• No results found

In hierdie metateoretiese hoofstuk word daar van sleutelbegrippe gebruik gemaak wat vervolgens omskryf en gedefinieer sal word:

Die mens as holistiese wese Adolessensie

Angs (wat hand-aan-hand gaan met vrees) Vrees

Depressie (wat hand-aan-hand gaan met neerslagtigheid)

3.3.1 Die mens as holistiese wese

Sedert die vroegste tye was mediese hulpverlening sterk gekoppel aan die godsdiens. In die Ou Testament was die priester en profeet tegelykertyd geneesheer. Ook in die Nuwe Testament was daar oorvleueling tussen die mediese en godsdienstige hulpverlening. Wanneer daar gelet word op die bediening van Jesus Christus op aarde kom mens tot die gevolgtrekking dat deur elke genesingsdaad van Hom daar inderdaad ook verlossing in ʼn breër sin plaasgevind het. Die genesing van siekes en die proklamering van die evangelie het hand aan hand gegaan en was as’t ware in mekaar vervleg (Coetzer, 2003:20-21; Wright, 2003:18-19; vgl. ook Luk 9:2). Gedurende die afgelope vier eeue het daar egter stelselmatig ʼn skeiding plaasgevind waarbinne genesing (heling) egter vir die medisyne (mediese wetenskap) gereserveer is en verlossing (heil) vir die kerk (godsdiens). Die mediese wetenskap het ʼn geweldige ontwikkeling getoon, maar die aantal siekes het nie verminder nie. In die verlede is siekte dan ook beskou as iets soos ʼn tegniese versteuring binne die meganisme van die

menslike liggaam. Die ‘spesialis’ word dan gewoonlik genader om vinnig die probleem te herstel sodat die innerlike ‘masjien’ weer normaal kan funksioneer. Met betrekking tot God se helende ingryping is mense geneig om op hierdie selfde wyse te dink. In die Bybelse benadering tot genesing is die klem egter nie op ʼn tegniese of medies- wetenskaplike benadering nie, maar veel eerder op die mens in sy totaliteit sowel as al sy verhoudinge, uiteindelik ook sy verhouding met God. ʼn “Holistiese benadering” is dus die beste oplossing waar klem geplaas word op elke aspek van die persoon. Dit het te doen met die betrokke persoon se geskiedenis, sy verhoudinge sowel as elke aspek wat sy daaglikse lewe raak (Coetzer, 2003:22-25). Die uitdaging aan die pastoraat is dus om weer die twee sfere te integreer.

3.3.2 Adolessensie

Adolessensie beteken om ʼn periode te beleef wat met etlike soorte angste gepaard gaan. Groot verandering is vir die oorgrote meerderheid adolessente traumaties (Janson, 2000:49). Die term “adolessensie” is afgelei van die Latynse werkwoord “adolescere” wat “om op te groei” of “om te groei tot volwassenheid” beteken en dui op die ontwikkeling-stadium tussen die kinderjare en volwassenheid (Thom, 1984:339). Hulle is kinders in ʼn oorgangsfase - hulle is beslis nie jong volwassenes nie. Hulle emosionele behoeftes is dieselfde as kinders sin. Een van die foute wat volwassenes maak is om adolessente as jong volwassenes te sien (Campbell, 2005:14-15). Thom (1984:341) beskryf die adolessent as ʼn biologiese, psigologiese, sosiale en kulturele wese. Sy ontwikkeling word deur genetiese, psigologiese en sosiale faktore beïnvloed. Adolessente is gedurigdeur rebels en in botsing met norme en waardes. Onsekerheid, angstigheid en ʼn swak selfbeeld treiter gewoonlik die adolessent wanneer hy voel hy is onbevoeg en dit kan lei tot voortdurende hindernisse in sy emosionele en gedrags ontwikkeling (Campbell, 2005:31).

3.3.3 Angs

Angsversteurings is die mees algemene oorsaak van psigiatriese probleme wat ongeveer 25% van kinders affekteer gedurende hul jong lewens. Alhoewel vorige navorsing aantoon dat angsversteuring kortstondig van aard is, toon die nuutste studies dat sommige kinders met hierdie versteuring tot in die volwasse ouderdom voortgaan (Morris & March, 2004:3).

