• No results found

4.5 Meetinstrumente

4.5.2 Die ESSI-lees en speltoets

Die ESSI-lees- en speltoets (1997) (cf. Addendum A, B) wat ʼn gestandaardiseerde Suid-Afrikaanse lees-meetinstrument is, is gebruik om die leerders se leesvermoë te bepaal. Die ESSI-lees- en speltoets is in opdrag van die Vrystaatse Onderwys Departement in 1997 deur die Departement van Sielkunde van die Universiteit van die Vrystaat ontwerp onder leiding van dr. Esterhuyse, dr. Beukes en die Vrystaatse remediërende komitee (Esterhuyse & Beukes, 1997:1). Die toets is ontwerp deur Esterhuyze en Beukes (1997) op grond van die rasionaal, dat leerders met leesprobleme ook leerprobleme op skool ervaar, wat hul prestasie en vordering op skool nadelig kan beïnvloed

‟n Behoefte het ontstaan vir die ontwikkeling van ‟n meetinstrument om die verouderd UK-lees- en speltoets wat reeds in 1944 verskyn het te vervang (Esterhuyse, Beukes & Heyns, 2002:1). Die ESSI-lees- en speltoets is saamgestel uit ‟n reeks van 28 woordelyste vir Afrikaans- en Engelssprekende leerders in Grade 1 tot 7.

Volgens die ontwerpers van die ESSI-lees- en speltoets is die toets ‟n Suid- Afrikaanse gestandaardiseerde toets wat só opgestel is dat dit die volgende karakterkenmerke het:

 Dit kan deur leerders van Graad 1 tot en met Graad 7 geïmplementeer word;

 dit is bruikbaar vir die skoolbevolking in die “nuwe” tegnologiese era;

 die norms is per kwartaal beskikbaar;

 dit neem nie te veel tyd om te implementeer nie; en

die toetse kan diagnosties aangewend word (Esterhuyse & Beukes, 1997:1). Die toetsmateriaal bestaan uit ʼn Afrikaans/Engelse toetsboekie, ʼn Afrikaans/Engelse handleiding en die antwoordblaaie. Die navorser het slegs die Graad 2-leesblaaie en- speltoetse (L2) gebruik, aangesien daar op graad 2-leerders gefokus is.

Die leestoets se doel is om die leerders se sigwoordeskat te bepaal. Om doeltreffend te lees, moet ʼn leerder ʼn woord outomaties kan herken. In die ESSI -leestoets word van leerders verwag om een woord per sekonde te lees sonder om van ontledingstegnieke gebruik te maak. Na elke woord wat gelees is, skuif die leerder ‟n

los bladsy waarmee die woorde toegehou word af, om die volgende woord te sien. Indien ʼn leerder sewe agtereenvolgende woorde verkeerd lees, word die afneem van die toets gestaak. Hierdie staakreël kan toegepas word om ʼn leerder se leespeil te bepaal (Esterhuyse & Beukes, 1997:1).

Nadat ʼn leerder die betrokke woordelys gelees het, word een punt toegeken vir elke woord wat korrek gelees is en geen punt vir ʼn woord wat foutief gelees is nie. Die punte vir woorde wat korrek gelees is, word bymekaargetel om die leerder se roupunt vir die leestoets te bereken. Hierdie roupunt word omgeskakel na ʼn standaardtelling deur van die toepaslike normtabel gebruik te maak. Vir die doel van hierdie studie is daar van die roupunttellings gebruik gemaak en slegs die roupunte vir die statistiese berekenings gebruik.

4.5.2.1 Betroubaarheid en geldigheid van die ESSI-toets

Betroubaarheid verwys na die konsekwentheid waarmee ‟n toets meet, ongeag die geleentheid wanneer dit toegepas word (Esterhuyse & Beukes, 1997:17). Toets- hertoetsbetroubaarheid is ondersoek deurdat dieselfde toetse by twee verskillende geleenthede op twee verskillende eksperimentele groepe wat verteenwoordigend is van die populasie waarvoor die toets opgestel is, toegepas is en die korrelasie tussen hierdie twee stelle tellings bereken is. Die Kuder-Richardson 20-betroubaar- heidskoëffisiënt (KR20) is vir die verskillende lees-en speltoetse bereken. Die koëffisiënt was meer as 0.80, wat aandui dat die toetse intern konsekwent meet (Esterhuyse & Beukes, 1997:17).

Om inhoudsgeldigheid te verseker is ervare ondersteuningsonderwysers met minstens agt jaar ondervinding, asook die hoofde van ondersteuningonderwys by verskillende kinderleidingklinieke by die identifikasie van woorde betrek (Esterhuyze & Beukes, 1997:19).

Normtabelle word in die ESSI-lees- en speltoets toets gebruik om ‟n leerder se relatiewe posisie tot die normgroep te bepaal deur sy/haar routelling na ‟n standaardtelling om te skakel. Die normtabelle kan ook gebruik word om ‟n leerder se prestasie volgens kwartaal aan te dui. Byvoorbeeld: ‟n Afrikaanssprekende Graad 3-

leerder behaal ‟n telling van 8 op die speltoets in die vierde kwartaal. Deur na die persentielrang te kyk, kan die afleiding gemaak word dat 23% van die normgroep ‟n soortgelyke of laer telling op die speltoets in die vierde kwartaal behaal het. Dit impliseer dat 77% van die normgroep ‟n beter telling as hierdie leerder behaal het. Om te bepaal in watter kwartaal minstens 60% van die graad 3-leerders se normgroep vir die eerste keer ‟n telling van 8 uit 20 vir hierdie speltoets behaal het, kan die normtabelle ook geraadpleeg word. Hoewel hierdie leerder se telling van 8 uit 20 in die vierde kwartaal ‟n standaardtelling van 3 lewer, korreleer dieselfde telling met ‟n standaardtelling van 5 in die eerste kwartaal. Dus kan afgelei word dat hoewel hierdie leerder hom in die vierde kwartaal van Graad 3 bevind, die standaard van sy/haar spellingvermoë op die vlak van Graad 3 eerste kwartaal is (Esterhuyse et al., 2002:152).

Kwalitatiewe ontledings vorm ‟n inherente deel van die ESSI-lees- en speltoetse. Die soort foute wat die leerders tydens die lees en spelproses maak, is kwalitatief ontleed (Esterhuyse et al., 2002:152). Die ESSI-lees- en speltoets is deur die Psigometriese Komitee van die Beroepsraad vir Sielkunde as ‟n sielkundige toets geklassifiseer en toestemming is verleen dat dit landswyd gebruik mag word. Slegs geregistreerde sielkundiges en ondersteuningsonderwysers mag die toets administreer en die toetsresultate interpreteer (Esterhuyse et al., 2002:152). Omvattende navorsing (N=881) wat deur die RGN gedoen is, het getoon dat die ESSI-lees- en speltoets gereeld gebruik word deur opvoedkundige sielkundiges (Foxcroft, Paterson, le Roux, & Herbst, 2004:219). Indien toetsresultate se hertoetstelling hoër is as die natoets dui dit aan dat die leerder se leesvaardighede verbeter het (Engelbrecht, 2005:33).