• No results found

HOOFSTUK 3: NAVORSINGSMETODOLOGIE

3.5 DATAVERWERKING

Die kwaliteit van dataverwerking bepaal die waarde van kwalitatiewe navorsing (Silwerman, 1993, p.5). Volgens Merriam (1998, p.121) is data-analise die proses om betekenis te heg aan die data en die proses om sin te maak daaruit. Kwalitatiewe dataverwerking is 'n komplekse proses van seleksie, fokusinstelling, vereenvoudiging, die daarstel van abstraksies en integrasie. Die betrokke prosesse is voor, tydens en ná die data-insameling gevolg. Die prosesse is verweefd en is voortdurend in interaksie met mekaar. Ek het reeds in 'n vroeë stadium van die navorsing met dataverwerking begin, aangesien dit bydra tot beter strategieë in die insameling van nuwe data (Miles & Huberman, 1994, p.50). Die verwerking van data het plaasgevind in drie fases, naamlik die redusering en vereenvoudiging van data, die vertoon daarvan en die gevolgtrekking wat dan gemaak en getoets behoort te word aan die hand van relevante literatuur.

Aangesien kwalitatiewe navorsing geen vaste voorskrifte het oor die organisering, analise of interpretasie van inligting nie, kan die navorser self besluit oor watter metode die geskikte een is (Patton, 1987, p.146). Met hierdie ondersoek na die ervaringe van die Graad 1-onderwyser met haar/sy diverse groep leerders in die klaskamer, is die kwalitatiewe data-analise gebruik.

Kwalitatiewe data-analise is die proses om betekenis uit die data te verkry. Dit behels redusering, konsolidering en interpretering van wat persone sê en wat die navorser waargeneem en ook gelees het. Voorts vereis kwalitatiewe data-analise, dat die navorser gemaklik moet wees om kategorieë te ontwikkel en ook om vergelykings en kontraste te maak (Creswell, 1994, p.153).

Miles en Huberman noem dat interpretasie verkry moet word deur na verwantskappe tussen kategorieë te soek (Merriam, 1998, p.171) sodat patrone neergeskryf kan word om te sien

"wat saam met wat gaan" (Miles & Huberman, 1994, p.245). Data-analise versoek dat daar herhaaldelik deur die data gelees word, die data af te breek in temas en te kategoriseer en om dit dan weer op te bou in iets nuuts (novel ways) en deeglik deur te werk en te interpreteer (Terre Blanche & Durrheim, 1999, p.140).

De Vos et al. (2002, p.339) argumenteer dat kwalitatiewe navorsing aangevul moet word op verskeie maniere omdat beskrywende data gebruik word. Kwalitatiewe navorsing berus op ryk beskrywende data van die fenomeen wat bestudeer word namate dit die toeskouer lei tot die verstaan van die fenomeen. Volgens De Vos et al. (2002, p.339) is data-analise die proses van orde skep en struktuur en betekenis gee aan die groot hoeveelheid data wat ingesamel is. De Vos (2002, p.286) gaan verder deur die proses van data-analise te beskryf as datareduksie, aanbieding van die data en die interpretasie van die data. Ek gebruik 'n eenvoudige metode van data-analise soos voorgestel deur Miles en Hubermann (1994, p.11). Hul stel die volgende drie aktiwiteite voor; datareduksie, datavertoning en dataverifikasie. Die volgende figuur stel die fases voor wat gevolg is:

Insameling van data:

Voltooiing van onderhoudsvraelyste deur individuele deelnemers.

Individuele onderhoude en fokusgroep-onderhoud.

Data Reduksie:

Transkribering van onderhoude, kodering en kantlynnotas

Data Vertoning:

Voeg data saam en vergelyk nuwe bevindinge met kategorieë, temas en fenomene.

Verifikasie en saamtrek van gevolgtrekkings

Figuur 3.2: Proses van data-analise

In die proses van data-analise is die transkripte herhaaldelik deurgelees om met die navorsingsvraag in gedagte 'n beter begrip te kry , asook om 'n holistiese beeld van die data te verkry. Die hooftemas en ervaringe wat hieruit voortgevloei het, is aangeteken. Die proses is 'n ontdekking van voorlopige kategorieë. Dit geskied intuïtief en sistematies, en behels die

identifikasie van data wat reëlmatig en herhaaldelik voorkom (Maykut & Morehouse, 1994, p.133). In die proses word die patrone van hul ervaringe en betekenis-eenhede gekodeer, gekategoriseer en saamgevoeg soos wat ek sistemies deur die data beweeg.

