• No results found

DIE WOORDKUNSTEKS

4.2 Die struktuur van die woordkunsteks

Daar kan tussen drie oorhoofse strukture vir ’n woordkunsteks onderskei word: (a) ’n episodiese struktuur, (b) ’n ontwikkelende storielyn en/of argument en (c) ’n woordkunsteks wat bestaan uit ’n samestelling van spesifiek kortverhale of vertellings.

(a) ’n Episodiese struktuur behels ’n samestelling van verskillende literêre werke wat die samesteller in sekwense, volgens inhoud, binne ’n oorkoepelende onderwerp of tema rangskik. Binne hierdie struktuur vind ons selde een klimaks of hoogtepunt waarheen gewerk word. Poësieprogramme, of samestellings uit verskillende literêre genres rondom

60

’n meer algemene tema – soos byvoorbeeld die liefde, oorlog, of die verskeidenheid van Afrikaans – word normaalweg binne ’n episodiese struktuur georden.

So is ek Gebek V – Perfek vir elke Gesprek wat onder my samestelling en leiding by die

Klein Karoo Nasionale Kunstefees in 2003 te sien was, is ’n voorbeeld van’n program met ’n episodiese struktuur. Die program het bestaan uit (1) drie sekwense, wat onderskeidelik taalgebruik, geloof en liefde aangespreek het; (2) drie vertellings van Jan Spies, naamlik “Wjelkom vrinne”, “Die dinges is ’n watsem” en “Baie dankie”, wat onderskeidelik in die begin, middel en einde van die program geplaas is; (3) die verhalende gedig “Mabalêl” van Eugène Marais; en (4) sang-collages, limirieke en kwatryne wat die sekwense, vertellings en verhalende gedig met mekaar verbind het. Die oorkoepelende onderwerp van die program is die viering van Afrikaans as taal. Die regisseursnota en motivering vir die produksie het as volg gelees:

Omdat ons praat en stry en spot en skerts en skel en raas en lag en huil en vrees en min en lief en leef in Afrikaans.

Binne hierdie program kan daar nie een sentrale klimaks of hoogtepunt geïdentifiseer word nie, aangesien die program so saamgestel is dat die gekose materiaal eerder die oorkoepelende onderwerp ondersteun en illustreer, as wat dit ’n gedagte of storielyn ontwikkel61.

(b) Die tweede struktuur wat binne ’n woordkunsaanbieding aangewend kan word, is dié van ’n ontwikkelende storielyn of argument. Woordkunsprogramme wat biografies- en/of outobiografies-gerig is, of poësieprogramme wat ’n spesifieke tema binne ’n digter se oeuvre aanspreek, asook programme wat gebaseer is op een literêre werk, het gewoonlik ’n ontwikkelende storielyn of argument.

61

Die volledige teks en bibliografiese gegewens van So is ek Gebek V – Perfek vir elke Gesprek is in

Voorbeelde van woordkunstekste wat ’n ontwikkelende storielyn het, is onder andere Die

Uurwerk Kantel, Jan en Jorie en Die maer man met die groen trui. Al drie hierdie

programme is reeds kortliks in voorafgaande afdelings van hierdie ondersoek bespreek.

’n Voorbeeld van ’n teks wat as tema ’n deurlopende argument daarstel, is Praat van die

Duiwel. Dié woordkunsaanbieding was in 1999 op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees

onder samestelling en regie van Juanita Swanepoel en met Johann Nel as vertolker, te sien. Die samestelling van die teks bestaan uit die afwisselende gebruik van satiriese en ernstige verse deur M.M. Walters rondom die argument: God kan nie sonder die Duiwel bestaan nie, want, soos Swanepoel in ’n onderhoud op 21 Oktober 2004 dit stel, “as daar nie ’n duiwel was nie, dan was God nie ‘goed’ nie en ook andersom”. Van die gedigte wat in die samestelling gebruik is, is onder andere “Óf God wil die boosheid”, “Oerknal en Skepping”, “Verlange”, “Lucifer”, “God”, “Weerkaatsings” en “Die groot stilte”.

(c) Die derde struktuur wat geïdentifiseer kan word, stem in wese eintlik maar met ’n episodiese struktuur ooreen, naamlik ’n woordkunsprogram wat spesifiek bestaan uit ’n samestelling van ’n aantal kortverhale. Hierdie struktuur verskil egter van die voriges deurdat dit nie noodwendig ’n oorkoepelende tema het nie, maar die materiaal, waaruit dit saamgestel is, eerder as gevolg van ’n gedeelde kwaliteit in verband met mekaar staan.

’n Bek vol tanne – Tong innie kies met Jan Spies is ’n sprekende voorbeeld van

bogenoemde. Dit is ’n samestelling van ’n aantal Jan Spies-vertellings en was in 2001 op die Aardklop Nasionale Kunstefees onder die regie van Marie Kruger te sien. Die bindende element in hierdie produksie is in die eerste plek die skrywer van die stukke, naamlik Jan Spies, al stel die produksie dit geensins ten doel om die oeuvre van die skrywer bloot te lê of die skrywer se lewe uit te beeld nie. Tweedens, en moontlik van meer belang, word die bindende faktor die spesifieke toonaard en styl waarin die stories geskryf is. In hierdie geval kan ons dus sê dat Spies se toonaard en skryfstyl die bindingsonderwerp van die woordkunsprogram is.

Die stories wat in die samestelling ingesluit is, is “Wjelkom, vrinne”, “Die antie met die pienk rok”, “’n Deeglike probleem”, “’n Bek vol tanne” en “’n Vreetsame dag in die park”62. Marie Kruger (in ’n onderhoud op 7 Januarie 2005 te Stellenbosch) sê dat sy juis hierdie stories gekies het as gevolg van die kenmerkende toonaard en skryfstyl, asook die struktuur en inhoud van die verhale wat fisieke handeling, tydens die dramatisering daarvan, vergemaklik. Laasgenoemde verwys na die opvoerbaarheid van gekose materiaal en sal kortliks in die volgende afdeling bespreek word.

“Dwaalstories” wat op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in 1999 te sien was – ook onder die regie van Marie Kruger – is nog ’n voorbeeld van hierdie tipe woordkunsprogram en in hierdie geval was dit die verhale van Eugéne Marais wat gebruik is. Die bindende faktor binne hierdie program is in die eerste plek die bundel waaruit die verhale geneem is en wat ook Dwaalstories (Marais 1959) getiteld is. Tweedens sluit die drie stories wat gebruik is, almal tematies by mekaar aan, deurdat dit die wêreld van die Khoi-San, sy fisiese en psigiese omgewing en die tradisies en mitologie binne hierdie wêreld weergee.