• No results found

Die studie het ten doel gehad om die langdurige invloed van groeibelemmering, skraalheid en ondervoeding se effek op akademiese prestasie by laerskoolmeisies te bepaal. Groeibelemmering is een van die mees algemene vorme van wanvoeding en hou direk verband met wanvoeding en skraalheid; juis daarom is groeibelemmering in hierdie verband ontleed. In graad 1 was die voorkoms van die verskillende vorme van wanvoeding as volg: GB = 20.00% (n = 40), SK = 20.5% (n = 41) en OG 21.5% (n = 43). Die voorkoms van groeibelemmering was wel laer as die gerapporteerde 40% in Afrika, selfs al stem dit ooreenstem met die SANHANNES- statistiek van 19.2% by 0 tot 14-jarige Suid-Afrikaanse kinders.3,17

Statistieke uit tabel 3 bevestig dat wanvoeding by ʼn groot persentasie van die groep uit die vroeë kinderjare voorkom, en in die geval van groeibelemmering blywend, en in ʼn mate groterwordend was. Chesire et al.24ondersteun ook die huidige studie se bevindige by 6- tot 12-jarige skoolgaande

kinders in Kenia waar groeibelemmering algemeen voorkom (met ʼn voorkoms van 29.1% by meisies). Oor die longutidinale tydperk was die voorkoms vir groeibelemmering 17.4% (n = 26). Verskeie studies verbind hierdie toestand met negatiewe gevolge, soos akademiese onderprestasie.9,12 In hierdie verband toon Kar et al. (2008) dat swak- en onvoldoende voeding tydens die vroeё kinderjare ʼn direkte invloed op breinontwikkeling het, en dit is noodsaaklik vir

hoёr kognitiewe prosesse wat oor die langtermyn tot permanente skade kan lei, en tot kognitiewe inperking bydra.34 In hierdie verband toon die statistieke dat swak skoolbywoning tydens die

kinderjare weens groeibelemmering, met gepaardgaande swak opvoedkundige uitkomstes, tot ʼn afname van 22% in die potensiaal van ʼn jaarlikse inkomste as volwassene kan bydrae.35,36

Die eerste belangrike bevinding van hierdie studie is dat groeibelemming by meisies, oor die langtermyn, wel negatiewe implikasies vir hul akademiese prestasie in taal en Wiskunde, asook vir hul algemene akademiese prestasie soos afgelei van die vakgemiddeldes, kan inhou. Hierdie gevolgtrekking word gebaseer op die statisties betekenisvolle laer akademiese prestasies wat behaal isdeur hierdie groep in hulle graad 1, 4 en 7 skooljare (tabel 3), asook oor die langtermyn (F = 10.43, p = 0.002). Longitudinale navorsing wat in vier ontwikkelende lande in die Young Lives Study gedoen is (en dit verteenwoordig soortgelyke populasies as in SA ), het ook positiewe verbande tussen groeibelemmering, taal en Wiskunde asook algehele skoolprestasie oor die tydperk van 7 jaar, by 8- tot 15-jariges in hulle studie gevind.4 Voorts word soortgelyke bevindinge ook deur Suid-Afrikaanse navorsers gerapporteer, alhoewel merendeels met dwarsdeursnitstudies.5,8 Hierdie navorsers rapporteer ʼn direkte verband tussen ondervoeding, groei en akademiese prestasie tydens dwarsdeursnitontledings as deel van die Ellisras Longitudinal Study. Matabane et al.8 rapporteer dat lae gemiddelde akademiese prestasie verband hou met wanvoeding en vind ʼn positiewe verband tussen lengte-vir-ouderdom (HAZ) en massa-vir- ouderdom (WAZ) betreffende akademiese prestasie en intelligensiekoëffisiёnte van kinders. Uit Themane et al.5 se studie, word daar soortgelyke resultate gerapporteer waar groeibelemmering

(HAZ) positief geasossieer word met Wiskunde- en taalpunte.

Glewwe et al.9 rapporteer soortgelyke bevindinge waar verbande tussen voldoende voeding en akademiese prestasie oor die langtermyn, uitgevoer op Fillepynse kinders vanaf geboorte tot die einde van hul laerskoolloopbaan, gevind is. Hierdie studie rapporteer dat ondervoede kinders later skoolgereedheid bereik, en teruggehou word in vergelyking met die wat voldoende voeding tydens hul kinderjare ontvang het. Chesire et al.24 rapporteer ook ʼn statisities-betekenisvolle verband tussen skoolbywoning en groeibelemmering. Soortgelyke bevindinge kan ook uit die huidige studie afgelei word. Alhoewel dit nie die studie se hoofdoel was nie, is dit steeds belangrik om uit te lig dat die resultate wel indirek toon dat wangevoede kinders tydens die grondslagfase (graad 1 - 3) van hul skoolloopbaan weerhou was. Hierdie waarneming word gemaak op grond van die

