• No results found

DIE ROL VAN DIE VISUELE

5.2 Dekor, rekwisiete, kostumering en beligting

Visuele inkleding met betrekking tot dekor en rekwisiete is oor die algemeen in ’n woordkunsaanbieding baie meer ekonomies en minimalisties van aard, aangesien die

klem in ’n woordkunsproduksie in die eerste plek op die woord val. Die visuele speel dus eerder ’n ondersteunende rol. Die tematiese inhoud van ’n woordkunsprogram is selde tyd- of plekgebonde en dus is die skep van ’n realistiese speelruimte bitter selde ’n vereiste. Laasgenoemde is veral opvallend by woordkunsprogramme met ’n episodiese struktuur.

In die So is ek Gebek-programme is daar byvoorbeeld slegs van swart vierkantige houtbokse as dekor gebruik gemaak om dit vir die vertolkers moontlik te maak om na gelang van behoefte verskillende situasies uit te beeld. Enkele rekwisiete, soos byvoorbeeld ’n sambreel (So is ek Gebek II) of ’n gereedskapkis (So is ek Gebek V), is gebruik bloot ter ondersteuning van die betrokke situasie wat uitgebeeld word.

Ons vind ook dat naas die minimalistiese aanwending van dekor, dit in baie gevalle ’n meerdoelige funksie het en dat ’n dekorstuk op verskillende tye tydens die aanbieding verskillende objekte kan voorstel. In So is ek Gebek V – Perfek vir elke Gesprek het die stel bestaan uit vier swart houtbokse en twee swart kroegstoeltjies. Die meeste van die tyd is die bokse en kroegstoeltjies gebruik bloot om op te sit of op te staan, maar in die Jan Spies-vertelling “Die dinges is ‘n watsem” (1988:61-63) is twee van die bokse en een kroegstoeltjie so geplaas dat dit ’n motor kon voorstel.

In die geval van woordkunsprogramme met ’n ontwikkelende storielyn kan daar meer realisties met dekor en rekwisiete gewerk word, maar selfs in sulke gevalle is dit nooit volkome realisties nie. Die program Die Uurwerk Kantel is ’n voorbeeld van so ’n woordkunsproduksie wat baie sterk in die realisme geanker was. Juanita Swanepoel (onderhoud op 21 Oktober 2004 te Stellenbosch) vertel:

Ons het byvoorbeeld van realistiese dekorstukke gebruik gemaak, maar dit was meerdoelig. Die kis is gebruik as bergplek waaruit daar goed gehaal kon word, maar dit word ook ’n bankie in die kunstenares se huis, of ’n stoel waarop sy sit om haar babatjie te wieg. Die wiegstoel wat ons gebruik het, kon ’n bababedjie voorstel en later die ou vrou se rolstoel.

Swanepoel beklemtoon ook die belangrikheid van die keuse van dekor, sodat dit meerdoelig en voorstellend kan wees.

Die stel van die produksie Elke boemelaar se droom het uit ’n kroegtafeltjie bestaan en toe ek Francois Toerien en Nicole Holm (onderhoud op 28 Oktober 2004 te Stellenbosch) hierna uitvra, was die rede vir die gebruik daarvan, bloot die feit dat hulle in ’n bistro gerepeteer het en al wat daar was om mee te repeteer, was kroegtafeltjies! Maar dit was ook funksioneel en het gepas by die skryf- en drinkverwysings in die teks.

Dieselfde minimalistiese aanwending kan van toepassing gemaak word op kostumering. In al die So is ek Gebek-programme, sowel as onder andere Speels Gesê, Spraak Braak –

Hoeveel bek het jou binnegoed? en Skrêmbuild-eggs vir Nasiebrou is daar gebruik

gemaak van basiese, soortgelyke uitrustings wat deur die onderskeie vertolkers gedra is. Dit het neutraliteit aan die vertolkers verleen. Bogenoemde programme is almal poësieprogramme en aangesien gedigte kort, byna vlietend, van aard is, is uitgebreide kostumering net nie funksioneel nie. Die tydsduur van die verskillende momente wat deur die gedigte geskep word, is nie lank genoeg om kostuumveranderings toe te laat nie. Verder beeld die betrokke akteurs nie deurlopende karakters uit nie en word gedetailleerde kostumering dus nie vereis nie. Nog ’n rede vir die minimalistiese aanwending van kostumering binne ’n woordkunsaanbieding is dat daar sover as moontlik deur die loop van die aanbieding ’n vloei van gedagtes behou moet word en ‘n gereelde verandering in kostuum sal die vloei ondermyn.

