• No results found

DATA ONTLEDING, INTERPRETASIE EN LITERATUURKONTROLE

KATEGORIE SUB-KATEGORIE TEMA 3.3.1 Emosionele

3.3.2 Fisieke belewenis van die blootstelling-aan-diens

In totaal het agt deelnemers aan die studie fisieke newe-effekte weens die behandeling met anti-retrovirale terapie ervaar.

ʼn Besondere probleem wat in die studie ontstaan het was dat die newe-effekte van behandeling met anti-retrovirale terapie baie nou ooreenstem met die fisieke simptome wat tydens die rouproses ervaar word. Klagtes van naarheid, met of sonder braking; slapeloosheid; moegheid en uitputting; hartkloppings; lighoofdig- en duiseligheid; spier tremore en bewerigheid; diarree; hoofpyn en malaise kom dikwels voor by beide gespanne of getroumatiseerde persone sowel as by diegene wat newe-effekte van profilaktiese anti- retrovirale terapie ervaar (MentalHelp.net, 2005:Intyds; Loughborough University, 2005:Intyds; McNicholl, 2006:Intyds).

“As ek senuweeagtig raak, braak ek in elk geval.”.

Al agt die aangetaste deelnemers het aangedui dat hulle persoonlik dink dat hul klagtes direk met die behandeling met anti-retrovirale terapie verband hou.

“Daai pille! Hulle maak jou kláár. Toe ek met hulle ophou, toe gaan dit somme stukke beter!”.

3.3.2.1 Ervaring van newe-effekte na behandeling met anti-retrovirale terapie

Al die deelnemers is tussen drie en 28 dae profilakties behandel, en elf van die deelnemers het hul terapie soos beplan voltooi. Slegs een deelnemer moes vir mediese redes die terapie voortyds staak. Profilaktiese anti-retrovirale terapie was dié aspek van die bewakingsproses wat die meeste negatief deur al die deelnemers ervaar is. Sonder uitsondering het almal die effek van hierdie behandeling gevrees.

“Almal praat oor die effek van die pille op ʼn mens, en dit is so. Dit maak jou siek voel.”. “… Nee, ek kan mos nou nie élke keer dwaal op die behandeling nie! Maar die behandeling was die spyker in my doodkis gewees, régtig suster! Ek was in my kis gewees, suster!”. [Tweede onderhoud, waartydens keer-op keer na die medikasie se

effek verwys word].

Die behandelde deelnemers het newe-effekte soos malaise, naarheid, braking, buikongemak en hoofpyn ondervind. Hierdie simptome stem ooreen met wat farmakologies oor die moontlike newe-effekte van die middels bekend is (McNicholl, 2006:Intyds).

“Ek lê, maar ek is só móég. Maar dan sê dit hier so agter in my kop … XX jy het nog wasgoed om te doen, dan staan ek op, en dan begint ek te werk, dan is dit weer ʼn doodse moegheid oor my. Dan gaan lê ek weer, dan kyk ek die horlosie en dan dink ek … jy gaan nie deur jou werk kom nie. Dan staan ek weer op. Eetlus het ek glad nie. Ek het ʼn dooie gevoel op my mond, dan loop die kwyl uit my mond. Dis nie dat ek nie eetlus het nie, maar ek proe nie wat ek eet nie.”. [Deelnemer lyk angstig, maak kortstondig

oogkontak maar kyk kort-kort af na haar hande; frommel en skeur ʼn sneesdoekie].

“Ek was moeg en lam gewees, en dit het net gevoel asof ek ʼn onvermoë gehad het om enigiets te doen. Ek het gesukkel om te konsentreer. Waar die pille my begin vang het was die Vrydag middag nadat ek Donderdagaand begin drink het. Saterdag was dit sleg en ek het met naarheid en moegheid gelê. Sondag het ek eers begin beter voel. Maandag was ek weer beter.”.

“Ag, nee, ek was so effens mislik aan die begin, maar dis al.”.

Twee van die vier deelnemers wat voorheen anti-retrovirale profilakse ontvang het, het hierdie keer die newe-effekte meer negatief ervaar. Een deelnemer is selfs vir ʼn paar uur een nag by Noodgevalle met ekstrapiramidale uitvalle (stywe nek, mialgie, droë mond, anoreksie, braking, en abdominale pyn) opgeneem.

“Die eerste keer was nie so erg soos die twééde keer nie. Die eerste keer was ek net op Combivir®, maar die tweede keer was ek ook op daardie ‘Crox…’ wat ookal kapsuul, wat my so siek gemaak het [naarheid, moegheid, smaakverandering, abnormale

speeksel afskeiding].”.

“Dit was vir my sleg gewees. Ek was siek [naarheid en uitputting] en toe vra my vriendinne wat gaan aan? Toe sê ek vir hulle ek drink pille.”.

Vier deelnemers het geen newe-effekte van die profilaktiese behandeling rapporteer nie, en ten spyte van die ervaring van newe-effekte, het slegs een van die oorblywende agt die kursus anti-retrovirale terapie op mediese aanbeveling voortyds gestaak.

"Ek het die pille gebruik en nié naar geword nie! Almal het gedink ek gáán naar word! Maar ek dink die tipe pilletjie en die dosering is dalk van so ʼn aard dat ek nie so siek soos ander mense geword het nie. En ek dink ek het ʼn gestel soos ʼn os! Ek het net so twee, drie keer krampe in my been gekry. Ek het een nag wakker geword van vreeslike krampe in my een lies en in die spier, af in my been. Ek kon nie regop kom nie, en dit was so seer. Ek neem aan dit was van die pille. Ek het nog nooit voorheen en daarna weer sulke krampe gehad nie. Ek kon nie op my been trap nie! Ek moes smeergoed aansit en dit het gehelp. Ek was egter die bangste vir die naarheid!”.

“Baie sê: ‘Ag nee wat, sy [die bronpasiënt] makeer niks nie!’, maar ek meen … die antivirale middels is nie nodig nie, maar ek het besluit, hulle maak my nou niks nie, ek drink hulle maar klaar … Baie het ook gesê: ‘Jong, ek het nie die goed gedrink nie, want hulle het my siek gemaak’. Ek weet van baie wat dáár was [in ʼn situasie waar hulle siek

geword het] … baie van die wat daar was, het nié … van daardie jongetjies veral, hulle

het nie lekker gevoel nie, maar dit het nie vir my so [aangetas nie]…. Ek is een van die

gelukkiges!”.

Die berading oor die moontlike newe-effekte van die profilaktiese behandeling wat tydens die voor-toets periode aan blootgestelde personeel verskaf word, kon moontlik ʼn versterkende effek op die personeel se verwagting om onvermydelik newe-effekte soos naarheid en moegheid te ervaar, gehad het.

Benewens die emosionele en fisieke belewenis van die deelnemers, was daar enkele ander waarnemings wat uit die studie voortgespruit het.