was (10.14 jaar) as dié wat ʼn normale gewig (9.81 jaar) gehandhaaf het. Alhoewel die huidige studie nie die verband tussen groeibelemmering en skoolbywoning by kinders ontleed het nie, toon die genoemde wêreldwye navorsing in hierdie studie dat die verband tussen groeibelemmering en skoolbywoning moontlik tot swak akademiese prestasie kan lei.5,9,24 Hierdie resultate bevestig gevolglik dat groeibelemmering oor die langtermyn tot belemmering van kognitiewe ontwikkeling kan lei deurdat strukturele skade aan die brein veroorsaak kan word, soos bevestig deur Brown en Pollit.11 Benton (2010)14 bevestig in hierdie verband dat ondervoeding, wat alreeds in die eerste lewensjaar voorkom, ʼn langtermyneffek op kognitiewe vermoëns en gedragsverwante aspekte het wat tot laer intelligensiekoëffisiënte en swakker akademiese prestasie kan lei. Groeibelemmering blyk gevolglik ʼn risikofaktor te wees vir oorlewing en gesondheid tydens die kinderjare en volwassenheid, wat ook leerkapasiteit en produktiwiteit kan beїnvloed.3 ʼn Enkele studie is wel gevind wat geen verband tussen akademiese prestasie en groeibelemmering bevind het nie. Die studie is in Maleisiё gedoen en rapporteer geen verband tussen onvoldoende voeding (HAZ, WAZ en BAZ) en akademiese prestasie by 7- tot 8-jariges nie.37 Die studie is egter nie longitudinal uitgevoer nie en het ook nie ander faktore soos SES, gesondheidsverwante toestande en etnisiteit as belangrike faktore wat ʼn invloed kon hê in ag geneem nie; daarom is die resulate nie direk vergelykbaar nie.37

Die ander vorme van wanvoeding, naamlik skraalheid en ondergewig, wat ook ontleed is, het egter geen statisties betekenisvolle verskille teenoor normale gewiggroepe se akademiese prestasie oor die langtermyn uitgewys nie. Die resultate toon wel tendense van laer gemiddelde akademiese prestasie by skraal en ondergewig meisies oor tyd (p > 0.05). Haile et al.38 rapporteer bevindinge waar verbande tussen massa-vir-ouderdom (WAZ) en LMI-z-waardes (BAZ) met gemiddelde akademiese prestasie en Wiskunde by 8- tot 11-jarige proefpersone ondersoek is, en ook nie betekenisvolle verbande opgelewer het nie. Die huidige studie toon soortgelyke verbande waar geen statistiese betekenisvolheid by skraal en ondergwig meisies teenoor die normale gewiggroep gevind is nie, alhoewel laer gemiddelde waardes wel waarneembaar was dwarsdeur die studie. In hierdie verband word tendense van laer akademiese prestasie wat wel voorkom nie soos, by groeibelemmering, toegeskryf aan die impak van swak kogniewe funksionering en gedrag nie, maar eerder aan ʼn emosionele respons op stresvolle omstandighede wat moontlik deur wanvoeding veroorsaak word.39 Bevindinge van die huidige studie kan in ʼn groot mate toegeskryf word aan lae SES omstandighede wat dikwels met voedselonsekerheid gepaard gaan, aangesien die grootste persentasie van die meisies in die studie afkomstig is uit lae sosio-ekonomiese omstandighede.

Ondervoeding kan tot gewigsverlies en swak weerstand teen infeksies lei, wat oor die langtermyn kronies kan raak, en dan skoolbywoning, die aandagspan en konsentrasie van kinders wat hierdeur geraak word kan beїnvloed.3,11

Hierdie studie het sterkpunte weens die longitudinale aard van die ontledings, asook die verskeie vorme van wanvoeding wat hierin ontleed is. Daar was egter ook beperkinge wat uitgelig moet word, en wat die resultate kon beïnvloed het. ʼn Groot uitvalsyfer van 200 meisies oor die 3 opvolgmetings (50.3%) vanaf 2010 tot 2016 kan die veralgemeenbaarheid van die studie se bevindinge beïnvloed. Slegs akademiese prestasie is in hierdie studie gebruik, en nie gestandaardiseerde toeste wat ander vorme van Wiskunde en taalvermoë ontleed nie. Verder was daar slegs sewe proefpersone wat as skraal geklassifiseer was oor die longitudinale tydperk. Die voordeel van die gebruik van akademiese punte is egter dat dit kennis na vore kan bring ten opsigte van algemene akademiese prestasie, asook indirekte inligting verskaf oor klasbywoning en - gedrag, wanneer die vakgemiddelde gebruik word. Met hierdie beperkinge in ag genome, is die studie se bevindinge veral belangrik omdat dit op ʼn groot groep laerskoolmeisies wat op ʼn ewekansige wyse geselekteer is, en wat verteenwoordigend was van die bevolkingsamestelling van SA, uitgevoer is oor hul hele laerskooltydperk. Geen soortgelyke studies is in die verlede in SA uitgevoer waar akademiese prestasie en liggaamsamestelling oor ʼn 6-jaaropvolgtydperk onder Suid-Afrikaanse meisies ondersoek is nie.