• No results found

Die basiese kriteria vir die inhoud en styl van ’n goeie teaterresensie

HOOFSTUK 3: Die begrensing van die rol van die teaterresensent en die kriteria vir ’n goeie teaterresensie

3.2 Die basiese kriteria vir die inhoud en styl van ’n goeie teaterresensie

Die Suid-Afrikaanse resensent Brent Meersman (2009: 48) stem saam met Stanislavski se mening hierbo en voeg by dat die basiese funksie van ’n goeie resensie is om die leser in te lig, en om te verduidelik en te evalueer. Hy is van mening dat ’n goeie resensie aan die leser moet oordra waaroor die werk handel en wat hy/sy te wagte kan wees om op die verhoog te sien. Die resensent moet die toneelstuk binne die konteks van die teater bespreek, en ingeligte teaterkennis en -

opinies oordra.

Meersman (2009: 50) bespreek ook in meer detail die kriteria van ’n goeie en ’n swak resensie. ’n Goeie resensent, volgens Meersman, verstaan die werk; beskryf vir die gehoor wat hulle kan verwag om te sien; staaf opinies en bied duidelike en oorwoë beoordeling; ken sy lesers; skryf bondig en beheers; is verstaanbaar en ondubbelsinnig; is akkuraat en getrou; toon verbeeldingryke vermoë om te visualiseer; maak gebruik van teaterterminologie (tegniese taalgebruik); is eg in die aanslag; en sien toe dat die resensie op sigself ’n interessante stuk skryfwerk is. In teenstelling hiermee, glo Meersman dat ’n swak resensent oningelig is; bevooroordeeld is en sy/haar opinies op persoonlike smaak grond en nie professionele objektiewe evaluering nie; skryf nie streng volgens joernalistieke standaarde nie; verwar spelers met karakters; haak vas op onbenullighede; raak te veel aspekte aan; is uitgesproke en aanstellerig, skryf meer oor hom-/haarself as oor die werk; gebruik retoriese vrae; beskryf die gehoor; gebruik hoogdrawende en oordrewe taal; hou sy/haar opsies oop; en is beledigend of persoonlik.

Vyf kardinale riglyne vir die skryf van ’n goeie resensie word deur Elyse Sommer van die Curtain Up-webtuiste belig. Sy beskryf dit as die “Five C’s”, naamlik: “Be clear, correct, concise,

comprehensive and compelling” (Sommer, 2012).

Michael Billington se resensie van ’n produksie NSFW is ’n voorbeeld van ‘n goed geskrewe resensie , in ag genome die kriteria wat reeds hierbo beskryf is, (Billington, NSFW review: The Guardian, 2012).

Sy taalgebruik is bondig en kort. Die resensie lees maklik is en boeiend.

Selfs vir ‘n leser van die resensie wat nie die produksie sal kan sien nie en moontlik ook nie die bekend is met die betrokke akteurs en/of regisseur nie, verskaf Billington genoeg inligting om steeds hom/haar ingelig te laat voel. Die eerste sin van die resensie lees soos volg: “Lucy Kirkwood’s new play is bright, sharp, funny and 80 minutes long”. In hierdie eerste sin lig die resensent dus die leser in dat dit ’n nuutgeskrewe toneelstuk is, dat dit volgens hom skerp en intelligent is, dat dit snaaks is en ook hoe lank ‘n mens kan verwag die produksie sal wees. In die eerste paragraaf van die resensie (die volle paragraaf beslaan 60 woorde) het hy reeds die gevoel van die produksie beskryf, meer inligting verskaf en dan lewer hy ook kritiek op die teks, hier volg ‘n aanhaling uit hierdie paragraaf:

I found myself craving more: I wanted to see Kirkwood, having deftly satirised media attitudes to sexuality, taking her argument even further and asking who creates the climate of commercial exploitation and privacy invasion in which we now live (Billington, 2012). Die resensent maak dit ook duidelik dat die opinie wat hy lewer en verdere verwagting wat hy uitspreek, persoonlik is deur “I” te gebruik in stede van ’n veralgemeende term soos “One would want more” or “We wanted to”.

Die volgende paragraaf beskryf aan die leser baie bondig die betekenis van die titel (NSFW), die basiese storielyn, en aspekte van die milieu en ontwerp van die toneelstuk. Die leser is nou toegerus met prikkelende, basiese inligting wat nie te veel van die ontplooiing van die toneelstuk weggee nie.

Die resensent volg hierdie inligting op met bondige, maar insiggewende, kommentaar oor die teks. Hier is dit meer analities en nie persoonlik nie. Hy lig die positiewe aspekte uit (“Kirkwood hits several nails on the head”), maar brei uit op sy stelling in die openingsparagraaf van die resensie deur die volgende stelling:

All this is accurate and true, but there’s not much for an audience to disagree with: Aidan is clearly a scumbag and Miranda a patronising toff seeking out the physical flaws in female celebrities. And, while Kirkwood implies that editors and readers are similarly guilty in perpetuating a debased, voyeuristic culture, she never goes on to ask who owns the

newspapers and magazines that help to set the tone of contemporary life (Billington, 2012). Die resensent voel dus duidelik dat, alhoewel die teks waarde het, daar nog leemtes is wat gevul moet word. Die negatiewe kritiek word as opbouende gedagtes gelewer – ’n opinie van ’n individu. Die laaste paragraaf van die resensie volg dan. Die openingsreël (“but the play is good as far as it goes”) lewer weer kommentaar op die teks, maar hy gee te kenne dat die vertoning steeds goed is. Hy lewer bondige kommentaar op elke aspek van die produksie en betrokke persoon, met die

gebruik van sterk beskrywende byvoeglike naamwoorde en werkwoorde. Die regisseur, ontwerp en akteurs word ingesluit.

Die navorser beskou hierdie resensie as ‘n goeie resensie omdat die resensent duidelik

voorbehoude het oor die teks en dat hy probleme ervaar met die produksie, maar alhoewel hy dit in die resensie stipuleer, verskuif hy tog die aandag na die positiewe aspekte van die produksie. Met die eerste lees van die resensie is ‘n mens onder die indruk dat hy baie van die produksie en teks gehou het. Tog, hoe meer ‘n mens dit lees en analiseer, hoe duideliker blyk dit dat, alhoewel dit nie vir hom ’n onaangename ervaring was nie, hy tog voorbehoude oor die produksie gehad het. Die resensent het egter gekies om op die positiewe aspekte te fokus. Die navorser het hierdie resensie as gebalanseerd, informatief, vermaaklik en bondig ervaar. Daar is sterk opinies gelewer, maar dit is elke keer gekwalifiseer.

Styl en inhoud is die basiese eienskappe van ’n goed geskrewe resensie, maar gehore, teaterpraktisyns en publikasies plaas hoë verwagtinge op die resensent.

3.3 Uitgebreide verantwoordelikhede en verwagtinge gestel aan ’n resensent en resensie