Die byvoeg of wegneem van enkele klere-artikels kan wel suksesvol binne ’n poësieprogram aangewend word, ten einde ’n karakter in ’n gedig fyner te teken, maar volledige komstuumveranderings kom selde binne ’n woordkunsaanbieding met ’n episodiese struktuur voor. In So is ek Gebek V is daar byvoorbeeld slegs tydens die Jan Spies-vertellings van sekere klere-artikels gebruik gemaak om die verskillende karakters beter te skets. In die storie “Die dinges is ’n watsem” het die karakter Oom Harmaans

byvoorbeeld ’n blou oorpak se baadjie bygekry, sy vrou het ’n rok, voorskoot en skoene gekry en sy seun, Klein-Harmaans, het ’n sweetpakbaadjie en ’n mus gedra.

Daar is egter uitsonderings op dié reël. In ’n Bek vol tanne – Tong innie kies met Jan

Spies wat, soos vroeër in die navorsing genoem, uit ’n samestelling van Jan

Spies-vertellings bestaan, is volledige kostumering vir die onderskeie stories wel gebruik. Die formaat van die program het dit egter toegelaat, aangesien daar tussen elke storie ’n voorafopgeneemde klankbaan gespeel is, wat die spelers genoeg tyd gelaat het om telkens van kostuum te verwissel.

In woordkunsaanbiedings wat uit ’n ontwikkelende storielyn bestaan, vind ons ook meermale die gebruik van volledige kostumering. In die produksies Die Goue Seun, Die

Uurwerk Kantel en Jan en Jorie vind ons byvoorbeeld deurlopende karakters en dus is

die gebruik van volledige kostumering moontlik.

Beligting word bitter selde in ’n woordkunsproduksie gebruik om by te dra tot die visuele inkleding. Die rede hiervoor kan in die eerste plek weereens toegeskryf word aan die minimalistiese aard van die woordkunsaanbieding. Die beplande venue waarin ’n woordkunsaanbieding opgevoer gaan word, kan egter ook ’n invloed hê. So is ek Gebek V was op uitnodiging van die Langenhoven Stigting by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in 2003 te sien en moes gevolglik by Langenhoven se huis, Arbeidsgenot, in die tuin opgevoer word. Die buitelig venue het dus geen ruimte gelaat vir enige vorm van beligting nie.

Beligting is egter ’n visuele hulpmiddel wat op ’n effektiewe manier aangewend kan word om atmosfeer of stemming te skep, of dramatiese effek te verkry. Dit kan ook baie suksesvol op simboliese wyse gebruik word. In Absoluut Gebek – Gereed, paraat en

gewapen tot die tande wat in 2002 onder samestelling en regie van myself in die

H.B.Thom Teater deur die Universiteit van Stellenbosch se Departement Drama aangebied is, is daar byvoorbeeld van beligting gebruik gemaak om tot die visuele inkleding by te dra. Verskillende kleure is deur middel van beligting teen ’n wit skerm

aan die agterkant van die verhoog gebruik om sekere emosies binne die aanbieding uit te beeld, byvoorbeeld ’n diep rooi om aggressie en haat aan te dui.

Woordkunsprogramme met ’n ontwikkelende storielyn maak ook meermale gebruik van ’n uitgewerkte beligtingsontwerp en dit kan toegeskryf word aan die struktuur van die teks wat sterker herinner aan ’n gewone dramateks.

Samevattend kan daar dus gesê word dat die rol van die visuele binne ’n woordkunsproduksie ondersteunend tot die gesproke woord is. Aanbiedingstyl en verhoogplasings word bepaal deur die tipe tekste wat gebruik word in die samestelling van die woordkunsteks en die fisieke handeling is eerder voorstellend as ’n volkome realistiese uitspeel van gebeure. Visuele inkleding met betrekking tot dekor, rekwisiete, kostumering en beligting is hoofsaaklik minimalisties en meerdoelig van aard. Alhoewel beligting baie suksesvol binne ’n woordkunsproduksie aangewend kan word – veral aanbiedings met ’n ontwikkelende storielyn – maak dit egter selde deel uit van die visuele inkleding van ’n woordkunsaanbieding met ’n episodiese struktuur, as gevolg van die minimalistiese en ekonomiese aard van die visuele sy van dié tipes woordkunsaanbiedings.

HOOFSTUK 6