• No results found

3.4 PROBLEEMSTELLING

3.7.2 Epistemologie

Volgens Maree en Van der Westhuizen (2007:31) kan kennis vanuit een van twee sienings beskou word. In positivisme word ʼn kwantitatiewe benadering gevolg, gestandaardiseerde toetse word gebruik en die navorser word hoofsaaklik as waarnemer beskou. Alternatiewelik kan daar van ʼn interpretivistiese siening gebruik gemaak word. ʼn Interpretivistiese siening verwys na meer subjektiewe, spirituele of transendentale navorsing wat gewoonlik tot ʼn meer subjektiewe beskouing lei. Hiér vervul die navorser ʼn deelnemende rol. Die navorser beskou die navorsing vanuit ʼn praktiese lens.

Vanuit ʼn interpretivistiese paradigma word die werklikheid geken aan die verstaan van onderlinge interaksies binne ʼn bepaalde sosiale konteks. Die werklikheid word dus geken deur die konstruering van betekenisse of deur die werklikheid vanuit ʼn subjektiewe beskouing te interpreteer (Joubert et al., 2016:9).

Die epistemologiese onderbou van hierdie studie het gelei tot die interpretivistiese paradigma, wat beteken dat die waarheid geverifieer moes word (Joubert et al., 2016:9; Lichtman, 2010:21). Vanuit die epistemologiese benadering word vrae beantwoord soos: Waaraan word die werklikheid geken? en Hoe word die werklikheid geïnterpreteer? Vanuit ʼn epistemologiese benadering is daar gepoog om die waarheid binne hierdie studie te bepaal. Elke deelnemer beskik egter oor hul eie siening van die waarheid en belewenis soos hul die wêreld om hulle interpreteer. Die belewenis van elke deelnemer word deur die navorser geïnterpreteer. Volgens Maree en Van der Westhuizen (2007:31) het navorsers duidelik en ondubbelsinnig beheer oor die teorieë en posisie wat in ʼn navorsingsprojek uitgeoefen word.

Hierdie studie het ten doel gehad om studente se ervaring van afstandsleer in die BEd Grondslagfase-graad aan die NWU te bepaal. Die metodologie sal vervolgens bespreek word.

3.7.3 Metodologie

ʼn Metodologiese paradigma kan beskryf word as ʼn model of raamwerk wat gebruik kan word om dít wat waargeneem is, beter te verstaan (Nieuwenhuis, 2007a:56). Hennink et al. (2011:11) en Joubert et al. (2016:38) beaam hierdie stelling en omskryf metodologiese paradigmas as perspektiewe of die wyse waarop daar na gebeure gekyk word. Die metodologiese paradigma word gebruik as wyse en verwysingsraamwerk om dít wat waargeneem is, te organiseer.

Daar word gefokus op die mens se ervaring van hul leefwêreld en hoe dit geïnterpreteer word (Joubert et al., 2016:37). In hierdie studie is daar gefokus op studente se ervaring van afstandsleer in die BEd Grondslagfase-graad.

Dié afstandsleerstudente, wat regoor Suid-Afrika woon, het elk ʼn ander leefwêreld waaruit afstandsleer ervaar en geïnterpreteer kan word. Deelnemers aan dié studie se belewenisse is vanuit ʼn fenomenologiese oogpunt bestudeer.

3.7.3.1 Fenomenologie

Hierdie studie is gerig deur ʼn fenomenologiese benadering as metodologiese paradigma en word as metateoretiese paradigma/filosofie in die interpretivistiese paradigma gefundeer (Leedy & Ormrod, 2010:108). Volgens Leedy en Ormrod (2010:141) en Nieuwenhuis (2007a:59) is die doel van ʼn fenomenologiese studie om die deelnemer se siening (d.w.s. denke, gevoelens en houdings) van ’n verskynsel of probleem te verstaan. Cohen et al. (2011:18) beskryf voorts ʼn fenomenologiese studie as 'n teorie waardeur ʼn navorser inligting oor direkte ervarings bekom. Gedrag en terugvoer word deur ervarings bepaal en nie deur die eksterne, objektiewe en fisiese werklikheid nie (Cohen et al., 2011:18). ʼn Fenomenologiese studie het ten doel om ʼn individu se lewenservaring van ʼn spesifieke fenomeen te beskryf (Lichtman, 2010:75). ʼn Fenomenologiese benadering het dit moontlik gemaak om die ervaring van BEd-afstandsleerstudente aan die NWU te bestudeer en te interpreteer.

Vir die doel van hierdie navorsing is daar gefokus op interpretivisme as die metateoretiese paradigma en kwalitatiewe navorsing as metodologiese paradigma, wat vervolgens in Figuur 3.3 diagrammaties voorgestel en daarna bespreek sal word.

