• No results found

5.12 DIE NOODSAAKLIKHEID VAN ’N ROUPROSES

5.12.4 Die positiewe waarde van rou

Rou is essensieel vir die adolessent. Daar moet op ʼn intense wyse emosioneel gerou word oor alle verliese van verlore kinderjare. Ook moet gerou word oor verliese as gevolg van verslawing, kompulsies en obsessies in die verlede en die hede (Hemfelt et al., 2006: 204). Daar moet ook gerou word met betrekking tot alle verliese wat verband mag hou met die leefstyl van die adolessent (Hemfelt et al., 2006: 205). “Grief is the price people pay for love and commitment to one another” (Classen, 2010:8).

Wright (2003:390) gee die volgende belangrike riglyne betreffende die begeleiding van tieners tydens ’n roufase:

“Being available may be the most important element in helping teens grieve. They need affection and a sense of security. Touching them and making eye contact will provide comfort and reassurance.”

5.12.4.1 Die rouproses

5.12.4.2 Skok en ontkenning

Emosioneel kan die onverwerkte skok hierdie persoon beroof van ʼn betekenisvolle intieme verhouding met God. Die jongmens wat uit ʼn disfunksionele huis kom, funksioneer somtyds in ʼn skoktoestand vir ʼn baie lang tydperk waartydens ontkenning en ontvlugting dikwels as tydelike pynstillers dien. Dit kan baie nadelige gevolge hê om te onttrek van die samelewing en daarom moet jongmense aangemoedig word om tydens die rouproses nie andere te vermy of ignoreer nie (andersins kan dit die teelaarde skep vir vrees en swaarmoedigheid). Die persoon se vriende is God se persoonlike hulpmiddels deur wie Hy hierdie persoon wil versorg (Seamands, 2004:87- 94; Hemfelt et al., 2006: 206-211).

5.12.4.3 Woede

Tydens hierdie fase gaan die rouproses ʼn nuwe fase van bestekopname en beplanning binne. Die persoon bereken sy verlies met die oog op die toekoms. Hoe kan hy die pad vorentoe aanpak in die lig van sy verlies. Dit is ook tydens hierdie fase dat die skok dikwels plek maak vir woede en verbittering terwyl emosies soos vrees en neerslagtigheid soms ook toetree. Sonder om enige ander persoon skade te berokken, moet op ʼn natuurlike manier ontslae geraak word van al hierdie negatiewe emosies. Volgens Ef 4:26 is woede ʼn natuurlike, gesonde en Godgegewe emosionele meganisme om met pyn en verliese te deel (Hemfelt et al., 2006). Die betrokke persoon moet dus bewus gemaak word van sy woede voordat dit oorgaan in sonde. Woede moet die nodige ruimte ontvang om uitgedruk te kan word, anders bars dit op een of ander ongemaklike plek uit (Hemfelt et al., 2006:212-213; Coetzer, 2008:68).

5.12.4.4 Depressie/neerslagtigheid

Depressie/neerslagtigheid is dikwels die volgende fase ná woede, as deel van die rouproses. In hierdie opsig kan depressie soms ook beskryf word as “bevrore woede” wanneer dit die gevolg is van onopgeloste, onderdrukte woede of woede waaraan daar nie behoorlik uiting gegee is nie (Seamands, 2004:116). Wanneer woede inwaarts gekeer het of ‘ondergronds’ gegaan het, kan depressie of die doodse gevoel wat daaruit voortspruit ʼn leeftyd lank voortduur. Heling onder hierdie omstandighede is dan bykans

onmoontlik (Hemfelt et al., 2006: 213- 214). Volgens Meier et al. (2005:22) is dit belangrik dat die vlakke van brein amines normaal en gebalanseerd sal wees om goeie geestesgesondheid te verseker en daarom is ’n goeie mediese ondersoek op hierdie stadium ook aan te beveel, veral indien dit sou blyk dat die depressie nie opklaar nie.

