• No results found

Vervolgens doen ek verslag oor my sessies met my leerders. Ek het gehoop dat ek, deur van my dataversamelingstegnieke gebruik te maak, genoegsame terugvoering sou kry om my in my poging om klaskamerpraktyk te transformeer, by te staan. Ek het my lesse op die onderstaande datums aangebied:

LESSE DATUM Les 1 7 Augustus 2012 Les 2 8 Augustus 2012 Les 3 14 Augustus 2012 Les 4 16 Augustus 2012 Les 5 21 Augustus 2012 Les 6 22 Augustus 2012

4.8.1 Aanbieding van Les 1 en 2

Soos vroeër besluit is, het ek teruggekeer na my plan om die soort leeraktiwiteite aan te bied op ʼn wyse wat:

- die voorstelle wat hulle gemaak het in (4.3d) inkorporeer,

- die koöperatiewe beginsels in die verloop van die lesse ingebed het.

4.8.1.1 Les 1

Die eerste les het gehandel oor besluite (sien Addendum H en I). Ek het die leerders in groepe verdeel. Die banke in die klaskamer is alreeds die vorige dag herrangskik om koöperatiewe groepwerk te bevorder.

In hierdie oefening het ek aan die leerders profiele/karaktersketse van verskillende soorte besluitnemers verskaf en hulle gevra om te oorweeg watter een die beste by hulle pas. Die aktiwiteit het die vorm van ʼn vraelys aangeneem. Hierdie vraelys het ʼn reeks verskillende situasies geskets en leerders is deur middel van ʼn reeks veelvuldigekeusevrae gevra om te kies hoe hulle sou optree. Hulle punte is gebruik om te bepaal watter soort besluitnemer hulle was. Die vrae wat ek aan hulle gestel het met betrekking tot die soorte besluitnemers was die onderstaande:

a) Dink julle dat mense op verskillende maniere besluite neem? Motiveer julle antwoord.

b) Kyk na die onderskeie besluitnemingstipes en besluit watter persoonlikheidstipe elke lid in jou groep is. Wanneer julle besluit oor ʼn besluitnemingstipe moet julle redes aanvoer vir julle keuse.

c) Besluit watter persoonlikheidstipe jy is (individueel) en voer dan weer redes aan vir jou keuse.

d) Voltooi nou die vraelys om ʼn indikasie te verkry oor watter besluitnemingstipe jy is en korreleer dit dan met dié wat die groep en jyself aan jou toegeken het.

e) Evalueer nou as ʼn groep of die vraelys wel vir jou gehelp het om tot ʼn beter begrip te kom van watter tipe besluitnemer jy is.

Die eerste vraag is aan hulle gestel voordat die vraelys en inligtingsblad uitgedeel is en was bedoel om kommunikasie te stimuleer. Die leerders het hul individuele rolle in hul onderskeie groepe vertolk. Alhoewel ek die nodige beplanning vir die les gedoen het, moet ek eerlik wees dat die les glad nie so vlot verloop het soos wat ek dit graag sou wou gehad het nie.

Die reaksies van die leerders was minimaal. Die positiewe interaksie waarvoor ek gehoop het, was eintlik glad nie te bespeur nie. Die inligting van die verskillende soorte besluitneming het nie die insiggewende reaksies wat ek geantisipeer het, aangewakker nie alhoewel dit gelyk het asof hulle dit interessant vind. Die veldnotas wat ek vir daardie dag gemaak het, reflekteer dat sekere leerders teruggetrokke voorgekom het. Ek het die idee gekry dat nie almal eintlik regtig geweet het wat hulle rol in die groep behels nie.

Toe ek een groep gevra het waarom hulle nie met mekaar kommunikeer nie, het hulle mekaar blameer deur beskuldigings soos dié een wil nie praat nie en daardie een is skaam. Ek het toe aan die klas verduidelik dat hulle met mekaar moet gesels omdat hulle as ʼn groep mekaar se idees kon aanvul. As ’n mens met ʼn idee sit maar nie hoe weet om dit te formuleer nie, moet jy dit in elk geval uitspreek sodat die res van die groep ʼn kans kan kry om meer vorm aan jou idee te gee. Hulle moes nie vir mekaar skaam wees nie en hulle moes ook nie vir mekaar lag as hulle foute maak of verkeerd praat nie; dit is deel van die leerproses. Hulle moes mekaar opbou deur ʼn positiewe atmosfeer in hulle groepe te skep waarbinne almal veilig en gemaklik genoeg sou voel om aan hulle gedagtes uiting te gee.

