• No results found

1. INLEIDING

4.4 Ervaring as adjunkhoof in die leierskap en bestuur van die skool

Vir die navorsingstudie en om die vraag te beantwoord, was dit belangrik om die vroue se ervaring net ná die aanstelling in die adjunkhoofpos te bepaal om te sien of hulle voorbereid was vir die uitdagende taak. Tweedens wou ek kyk of die vroue se posbeskrywing by die skool in ooreenstemming is met die posbeskrywing vir adjunkhoofde volgens die PAM (DBO, 1999).

4.4.1 Ervaring ná die aanstelling

Adjunkhoofde A en C se reaksie oor hulle ervaring net na die aanstelling was min of meer dieselfde.

Adjunkhoof A se reaksie was:

“uitdagend, alleen, eensaam… [lang stilte] veeleisend en ʼn mens voel so dom. Ek het dan so baie geweet as ‘ʼn HOD, en nou voel jy asof jy swem.“

Adjunkhoof C het genoem:

“Dit was verskriklik gewees vanaf ʼn posvlak 2 na adjunk toe, dit is net ʼn ander wêreld. Jy het ʼn ander tipe verantwoordelikheid nê en dit nou definitief net met onderwysers en nie met kinders nie. Dit is ʼn groot administratiewe verantwoordelikheid wat ek gekry het.”

Vir adjunkhoof B was die ervaring positief en dat sy het dit geniet. Adjunkhoof B het genoem dat haar waarneming as skoolhoof in die eerste kwartaal van 2013 gehelp het.

“Ek was in die diep kant ingegooi en moes alles doen. Ek het dit baie geniet en baie dinge gedoen wat die goedkeuring van die onderwysers weggedra het. 2013 was ʼn moeilike jaar want ek het geswot ook.”

80

Op die vraag of die waarneming goed was, het sy geantwoord:

“Ja, dit was. Ek is ambisieus, ek kan dit nou sommer reguit sê ek wil verder gaan om te kyk wat die toekoms inhou.”

Adjunkhoof D het gemengde gevoelens gehad aangesien sy eers aan die begin van die nuwe skooljaar gehoor het dat sy aangestel is. Haar ervaring was dat van die personeel nie met haar aanstelling tevrede was nie.

“Daar is mos ‘n tendens by ons dat ons niemand iets gun of bly is vir mekaar nie. Ons wil mekaar altyd terug hou. As iemand bevordering kry, behoort ons mos bly te wees vir mekaar.”

Adjunkhoof D noem dat as mense (onderwysers) haar werklik geken het en geweet waar sy vandaan kom, sou hulle bly gewees het. Dit was vir haar ʼn riem onder die hart dat die gemeenskap waar sy groot geword het, baie bly was oor haar aanstelling en daarom het sy haar voorgeneem om nie die mense teleur te stel nie. Uit bostaande inligting kan ons aflei dat die aanstelling vir adjunkhoofde A en C was ʼn uitdaging was. Dit kan daaraan toegeskryf word dat nie een van die twee vroue voorberei is vir die verantwoordelikhede wat met die pos gepaard gaan nie. Adjunkhoof B het reeds voor haar permanente aanstelling as adjunkhoof as skoolhoof waargeneem en hierdie ervaring het haar moontlik vir die adjunkhoofpos voorberei. In teenstelling met bogenoemde drie vroue se reaksie, was adjunkhoof D se reaksie een van gemengde gevoelens. Dit kon voortspruit uit die feit dat sy twee keer vir die pos aansoek gedoen het voordat sy suksesvol was. ʼn Tweede moontlike rede kan wees dat al die onderwysers op die personeel met haar aanstelling tevrede was nie.

4.4.2 Posbeskrywing by die skool versus die posbeskrywing in die Personeel administrasiemaatreëls (PAM)

Al vier adjunkhoofde het genoem dat hulle posbeskrywings by die skool nie veel van die posbeskrywing in die PAM en van die twaalf prestasiestandaarde in die GGBS- stelsel verskil nie.

81

Adjunkhoof A het genoem dat die posbeskrywing by die skool duideliker en meer spesifiek was as dié in die PAM, maar het nie uitgebrei nie. By skool A is die SBS lede volgens die nege fokusareas van die Heelskoolontwikkelingsinstrument (DBO, 2002) ingedeel. Adjunkhoof A bestuur fokusarea vier van heelskoolontwikkeling: gehalte van onderrig, leer en opvoederontwikkeling en sy is ook verantwoordelik vir die bestuur van die voedingskema, indiensopleiding, mentorskap van onderwysers en vaardigheidsontwikkeling, funksies, verversings en deernis en dien as tesourier in die BHL. Haar manlike kollega is verantwoordelik vir fokusarea agt van heelskoolontwikkeling: skoolinfrastruktuur asook dissipline, finansies, GGBS, sport en funksies.

Adjunkhoof B is die enigste adjunkhoof by skool B. Volgens die skool se posbeskrywing is sy vir die volgende verantwoordelik: terreindiens, ontwikkeling- en ondersteuningsprogram, jaarbeplanning, dissipline, moderering en assessering, handboeke en die boekstoor, toesig, skoolroosters en werksindeling.

