• No results found

3.11 DATA-ANALISE

3.11.2 Gebruik van Atlas.ti™ vir data-analise

Atlas.ti™ is ʼn sagtewareprogram waarin die navorser kodes toeken aan belangrike inligting (kodes) binne die transkripsie. Hierdie sagtewareprogram help die navorser om die data te bestuur. Dit bly egter die navorser wat die data analiseer. Die navorser het die voltooide vraelyste etlike kere deurgelees voordat die tematisering met behulp van Atlas.ti™ uitgevoer is. Verskeie kodes is geïdentifiseer, waarna 16 kategorieë geskep is. Vanuit die kategorieë het agt subtemas ontwikkel: vier subtema as uitdagings; en vier subtemas as voordele. Uiteindelik het twee temas uit die data ontstaan wat die navorser in staat gestel het om die navorsingsvraag te beantwoord. Die temas, subtemas, kategorieë en kodes wat tydens die data-analiseproses geïdentifiseer is, sal in hoofstuk 4 uiteengesit en bespreek word.

3.12 SAMEVATTING

Die navorsingsontwerp, navorsingsmetode en navorsingsmetodologie wat in hierdie studie van toepassing was, is in hierdie hoofstuk bespreek. Die doel en die fokus van dié studie – naamlik studente se ervaring van afstandsleer in die BEd Grondslagfase-graad aan die Noordwes- Universiteit (NWU) – is verder bespreek. Die strategieë of bloudruk om die navorsingsvraag te beantwoord, is ook bepreek.

In dié studie is daar gebruik gemaak van ʼn kwalitatiewe fenomenologiese navorsingsontwerp met ʼn epistemologiese en ontologiese onderbou, wat gelei het tot ʼn metateoretiese interpretivistiese paradigma wat as vertrekpunt gedien het.

Ses-en-veertig (46) van die totale populasie (n=482) tweedejaar-afstandsleerstudente wat vir die BEd Grondslagfase-graad aan die NWU geregistreer was, het aan die studie deelgeneem. Die uitnodiging tot deelname aan hierdie studie is op die elektroniese LBS, eFundi, gelaai. ʼn Elektroniese oop-eind-vraelys is as data-insamelingsinstrument gebruik. Deelname was vrywillig en die vraelyste is anoniem deur die deelnemers voltooi. Slegs die navorser het toegang gehad tot die ingesamelde data. Die deelnemers het hulle eie ervaring weergegee.

Verskillende stappe is tydens die data-insameling en data-verwerking gevolg deur van Atlas.ti™ gebruik te maak (vgl. Tabel 3.1 en par. 3.11.2). Die bevindinge voortspruitend uit dié kwalitatiewe ondersoek sal in hoofstuk 4 bespreek word.

HOOFSTUK 4

DATA-ANALISE EN -INTERPRETASIE

4.1 INLEIDING

In hierdie hoofstuk word die data-analise en interpretasie van die bevindinge wat uit die kwalitatiewe ondersoek gespruit het, weergegee en bespreek.

In dié studie was die rol van die navorser, in samewerking met die deelnemers, om data in te samel om studente se ervaring van afstandsleer in die BEd Grondslagfase-graad aan die NWU te ondersoek. Die navorser het ʼn oop-eind-vraelys op ʼn Google-platform gelaai en die voltooide vraelyste deur middel van Atlas.ti™ geanaliseer. Die lens waardeur die navorser die data besigtig het, kon moontlik interpretasie van die data beïnvloed het, wat eiesoortig is aan die interpretivistiese benadering.

Die navorser het ook die vraelys geanaliseer om eenvormige administrasieprosedures daarvan te verseker. Die vraelys was in twee afdelings verdeel om soveel moontlik inligting van die studentedeelnemers te bekom. Inligting oor die deelnemersprofiel is ingesamel om ʼn volledige agtergrond van die deelnemers te bekom en beter te verstaan. Afdeling A het op die biografiese gegewens van die studentedeelnemers gefokus en Afdeling B op dié studente se ervaringe van afstandsleer aan die NWU.

4.2 KONTEKSTUALISERING

Ten einde deursigtigheid van die studie te bevorder en om die agtergrond van die databronne te verskaf, is dit nodig om die konteks en omstandighede rondom die deelnemers, respons tot die navorsing en data-insameling te beskryf.

ʼn Uitnodiging tot deelname aan die studie is by vyf geleenthede op die NWU EOAL se eFundi- administrasieblad gelaai om die 482 tweedejaar-afstandleerstudente, geregistreer vir die BEd

Ses-en-veertig (46) studente het die elektroniese vraelys, wat op Google Forms saamgestel is, vrywillig voltooi. ʼn Skakel is op die elektroniese uitnodiging beskikbaar gestel waarop die studente kon kliek. Die skakel het hul direk na die vraelys geneem waar hulle die geleentheid gekry het om dit te voltooi. Die voltooide vraelys met terugvoer van die deelnemers af is deur die navorser op

Google-skyf gestoor. Slegs die navorser kon deur middel van ʼn wagwoord toegang daartoe

verkry.

Die vraelys is vergesel van ʼn inligtingsbrief (in Afrikaans en Engels beskikbaar gestel) wat die doel van die navorsing beskryf het. Die kontakbesonderhede van die navorser, studieleier en NWU-etiekkantoor is in die inligtingsbrief verskaf indien ʼn deelnemer die navorser of universiteit sou wou kontak (Addendum E). Deelnemers het onderaan die inligtingsbrief elektronies ingeligte toestemming verleen om aan die navorsing deel te neem deur op ʼn blokkie te kliek. Die vraelys is in beide Afrikaans en Engels beskikbaar gestel, aangesien die studie in Afrikaans uitgevoer is en afstandsleerprogramme aan die NWU in Engels aangebied word. Deelnemers kon dus die vraelys in Afrikaans óf Engels voltooi.

Die navorsing is vanuit ʼn kwalitatiewe perspektief benader. Data is deur middel van oop-eind- vrae ingesamel. Die vraelys het verband gehou met die navorsingsvraag, naamlik: Wat is studente se ervaring van afstandsleer in die BEd Grondlagfase-graad aan die NWU?

Die data-analise word vervolgens bespreek.

4.3 DATA-ANALISE

Die voltooide vraelyste wat deur die deelnemer op Google Forms ingedien is en waaruit die navorser die data verkry het, is verwerk en georganiseer deur van Atlas.ti™ gebruik te maak. Die data uit die elektroniese vraelys, wat in twee afdelings verdeel was (Afdeling A [Biografiese inligting] en Afdeling B [studente se ervaring van afstandsleer in die BEd Grondslagfase-graad]), word vervolgens bespreek.