• No results found

2.2 Omskrywing van relevante terme

2.3.3 Die voorkoms van oorgewig en obesiteit in Suid-Afrika met die fokus op

Verskeie studies is reeds uitgevoer om oorgewig en obesiteit onder die Suid-Afrikaanse kinderpopulasie te ondersoek. Volgens die nasionale South African National Health and Nutrition Examination Survey (SANHANES-1) (Shisana et al., 2014:211), is die Suid-Afrikaanse populasie in 'n soortgelyke posisie as wat Amerika was met betrekking tot die voorkoms van oorgewig en obesiteit van 1999 tot 2000. Die SANHANES-1 verslag het al die Suid-Afrikaanse bevolkingsgroepe betrek en die verkrygde statistiek word gebaseer op dwarsdeursnit- asook longitudinale studies (Shisana et al., 2014:2). Hierdie studie rapporteer dat oorgewig en obesiteit aan die toeneem is by 6- tot 14-jarige kinders, veral by swart kinders en bruinmeisies (Shisana et al., 2014:210). Die 0 tot 14 jarige-ouderdomsgroep se statistiek toon dat meisies meer neig daarna om langer en swaarder te wees in vergelyking met seuns, maar tog is daar geen statisties- betekenisvolle geslagsverskille gevind nie (Shisana et al., 2014:201). Die studie toon verder 'n voorkoms van 22.7% se oorgewig en obesiteit onder Suid-Afrikaanse voorskoolse kinders tussen die ouderdom van 2 en 5 jaar. Dit is dubbel die voorkoms wat in ander Afrika-lande soos Botswana, Swaziland en Nigerië waar 11% gedokumenteer is (Shisana et al., 2014:204). Statisties- betekenisvolle verskille kom ook voor in seuns se oorgewig- en obesiteitsprofiel (11.5% en 4.7%) teenoor meisies (16.5 % en 7.4%) (Shisana et al., 2014:204). By meisies tussen 6 en 13 jaar is die voorkoms van oorgewig en obesiteit reeds 13.5% (Shisana et al., 2014:211). Hierdie studie lewer verdere bewyse dat kinders in stedelike gebiede 'n statisties-betekenisvolle hoër LMI toon teenoor kinders in landelike gebiede (Shisana et al., 2014:204). Die Noordwes Provinsie (NWP) het 'n gemiddelde LMI-waarde van 16.9 by meisies tussen 2 en 14 jaar opgelewer. Dit klassifiseer dus hierdie provinsie as 'n lae LMI teenoor ander SA-provinsies soos KwaZulu-Natal (18.5) en Gauteng (18.2) wat die hoogste gemiddelde LMI-waardes in hierdie ouderdomsgroepe getoon het (Shisana et al., 2014:204). Die SANHANES-1 verslag rapporteer verder dat hierdie voorkoms van oorgewig en obesiteit veral hoër is by swartmeiseis in vergelyking met swartseuns.

Tydens die National Youth Risk Behaviour Survey wat in 2002 gedoen is op 10 699 graad 8 tot 12 Suid-Afrikaanse kinders waarvan 53% meisies was, is daar gevind dat 24.5% van die meisies oorgewig en 5.3% obees was (Reddy et al., 2008:205). Hierdie studie het ook die IOTF se klassifikasie van Cole et al. (2007:5) gebruik vir die klassifisering van oorgewig en obesiteit, soos beskryf in tabel 2.1. Armstrong et al. (2006:56) het ook die IOTF se afsnypunte gebruik in 'n studie wat gedoen is op 10 195 Suid-Afrikaanse kinders (n = 4 584 meisies en n = 5 611 seuns) tussen 6 en 13 jaar in 5 provinsies in diverse sosio-ekonomiese groepe. Die navorsers het gevind dat LMI

LMI gewys het in vergelyking met swartmeisies. Laasgenoemde tendens het egter op 11-jarige ouderdom verander (Armstrong et al., 2006:57). Die voorkoms van oorgewig (ʼn toename van 9.9% na 14.2%) en obesiteit (ʼn toename van 2% na 7.6%) het na vore gekom by swartmeisies van 6 tot 13 jaar. Hierteenoor was daar ʼn teenoorgestelde tendens by witmeisies waar oorgewig en obesiteit afgeneem het met die ouderdomtoename van 6 jaar (ʼn afname van 17.6% tot 13.2%) tot 13 jaar (ʼn afname van 7.8% tot 1.3%) (Armstrong et al., 2006:57).

ʼn Studie deur Truter et al. (2010:229), ook gebaseer op die IOTF-afsnypunte, toon dat meisies meer geneig is tot oorgewig (8.3% teenoor 7.2%) en obesiteit (4% teenoor 2.5%) as seuns, en dat 12.2% van 9- tot 13-jarige meisies in die Potchefstroom-omgewing van die Noordwes Provinsie (NWP) as oorgewig geklassifiseer kan word teenoor 9.8% van seuns (Cole et al., 2007:5) (Truter et al., 2012:431). Armstrong et al. (2011:839) en Truter et al. (2010:231) lewer verder ooreenstemmende bewyse dat Suid-Afrikaanse kinders dieselfde toenemende tendense van oorgewig en obesiteit toon as hul eweknieë tien jaar gelede in ontwikkelde lande. ʼn Oorsigartikel van Rossouw et al. (2012:2) rapporteer dat die tendens van obesiteitstoename by Suid-Afrikaanse meisies moontlik kan verband hou met puberteit. Cole et al. (2007:5) bevestig dat die hoogste voorkoms van oorgewig en obesiteit sigbaar is by meisies tussen 9 en 10 jaar.