Adjunkhoof C is een van twee adjunkhoofde en haar kollega is ‘n man. By skool B is adjunkhoof B die kurrikulumkoördineerder van die AOO-fase (Algemene Onderwys en Opleiding) en sy is ook aan hoof van monitering en moderering, finansies, personeelontwikkelingspan, begrotingsbestuur, heelskoolontwikkeling, kwartaalprogramme, skoolverbetering, aankope en hulp met die bestuur van die GGBS. Ten opsigte van ander ekstra pligte is sy verantwoordelik vir: personeelontwikkeling, studieklasse en studieprogramme, reël van oueraande, winter– en lenteskool vir graad 12-leerders, prysuitdeling, telematiese klasse, begrotingsvergaderings, fondsinsamelingspogings.

Adjunkhoof D het aangedui dat haar posbeskrywing min of meer in ooreensteming is met die PAM, maar dat sy soms noodgedwonge ander pligte van die skoohoof ook verrig. Ten opsigte van kurrikulumbestuur is sy verantwoordelik vir: koördinering van die kurrikulum, monitering en moderering van departementshoofde se verslae, byhou van verslae en bewysstukke van interne monitering en moderering, assesseringsplanne, werkskedules en werksverdeling, mentorprogram vir onderwysers, vakpakkette en vakkeuses, skakeling met kurrikulum adviseurs en die koördineerder van RTT en die ander rekenaarlokale. Behalwe kurrikulumbestuur is

82

sy administratief ook vir verskeie pligte verantwoordelik. Dit sluit onder andere in: heelskoolontwikkeling, toesig en tydstoewysing, skoolrooster, interne statistieke, registrasies van graad 12-leerders vir die Nasionale Senior Sertifikaateksamens, interne eksamens, reël van ouervergaderings en afsprake met ouers.

Die probleem wat sy egter ervaar, is dat omdat die vorige adjunkhoof sekere pligte of soms meer as sy posbeskrywing gedoen het, daar nou soms van haar verwag word om dieselfde te doen. Sy het gesê dat dit miskien tyd geword het dat almal se posbeskrywing soos vervat in die PAM (DBO, 1999) met almal deurgewerk moet word.

Na aanleiding van die PAM soos in hoofstuk twee (sien 2.2.2), wou ek vasstel of die vier adjunkhoofde se verantwoordelikhede by die PAM aansluit en of hulle meer doen as wat van hulle verwag word. Ek het ook gekyk of die PAM die uitdagings waarvoor die adjunkhoof te staan kom, in ag neem.

Alhoewel die vier vroue aanvanklik aangedui het dat hulle posbeskrywing nie veel van dié in die PAM verskil nie, lyk dit in die praktyk en op papier anders. Ek het tot die slotsom gekom dat, alhoewel daar ooreenkomste is tussen die posbeskrywings in die PAM en dié van die skool laasgenoemde meer uitgebrei is. By die posbeskrywing van die vroue is elke plig in sub-rolle verdeel bv. adjunkhoof C is vir finansies verantwoordelik. Dit word verdeel in a) opstel van die begroting, b) bestuur en administrasie van die begroting, c) monitering van skoolfondse, d) monitering van die 043– state ( in verband met die skool se kwartaallikse inkomste en uitgawes) en e) indiening van geouditeerde state. Hierdie onderafdelings word nie in die PAM aangedui nie. Die PAM dui slegs aan dat die adjunkhoof die skoolhoof ten opsigte van skoolfinansies, beplanning en kontrole van uitgawes,en toekenning van fondse moet adviseer Omskrywings in die PAM is vaag en gee nie duidelike leiding oor wat van die adjunkhoof verwag word nie. Tweedens is daar ook nie duidelikheid oor wat “adviseer” behels nie.

Dit is onduidelik of skole die PAM as ʼn riglyn vir die posbeskrywings van die adjunkhoofde gebruik en, as gevolg van die tekort aan duidelike omskrywings in die PAM dus hulle eie diepte en detail daaraan gee. Hierdie afleiding word gemaak na aanleiding van adjunkhoof D se kommentaar dat die posbeskrywing soos in die PAM

83

met hulle deurgewerk moet word. Die posbeskrywings van die vier adjunkhoofde by die onderskeie skole het ook verskil. Hier word in ag geneem of daar een of twee adjunkhoofde by die skole is en of die SBS-lede van die funksies verrig.

Agtien jaar het verloop sedert die PAM in 1999 uitgebring is. In hierdie 18 jaar het verskeie onderwysveranderinge veral op skoolvlak, in Suid-Afrika plaasgevind. Met die gewysigde PAM soos gepubliseer in ʼn Regeringskennisgewing in Februarie 2016 het die posbeskrywing van die skoolhoof verander, maar nie dié van die adjunkhoof nie. Artikel 16A van die SASW (wat met die wetlike verantwoordelikhede van die skoolhoof te make het), is by die posbeskrywing van die skoolhoofde bygevoeg. Dit is duidelik dat die PAM, die prestasiemetingsinstrument (GGBS) en beleidmakers nie die uitdagings van die adjunkhoof en die veranderde onderwysomgewing in ag neem nie. Adjunkhoof C het dit mooi opgesom toe sy gesê het:

“Die verwagtinge van die skool, dit raak net meer oorweldigend en daar is nie ekstra personeel wat dit kan doen nie. Die verantwoordelikheid op die adjunk is die hoogste deesdae. Die Departement [WKOD] skuif net af en as die prinsipaal nie kan instaan nie is dit mos outomaties dan sy adjunkte wat moet help, want hulle moet hom ondersteun. Dit is ʼn ketting reaksie wat nou volg, dit is nie net die prinsipaal nie.”