van veralgemeenbaarheid berus op die leser, om die graad van ooreenskomste tussen plek van studie en konteks te bepaal. Die navorser se verantwoordelikheid is om genoegsame besonderhede te voorsien, wat die leser in staat stel om so 'n oordeel van

veralgemeenbaarheid te maak. Wat die navorser wel kan voorsien, is 'n ryk beskrywing van die geval in sy natuurlike konteks verder moet die leser sy oordeel gebruik met die bevindinge wat uit hierdie studie verby is.