• No results found

2.3 EENHEID VAN ONTLEDING

2.4.1 Die onderhoud

2.4.1.1 Die in-diepte onderhoud

In-diepte onderhoude is nie-rigtinggewende onderhoude met geen beperking op inhoud nie, waar die deelnemer die leiding neem oor wat bespreek word en die onderhoudvoerder slegs die algemene onderwerp aandui. Die doel van die in-diepte onderhoud is om die deelnemers te kry om vryelik oor hul ervarings en emosies tydens en net na blootstelling- aan-diens te praat, sonder dat die navorser se opinies daarop inbreek maak. Elke persoon beleef en verwerk bepaalde gebeure op ʼn unieke wyse en uit ʼn individuele perspektief, en

individuele onderhoude is ʼn uitstekende wyse om goeie kwaliteit data te bekom (Brink, 1996:158; Polit en Beck, 2004:234,347-348, Babbie, 2004:300-302). Dit is hierdie aspekte waarin die navorser belang gestel het, en waar die in-diepte onderhoud ideaal as instrument in hierdie studie van waarde was. In effek het die navorser slegs geluister na wat die deelnemers te vertel gehad het, en dit na verwerking weer oorgedra.

2.4.1.2 Voordele van ʼn in-diepte onderhoud

ʼn In-diepte onderhoud bied 'n geleentheid om inligting te ontdek, te bou, en nie net te kommunikeer nie (Silverman, 1997:113). Die reeks onderhoude met die deelnemers het werklik in “ontdekkingsreise” ontwikkel. Deur neutrale gesprekvoering het die navorser inligting versamel en tot insig oor die deelnemers se belewenis ten opsigte van hul blootstelling gekom, terwyl die deelnemers self die geleentheid gehad het om in ʼn atmosfeer van aanvaarding hul emosies aktief te lug en openlik oor die gebeure te praat (Brink, 1996:153,158-159; Burns en Grove, 2005:396-398; Polit en Beck, 2004:347-348).

Die in-diepte onderhoud as instrument het voordeel daarin dat dit goeie terugvoer verskaf, aangesien dit meer soos ʼn gesprek met ʼn bepaalde doel vloei. Die “gesprek” word in die taal waarmee die deelnemers die gemaklikste is en waarin hulle aan gevoelens uiting kan gee, gevoer. In die geval van die studie is die vrye assosiasie van idees tydens die onderhoude as ʼn bepaalde voordeel beskou, aangesien die navorser aanhalings uit die deelnemers se terugvoer vir data ontleding wou benut. “Gesprek” het verder die voordeel dat dit nie gestruktureerd is nie. Data wat so versamel is, het alles waarde, selfs wanneer die navorser nie oor genoeg inligting oor die gebeure beskik om vooraf vrae te struktureer nie. Vrae vloei uit die gesprek voort. Tydens ʼn onderhoud kan die navorser met aanmoedigende sinsnedes aan die deelnemer geleentheid bied om op stellings uit te brei of verklarings daarvoor te gee: “Deur te sê jy verstaan nie hoe die geneesheer se kop werk nie, bedoel jy…..?” (Brink, 1996:158; Babbie, 2004:300; Polit en Beck, 2004:347- 348; Burns en Grove, 2005:397-398).

In ʼn in-diepte onderhoud kan ʼn breër spektrum van komplekse gevoelens en emosie akkommodeer word, omdat die data as beskrywing weergee word. Onderhoud data kan vir verifiëring uit ander bronne aangevul word. In hierdie studie is bykomende dokumentasie soos insidentverslae, gebeurtenis- en behandelingsrekords van die Menslike

Hulpbron Afdeling vir data aanvulling en -bevestiging gebruik (Brink, 1996:153,158-159; Burns en Grove, 2005:224-227).

Die plooibaarheid van die in-diepte onderhoud as instrument laat toe dat die navorser die deelnemer se nie-verbale gedrag waarneem, om die kongruensie daarvan in die lig van die mededelings te vergelyk (Tesch, 1990:23; Brink, 1996:13; Silverman, 1997:113–117). Op hierdie wyse het die navorser ʼn deelnemer se verbale response tydens die twee onderhoud bevraagteken, omdat die nie-verbale respons nie die verbale boodskap ondersteun het nie. Na deeglike beskouing van die onderhoud en veldnotas, is tot die slotsom gekom dat die deelnemer eerder gesê het wat sy of hy dink die navorser wou hoor, as om openlik oor ware gevoelens te wees.

2.4.1.3 Nadele van ʼn in-diepte onderhoud

In-diepte onderhoude is nie net voordelig nie, maar het die potensiaal vir vooroordeel; foutering; afdwaling van die punt; misverstand of verwarring, wat voortdurend beheer moet word. Holstein en Gubrium (in Silverman, 1997:113) beweer egter dat 'n deelnemer die regte antwoorde sal gee indien die onderhoudvoerder die vrae korrek vra. Indien 'n in- diepte onderhoud beskou word as 'n waardevolle geleentheid waartydens kennis opgedoen kan word, het die proses tog ʼn betekenisvolle plek in enige studie.

