• No results found

Aksienavorsing is ʼn ondersoek wat gedoen word deur of met lede van ʼn organisasie maar nooit aan of op hulle nie. In die skoolverband kan dit beskryf word as navorsing wat uitgevoer word deur onderwysers vir onderwysers (Banegas, 2011). Dit is ʼn reflektiewe proses, maar is verskillend van geïsoleerde, spontane refleksie aangesien dit intensioneel en stelselmatig onderneem word, en dit vereis oor die algemeen dat een of ander vorm van bewys gelewer word vir bewerings wat gemaak word (Elliot, 2009). Aksienavorsing is georiënteer ten opsigte van een of ander handeling of siklusse van handeling wat deur lede van ʼn organisasie geneem word om ʼn probleemsituasie die hoof te bied. Die idee is dat veranderinge in die omgewing en of in die navorsers self plaasvind (McNiff & Whitehead, 2006).

Aksienavorsing word die beste gedoen in samewerking met ander, wat aandele het in die probleem wat ondersoek word. Vir lede in die organisasie het samewerking te make met die koöptering van buite van lede met die relevante vaardighede of hulpbronne, alhoewel baie saamstem dat die behoefte aan verandering van binne die omgewing af moet kom (Herr & Anderson, 2005). Soos alle vorme van ondersoek is aksienavorsing waardegebaseer (Banegas, 2011).

Aksienavorsing vereis een of ander vorm van intervensie. Hierdie intervensies vorm ʼn spiraal of aksie-siklusse waarbinne onderneem word om:

1. ʼn plan van aksie te ontwikkel om te verbeter wat alreeds aan die gebeur is; 2. iets te doen om die plan te implementeer;

3. die gevolge van die optrede/handelings waar te neem in die opset waarbinne dit plaasvind;

4. na te dink oor hierdie gevolge as ʼn basis vir verdere beplanning, die daaropvolgende aksie, en verder deur ʼn opeenvolging van siklusse (Herr & Anderson, 2005).

Hierdie siklus van aktiwiteite vorm ʼn aksienavorsingspiraal waarin elke siklus die navorser se kennis van die oorspronklike navorsingsvraag of probleem verhoog, wat hopelik tot ʼn oplossing sal lei.

In die groeiende massa literatuur oor aksienavorsing bestaan daar verskeie meer beknopte definisies met betrekking tot hierdie onderwerp.

McKernan (2000) beskryf aksienavorsing as ʼn vorm van selfreflektiewe probleemoplossing, wat praktisyns in staat stel om probleme in die maatskaplike omgewing beter te verstaan en op te los. Aksienavorsing is ’n refleksiewe proses waar, in ʼn gegewe probleemarea, iemand ʼn praktyk of persoonlike begrip wil verbeter. ʼn Ondersoek word deur die praktisyn onderneem, eerstens om die probleem duidelik te definieer, en tweedens om ʼn plan van aksie uiteen te sit, met inbegrip van die toetsing of hipotese. ʼn Handeling word uitgevoer ten opsigte van die probleem, waarna evaluering plaasvind om die doeltreffendheid te monitor en die effektiwiteit van die handeling te bepaal. Uiteindelik reflekteer deelnemers oor die resultate, en verduidelik en kommunikeer dit aan die aksienavorsingsgemeenskap. Aksienavorsing is dus ʼn stelselmatige, selfreflektiewe wetenskaplike ondersoek deur praktisyns met die doel om hul praktyk te verbeter (Banegas, 2011; McKernan, 2000).

Volgens Herr en Anderson (2005) is aksienavorsing ʼn stelselmatige ondersoek wat kollektief, samewerkend, selfreflekterend en krities is en wat deur die deelnemers aan die ondersoek onderneem word. Die doelstellings van navorsing van hierdie aard is om begrip te ontwikkel vir die praktyk en die artikulering van ʼn rasionaal of filosofie vir die praktyk om die praktyk te verbeter. Hulle plaas dus in hul siening die klem op samewerking. Kemmis en McTaggart (1988) sien aksienavorsing as ʼn vorm van kollektiewe, selfreflektiewe ondersoek wat onderneem word deur deelnemers in maatskaplike situasies om die rasionaliteit en geregtigheid van hul eie maatskaplike of opvoedkundige praktyke te verbeter, sowel as hul begrip van hierdie praktyke en die situasies waarbinne hierdie praktyke uitgevoer word (Herr en Anderson, 2005; Hui & Grossman, 2011). Hulle plaas dus die fokus op die doelstellings van maatskaplike geregtigheid.

