• No results found

Grunberg skram in sy Albert Verwey-lesing nie weg van drie groot woorde nie: “oorlog”, “waarheid” en “die skrywer” – woorde wat teruggevind kan word in die retoriek van die karakter van die dirigent in sy roman Onze oom. Ook hierdie karakter verbind, soos Grunberg in sy lesing, die kommunikasiehandeling met geweld.

Die dirigent in Grunberg se roman (met as hooftemas rewolusie en oorlog) vertoon aanvanklik ’n groot talent as digter. Hy verdiep homself egter toenemend in aggressiewe, eksplisiete retoriek wat mense aanhits en oortuig om rewolusionêre dade te pleeg. Hy hang

36. Die Efteling is die grootste pretpark in Nederland in die dorp Kaatsheuvel in Noord-Brabant. Dit is ’n romantiese en nostalgiese ontsnappingswêreld met attraksies gebaseer op mites, legendes, sprokies en fabels.

30

dus toenemend ’n retoriek aan wat direkte gevolge het vir die dade van mense in plaas van die dubbelsinnige woorde van poësie wat hy as “een bittere deceptie” beskou (Grunberg 2009b: 540). Dit is asof die dirigent Grunberg se woorde in sy reportage “De Groene Zone” in Irak weerspieël: “Wie een kogel heeft, heeft geen poëzie meer nodig.” (Grunberg 2009a: 272).

Deurlopend in die roman kontrasteer die dirigent die rewolusie met poësie. Waar die een (die gedig) die metafoor hanteer, behandel die ander (die rewolusie) direkte gevolge. Die poësie is ’n vervelige spel, “een placebo”, terwyl die rewolusie ’n opera is: “een door hem te regisseren monsterproductie” (Grunberg 2009b: 555). ’n Mens sou in die lig van Grunberg se Albert Verwey-lesing kon beweer dat hierdie dirigent nie ’n “getemde huisdier” is nie, maar ’n digter wat homself uit die moeras van die “dubbelsinnigheid” van die poësie getrek het en ’n absolute retoriek gevind het wat wél as gevaarlik beskou kan word, wat sy aanhoorders en lesers wél tot aksie stimuleer.

Dit is veelseggend dat die dirigent in die roman Onze oom sy beroep as digter begin het – iemand met talent vir die liriese gebruik van taal. Deur die dirigent ’n digter te maak, lewer Grunberg kommentaar op die transponering van intense gevoel, soos in die aanvanklike poësie van die dirigent gevind, na ’n politieke terrein. In Onze oom word intense gevoel (soos in emosionele retoriek uitgedruk) met rewolusie verbind en emosionele middelmatigheid of nuansering met konserwatisme. Grunberg lewer in die roman kommentaar op die potensiaal van poësie om vryblywendheid te oorkom indien dit nie van politieke implikasie onderskei word nie. Die dirigent herinner daarom aan die karakter Jaromil in Kundera (2000) se roman Life is elsewhere: ’n Middelmatige digter wat grootword in die tydperk tussen die Tweede Wêreldoorlog en die Praagse Lente en stelselmatig vryheid vind in die retoriek van die Kommunistiese rewolusie. Volgens Seaton (2007:95) ontbloot Kundera se roman die gevaar om liriese poësie as bron van politieke wysheid te interpreteer. Hierdeur ontbloot die roman ook die gevaar om deur rewolusionêre absolutisme betower, oortuig en verblind te word.

31

Anders as Jaromil in Life is elsewhere verwerp die dirigent in Grunberg se roman mettertyd die poësie. Hy wys dit af omdat dit nié direkte gevolge het en deur mense as vorm van politieke manifes geïnterpreteer word nie. Dit is bloot ’n middel wat troos bring en geen impak het nie. Dit maak hom gefrustreerd en kwaad, net soos sy ouers se passiwiteit hom raadop maak.

Daar word gesuggereer (Grunberg 2009b: 550) dat die ouers van die dirigent Joodse immigrante is. Sedert hulle hulself gevestig het in die Suid-Amerikaanse land waar die roman afspeel, het hulle hulself toenemend in die boekhandel verdiep en geleidelik meer van die gemeenskap afgesonder. Sy ouers word deur die dirigent as “bang” beskryf: “Bang voor de toekomst en bang voor het heden, bang voor de anderen en eigenlijk ook bang voor zichzelf, bang om uit hun rol te vallen en bang om zich te verspreken” (538). Die dirigent begin sy ouers te verag en keer homself doelbewus van hulle af. Terselfdertyd word hy ook deur die poësie teleurgestel, omdat dit nie vir hom ware passie kan inhou nie:

Op papier wordt alles een metafoor en een metafoor kan geen passie zijn. Papier is onschuldig, elk woord ambigu, elke lettergreep voor velerlei uitleg vatbaar. Het maakt hem razend, zoals zijn ouders hem razend hebben gemaakt [...] Een bittere deceptie, de poëzie (Grunberg 2009b: 540).