Brink (1996:153,159) en Burns en Grove (2004:397-398) wys op die beperkinge van ongestruktureerde in-diepte onderhoude, waarvan die vaardigheid van die navorser die belangrikste is. Hoe meer ongestruktureer die onderhoud, hoe meer ervaring of opleiding benodig die navorser. Onderhoude duur langer as vraelyste om af te handel, hoewel die kwaliteit en omvang van die versamelde data gewoonlik opmaak vir die ongerief om onderhoude te skeduleer en na te kom (Brink, 1996:153,159; Burns en Grove, 2005:397; Polit en Beck, 2004:348). Vir hierdie studie is beplan om die in-diepte onderhoude na-ure of in personeel se geskeduleerde skofbreuke in te pas, om nie werkstyd te onderbreek nie.

ʼn Volgende stremming is die moontlikheid dat die navorser ʼn deelnemer kan beïnvloed deur oorbekendheid, die hiërargiese rangorde wat in die hospitaal bestaan, individuele optrede, persoonlike vraagstelling, of by wyse van onbuigsame gesprekvoering. Mense toon dikwels ʼn natuurlike geneigdheid om sosiaal-aanvaarbare response te verskaf, en sal eerder reageer soos van hulle verwag word om byvoorbeeld teleurstelling, konflik, probleme of ʼn negatiewe reaksie te vermy; of om tyd te spaar (Brink, 1996:153; Polit en

Beck, 2004:350-351). Vir die doel van die studie is hierdie menslike verskynsels in aanmerking geneem en voorsiening daarvoor deur die navorser se bekendheid met die deelnemers, asook die toepassing van onderhoudtegnieke wat die deelnemers op hul gemak gestel het, getref.

Die risiko dat deelnemers sosiaal aanvaarbare antwoorde mag verskaf omdat hulle angstig is oor die oudiobandopnames en notas wat gemaak word, was in hierdie studie ʼn bepaalde faktor. Deelnemers kon moontlik voel dat hulle nie hul woorde op skrif of band vasgelê wou hê nie, en kon uit vrees dat die werklikheid swak op hulle mag reflekteer, minder openhartig wees (Brink, 1996:153,159; Burns en Grove, 2005:397, 541-542; Polit en Beck, 2004:347). Om die risiko te verminder, was dit van die begin af aan die deelnemers duidelik gemaak dat almal heeltemal vrywillig aan die studie deelneem, en eerder nie ingesluit moet word indien hulle onseker oor die proses of navorser se betroubaarheid is nie. Die konfidensialiteit van die inligting op die bande of notas en die beperkte toegang daartoe is aan die begin van die studie aan elke deelnemer oorgedra. Hierdie aspek was skriftelik in die toestemmingsdokument, wat elke deelnemer voor die eerste onderhoud onderteken het, opgeneem (verwys na Bylaag B).

Om te bepaal watter potensiële probleme op die in-diepte onderhoud as gekose navorsingstegniek in die studie van toepassing mag wees, is ʼn verkenningsonderhoud onderneem om die geldigheid van die navorsingsvraag en –ontwerp te toets.

2.5 VERKENNINGSONDERHOUD

'n Verkenningsonderhoud met twee blootgestelde personeellede is uitgevoer om te verseker dat die verlangde inligting wel versamel sou kon word en enige onverwagte faktore vooraf te probeer vasstel (Brink, 1996:213; Burns en Grove, 2005:42, 396; Polit en Beck, 2004:196).

Die voordeel om die verkenningsonderhoud uit te voer is drieledig: Eerstens kon die navorser toets of die sentrale navorsingsvraag, naamlik “Beskryf u belewenis ten opsigte

van die moontlike blootstelling aan MIV na u besering- of blootstelling-aan-diens insident”,

die gewensde respons sou verseker. Tweedens was daar die moontlikheid om potensiële probleme met die onderhoudtegniek, onvoldoende tydtoelating vir die in-diepte onderhoud, of dubbelsinnigheid in die vraagstelling uit te stryk. Laastens was daar die geleentheid om die proses in te oefen en die klein hoeveelheid versamelde data vinnig te ontleed om te verseker dat die beoogde prosedures doeltreffend verloop (Brink, 1996:60,174).

Om die in-diepte onderhoude in die verkenningsonderhoud met ʼn oop gemoed te voer, het die navorser alle voorafgestelde persoonlike opinies en eie oortuigings oor die moontlike belewenis van blootgestelde personeel probeer identifiseer (“bracketing”). Dit is gedoen in ooreenstemming met die siening dat indien enige moontlike verwagtinge oor die studie se bevindings en voorafgestelde idees geïgnoreer kan word, die navorser meer ontvanklik vir alle moontlike perspektiewe tydens die ondersoek sal wees (Brink; 1996:120; Polit en Beck, 2004:253,435).

Beide in-diepte onderhoude met die deelnemers in die verkenningsonderhoud het die gewensde response uitgelok. Die twee deelnemers het beide gemaklik en spontaan, met die minimum aanmoediging, gesels. Die inligting is op oudioband vasgelê en direk na die in-diepte onderhoude transkribeer. Ontleding van die resultate van die twee in-diepte onderhoude het getoon dat die navorsingsvraag sonder twyfel vir albei die deelnemers duidelik was. Die data wat daardeur versamel is en die metode van dokumentering wat gekies is, het doeltreffend gefunksioneer. Die inligting wat tydens hierdie twee in-diepte onderhoude bekom is, was sinvol en bruikbaar, en het nie die geloofwaardigheid van die studie benadeel nie. Geen verandering aan die sentrale navorsingsvraag was nodig nie. Die onderhouddata is dus in die studie ingesluit.