• No results found

Die uitdaging van ’n wêreldbeeld

Arendt (2006) laat in haar boek oor die Eichmann-hofsaak blyk dat Eichmann ’n gewone, alledaagse persoon is in plaas van die uiters patologiese indiwidu wat mense dikwels van moordenaars en geweldplegers maak. Adolf Eichmann en mede-Nazi’s is volgens Arendt nie sonder meer patologies en siek nie. “Boosheid” lê in die onvermoë van enige iemand

94

om op ’n daaglikse basis te verseg om te dink en hom-/haarself nié te sien as politieke en sosiale wese wie se denke en lewe ’n direkte effek op die lewe en denke van ander het nie.

Hierdie denke is ook van toepassing op die wyse waarop Van der Jagt (2008) oor boosheid en misdaad reflekteer. Wanneer daar volgens Van der Jagt ’n misdaad in fiksie of in die werklikheid voorkom, is alles wat dit voorafgaan ’n “bedrieglijke pose” (Van der Jagt 2008: 585). Die wandaad self laat alles wat voor dit plaasgevind het soos ’n leuen lyk. Van der Jagt beweer dat die wandaad iets definitiefs en ondubbelsinnigs oor die dader sê. Vandat ’n doodnormale goeie burger byvoorbeeld sy buurvrou verkrag en vermoor, sien die leser alle vorige goeie en normale dade van dieselfde burger in ’n meer absolute lig. Die burger is nie meer ’n doodgewone burger wat ’n moord gepleeg het en sy buurvrou verkrag het nie, maar ’n siek, patologiese moordenaar wat anders is as ons. Alle vorige dade van die burger word in ’n ironiese lig gesien (Van der Jagt 2008: 588). Van der Jagt wys egter dat daar in elkeen van ons ’n slagoffer én ’n misdadiger skuil, en dat goeie burgers ook moordenaars kan word as hulle daartoe gedryf word.

Dit is geen geheim nie dat Arendt (2006) se boek Eichmann in Jerusalem. A report on the banality of evil (oorspronklik in 1963 gepubliseer) gelei het tot hewige emosionele debatte, veral in die Joodse gemeenskap in Amerika. Die hoofrede vir hierdie emosionele reaksie beskou Elon (2006: ix) as die polemiek wat ontstaan het as gevolg van skuldgevoel: die feit dat Arendt haar lesers direk met hulle eie skuld gekonfronteer het. Die Zionistiese cliché – diaspora-Jode as passiewe, onskuldige “lammers” wat sonder om te protesteer na die “slagpale” gelei is – word deur Arendt in haar boek aan die kaak gestel. Die verwagting dat onheil en massamoord slegs deur “demone” en “monsters” gepleeg word, word deur haar uitgedaag. Ook kritiseer Arendt die eerste president van Israël, David Ben-Gurion, se poging om die hofsaak te gebruik om eenheid onder die massas gedemoraliseerde Jode te bewerkstellig, en beklemtoon sodoende die onderliggende politiek van die hofsaak. Sy noem dit ’n “show trial” (Arendt 2006: 9) met as hoofdoelstelling om te probeer bewys dat die Jode met hulle messianistiese strewe, spirituele en etiese ideale nog altyd ’n vyandige wêreld in die gesig gestaar het. Daar het aldus Elon (2006: xii) ’n storm ontstaan as gevolg van Arendt se uitbeelding van Eichmann as “dilligent, yet ‘banal’ bureaucratic criminal”

95

en haar klem op sy middelmatigheid, onnoselheid en onvermoë om te dink: “The coexistence of normality and bottomless cruelty explodes our ordinary conceptions and present the true enigma of the trial” (Elon 2006: xv). Dat Arendt haar lesers se wêreldbeeld uitdaag, kan as rede aangevoer word vir die heftige emosionele reaksie – veral in Amerika – op haar woorde.

Ook Grunberg konfronteer sy leser in Onze oom met sy/haar wêreldbeeld betreffende skuld of onskuld. So beweer Van Dijk:

Dat is wat de schrijver hier ook doet, zo dichtbij mogelijk komen: oog in oog met het gevaar toont de mens immers zijn ware aard. Dat maakt Onze oom de meest onontkoombare roman die Grunberg tot nog toe schreef. Kan de lezer van Tirza of van Gstaad 95-96 nog denken dat het ging om individuele psychopaten en hun moordlust: dat gaat hier niet meer op. We zijn het zelf, de mens die Grunberg al in vele romans en krantenstukken lang probeert te naderen (Van Dijk 2008: [geen bladsynommer]).

Van Dijk vind Onze oom “een bijzonder onbescheiden en onminimalistische poging om het contact tussen literatuur, werkelijkheid én lezer te herstellen, via het verhaal” (Van Dijk 2009: 10). Sy voer dit as hoofargument aan vir die etiese werking van die roman.

Tog kan die leser van Onze oom geen duidelike onderskeid tussen goed en kwaad tref nie. Die roman lewer geen opinie of verkondig geen ondubbelsinnige morele oordeel nie. Dit is geen manifes waaruit ’n duidelik gedefinieerde morele les geput kan word nie. Van Dijk (2010b) beweer dat Grunberg se roman geskryf is vanuit ’n pragmatiese literatuuropvatting wat poog om ’n direkte verband met die buite-tekstuele wêreld te hê. Onze oom soek nie ’n direkte verbintenis met ’n buite-tekstuele wêreld nie, maar vertoon veral die effek en gevolge van retoriek. Die karakters in Onze oom hanteer oorwegend korrupte of leë retoriek om hulleself te oortuig. Woorde, blyk Grunberg te probeer wys, is magtig genoeg om mense in staat te stel om hulle dade as ’t ware goed te praat, hulle aan te hits om misdade te pleeg, hoop te gee waar daar geen hoop is nie en immorele dinge aan ander te doen.

Beide Onze oom en Eichmann in Jerusalem probeer dus doelbewus om die (hoofsaaklik Westerse) leser se wêreldbeeld uit te daag. Hier kan daar by Attridge (Alexander 2012:

96

193) aangesluit word wat vind dat versteuring of ontwrigting “openbaring” in ’n literêre werk teweegbring. Daar waar die leser se verwysingsraamwerk en die retoriese eufemismes wat dit bedien, uitgedaag en aan die kaak gestel word, vind vernuwing plaas.