Figuur 3.3: Diagrammatiese voorstelling van die metodologie

3.7.3.2 Metateoretiese paradigma: Interpretivisties

Volgens Hennink et al. (2011:11) kan ʼn paradigma beskryf word as ʼn model of raamwerk wat gebruik kan word om dít wat waargeneem is, beter te verstaan. Nieuwenhuis (2007a:56) en Joubert et al. (2016:38) beaam hierdie stelling en omskryf metateoretiese paradigmas as die perspektiewe of wyse waarop daar na gebeure gekyk word. Dit word dan gebruik as verwysingsraamwerk om dít wat waargeneem is, te organiseer.

Binne die interpretivistiese paradigma word kennis hoofsaaklik verkry deur die werklikheid te ondersoek. Interpretasie van die werklikheidsgebeure staan voorop waar daar op ʼn kwalitatiewe benadering gefokus word (Joubert et al., 2016:9). Deur ʼn kwalitatiewe metodologiese benadering word daar gefokus op die mens se ervaring vanuit hulle leefwêreld en hoe hulle dit interpreteer (Joubert et al., 2016:37).

Vanuit ʼn interpretivistiese paradigma word die werklikheid bekend deur onderlinge interaksies binne bepaalde sosiale kontekste te verstaan. Die werklikheid word bekend deur die konstruering van betekenisse, of dit deur subjektiewe beskouings te interpreteer (Maree, 2016:22, 60; Joubert

asook faktore wat deelnemers se ondervinding kan beïnvloed, as die interpretivistiese paradigma of perspektief beskryf, wat deur navorsers gebruik word om die belewenis van ʼn ondervinding of faktore wat die ondervinding kan beïnvloed, te verstaan. Hennink et al. (2011:14) is ook van mening dat navorsing vanuit ʼn interpretivistiese paradigma poog om mense se belewenis en die subjektiewe betekenis wat hulle aan hul ervaring heg, te verstaan. Verskeie gebeurtenisse (ervaringe) en perspektiewe rondom ʼn spesifieke gebeurtenis of situasie word vanuit die interpretivistiese benadering ondersoek. Volgens Nieuwenhuis (2007a:59-60) word ʼn interpretivistiese paradigma op die volgende aannames gebaseer: menslike optrede kan net verstaan word deur waar te neem hoe mense op ervaringe reageer en watter invloed die belewenis van die ervaringe op hulle interaksie met andere het; sosiale interaksie met andere is ʼn eiesoortige menslike produk; die menslike verstand is die doelgerigte bron van oorsprong van betekenis; menslike gedrag word deur kennis van die sosiale wêreld beïnvloed; en die sosiale wêreld is nie losstaande van menslike kennis nie.

In hierdie studie wou die navorser studente se ervaring (hetsy positief óf negatief) van afstandsleer in die BEd Grondslagfase-graad aan die NWU deur middel van ʼn kwalitatiewe navorsingsmetodologie ondersoek.

3.7.3.3 Metodologiese paradigma: kwalitatiewe navorsingsbenadering

In kwalitatiewe navorsing word daar indiepte-ondersoek oor ʼn bepaalde verskynsel gedoen – in die geval van dié studie, studente se ervaring van afstandsleer in die BEd Grondslagfase-graad aan die NWU.

Binne ʼn kwalitatiewe studie stel die navorser ʼn navorsingsvraag. Hierdie navorsingsvraag omsluit ʼn sentrale vraag, waaruit ʼn aantal subvrae kan spruit. Met dié vraag of vrae word ondersoek ingestel na ʼn sentrale fenomeen van die studie (Joubert et al., 2016:64). Die fenomeen wat die navorser in dié studie wou ondersoek en verstaan was studente se ervaring van afstandsleer in die BEd Grondslagfase-graad aan die NWU. Hierdie kwalitatiewe navorsing mag bydra tot die

implementering van nuwe afstandsleerprogramme gebruik kan word om studente te ondersteun sodat hulle sulke programme suksesvol kan voltooi.

ʼn Kwalitatiewe navorsingsbenadering behels ʼn indiepte-ondersoek na ʼn gestelde verskynsel (Maree, 2016:40, Joubert et al., 2016:110). Die volgende hoofnavorsingsvraag is in hierdie kwalitatiewe studie gestel:

 Wat is studente se ervaring van afstandsleer in die BEd Grondslagfase-graad aan die Noordwes-Universiteit (NWU)?

Ten einde bogenoemde navorsingsvraag te beantwoord en te verstaan moes die navorser ʼn kwalitatiewe navorsingsmetodologie volg.