'n Studie, uitgevoer in Port Elizabeth deur Baard en Mckersie (2014:116) op 713 kinders in kwintiel 1 tot 5 skole (341 meisies en 372 seuns) tussen 7 en 10 jaar oud, toon ook geslagsverskille. Die studie rapporteer 'n oorgewigsvoorkoms van 21% en obesiteitstatistiek van 10% in die groep. Baard en Mckersie (2014:116) skryf hierdie syfers daaraan toe dat kinders 'n meer sedentêre leefstyl volg as in die verlede. Meisies het die hoogste voorkoms getoon vir oorgewig (23%) en obesiteit (12%) teenoor seuns (19% en 7%).

Tathiah et al. (2013:720) se resultate, ook gebaseer op die IOTF-afsnypunte, toon dat 9% meisies (9 - 13 jaar) in Zoeloeland in die KwaZulu-Natal Provinsie van SA. oorgewig, en 3.8% obees is. Hierdie studie is uitgevoer op 'n totaal van 963 meisies in lae sosio-ekonomiese omstandighede (Tathiah et al., 2013:719). Hierdie studie reflekteer die negatiewe impak van 'n voedingsoorgang in die landelike gebiede en die effek wat dit op kinders se antropometriese samestelling het (Tathiah et al., 2013:721).

Monyeki et al., (2015:1166) het in 'n verdere oorsigartikel gebaseer op 0 tot 20-jarige Suid- Afrikaanse deelnemers gevind dat meisies in hierdie ouderdomsgroepe in alle studies ʼn hoër

voorkoms toon ten opsigte van oorgewig (12.1%) en obesiteit (5%). Die oorsigartikel sluit 19 studies in verskillende provinsies in SA in en is van 1990 tot 2015 gepubliseer. Hierdie oorsigartikel toon bewyse dat meer witkinders as oorgewig (23.4%) en obees (6.4%) geklassifiseer kan word in teenstelling met ander SA-bevolkingsgroepe. Die studie rapporteer ook dat kinders wat in stedelike gebiede woon (26.4%), 'n hoër voorkoms van oorgewig en obesiteit teenoor hul eweknieë in landelike gebiede (18.8%) (Monyeki et al., 2015:1166).

Tydens 'n longitudinale studie deur Pienaar (2015:5), wat vanaf 2010 tot 2013 in die Noordwes Provinsie van Suid-Afrika gedoen is, het die voorkoms van oorgewig by meisies meer toegeneem (9.6% tot 11%) as by seuns (6.7% tot 7.8%), gebaseer op die ouderdomspesifieke IOTF- afsnypunte van Cole et al. (2007:5). Pienaar (2015:5) rapporteer verder dat 6- tot 9 jariges in skole wat met 'n hoër SES geassosieer word, meer geneig is tot oorgewig en obesiteit as kinders in skole wat met 'n laer SES geassosieer word. In teenstelling met die toename in oorgewig in hierdie studie, toon die obesiteitstoename by meisies (5.1% tot 7.5%) 'n laer toename oor ʼn tydperk van 3 jaar vergeleke met seuns (3.9% tot 7.1%). Volgens Pienaar (2015:9) is oorgewig en obesiteit in die Suid-Afrikaanse kinderpopulasie in die algemeen aan die toeneem onder kinders in die hoër sosio-ekonomiese groepe. Daar is egter ook 'n algemenetoename in oorgewig en obesiteit sigbaar in lae SES. Hierdie tendens stel kinders bloot aan 'n groter risiko om gesondheidsverwante siektetoestande verbonde aan oorgewig en obesiteit te ontwikkel (Pienaar, 2015:9).

Voedingsekerheid en SES word ten slotte beide positief geassosieer met oorvoeding (Kimani- Murage, 2012:196). Hoë vlakke van 'n sedentêre leefstyl is met die voedingsoorgang in verskeie Suid-Afrikaanse studies gerapporteer (Kimani-Murage, 2012:194). Alhoewel lae en middelklaslande 'n stryd teen obesiteit voer, is daar ook die realiteit van aansteeklike siektes wat met ondervoeding gepaardgaan. Dit beteken dus dat hierdie lande 'n dubbelle las het wat kan lei tot chroniese kwessies (Kimani-Murage, 2012:194; WHO, 2018a). In 'n studie van Kimani- Murage (2012:199) word daar verder gerapporteer dat groeibelemmering meestal by jong meisies in hul adolessensie oorskakel na oorgewig of obesiteit. Hierdie meisies het gevolglik 'n verhoogde risiko om metaboliese sindroom tydens adolessensie te ontwikkel (Kimani-Murage, 2012:199). Vervolgens sal die voorkoms van groeibelemmering, skraalheid en ondergewig toegelig word.