Van die digkuns loop die dirigent gevolglik oor na propagandatoesprake en pamflette wat volgens hom ’n groter effek op sy publiek uitoefen en reëler gevolge het as poësie. Hierdie retoriek van die dirigent word die retoriek van “aggressiewe optimisme” (ibid 541) genoem wat mense aanhits om geweld te pleeg:

Wie een liefhebber is van de toekomst, wie de dichtkunst en de roman heeft ontmaskerd als armzalige vehikels die de ideologie van de petite bourgeoisie moeten uitdragen, dient bereid te zijn het verleden te vernietigen (Grunberg 2009b: 541).

Geleidelik word die dirigent in die roman ook die hooffiguur van dit wat in die roman as die “rewolusie” getipeer word. Hy kry die bynaam “hersenspoeler” (659) en word die dirigent wat die massas orkestreer (544) asook “de oom van het vernietigde volk” (580) genoem.

32

Die rewolusie word wel nié deur die dirigent om morele redes gevoer of gelei nie. Nêrens in die roman is daar ’n verwysing na die ideologiese redes waarom hy mense aanhits of na sy empatie met die swaarkry van ander wat hom in die rol van “rewolusionêr” besiel het nie. Sy rol as rewolusionêr word hoofsaaklik gedryf deur sy persoonlike reaksie op sy ouers se vrees, stilswye en afsondering en omdat hy byna “toevallig” afgekom het op die mag wat retoriek hom kan gee om los te breek uit sy vervelige middelklaslewe. Hy neem die rol van rewolusionêr aan bloot omdat hy ’n talent het om mense te elektriseer (543) Hierdie retoriek gee hom die mag om ander aan te hits en bo sy eie benepenheid uit te styg. Tog dink hy by homself dat die rewolusie eintlik ’n blote “toeristenattractie” is (563) en dat die gemiddelde rewolusionêr kleingeestig en benepe is (566). Sy retoriek is leeg, en kan soos wat Plato beweer as vleitaal beskou word wat die publiek manipuleer, maar wat nie ondersteun word deur insig, deug of opregtheid nie.

Ook geweld word in die roman deur die vokalisasie van die dirigent as blote pornografie sonder inhoud beskryf:

De enige vorm van zingeving die is overgebleven voor de postindustriële middenklasse is te vinden in de pornografie van het geweld [...] Nu alle goden onttroond zijn en alle autoriteiten ontmaskerd, is er nog maar één werkelijk autoriteit overgebleven, staat er nog maar één god overeind, een democratische god, beschikbaar voor hen die bereid zijn niet terug te deinzen voor de consequenties: het naakte geweld (Grunberg 2009b: 554-5).

Grunberg gaan met die retoriek van die dirigent in Onze oom ’n spel aan met die verwagtinge van wat tekste, toesprake, propaganda en poësie kan verrig of nie. Die dirigent se outoriteit word in Grunberg se roman ontmasker wanneer sy motivering vir sy retoriek openbaar word. Die relatiwiteit in plaas van outoriteit van hom as leier wat die “vernietigde volk” (580) wil red, word beklemtoon. Hy word ontmasker as karikatuur wat sy retoriek inspan bloot as reaksie op sy ouers se stilswye en sy frustrasie met die beperkinge van poësie. Sy retoriek is dus ’n vorm van narsisme.

Wat probeer Grunberg dus kommunikeer met die leë aforismes van die dirigent? Hy maak met hierdie karakter in Onze oom ’n spel van retoriek wat wél daarin slaag om vryblywendheid te oorkom maar wat eintlik sonder substansie, insig of opregtheid is. Deur

33

spesifiek die retoriese doelstellings van die dirigent te ontbloot, beklemtoon hy die valse magsoordrag wat die retoriek van die dirigent behels. Die dirigent is ’n voorbeeld van die gevaar van die verlange na kragdadige woorde. Grunberg openbaar met hierdie karakter, soos Kundera (2000) met die karakter Jaromil, die gevaar om deur rewolusionêre absolutisme betower en verblind te word.