Ná hierdie gesprek het dit gelyk asof die leerders gemaklik voorkom om die besprekingselement meer vuur te gee. Dit was egter net sekere leerders in groepe wat die praat- en dinkwerk gedoen het.

Vir die tweede les het ek een van my triangulators gevra om in die klas te wees om my te help monitor. Ek het gevoel dat die triangulator, wat ʼn buitestander is, my kon help om interessante punte, wat ek dalk tydens my eerste les misgekyk het, raak te sien.

4.8.1.2 Les 2

Op 8 Augustus 2012 het ek een van my triangulators gevra om my les te kom waarneem. Ek het aan die begin van die les net weer die rol van elke lid in ʼn koöperatiewe groep verduidelik. Daardie dag het ek my tweede les aangebied. Dit het oor die leerders se selfbegrip gehandel. Ek het aan die groep verduidelik dat die les daaroor gaan dat ’n mens jou sterkpunte, behoeftes, belangstellings en voorkeure moet oorweeg sodat dit tot ʼn verbeterde selfbegrip kan lei.

Om beter beheer oor die tydsduur van die les te hê, het ek ʼn sekere tyd aan elke aktiwiteit gekoppel. Ek het die les begin deur die groepe te vra om die onderstaande vrae te bespreek: a) Gee drie voorbeelde van bekende rugbyspelers en drie sangers wat julle baie van

hou.

b) Kies nou een rugbyspeler en een sanger wat volgens julle die heel beste is. Verskaf redes vir julle besluite en keuses.

c) Dink julle die sanger sal ʼn goeie rugbyspeler uitmaak en omgekeerd? Motiveer jul antwoord.

d) Waarom is dit nodig om bewus te wees van jou sterkpunte, behoeftes, belangstellings en voorkeure?

Ek het toe die werkblad (sien Addendum I) aan die leerders gegee en aan hulle die verskillende begrippe met betrekking tot sterkpunte, behoeftes, belangstellings en voorkeure verduidelik. Hulle het moes selfrefleksie doen en die werkblad voltooi.

Ek het hulle ook daaraan herinner dat die inligting nuttig te pas sou kon kom as verwyssing wanneer hulle oor moontlike idees vir loopbane navorsing doen. Verskillende beroepe het verskillende werkstoestande en vereis ook verskillende sterkpunte en belangstellings. Die leerders het entoesiasties oor verskillende sterre gesels en het by tye lawaaierig voorgekom. Die koördineerders, motiveerders en tydhouers van sekere groepe het hul werk goed gedoen deur die lawaaivlakke af te bring en te sorg dat die leerders gefokus bly en betyds klaarkry. Dit wou voorkom dat die leerders ʼn bietjie ekstra moeite in hul aktiwiteite gesit het omdat daar iemand anders (die triangulator) ook in die klas was. Sekere groepe het my regtig beïndruk met die graad van entoesiasme wat hulle gedemonstreer het. Dit wou voorkom asof die gedagte van koöperatiewe leer ʼn lewe van sy eie in die klas begin kry het.

Dit was egter nie al die leerders wat deur die stroom van positiwiteit meegesleur kon word nie. Daar was nog steeds sekere groepe wat, as gevolg van individue in die groep, nie goed gefunksioneer het nie. Toe die groepe terugvoering moes gee, het daardie betrokke groepe gestry oor wie moes praat en wie niks gedoen het nie. Die kommentaar van die triangulator wat die les bygewoon het, het ook dit gereflekteer. Aan die einde van die les het ons ’n rukkie lank oor die verloop van die les gereflekteer. Die leerders het die onderstaande stremmende faktore in hulle groepe geïdentifiseer:

- nie almal in die groep het hulle samewerking gegee nie; - sekere leerders het probeer snaaks wees;

- van die leerders het nie die rolle wat hulle in die groep gehad het, uitgevoer nie; en - een van die meisies het ook die opmerking gemaak dat die seuns nie met die meisies

wou saamwerk nie.