Die kwalitatiewe data is gereduseer tot temas en kategorieë om betekenis te kry. Gudmundsdottir (1996) stel vier vlakke van luister voor ten einde betekenis te kry uit reaksies, naamlik: (a) konteks; (b) die woorde wat geselekteer is; (c) die betekenis wat daaraan geheg word; en (d) die navorser se eksplisiete en implisiete begrip van die materiaal. Ten einde sin te maak uit die data wat ingewin is, is verwerking gedoen deur induktiewe ontleding. Die proses bevat twee sub-prosesse, naamlik die identifisering van eenhede, wat verwys na 'n kodering wat eenhede van betekenis vanuit die teks identifiseer. Tweedens, kategorisering, wat verwys na informasie-eenhede, wat 'n uitvloeisel is van die eenhede (eerste sub-fase) wat georganiseer word in kategorieë op grond van ooreenkomste in betekenis. Eenhede van betekenis word geïdentifiseer deur versigtig deur transkripte te lees (Maykut & Morehouse, 1994, p.129).

Ek het so ver moontlik, deurlopend kantlynnotas gemaak aan die regterkant van die bladsy (sien addendum D). Miles en Huberman (1994, p.66) verwys na die proses, om kantlynnotas te maak, as refleksie. Volgens die outeurs stel dit die navorser in staat om deurgaans meer bedag te wees op die koderingsproses. Volgens De Vos et al. (2002, p.346) laat kodering die navorser toe dat data afgebreek, gekonseptualiseer en dan weer saamgesit word op 'n nuwe manier. Die vergelyking van die deelnemers se reaksies met mekaar lei tot die groepering van reaksies as data-eenheid wat bymekaar hoort, gebaseer op iets wat dit in gemeen het. Hierdie kategorieë wat gebruik word om die data in 'n konseptuele raamwerk te sorteer, dui uiteindelik die fokus van die studie aan en beantwoord die vrae (Merriam, 1998, p.180). Kategorisering in kwalitatiewe navorsing help dat die inligting, wat ingesamel is, geïnterpreteer word en help sodoende vir begrip en die analise van die fenomeen wat nagevors word (De Vos et al., 2002, p.344). Die aantal kategorieë word dan gegroepeer, gemerk en dan gekodeer om te bepaal watter temas na vore kom. In hierdie ondersoek is aanleidende faktore, waaronder voorskoolse instansie, taal, regeringsbeleid, ondersteuning van die skool en ouerhuis, geïdentifiseer. Die aanleidende faktore het dan 'n direkte invloed op die Graad 1-leerder. Die Graad 1-onderwyser ervaar dan hierdie leerders met hul diverse agtergronde op verskeie maniere in die klaskamer wat in hoofstuk 4 bespreek gaan word.

Kwalitatiewe navorsing vereis induktiewe dataverwerking waarvolgens die data eers deurgewerk word en kodering dan eers plaasvind deur die resultate te omskryf in temas, kategorieë en beskryfbare eenhede (Basit, 2003, p.145; Smit, 2002, p.66). Hiervolgens soek die navorser nie data uit wat vooropgestelde idees bevestig of ontken nie, maar gebruik eerder die bestaande data om 'n nuwe teorie te ontwikkel (Bogdan & Biklen, 2007, p.6).

'n Sleutelbeginsel om data te interpreteer, is om dit te interpreteer vanuit 'n posisie van empatie (Mccallum, 2003, p.74). Data-interpretasie verwys na die fase waar die navorser alles byeenbring en die bevindinge in verband bring met 'n bestaande teorie of 'n hipotese (Mouton, 2001, p.161). Die finale doelwit van die interpretering van data is die formulering van 'n holistiese perspektief. Dit is in hoe 'n mate die navorsingbevindinge (data) antwoord op die doel en vrae van die studie, in hierdie geval wat die ervaringe van die Graad 1-onderwyser moontlik kan wees as dit kom by haar diverse klas voorskoolse leerders.

Deur die metode van inhoudsanalise te gebruik, het patrone na vore gekom in die onderhoude wat dan temas uitgelig het. Merriam (1998, p.160) glo dat alle kwalitatiewe data-analise, inhoudsanalise is want die inhoud wat van die onderhoude verkry is word geanaliseer. Die temas en kategorieë is geïdentifiseer in die proses van die studie. Die informasie wat verkry is deur die studie is 'n resultaat van die onderhoude.