Daar is ook ʼn fokus wat geplaas word op organisatoriese en professionele ontwikkeling. Hiervolgens verkry aksienavorsing sy rigting of aanwysings vanaf die persepsies van praktisyns in spesifieke plaaslike praktykverbande (Herr & Anderson, 2005).

ʼn Vroëere definisie, wat aansluit by vorige definisies maar ook bydra tot ʼn breër begrip van aksienavorsing is dat aksienavorsing daarna streef om die praktiese vraagstukke van mense in ʼn onmiddellike, problematiese situasie en die doelstellings van die sosiale wetenskappe gelyktydig die hoof te bied (Esau, 2011). Gevolglik is daar by aksienavorsing ʼn dubbele poging om ʼn stelsel te bestudeer en tegelykertyd met lede van die stelsel saam te werk met die doel om daaraan te verander, na wat gesamentlik beskou word as die gewenste rigting (Esau, 2011; Herr en Anderson, 2005). Om hierdie tweeledige rol te bereik, verg die aktiewe samewerking van navorser en kliënt, wat sodoende die belangrikheid van gesamentlike leer as ʼn primêre aspek van die navorsingsproses beklemtoon.

Gevolglik het aksienavorsing sekere unieke eienskappe wat dit van ander soorte navorsingsmetodologieë onderskei. Die primêre fokus is om van die betrokkenes navorsers te maak. Almal wat by die navorsingsproses betrokke is, word aktiewe deelnemers. Dit het ʼn dimensie van sosiale verantwoordelikheid, aangesien die navorsing in werklike situasies plaasvind en ten doel het om werklike probleme op te los. Uiteindelik wend die aanvanklike navorser, anders as in vele ander benaderings, geen poging aan om objektief te bly nie, en erken die navorser openlik sy of haar vooroordele aan die ander deelnemers (Esau, 2011).

ʼn Definisie wat ook dikwels gebruik word, is dat aksienavorsing ʼn selfreflektiewe ondersoek is wat deur deelnemers in maatskaplike omstandighede onderneem word met die doel om die rasionaliteit en regverdiging van hulle eie praktyke, asook die situasies waarin hierdie praktyke uitgevoer word, te verbeter (Carr & Kemmis, 1986; Esau, 2011). Hierdie definisie maak dit duidelik dat die doelwit van aksienavorsing is om rasionaliteit en regverdigheid in ʼn maatskaplike verband te verhoog.

Volgens McNiff (2002) is selfrefleksie ʼn belangrike komponent van aksienavorsing. Aksienavorsers vors hul eie lewens na. Aksienavorsing is dus ʼn ondersoek deur die self oor die self. Die refleksief-dialektiese aard van aksienavorsing word ook voorop gestel deur Hui en Grossman (2011) wat beweer dat aksienavorsing ʼn kwalitatiewe wetenskaplike ondersoek is, wat op ʼn gesamentlik beplande verandering van die leeromgewing gerig is deur berekende kollaboratiewe handelinge op reflektiewe en uitvoerende vlakke, en wat aanleiding gee tot die oordrag van resultate deur aanpassing eerder as oorname (Esau,

2011). Aksienavorsing kan dus ook gesien word as ʼn manier om ʼn stelselmatige, nabye, kritiese blik te verkry op die wyse waarop onderrig gegee word, met die doel om verandering teweeg te bring wat die klaskamerervaring vir alle betrokkenes meer betekenisvol sal maak (Dick, 2002).

Eenvoudig gestel, is aksienavorsing ’n poging om jou eie optrede(s) te ondersoek met die doel om jou praktyk te verbeter. Aksienavorsing is ʼn manier om navorsing te doen wat transformatief kan wees, of nie. Die potensiaal vir transformasie hang af van die manier waarop die navorsing gedoen word en wie by die proses betrek word (Hui & Grossman, 2011).