5.12.4.5 Onderhandeling en wensdenkery

Gedurende adolessensie voel jongmense soms skaam en skuldig as gevolg van struwelinge en onenigheid in hul ouers se huwelik. Die gevolg hiervan is dat hulle geneig is om uitgebreide ooreenkomste met God en hulself aan te gaan met die gedagte dat die pyn van die gesin langs hierdie wyse op ʼn magiese manier opgelos sal word (Hemfelt et al., 2006:214). Magiese denke is ʼn normale aspek van kindwees. Wanneer die kinderjare agter gelaat word, is die magie veronderstel om ook op die agtergrond te skuif. By persone vanuit disfunksionele agtergronde en veral ook by die tipies mede-afhanklike persoon word die ritme dikwels onderbreek wanneer die persoon vassteek gedurende die proses. Gevolglik kan die hartseer nie vloei tot by ʼn volledige afhandeling nie. Wanneer dit dan gebeur kan die persoon nie die punt van vergifnis, aanvaarding en afsluiting bereik nie – in hierdie opsig is die nodige begeleiding dan van kritiese belang (Hemfelt et al., 2006:215-217).

5.12.4.6 Hartseer

Vir sommige mense kom die emosies van hartseer alles tegelyk – by andere is dit weer ’n uitgerekte proses. Hartseer is normaal, hartseer is alledaags. Hartseer is die gepaste reaksie op treurige gebeurtenisse. Hartseer kan gemaklik hanteer word met trane. Hartseer is nie eindeloos nie- dit kom, word herken en gaan weer weg. Bykomend tot die bekende vyf-fase rouproses soos oorspronklik gedefinieer deur Elizabeth Kübler- Ross is daar in die Meier-klinieke in die VSA ʼn bykomende fase gevoeg naamlik dié van hartseer. Daar moet op ʼn intense wyse emosioneel gerou word oor al die dinge wat reeds deur die voorafgaande fases van die genesingsproses na die oppervlakte gekom het. Dit is byvoorbeeld belangrik dat die persoon sal rou oor die detail van die verliese van verlore kinderjare. Net so moet ook gerou word oor die verliese as gevolg van verslawing, kompulsies en obsessies in die verlede en die hede. Die verslawende gedrag en gevoelens het moontlik op ʼn stadium ʼn betekenisvolle plek in die beradene se lewe ingeneem – nou is dit weg, en rou is gevolglik die gepaste reaksie ten opsigte

van iets wat so ʼn belangrike rol in die persoon se lewe vervul het (Hemfeldt et al., 2006: 217-218). Vir die uiteindelike heling van alle onderliggende vrese en swaarmoedigheid is hierdie proses in sy geheel terapeuties en bevrydend.

5.12.4.7 Aanvaarding en berusting

Om uiteindelik by ’n punt van aanvaarding te arriveer waar alle vrese en swaarmoedigheid afgeplat het en daar ʼn innerlike kalmte ingetree het, kan vir sommige persone baie problematies wees – dit is egter van kritiese belang om wel hierdie punt te bereik ten einde uiteindelik volle genesing te kan ervaar. Aanvaarding beteken dat die persoon alle verwyte en selfbejammering moet termineer. Aanvaarding is die vermoë om nuwe geleenthede te identifiseer en dit as uitdagings aan te pak. Hierdie is die finale stap in die rouproses. Die Skrif verwys onder andere daarna as ʼn vrede wat alle verstand te bowe gaan (2 Tess 3:16). Hierdie vrede verdryf alle vrees van die verlede en dit herstel lewensin en lewensvreugde.

Wanneer die jongmens vrees in sy lewe ervaar, behoort hy sy denke so te orden dat hy die vrede van God kan ervaar, iets te ervaar van dit waarna Ps 46:11 verwys: “Bedaar

en erken dat Ek God is....”. Dit spreek van berusting. Wanneer daar geput word vanuit

die diepste emosionele putte wat deur God voorsien is, word hierdie persoon deur vuur gelouter en kom die fyngoud na vore (Hemfelt et al., 2006:218-224).