Angsversteurings behels ʼn uiters breë kategorie van probleme en die spesifieke simptome wat dit insluit, mag aansienlik verskil van een soort angsversteuring tot ʼn ander (Merrell, 2001:7). Wanneer ʼn persoon herhaaldelik fisiese en psigologiese manifestasies van angs ervaar in die afwesigheid van ʼn eksterne stimulus, dan skep dit intense innerlike gevoelens van bedreiging (Sheehan, 1996:3).

Marks (1978:15) beskryf angs as ʼn onaangename emosie met ʼn gevoel van dreigende gevaar wat nie sigbaar is vir die waarnemer nie. May (1950:15) sonder angs uit as die beslissende probleem van emosionele en gedragsversteurings. In ʼn poging om te ontkom aan angsgevoelens, is die individu geneig om depressief te raak (Trad, 1987:51). Bourne (aangehaal deur Anderson & Miller, 2000:23) glo angs ontstaan primêr uit ʼn staat van verwydering.

Sullivan (soos aangehaal deur May, 1950:192) sien angs as ʼn self-meganisme om gevaar te hanteer. Dit is ʼn reaksie op enigiets wat gevaarlik is in ʼn situasie.

“In die ontwikkeling van alle kinderen komen angsten voor. Het is zelfs nuttig bang te zijn. Het is nuttig omdat hy waarschuwt voor dreigend gevaar. Angst zorgt dat het lichaam op een zodanige manier kan reageren dat het aan gevaar kan ontsnappen” (Van Londen & Van Petersen, 1990:13).

Fisiese angs gaan gepaard met erge fisieke simptome soos hartkloppings, aamborstigheid, sweet, droogheid van die mond, duiseligheid en hoofpyn (Sheehan, 1996:3). Sheehan (1996:3) wys op vyf verskillende tipes van angsversteuring, naamlik algemene angsversteuring, paniekversteuring, paniek versteuring met agorafobie, sosiale fobies en eenvoudige fobies.

3.3.4 Vrees

Marks (1978:5-6) beskryf vrees as ʼn normale reaksie op ʼn ware of denkbeeldige bedreiging. Hierdie emosie veroorsaak soms fisiologiese- en gedragsversteurings. Erge vrees en angs gee aanleiding tot ʼn onaangename gevoel van bangheid afhangend van die intensiteit daarvan. Sommige navorsers onderskei angs van vrees en sê dat angs diffuus van aard is, terwyl vrees ʼn spesifieke bedreiging is. Vrees en angs is verwant aanmekaar maar is afsonderlike strukture (Gullonetal, 2000:61).

Marks (1969:1) beskryf vrees as ʼn gevoel van onrus wat veroorsaak is deur ʼn onheilsverwagting. Dit is ʼn normale respons op ʼn ware of denkbeeldige bedreiging. Dit

behels uiterlike gedragsmanifistasies en innerlike ervaring met gepaardgaande fisiologiese veranderings. Vrees word ook beskryf as ʼn reaksie op ʼn realistiese eksterne gevaar wat gepaard gaan met onaangename gevoelens (Essau & Pietermann, 2001:1). Die een perspektief ten opsigte van vrees soos gedefinieer vanuit ʼn teologiese en pastorale perspektief, wat uniek is in vergelyking met definisies vanuit die aangrensende wetenskappe, is naamlik die aspek van eerbiedwaardige respek (aanbidding) vir God. Hierdie is ʼn eiesoortige komponent van vrees wat nêrens anders figureer nie.

3.3.5 Depressie/swaarmoedigheid

Depressie kan beskryf word as swaarmoedig, terneergedruk, neerslagtig en pessimisties (De Stadler en De Stadler, 2007:719). Stresvolle gebeurtenisse gee dikwels aanleiding tot depressie. Hierdie aspek hang grootliks af van die persoonlikheid van die betrokke persoon sowel as die omstandighede waarbinne die situasie afspeel (Kessler, 1997:209). Die oorsprong van swaarmoedigheid/depressie is dikwels diep gesetel en baie ingewikkeld, net so ingewikkeld as die baie seerkry en letsels uit die kinderjare wat baie mense in hulle volwasse lewe indra (Seamands, 2004:108).