• No results found

Die “nuwe media” is ‘n snelontwikkelende bedryf en nuwe tegnologie word daagliks beskikbaar. Kenners het aan die einde van 2011 voorspellings oor die nuwe media, en meer spesifiek die sosiale media, gewaag. Lance Ulanoff voorspel dat Google+ ‘n meer prominente rol as sosiale netwerk sal speel (2011).

Jim Spinello, Senior Visepresident van Bemarkingskommunikasie by rEvolution, is van mening dat as maatskappye nie gou sorg dat hul met hul produkte die sosiale media omarm nie, hulle

agtergelaat sal word (Rice, 2011).

Ian Aronovic van GovernmentAuctions.org voorspel dat die sosiale media en tegnologie meer geïntegreer sal word (Rice, 2011).

Matt Roche van BO.LT het aan Brian Rice van Business2Community gesê:

With everyone able to play a part in content creation, the future of social media involves the continued triumph of immediately consumable short-form content and the birth of emerging forms of storytelling. It is in bringing all the little pieces together, creating powerful

social outlets. The future of social media is about sharing, discovering and relating through cohesive collections of short-form content (2011).

Die informasie wat daagliks deur (internet)gebruikers gelees en gekyk word, sal al hoe meer via die sosiale netwerke gebeur en ... in kort “more information will come from more sources delivered through fewer channels” (Roman in Rice, 2011).

Die nuwe media hervorm die mediaplatform en gee aan die individu meer invloed en mag as publiseerder, gebruiker en verbruiker. Met tradisionele media is menige individu deur die hekwagters verhoed om hul mening te lug. Soos bespreek in die eerste hoofstuk, is dié huidige situasie se impak op die tradisionele media enorm en ‘n nuwe era vir die medialandskap het aangebreek. Die herdefiniëring van nuus en vermaak geskied nou vinniger as ooit tevore.

2.6.1 Voordele van die “nuwe media”

Dié navorser glo dat die “nuwe media” aan die individu die volgende voordele bied:

• Die individu het makliker toegang tot informasie as voorheen; internettoegang en dus toegang tot ‘n hele netwerk van informasie is met die druk van ‘n knoppie op slimfone beskikbaar, of op ‘n tablet of skootrekenaar.

• Die individu kan deur middel van sosiale forums, soos Facebook, Twitter en blogs, eie opinies in ‘n openbare domein uitspreek. Die informasie word soos nuusflitse maklik aan ‘n hele netwerk van “vriende” en mense versprei. Die individu se opinie word dus met sosiale netwerke gesien en is nie net ‘n opinie in ‘n geslote kamer nie.

• Informasie is interaktief en met hiperskakels is dit moontlik om uitgebreide informasie oor ‘n onderwerp te ontvang. Dit is dus moontlik om, indien iemand nie seker is van die betekenis van ‘n woord nie of meer wil weet oor ‘n verwysing, hy/sy dit dadelik kan navors met die druk van ‘n knoppie.

• Informasie is as multimedia beskikbaar en kan as oudiovisuele materiaal ervaar en

oorgedra word. Dit is dus ook maklik vir individue, wat nie noodwendig daarvan hou om te lees nie, om informasie maklik op ander maniere te bekom.

• Informasie is bykans enige plek, enige tyd beskikbaar ‒ solank die gebruiker toegang tot die internet het.

• Die “nuwe media” bied die geleentheid vir die gebruiker om interaktief betrokke te wees in die vorm van kommentaar op dít wat elektronies gepubliseer word

• Informasie kan onmiddellik uitgeruil word tussen gebruikers. Die internetgebruikers is aanlyn in verbinding met mekaar en hoef nie, soos in die geval van byvoorbeeld koerante

of tydskrifte, eers ‘n- epos of brief te stuur wat ‘n paar dae later miskien gepubliseer word nie. Almal het die mag om onmiddellik hul opinie te lug.

• Die “nuwe media” skep ’n platform waar nuus onmiddellik beskikbaar is. Nuus word deesdae selfs vinniger op die sosiale netwerke as deur nuusnetwerke soos CNN en BBC versprei.

• Informasie is wêreldwyd beskikbaar en informasie wat in enige stad elektronies gepubliseer word op die internet bied onmiddellike toegang vir alle gebruikers.

2.6.2. Die nadele van die “nuwe media”

Indien die tradisionele media met die “nuwe media” vergelyk word, is daar elemente wat nadelig is. Die tradisioneel gepubliseerde media word streng gereguleer ten einde hoë standaarde in die taalgebruik en formaat van alle gepubliseerde materiaal te verseker. Hierdie etiese riglyne word streng deur koerante en tydskrifte toegepas. Verskeie voorbeelde van hierdie riglyne is ook elektronies beskibaar. Skakels na verskeie Suid-Afrikaanse publikasies se etiese kodes is

beskikbaar op die Suid-Afrikaanse webtuiste Journalism.co.za (2012) en The New York Times se riglyne is ook beskikbaar op hulle webtuiste (New York Times Company Policy, 2012). Meeste van die koerante of tydskrifte wat tradisioneel gepubliseer word en ook aanlyn beskikbaar is, het ook etiese kodes wat spesifiek vir die elektroniese media opgestel is en toegepas word. Die situasie is egter van so ‘n aard dat daar geen regulering met die private publisering van informasie op die internet is nie.

‘n Etiek word gehandhaaf in die gerespekteerde tradisionele media waar hoofsaaklik

professioneel-opgeleide joernaliste en redakteurs die inhoud hanteer. Met die “nuwe media” het die individu wat bydraes lewer nie noodwendig professionele opleiding nie.

Die tradisionele media handhaaf ‘n mate van objektiwiteit in teenstelling met die bydraes van gebruikers van die “nuwe media” wat meestal subjektief en persoonlik blyk te wees. Dit is veral duidelik in kommentaar wat in van hierdie nuusblaaie gelewer word.

Die sosiale media promoveer kort, kragtige stellings wat in ‘n beperkte aantal karakters gemaak moet word. Hierdie tendens het tot gevolg dat stellings meestal net gedagtes is wat nie deur die persoon wat dit publiseer gekwalifiseer, verduidelik of uitgebrei word nie.

2.7 Samevatting

Dit is dus duidelik dat die “nuwe media” ‘n enorme impak op die tradisionele media, en spesifiek die gedrukte media, het. Die nuwe elektroniese uitdagings stel enorme eise aan die mediamagnate

en nuwe denke moet gestimuleer word om te kan besin oor hoe om hierdie nuwe mediums doeltreffend in die meer tradisionele media te gebruik en te inkorporeer.

Hoofstuk 3 sal spesifiek die eienskappe van ‘n goeie resensent en ‘n resensie belig. Die hoofstuk sal ook die vereistes en verwagtinge wat aan teaterresensente deur gehore/lesers,

HOOFSTUK 3: Die begrensing van die rol van die teaterresensent en die kriteria vir ’n goeie